Die Herstigte Nasionale Party

Kliek vir die HNP Forum

Ons kleure

Die Herstigte Nasionale Party (HNP) is in 1969 gestig. In 1934 is die Herenigde Nasionale Party gestig (HNP) om die beginsels van die Nasionale Party van 1914 voort te sit en het later weer die Nasionale Party (NP) geword. Die HNP (1969) is dus die verlengstuk van die NP van genl. Hertzog, dr Malan, adv. Strydom en dr. Verwoerd.

Die kleure van die HNP is oranje, wit en blou soos in die Prinsevlag. Toe die NP die kleure van hul party verander het en weggedoen het met die oranje, wit en blou het die HNP dit sy kleure gemaak.

Die Unievlag, ook bekend as die Republiekvlag, is ook in die kleure oranje, wit en blou. Dit is ook die vlag wat deur die ANC gestryk is toe die Afrikaner se vryheid van hom ontneem is.  Die HNP is ook trots op die Vierkleur en die Vrystaat-vlag as die vlae van die onafhanklike Boere-republieke. Saam met die Oranje-Blanje-Blou word dié vlae gereeld by byeenkomste vertoon.



Die Bittereinders

Die Bittereinders staan in die Afrikanervolk se heldedom hoog aangemerk as dié groep wat die moed, die selfvertroue en die uithouvermoë gehad het om teen 'n oormag te veg toe baie ander aan die stryd onttrek of aan die vyand oorgegee het.

Die Bittereinders het hulle onderskei van die verraaiers, die hensoppers en die vredepraters onder die Boere.  Hulle was nie die einde van die Boerevolk nie, maar, inteendeel, die groeipunt van Afrikanernasionalisme.

Die gees van die Bittereinders is die kosbare besit van die strydende  Afrikanerdom wat glo dat die prys van 'n volk se vaderland en vryheid nooit te hoog is om te betaal nie.

Die HNP staan by dié gees van die Bittereinders. Die HNP is in verset teen die huidige bestel in die gees van die Bittereinders. Die HNP glo en praat en doen in die gees van die Bittereinders. Die HNP veg vir die herstel van die Afrikanervolk se vryheid met dieselfde volkstrots as die Bittereinders.

Die embleem van die Bittereinders is in die kleure van die Transvaalse Vierkleur. Die letters is in wit en rooi, die buiterand is blou op wit en die agtergrond is groen.

 

To top

 

 

.

Kopiereg © 2009 Herstigte Nasionale Party

Kontak HNP -Kontak diensverskaffer