Terug Druk Program van beginsels

Hoofstuk I: Naam

1.

Die naam van die Party is die DIE HERSTIGTE NASIONALE PARTY (HNP).

Hoofstuk II: Grondslag

2.

 

Die Heilige Skrif, die onfeilbare Woord van God, soos dit verstaan en uitgelê is in die Calvinistiese Hervorming waarvan die Afrikanervolk die dankbare erfgename is, vorm die grondslag van die Party.

Hoofstuk III: Doelstellings

3.



 

As politieke volksfront van die Afrikanerdom wil die Party op die genoemde grondslag die Afrikanervolk oproep en aanspoor om in die politiek en op alle terreine van die volkslewe die onderstaande beginsels in die Republiek van Suid-Afrika te handhaaf en daarvolgens op te tree.

Hoofstuk IV: Program van Beginsels

4. 

Soewereiniteit van God

 

 

 

In die grondwet van die staat en in die optrede van sowel die owerheid as die volk moet die Drie-enige God erken en verheerlik word as die absoluut soewereine God, die Skepper, Onderhouer, Herskepper en Voleinder van alle dinge, tot Wie se diens almal op alle lewensterreine geroep word, van Wie alles verwag word en van Wie alles en almal wat bestaan, afhanklik is.

 

 

5.

Kultuuropdrag en Wet van God

 

 

 

Aan die mens, as die kroon van die skepping, het God die opdrag gegee om die aarde te vul, te onderwerp en te beheers. Aan hierdie opdrag moet uitvoering gegee word in gehoorsaamheidaan die Woord van God en Sy allesdekkende wet soos dit geldend is op al die terreine van die lewe. Hiertoe moet die owerheid ook almal oproep, sodat die anti-Christelike en anti-nasionale strewe te gronde gerig kan word.

 

 

6.

Nasionale Identiteit

 

 

 

Aangesien dit God behaag het om 'n verskeidenheid van volkere en nasies in aansyn te roep, moet:

 

 

(a)
 

die nasionale identiteit van die Afrikanervolk en dié van die ander volke in Suid-Afrika noulettend bewaar word;

 

 

(b)
 

die kultuuropdrag steeds in verbondenheid aan die eie volk uitgevoer word;

 

 

(c)
 

die algemene ontwikkelinge van die volkslewe langs 'n Christelik-nasionale weg geskied; en

 

 

(d)




 

die anti-Christelike en anti-nasionalestrewe na kulturele eenvormigheid, die uitwissing van rasse en volksgrense endie imperialisme met die oog op ’n wêreldstaat steeds teengestaan word, sodat die Skepper deur ’n verskeidenheid van volkskulture verheerlik sal word enindividue binne hulle gemeenskappe veiligheid en beskerming sal geniet.

 

 

7.

Instelling, doel en gesag van die Staat

 

 

 

Aangesien dit God behaag het om die staat in te stel, word beklemtoon dat dit die doel van die staat is om die goeie te bevorder en die deurwerking van die kwaad te stuit. Daarom word die reg van die owerheid om die swaard te dra, erken en aanvaar. Hoewel die owerheid in ’n egte demokratiese orde in sy amp gekies word, ontvang hy sy gesag van God en is hy in die eerste plek aan God verantwoording verskuldig vir die wyse waarop hy sy taak uitvoer, en in die tweede plek aan dié wat hom daarstel.

 

 

8.

Mede-verantwoordelikheid van die Volk

 

 

 

Die volk moet onder ’n volksregering aan die owerheid gehoorsaam wees in alles wat nie strydig is met die wet van God en die eise van reg en geregtigheid nie, en is mede-verantwoordelik vir die beleid en dade van die owerheid wat hy gekies het. Daarom moet die beskawingsmondige burgers steeds die beleid en dade van die owerheid toets aan die wet van God en vir hierdie doel hulle kritiek en burgerregte uitoefen.

 

 

9.

Die taak van die Owerheid

 

 

 

Aangesien die staat die openbare regsgemeenskap is, is dit, met inagneming van die feit dat die owerheid se taak en gesag nie onbeperk is nie en nooit in absolutisme mag ontaard nie, die taak van die owerheid om:

 

 

(a)
 

die publieke reg te handhaaf en die veelheid van regsbelange binne sy grondgebied in ewewig te hou;

 

 

(b)
 

volgens Christelike norme 'n openbare orde te handhaaf waarbinne die volke hulle roeping, taak en ideale kan uitleef;

 

 

(c)
 

te waak teen elke vorm van vreemde oorheersing - hetsy dit geestelik, ekonomies, kultureel of fisiek is;

 

 

(d)





 

onderworpe daaraan dat geen persoon, instelling of organisasie die Christelike-nasionale grondslag of die onafhanklikheid van die staat of die selfbeskikking van enige gemeenskap binne die staat mag ondergrawe nie, volle burgervryheid aan die volk te verseker, met inbegrip van die vryheid van godsdiens, spraak, kritiek en organisasie, en om in hierdie verband die interne reg en gesag van die nie-staatlike lewenskringe te eerbiedig;

 

 

(e)


waar nodig, op die verskillende lewensterreinde hulp so te verleen dat die goeie bevorder word, en op so 'n wyse dat selfstandigheid daardeur aangehelp en staatsafhanklikheid vermy word; en

 

 

(f)


 

met inagneming van die reg van elke persoon om sy talente en gawes te ontwikkel en te benut, noulettend sorg te dra dat geen belangegroep of organisasie 'n dwingende mag in die samelewing kry nie; en

 

 

(g)
 

die onafhanklikheid en politieke onpartydigheid van die regbank te handhaaf en te eerbiedig.

 

 

10.

Regeringstelsel

 

 

 

Die parlementêre demokrasie wat ontwerp is vir ’n veelheid van rasse en volke binne ’n eenheidstaat, rus op verouderde opvattings wat tot geweld en rampspoed lei. Dit voldoen nie aan die vereistes van ’n stabiele demokratiese orde nie en is nie geskik vir doeltreffende bestuur van Suid-Afrika nie. Dit moet vervang word deur ’n stelsel van selfbeskikking van volke binne hulle grondgebiede waar volgens demokratiese voorskrifte regeer word.

 

 

11.

Handhawing van soewereiniteit en onafhanklikheid

 

 

 

Die owerheid is geroepe om noulettend te waak teen enige skending van die soewereiniteit of onafhanklikheid van die Republiek van Suid-Afrika en moet enige rigting, politiek, vertolking of optrede wat hiermee strydig is, met alle geoorloofde middels bestry.

Vir dié doel moet die owerheid ook ’n doeltreffende militêre organisasie van land-, see- en lugmagte in stand hou en hierby die volgende in ag neem:

 

 

(a)

Die doel van 'n militêre organisasie - ook by die sluiting van militêre bondgenoodskappe - moet altyd nasionale beskerming wees

 

 

(b)

 

Ook in 'n vredestyd moet die eer van die soldateberoep gehandhaaf word, omdat die militêre eenhede ook in vredestyd 'n taak het om die hoogheid van die amp van die owerheid duidelik te toon.

 

 

12.

Buitelandse politiek

 

 

 

Betrekking met ander state

 

 

(a)

In sy betrekking met ander state moet die owerheid sorg dat:

 

 

(1)
 

die soewereiniteit en onafhanklikheid van die staat in geen opsig aangetas word nie;

 

 

(2)

 

daar regsgelykheid tussen die betrokke partye is en die seggenskap en beheer oor die eie militêre magte steeds ongeskonde in die hande van die owerheid van die staat bly;

 

 

(3)
 

geen inbreuk maak op die Christelik-nasionale grondslag gemaak word nie.

 

 

(b)



 

In sy betrekking met ander state moet die owerheid nie noodwendig gebonde wees aan die stelsel van uitruiling van diplomate nie, maar hy moet streef na die doeltreffendste wyse van diplomatieke verkeer in ooreenstemming met die grondslae en belange van die staat en die samelewing.

 

 

 

Internasionale organisasies

 

 

 

In sy verhouding met internasionale organisasies moet die owerheid noulettend ag slaan op al die betrokke prinsipiële en praktiese aspekte, en veral sorg dat hy geen deel het aan die bevordering van anti-Christelike en anti-nasionale doelstellings nie; dat die Republiek nie ondergeskik gestel sal word aan ’n vreemde regering, ’n internasionale oppermag of internasionale magsmiddels nie. Die owerheid moet die Verenigde Nasies se prinsipiële en praktiese ontwikkeling noulettend dophou, probeer beïnvloed en voortdurend oorweeg of Suid-Afrika se lidmaatskap van dié organisasie voortgesit moet word al dan nie.

 

 

13.

Bevolkingspolitiek

 

 

(a)
 
 

Die HNP se grondslag is die nasionalisme, wat vir een eis wat dit aan ander gun, dit rus op die reg op voorkeur vir die eie, wat 'n universele reg van persone en groepe is.

 

 

(b)




 

Die samelewing in Suid-Afrika is nie 'n enkele gemeenskap nie, maar 'n veelheid van gemeenskappe wat verskil ten opsigte van ras, kultuur, taal en godsdiens. Die strewe na die integrering van dié gemeenskappe tot 'n enkele nasie deur middel van algehele stemreg onder 'n sentrale owerheid, is verwerplik in die lig van die reg op voortbestaan en selfbeskikking van die verskillende gemeenskappe.

 

 

 

As voorwaarde vir die handhawing van ’n vreedsame orde van organiese eiesoortigheid en die sukses van ‘n beleid van vreedsame naasbestaan, moet die weerstand teen vermenging en teen uitwissing van volksgrense te alle tye sterk gehou word deur die handhawing van afsonderlike identiteite.

Die geskiedenis, ook van Afrika sedert die sestigerjare, is ’n aanskouingsles van die mislukte pogings om sulke uiteenlopende groepe in een parlementêre demokrasie te akkommodeer. Dit het bevestig dat die parlementêre demokrasie ’n beperkte toleransie vir rasse- en godsdiensverskille het.

Ook die geskiedenis van die Sowjet-Unie en die state van Sentraal-Europa in die negentigerjare het getoon dat kulturele, godsdienstige en historiese verskille vernietigend ingryp in demokraties geïntegreerde samelewings.

 

 

(c)

Afrikaners en Engelssprekendes

 

 

 

Aangesien die Afrikaner nie net die oudste deel van die Blanke bevolking uitmaak nie, maar ook die enigste Blanke volk is wat hier te lande gebore is en by uitstek die draer van ons Christelik-nasionale lewensbeskouing is, en aangesien die Afrikaner weens sy eiesoortigheid geen regstreekse versterking van buite kan ontvang nie, moet die owerheid sorg dat die Afrikaanse taal, kultuur en lewenswyse te alle tye gehandhaaf en bevorder word, sodat die nasionale en kultuuridentiteit van die Afrikanerdom ongeskonde bewaar bly — ’n Afrikanerdom wat ook die Engelssprekendes en anderstaliges insluit wat hulle vestig op die historiese wortel van die Afrikanervolk en hulle vereenselwig met die geskiedenis en kultuur van dié volk.

 

 

(d)

Taal

 

 

 

Die party erken Afrikaans as ’n inheemse taal van Afrika, soos die naam aandui, maar ook as ’n kultuurtaal wat hom onderskei van ander inheemse tale. Dit is die taal waarin die vryheidstryd teen Britse oorheersing gevoer is, en waarin die groot politieke en ekonomiese ontwikkeling geskied het. Dit is ook die taal waarvan die stempel afgedruk is op nie net duisende plase en talle dorpe en stede van die land nie, maar ook op die visse en riviere, die bome en die berge, die voëls en diere van die land. Dit gee aan die Afrikaanse taal ’n onvervreembare, unieke reg in die land bo ander tale wat nie inheems is nie.

Waar die Party hom aldus betuig, aanvaar hy dat Engels, as ’n internasionale taal en ook die taal van ’n aansienlike deel van die Suid-Afrikaanse bevolking, ’n nuttige kommunikasiemedium is.

 

 

(e)

Nasionale selfstandigheid

 

 

 

Die Party stel hom ook ten doel om ’n kragtige besef van nasionale selfstandigheid en vryheid verder te ontwikkel.

 

 

(f)

Burgerskap en bevolkingsgroei

 

 

 

Die owerheid moet sulke toestande skep dat die getalsverhouding tussen die verskillende volke en die verskillende ouderdomsgroepe gaandeweg herstel word ter wille van gesonde groei.

Op Suid-Afrikaanse burgerskap moet ’n baie hoë prys gestel word wat nòg deur immigrasie nòg deur emigrasie aangetas moet word.

Daarom moet slegs noodsaaklike immigrasie toegelaat word en moet dit streng beheer en beperk word, met inagneming van die behoeftes van die land en die samelewing. Daarby moet die owerheid alle moontlike stappe doen om die emigrasie van burgers wat ’n voortreflike bydrae tot die samelewing kan lewer, te verhoed.

 

 

(g)

Bevolkingsverspreiding

 

 

 

Die owerheid moet daarna strewe dat ongesonde bevolkingverskuiwings en -konsentrasie voorkom word, en dat op die platteland steeds ’n groot selfstandige boerestand aanwesig sal wees.

 

 

(h)

Volksidentiteite

 

 

 

Die owerheid moet hom beywer vir die territoriale en politieke skeiding van die bestaande volke in Suid-Afrika en daartoe die volksbewussyn van die onderskeide gemeenskappe versterk.

Terselfdertyd moet by die volke steeds sterker weerstand gekweek word teen die gedagte dat hulle nasionale selfverwesenliking in algemene vermenging lê, in teenstelling met die handhawing en versterking van hulle afsonderlike identiteite.

 

 

14.

Openbare finansies

 

 

 

Die owerheid het die reg om billike belastings te hef ter bestryding van die koste wat by die uitvoering van sy taak noodsaaklikerwys aangegaan moet word. Met die oog op die las van rente en delging in latere begrotingsjare, moet versigtig gehandel word by die aangaan van lenings. Enige geldelike hulp aan ander state moet beskou word as ’n vorm van besteding wat buite die normale opdrag van die owerheid val.

Die owerheid moet sorg dat die geldeenheid ’n vaste maat is deur dit sover moontlik in ’n vaste verhouding tot die nasionale besteding te laat staan. Deur die begroting sover moontlik te laat klop en oormatige skommelinge in die geldvoorraad en kredietvolume  te bekamp, moet alles vermy word wat kan lei tot òf waardevermindering òf  -vermeerdering van die geldeenheid.

 

 

15.

Ekonomiese ontwikkeling

 

 

(a)





 

Op ekonomiese terrein moet die owerheid die verskillende dele van die samelewing saambind in 'n gevoel van veiligheid en in 'n gees van onderlinge vertroue en verantwoordelikheid. Hy moet streef na die skepping van sodanige ekonomiese toestande dat aan almal 'n behoorlike lewensbestaan verseker sal word en dat elkeen, maar veral die ekonomies-swakkeres, teen uitbuiting van enige aard beskerm sal word.

 

 

(b)


 

Die owerheid moet noulettend waak teen enige politiek of beleid wat daarop bereken is, of wat die strekking het, om 'n klassestryd te bevorder of om enige volksbelang op te offer ten bate van die georganiseerde geldmag.

 

 

(c)






 

Die ekonomiese werklikheid moet deur die owerheid erken word dat die lewenspeil van die Blankes van Suid-Afrika in verhouding tot dié van ander Blanke samelewings is, en daarom nie gegrond is op die misbruik van die Swartes se arbeid nie. Die lewenspeil van Swartes in Suid-Afrika is veel beter as dié van enige ander Swart gemeenskap in Afrika, omdat Blankes dit ekonomies bevorder het. Gelykmaking van lewensstandaarde van Blankes en Swartes is nie net 'n onreg teen Blankes nie, maar is 'n verwringing van die ekonomie.

 

 

(d)




 

Die ontwikkelingstempo van die land moet in ooreenstemming wees met die optimale vermoë van binnelandse kapitaal en arbeid, en die owerheid moet in sy fiskale en monetêre beleid toesien dat dit gebeur. Sodoende sal die toevloei van kapitaal en arbeid uit die buiteland tot bepaalde projekte en bepaalde tydperke op bepaalde voorwaardes beperk kan word.

 

 

(e)




 

Die ekonomiese groeikoers van die land moet rekening hou met die bevolkingsdigtheid van verskillende streke, met die verhouding tussen die verskillende bedrywe en die verskillende sektore in elke bedryf, asook met die wyse van groei, dit wil sê of dit geskied deur 'n ongesonde al groter sametrekking van kapitaal in die hande van enkele persone, dan wel deur 'n groeiende getal ondernemers.

 

 

(f)


 

Die owerheid moet die eiendomsreg van die burgers noulettend erken en beskerm en 'n beleid volg waardeur lede van volke in staat gestel word om eienaars van grond en woonhuise in hulle historiese grondgebiede te word.

 

 

(g)

Voorts moet die owerheid:

 

 

(1)

die staatseiendom waar moontlik beperk;

 

 

(2)

'n beleid volg waardeur dit vir klein- en middelslagondernemings, wat in 'n behoefte voorsien, moontlik gemaak word om te bestaan; en

 

 

(3)

 

subsidies toeken slegs wanneer dit noodsaaklik is ten opsigte van instellings waarvan die werksaamheid op die behoeftes van die samelewing gerig is en minstens gedeetelik 'n openbare karakter het.

 

 

(h)






 

Terwyl die belange van die verskillende volksdele almal die aandag en sorg van die owerheid gelyklik moet geniet, moet die bestaan en welvaart van die landelike bevolking die onderwerp van besondere strewe en toewyding vorm.  Die behoud en vermeerdering van selfstandige en selfonderhoudende grondbesitters moet bevorder word. Die verdringing van die individuele boer deur enige persoon of belangegroep wat oormatige invloed en mag kan uitoefen deur die beheer van groot kapitaal, moet bestry word.

 

 

16.

Vryheid van beroep

 

 

 

As hoof van die openbare samelewing moet die owerheid hom besig hou slegs met sake wat uiteraard openbare betekenis het. Daarom moet die owerheid:

 

 

(a)

die vryheid van beroep van die burgers beskerm;

 

 

(b)



 

die reg van elke burger om sy talente en vermoë sover moontlik in vrye mededinging te ontwikkel, erken en beskerm, maar ook sorg dat geen persoon of organisasie, vanweë die versameling van rykdom, mag en invloed kan uitoefen wat die politieke en maatskaplike vryheid aantas nie; en

 

 

(c)

 

elke burger wat sy arbeid aan die gemeenskap gee, se reg erken op 'n billike loon en op 'n menswaardige bestaan as hy op sy oudag nie meer ekonomies produktief kan wees nie.

 

 

17.

Maatskaplike sake

 

 

(a)













 

Die owerheid behoort in sy eie werksaamhede daarna te strewe dat elke werknemer die beteknis van sy persoonlike arbeidsprestasie vir die ontwikkeling en beveiliging van die land sal besef, ten einde die gebondenheid tussen bestuur en personeel te versterk; en hy behoort hierin 'n voorbeeld te wees. Die amptenare van die Staat moet toegerus wees om aan die hoogste standaarde te voldoen, en moet in staat gestel word om 'n hoë peil van doeltreffendheid te handhaaf.

Die owerheid wat ’n beleid van nasionale inspanning en regverdigheid moet handhaaf, het ook ’n plig om, wanneer nodig, by die vasstelling van lone en pryse in te gryp in gevalle waar persone of organisasies deur hulle invloed op lone en pryse die goeie orde en voortgang van die samelewing versteur. Alle vorms van uitbuiting moet deur die owerheid bekamp word.

 

 

(b)




 

Die owerheid moet die verlening van kerklike barmhartigheid aan behoeftes aanmoedig. Waar die hulp ontbreek of ontoereikend is, moet die owerheid self in die behoefte voorsien. Sodanige hulpverlening moet daarop toegespits wees om, sover moontlik, die betrokke persone weer produktief in die ontwikkelingsproses van die samelewing in te skakel.

 

 

18.

Openbare sedelikheid

 

 

 

Die owerheid moet toesien dat alles wat die Christelike sedes en integriteit van die volkere op die openbare terrein bedreig, geweer word.

Met inagneming van die burgervryheid moet in die besonder daarvoor gesorg word dat alle massakommunikasiemiddele — hetsy in die vorm van radio, rolprent, boek, tydskrif, koerant of televisie — met hulle geweldige openbare invloed nie die vryheid misbruik om die Christelik-nasionale lewensbeskouing in die algemeen en die Christelike sedes in die besonder, of die vryheid van die volk, of die onskendbaarheid van die vaderland wat hulle moet bedien en waaruit hulle hulle bestaan maak, af te takel nie.

 

 

19.

Onderwys

 

 

 

Die reg van die ouers om self voorsiening vir die onderwys van hulle kinders te maak, moet deur die owerheid erken word. Geen skool of universiteit mag ’n anti-Christelike karakter dra of die veiligheid van die Republiek ondergrawe nie.

Die owerheid moet egter ook openbare skole en inrigtings vir tegniese en hoër onderwys voorsien, en hierin ’n beleid van Christelik-nasionale onderwys volg met behoorlike inagneming van die regte van ouers en die status en regte van die onderwyserskorps.

Die besondere belangrikheid van die werk van die onderwysers moet besef word, omdat hulle nie net verantwoordelik is vir die intellektuele vorming van die jeug nie, maar in ’n hoë mate vir die geestelike weerbaarheid van die volk. Daarom moet die onderwysberoep in hoë eer gehou word.

Die onderwysproses moet in alle opsigte ingestel wees op die ontwikkeling van die verstandelike en geestelike vermoë van elke leerling of student, op die vorming van persone wat ten volle in staat sal wees om deel te neem aan die uitvoering van die kultuurtaak en om effektiewe, volksgebonde leiers op die verskillende lewensterreine te kweek.

Die owerheid moet die gewetensklousule, wat ’n uitvloeisel van die humanistiese neutraliteitsleer is, in die betrokke universiteitswette vervang met ’n Christelik-nasionale bepaling.


Die owerheid moet volksgeskiedenis ’n verpligte vak in skole maak.

 

 

20.

Tweede- en derdevlak-owerhede

 

 

 

Die tweede- en derdevlak-owerhede moet sover moontlik bevorder word, sodat hierdie mindere owerhede ’n maksimum bydrae kan lewer tot die ontwikkeling van die volk, in ooreenstemming met en in onderworpenheid aan die landswette en in doeltreffende koördinasie met die sentrale owerheid.