Leierskap

Leiers

Andries Breytenbach

Mnr. Andries Engelbertus Breytenbach is op 27 Maart 2010 as leier van die HNP gekies. Hy is ‘n man met ‘n politieke en kulturele agtergrond. Sy voorouers het met die Uys-trek uit die Kaapkolonie gekom en hulle in die Lydenburg-omgewing gevestig vanwaar sy oupagrootjie in die 1880’s na Wonderfontein (Belfast-distrik) versit het. Daar het sy vader die lewenslig gesien en grootgeword en in die huwelik getree met Theonita Coetzee, ‘n dogter van die buurplaas. Hy ontleen sy name aan sy oupa aan moederskant, wat as Kaapse rebel deur die Tweede Vryheidsoorlog geveg het.

Sy oorlede vader, dr JH Breytenbach, was in lewe die Staatshistorikus en kenner van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Hy was belas met die opdrag om ‘n amptelike Suid-Afrikaanse geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog te skryf, soos vanuit die Boere-oogpunt gesien. Die Breytenbach-kinders is dus van kindsbeen af opgevoed in ‘n huis waar daar ‘n sterk bewussyn en meelewing was met die Boerevolk se vryheidstrewe, geskiedenis, politiek en kultuur.

Andries Breytenbach is op 10 Julie 1947 in Kaapstad gebore. Die gesin het ‘n jaar later na Pretoria verhuis, waar hy skoolgegaan het. Hy het in 1964 aan die Hoërskool Oos-Moot gematrikuleer, waarna hy hom by die Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit en in die Infanteriekorps gedien het.

Daarna het hy die graad B.Mil. aan die Militêre Akademie (dit is die Fakulteit Krygskunde van die Universiteit van Stellenbosch) behaal, met Militêre Geskiedenis en Geografie as hoofvakke. Hy het nagraads aan Unisa gestudeer en die graad M.A. onder prof. C.J. Barnard, ‘n voorste kenner van die Tweede Vryheidsoorlog, behaal met ‘n verhandeling oor die Slag van Donkerhoek, 11 – 12 Junie 1900.

In 1974 het hy uit die Suid-Afrikaanse Weermag bedank met die rang van kaptein en by die toenmalige Krygstuigraad (wat later Krygkor geword het) in diens getree, waar hy hom in rekenaarwese en inligtingsbestuur bekwaam het. Hy het einde Maart 2008 met pensioen uit Krygkor se diens getree. Voor 1994 was hy ‘n aantal jare ‘n polisiereservis, maar het onmiddellik ná die ANC se bewindsoorname in 1994 uit die Polisie bedank.

Mnr Breytenbach was deurentyd betrokke by die georganiseerde Afrikanerpolitiek en -kultuur. Hy was lid van die Junior Rapportryerskorps Hendrik Verwoerd, maar dié Korps is uit die Rapportryersbeweging geskors toe hulle in 1968 geweier het om teen die skrywers van die sogenaamde “smeerbrief” teen mnr John Vorster op te tree.

In 1969, toe talle Geloftefeeskomitees in Pretoria en elders in die land onbeskaamd politieke podiums geword het om die Nasionale Party se nuwe politiek te bevorder, het hy meegewerk om die behoudende Kloof Geloftefeeskomitee tot stand te bring.

In 1988 het hy deelgeneem aan die opvoering van Die Dieper Reg van N.P. van Wyk Louw wat op inisiatief van prof. P.G. Nel opgevoer is as deel van die 150-jarige Groot Trek-herdenking. Hy het ook ‘n volkstafereel (tablo) vir die geleentheid geskryf wat tydens die feesverrigtinge by Donkerhoek (Kleinfontein) opgevoer is.

Hy is ‘n stigterslid van die HNP (25 Oktober 1969) en het vele jare in die Party se Hoofbestuur en in sy plaaslike strydraad (vroeër kiesafdelingsbestuur) gedien. In 1994 was hy die sekretaris en mede-organiseerder van die Afrikaner-Volkskongres, wat ten doel gehad het om ons volk se moreel weer op te tel na die verslaentheid wat gevolg het op die De Klerk-regering se oorgawe aan die ANC. Na die kongres het hy die referate wat daar gelewer is, te boek gestel en uitgegee onder die titel, “Ons Sal Opstaan”.

Van 1996 tot 2002 was hy die sekretaris van die Volkskomitee vir die Herdenking van die Tweede Vryheidsoorlog. Die Komitee het na afloop van die herdenking ontbind, dog die Volkseie Museumraad is onmiddellik na die ontbinding van die Volkskomitee tot stand gebring.

In sy huidige betrokkenheid by die georganiseerde volkslewe is hy ‘n direksielid van die Volkseie Museumraad, ‘n voormalige direkteur van Radio Pretoria, ‘n trustee van die Majuba Boerevolk Trust en die voorsitter van die Afrikanerfront. Die Front het ná die volkseie verkiesing van 2011 opgehou om te funksioneer toe die verkose Volksraad in die plek daarvan gestel is. In September 2009 is hy as lid van die Geloftevolk Koördineringskomitee (GKK) verkies, wat tydens die volksvergadering te Vegkop in die lewe geroep is om aan die opdragte van die Vergadering uitvoering te gee.

Sy ander aktiwiteite sluit optredes as Geloftefeesspreker, deelname aan bespre-kingsprogramme oor Radio Pretoria en die skryf van artikels oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis en politiek in.

Andries Breytenbach is op 23 Augustus 2008 as een van drie onderleiers van die HNP verkies en op 27 Maart 2010 verkies tot Leier van die HNP na die uittrede van mnr Japie Theart. Hy is tans nog die HNP-leier ― en beklee dié pos met waardigheid, koersvastheid en bekwame politieke insig.

Aan bekwaamheid ontbreek dit nie by dié HNP-leier nie. Die kalmte waarmee hy die HNP stuur, is opvallend. Sy skryfwerk getuig van deeglikheid. Hy kan ‘n politieke argument in eenvoudige taal baie duidelik stel en sy standpunte, wat op suiwer Afrikaner-beginsels en geloofsoortuigings gebaseer is, is onaanvegbaar.

Daarnaas is hy deurentyd beskikbaar om op ander Afrikanerfronte met mede-Afrikaners aan gesprekke deel te neem oor die handhawing van Afrikanernasionalisme, die oorlewing van die Witman in  Suid-Afrika en die Afrikaner se reg op sy vaderland. Sy mediaverklaring in 2017 dat die onteiening van die Witman se eiendom rede is tot oorlog, het hoë nuusdekking geniet. Hy het die leiding geneem om te sê dat Ramaphosa van die ANC se aankondiging oor grondonteiening niks anders as diefstal is nie. Daarna het die begrip gronddiefstal algemene byval en gebruik geword.

Andries Breytenbach se standpunt is dat die HNP onbeskaamd veg vir blanke belange. Dit maak die HNP anders as ander opposisiepartye en burgerregte-organisasies wat reaksie-politiek volg en nie die klem  plaas op blanke regte en eise nie.

Mnr Breytenbach is voorsitter van die Boere-Afrikanervolksraad wat op 24 September 2011 vir die Afrikanervolk verkies is in ‘n landswye verkiesing wat deur die onafhanklike Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) onder voorsitterskap van wyle mnr. Paul Kruger gereël is. Die Volksraad is op 10 Oktober 2011 in die Gereformeerde Kerk in Kerkstraat, Pretoria (wyle pres. Paul Kruger se kerk) deur ds. Hendrik Verwoerd, seun van wyle dr. Hendrik Verwoerd, ingehuldig.

Andries Breytenbach is getroud met Marietjie (neé Van der Klashorst). Die egpaar het drie dogters, een seun en ses kleinkinders.

Voorsitter

Hermanus van der Schyff

Hermanus Frederick van der Schyff is op 26 Januarie 1954 op Griekwastad in die Noord-Kaap gebore. Hy skryf matriek in 1971 aan die Hoërskool Vryburg en kry die B.Econ-graad aan die Universiteit van Stellenbosch.

Met die stigting van die HNP in 1969 het die Van der Schyff-gesin by die HNP aangesluit en tydens die verkiesing in 1970 hulle gewig by die HNP-kandidaat, mnr Francois van der Walt, ingegooi. Hermanus van der Schyff was bevoorreg om nooit vir enige ander party as die HNP te stem nie.

Op Stellenbosch was hy lid van die Tobie Muller-jeugtak van die HNP en het Die Afrikaner by verskillende verkooppunte versprei.

Na sy studies het hy op 1 Februarie 1977 in Port Elizabeth in die Gevangenisdiens begin werk. Daar het hy kosbare kennis opgedoen oor die wreedheid van sommige gevangenes. Op 27 Maart 1978 is hy na die hoofkantoor in Pretoria oorgeplaas en was gemoeid met die Gevangenisdiens se Weduwee en Weesfonds. Dit was algemene kennis dat hy lid van die HNP was en aktief by die HNP betrokke was. Hy het geen geheim daarvan gemaak dat hy gereeld gehelp het om sale op te maak ter voorbereiding van ‘n vergadering nie. Na afloop van die vergaderings was hy betrokke by die sny van mnr Jaap Marais se toespraak daardie aand om dit onmiddellik aan diegene wat daarvoor gevra het, op kasset beskikbaar te stel.

Hermanus het in die Diens gevorder tot die rang van luitenant-kolonel. Hy is dikwels deur senior offisiere uitgevra oor die beleid en standpunte van die HNP. By geleentheid was daar ‘n vergadering van die top-offisiere. Die generaal het ‘n telefoonoproep na Hermanus gemaak om na die vergadering te kom. Daar het die generaal hom ingelig dat hulle oor die HNP praat en onseker is oor ‘n bepaalde HNP-standpunt. Nadat hy die generaals ingelig het, het hy sy pet opgesit, hulle gesalueer en die vergadering verlaat.

Hy was by elke vergadering van die HNP in Pretoria betrokke. By die hoof- en dagbestuur asook by kongresse was hy die klankman. Toe hy as lid van die hoofbestuur gekies is, het hy steeds die klank behartig.

In 2002 het mnr Pieter Engelbrecht as boekhouer bedank. Mnr Van der Schyff is gevra om as boekhouer uit te help, maar is baie gou in dié pos aangestel.

In 2014 het hy Die Afrikaner se facebookblad begin. Daarin het hy steeds groot sukses en die getal lede het tot oor die 3 000 gegroei. Hy is amptelik deur die leier, mnr Breytenbach, gevra om as die HNP se inligtingsbeampte op te tree. Dit maak van hom ‘n baie ingeligte HNP-ampsdraer.  Die leierskorps word deurlopend op die hoogte gehou van politieke gebeure ― nasionaal en internasionaal.

Mnr Van der Schyff het, toe mnr Peet Joubert op 28 Oktober 2017 as onderleier verkies is, as voorsitter van die HNP waargeneem tot tydens die HNP-kongres op 27 Oktober 2018 toe hy as voorsitter gekies is.

Buite die HNP het hy ‘n wye belangstelling. Hy lees graag oor die Bybelse geskiedenis en het baie gelees oor Egipte en die piramides. Hy weet van sterre en planete. Hy kan met gemak saampraat oor die astronomie.

Oor musiek kan jy hom nie maklik vasvra nie. Hy ken die pop- en country-musiek, maar ook ligte klassieke en opera-musiek. In sy uitgebreide musiekversameling sal jy iets van alles kry, behalwe jazz.

Sy kristalversameling is iets besonders. Dit is nie maar nie net ‘n versameling van klippe nie, maar hy kan elkeen identifiseer watter kristal dit is.

Maar bo alles is dit die politiek wat sy aandag in beslag neem. Die handhawing van suiwer beginsels, die sterkmaak en heropbou van Afrikanernasionalisme en volkstrots en die herwinning van die Afrikanervolk se vryheid ― dit is waaroor die stryd gaan.

hoofsekretaris

Louis van der Schyff

Louis Johan van der Schyff is op 6 Junie 1950 op Douglas in die Noord-Kaap gebore. Hy matrikuleer in 1968 aan die Hoërskool Vryburg. Na skool is hy na Stellenbosch, met die oog daarop om teologie te studeer.

In 1970 gooi hy sy gewig by die HNP in en word lid van die Tobie Muller Jeugtak van die HNP op Stellenbosch. Hierdie Afrikaner-studente neem in 1970 deel aan die heel eerste verkiesing waarin die HNP betrokke is en ondersteun mnr Pieter van der Spuy as die HNP se kandidaat op Stellenbosch. Van der Schyff word in 1972 voorsitter van die Tobie Muller Jeugtak.

Van der Schyff skort sy studies op en tree op 1 Januarie 1974 voltyds in diens van die HNP as organiseerder in Wes- en Suid-Kaapland. In dié hoedanigheid veg hy in die algemene verkiesing van 1974 in Parow, Piketberg en Helderberg. In dieselfde jaar word hy na die HNP se hoofkantoor in Pretoria oorgeplaas waar hy diens doen as waarnemende boekhouer toe mnr Philip van Ginkel vir ‘n kort tyd buite aksie was.

In September 1974 word die eerste opperraad van die HNP se Jeugstrydaksie gestig. Louis word gekies as voorsitter van dié bestuur en kry daardeur ook sitting in die Party se dagbestuur. Hier kry die 24-jarige Van der Schyff die geleentheid om die politiek intens te leer in die geselskap van politieke mentors soos dr Albert Hertzog, mnre Jaap Marais, Willie Marais, Louis Stofberg, Gert Beetge en ds Jan Jooste.

Terwyl hy nog in die hoofkantoor werk (1974), word hy oorgeplaas na Die Afrikaner om saam met mnr Beaumont Schoeman te werk. Hierdie was ‘n harde maar baie interessante leerskool om as joernalis en uitlegkunstenaar opgelei te word deur die beste koerantman in die Suid-Afrikanse koerantwese. Hy werk by Die Afrikaner tot in 1979.

Louis van der Schyff word in 1977 vir drie maande opgeroep vir grensdiens in die noorde van Suidwes-Afrika by Ruacana. Sy bevelvoerder was majoor Pieter Prinsloo wat ook die bevelvoerder van die Waterberg Kommando was. Die twee het mekaar toe nie geken nie, maar later jare het ‘n sterk band ontwikkel as strydgenote in die HNP.

Met sy terugkeer na die grensdiens, stap Louis in die algemene verkiesing van 1977 in. Hy word as die HNP se Volksraadskandidaat in die kiesafdeling Pretoria-Sentraal aangewys. Sy spanmaat was Lardus Erasmus, wat die kandidaat vir die Provinsiale Raad was. Hulle veg teen Louis Nel en Willie Breedt van die NP. Die Jeugstrydaksie in Pretoria veg so ‘n uitstekende verkiesing dat selfs Louis Nel hulle gelukgewens het. Lardus het later ‘n mediese dokter geword en dié twee karperde in die verkiesing het in 1978 swaers geword toe Louis in Julie met Magdaleen Cronje, die dogter van Toelie en Hester Cronje (HNP-voorsitter op Rustenburg) trou en Lardus in Desember met die jongste sussie, Annette, trou.

In 1979 is Louis die HNP se kandidaat vir die Provinsiale Raad in Prinshof (Pretoria) saam met ds Jan Jooste wat as HNP-kandidaat vir die Volksraad staan. In 1989 is hy weer kandidaat in die Volksraadverkiesing — hierdie keer in Innesdal, die setel waarin mnr Jaap Marais in 1958 na die volksraad gestuur is. Hy opponeer hierdie keer die NP se Minister van Gesondheid, dr Rina Venter. Die KP se kandidaat was ds Mossie van den Berg. Tydens hierdie verkiesing verwys die Pretoria News in ‘n verkiesingsrubriek na Louis as “old faithful”, in ‘n eerlike poging om sy lojaliteit teenoor die HNP te beskryf. Op 1 Augustus 1989 skryf Beeld: “Van die kandidate in Innesdal weet mnr Van der Schyff die meeste van praktiese politiek…”

In 1980 word Louis van der Schyff een van drie hooforganiseerders van die HNP. In 1984 word hy aangestel as die administratiewe sekretaris na die uittrede van mnr John Stephens. Hy word daarna bevorder tot sekretaris (finansies) en toe mnr Louis Stofberg in 1985 die verkiesing in Sasolburg wen en as HNP-LV parlement toe gaan, word Louis van der Schyff die waarnemende hoofsekretaris. In 1990 word hy permanent in dié pos aangestel. Hy word ook lid van die direksie van Strydpers, uitgewer van die HNP se mondstuk, Die Afrikaner, en later besturende direkteur.

Louis van der Schyff bly amptelik in die poste aan tot 31 Mei 2014 toe die HNP om finansiële redes die personeel van die HNP en Strydpers moes verminder. Hy word gevra om ‘n deeltydse aanstelling te aanvaar en as sekretaris van die Party betrokke te bly.

Louis van der Schyff maak daarop aanspraak (op grond van inligting wat reeds jare gelede deur prof Willem Kleynhans, bekende politieke navorser by UNISA, gegee is) dat hy die rekord hou vir die persoon wat die langste jare in diens van ‘n politieke party in die geskiedenis van Suid-Afrika was. Vanaf 1 Januarie 1974 is dit nou 46 jaar.

Louis kan verder daarop roem dat hy in sy dienstyd feitlik al die poste gevul het wat in ‘n politieke party se organisasie bestaan. In dié proses het hy Suid-Afrika deurreis en het selfs diens gedoen in Suidwes-Afrika tydens die SWAPO-verkiesing toe adv Sarel Becker van die HNP verkies is.

“Die HNP en die politieke stryd het ‘n mens geleer om keuses te maak. En die HNP het my geskool om die regte keuses te maak”. Juis daarom kon Van der Schyff die uitdaging van die Menseregte-kommissie aanvaar toe hy die moed gehad het om ‘n nieblanke verslaggewer van Beeld toegang tot die HNP se kongres te weier. Van der Schyff het onbeskaamd voor die Mensreregte-kommissie getuig dat die HNP nooit die onchristelike en humanistiese grondwet van die ANC sal erken nie.

Louis van der Schyff is getroud met Magdaleen (Cronjé), die dogter van een van die HNP se bekendste strydrosse, Toelie Cronjé, en sy vrou Hester.

Louis en Magdaleen het mekaar by een van die eerste jeugkampe wat deur die Opperraad gereël was, ontmoet. Hulle is op 22 Julie 1978 getroud. Magdaleen was vir 20 jaar ‘n onderwyseres en het, nadat sy uit die onderwys getree het, as administratiewe beampte van die NH Kerk Oos-Moot in Waverley gaan werk waar sy nog steeds werksaam is.

Magdaleen het besondere talente as dit by kultuursake kom. Hierdie talent is meermale ook in die HNP aangewend by opvoerings tydens Geloftefeeste, maar ook tablo’s tydens HNP-kongresse. Sy was ook die voorsitter van die HNP se vroue-organisasie, Boervrouforum. Wanneer die HNP dinees, etes of funksies wou aanbied, was Magdaleen die een op wie se knoppie gedruk is. Sy het meermale die leiding geneem en elke funksie is met smaak en puik geregte aangebied.

Uit die huwelik is drie kinders gebore: Hester-Marié (1979), Petrus (1982) en Maretha (1985). Aldrie was aktief by die HNP betrokke, maar het uitgeblink met kultuur-aktiwiteite. Hulle besondere prestasies in Volkspele staan uit. Hester-Marié en Petrus het in 1996 saam met die junior Volkspelegroep in Europa gaan toer en Maretha in 2003 in Suidwes-Afrika.

Die drie kinders het, met die genade van die Hemelse Vader en ma se streng dissipline, al drie sertifikate vir 12 jaar getroue skoolbesoek ontvang.

Hester-Marié is getroud met James Thom en hulle het twee seuntjies, James en Louis. Maretha is met Robert Stadler getroud en hulle het een seuntjie, Adolf. Petrus is in 2007 aan sy hart oorlede.

Van der Schyff aan die woord:

“Die mense van die HNP, nie net die leiers van die HNP nie, is die room van die Afrikanervolk. Dit was vir my die grootste voorreg om sulke Afrikaners te kon ken en hulle jou vriende te noem.

“In die HNP is daar vastigheid. Dit is die mense wat (in wyle mnr Jaap Marais se woorde) mik na die hoë spitse. Die manier waarop Afrikaners in die HNP bereid is om op te offer — vir die volk, vir die Blankedom, vir die HNP — is ‘n grootse belewenes wat min mense die voorreg het om te ervaar. Dit onderskei die mense in die HNP van alle ander.

“Die een aktiwiteit waarby ek in besonder gemoeid was, was om die HNP se oortrokke rekening van R880 000 (as gevolg van verkiesingskuld) uit te wis. Die feit dat daardie rekening stuk vir stuk met lede se bydraes tot nul rand afgewerk is, beskou ek as een van die groot monumente van die HNP.

“Dan het ek die droom gehad dat ‘n Afrikanersentrum vir Afrikaners gebou moes word. Daardie droom is bewaarheid toe die HNP onder leiding van mnr Willie Marais Die Willie Marais Afriikanersentrum kon koop. Nog ‘n waardevolle monument is toe opgerig.
“Maar bo alles: om te kon leer by dié man wat sy hele lewe vir die Afrikanervolk gegee het, om te kon leer by hom wat geweet het, mnr Jaap Marais, was ongetwyfeld die grootste voorreg wat ek in die politiek kon hê”.