Na aanleiding van die pleidooi vir eendrag in D.A. 24-30 Julie 2009, p. 6 vra ‘n leser:
Die outeur sê dat organisasies en partye saam sal moet begin werk.Soos die HNP landwyd vergaderings hou vir die VVK om RB's aan te stel, so is daar ook die verkenners ens. ens. Wat dink u van die idee as VF+ ook hul volle gewig agter die VVK sal ingooi en hul landwye strukture sal gebruik om RB's aan te stel? Baie ''regse'' mense en organisasies hou nie van VF+ nie omdat hul aan die nasionale verkiesing deelneem, maar ek dink dit is belangrik om te besef dat daai 150 000 mense wat vir VF+ gestem het, ook ons mense is, en so ook persone wat in hul strukture dien. Kan u my dalk laat weet wat u dink van so gedagte en ook wat die HNP se siening sal wees.
Om die vraag te beantwoord, moet ons die keuses wat teenoor mekaar staan, duidelik begryp:
Die verkiesing van ‘n Afrikaner Volksraad (kom ons praat gerieflikheidshalwe sommer van die VVK-aksie) het ten doel om die Afrikanervolk se soewereiniteit in ‘n eie soewereine vaderland te herstel, dit wil sê om weer ‘n vrye Afrikanerrepubliek tot stand te bring waarin ons volk alleen die politieke seggenskap sal hê soos ons voor 1994 gehad het.
Dit staan lynreg téénoor ‘n bedeling waarin die Afrikanervolk onderhorig is aan ander volkere of die politieke mag met hulle deel. Dít is die bedeling waarin ons ons sedert 1994 bevind.
Daar is ook volksgenote wat hulle beywer vir ‘n kompromis tussen bogenoemde twee opsies. Die kompromis behels dat die Afrikanervolk binne die heersende bedeling die reg moet verkry om oor sekere sake, byvoorbeeld die onderwys van ons kinders, self te beslis, wette te maak en ons belastings daarvoor aan te wend. Dit kan selfs inhou dat Afrikaners in eie geografiese gebiede kan versamel, soos in Orania en Kleinfontein, en daar ‘n mate van outonimiteit geniet. So ‘n kompromisbedeling sal dan aan ons die vryheid van ‘n eie gemeenskapslewe bied, terwyl ons terselfdertyd in die voordele(?) van die groter staatkundige opset deel. Ons brood sal dus aan beide kante gebotter wees. As ek die VF+ se verkiesingsmanifes reg verstaan, is dit die soort bedeling wat dié Party voorstaan. In so ‘n bedeling sal ons egter steeds aan die heersende regime onderhorig wees, net soos die Israeliete wat in die Goosen-provinsie van Egipte gewoon het, aan die Farao onderhorig was. Dit voldoen nie aan ons nasionale aspirasies nie; is ‘n aantasting van ons nasionale selfrespek en sal steeds eindig in ons verswelging deur die swart massa onder wie se heil ons ons bevind. Kortom, dit is nie volksvryheid nie.
Tussen vryheid en onderhorigheid soos hierbo uitgespel, is daar ‘n onoorbrugbare kloof en volksgenote moet kies aan watter kant van daardie kloof hulle wil staan. Dit is nie moontlik om wydsbeen daaroor te staan met een voet op elke kant nie — die afstand tussen die twee is net té groot. Dit is wel moontlik om, as jy jou aan een kant bevind en tot ander insigte kom, van keuse te verander en na die ander kant oor te beweeg.
Wat is nou die posisie van politieke partye? ‘n Politieke party wat homself tot deelname aan die huidige bedeling verbind en trou sweer aan die handhawing en uitbouing van die heersende Konstitusie kan dit tog nie terselfdertyd verwerp en ‘n bedeling wat lynreg daarteenoor staan, ondersteun nie. Dit sal mos die toppunt van politieke valsheid en dubbelslagtigheid wees. ‘n Politieke party is óf aan die een óf aan die ander kant en dit is ‘n keuse waaroor hy self moet besluit. Is dit vir my nodig om te sê waarop dit sal neerkom as die VF+ vanuit sy huidige posisie “hul volle gewig agter die VVK sal ingooi en hul landwye strukture ... gebruik om RB's aan te stel?”
Baie kiesers, daarenteen, stem wel in die verkiesings omdat dit vir hulle die enigste manier is om uiting te gee aan hul wrewel en ontevredenheid met die toedrag van sake onder die huidige regime. Die HNP en die VVK ontmoedig dit, want deelname daaraan benadeel die saak vir vryheid, dog die VVK vra nie na ‘n volksgenoot se stemrekord of party-affiliasie wanneer aansoek gedoen word om registrasie op die VVK se kieserslys nie. Die kernvraag is of die aansoeker ten gunste is van vryheid vir ons volk of nie.
Die HNP se siening is dat dit ‘n heuglike dag sal wees as daardie 150 000 Afrikaners wat in die afgelope verkiesing vir die VF+ gestem het, asook die duisende ander misleides wat in hul harte maar net soos ons voel, hul rug op hierdie bedeling sou keer en ondubbelsinnig vir volksvryheid sou kies. Wat ‘n ommekeer sal dit nie in ons volk se geskiedenis teweegbring nie!
Andries Breytenbach
