Die Herstigte Nasionale Party

Kliek vir die HNP Forum

Jaap Marais

 

Jaap Marais se nalatenskap

aan die Afrikanervolk

(Saamgestel deur Andries Breytenbach)

 “Die grootste Eerste Minister...”

Tydens mnr. Jaap Marais se begrafnis het wyle mnr. Willie Marais hom beskryf as “die grootste Eerste Minister wat Suid-Afrika nie gehad het nie”.

In daardie beskrywing lê geweldig baie opgesluit — alles wat al in vorige gedenklesings in besonderhede uitgespel is: sy lewe as Afrikanernasionalis, kultuurmens, parle­mentariër, geloofsman, idealis, profeet, en die invloed wat hy op al daardie en ander terreine uitgeoefen het.

Die invloed van ‘n Eerste Minister

Ons het in die politiek van Suid-Afrika,voordat ons ‘n uit­voe­rende Staatspresident gekry het, daaraan gewoond geraak dat ‘n Eerste Minister groot invloed in die open­bare lewe en selfs op die karakter van die volk uitoefen. Die invloed kan positief of negatief wees. Dat sy invloed verreikend sal wees, is te ver­wagte, want in die posisie van Eerste Minister is die hele staatsmag as’t ware in een persoon saamgetrek. Hy is immers die leier van die regerende party en geniet die steun van ‘n beduidende deel van die openbare media. Boonop het die regering waarvan hy die aktiewe leier is, deur sy wetgewende mag, sy sosiale aansien en die leiding­gewende rol wat hy in die samelewing vervul, ‘n invloed op alle terreine van daardie samelewing.

Die blanke bevolking in SA

Sedert die volksplanting deur Van Riebeeck tot 1994 het die blanke bevolking Suid-Afrika regeer. Die swar­tes­/­gekleurdes se politiek en politieke strukture was eenkant, buite die hoofstroom. Hulle was as gemeenskap ook uitgesluit van die blanke se maatskaplike lewe.

Veral ná die koms van die Engelse in 1795 het die blanke bevolking as ‘n dualistiese gemeenskap ontwikkel, twee teenoorstaande volke wat eintlik vyandig teenoor mekaar gestaan het vanweë Engeland se imperialistiese optrede in Suid-Afrika.

Die Afrikanervolk is gesmee uit Nederlanders, Duitsers, ‘n kleiner element Franse en selfs ook Engelse. Hulle was uit die staanspoor Calviniste, en namate opeenvolgende geslagte ná die eerste setlaars in Suid-Afrika gebore is en grootgeword het, was hulle in trou aan hierdie land gebonde.

Teenoor die Afrikaner het die Engelssprekendes gestaan, van wie ‘n groot deel se strewe en simpatie by Engeland en dié se imperiale oogmerke gelê het. Sedert die tyd van die Boererepublieke is hulle hoofsaaklik gelei deur die Brits-Joodse geldmag en ofskoon hulle in hierdie land gebly het, was hulle in gees en sentiment eintlik net ‘n verlengstuk van Engeland. Vanweë hulle taal en liberale lewensbeskouing het uitlanders wat as avonturiers en fortuinsoekers hierheen gekom het, in groot getalle by hulle aansluiting gevind.

Verskille in taal, godsdiens, lewensbeskouing en nasio­nale strewe het ‘n onoorbrugbare kloof tussen die Afri­kaner en Engelse Suid-Afrikaner geskep en dit was net natuurlik dat in die botsings wat daaruit ontstaan het, die gewone burgery hulle met die een of die ander bevolkingsgroep sou vereen­selwig kragtens die lewenswet soort soek soort

Dit is daarom nie vreemd nie dat, toe die voortdurende bot­sing tussen die republikeinse strewe van die Boere en die imperiale strewe van die Engelse gekulmineer het in die Tweede Vryheidsoorlog, daar uit die geledere van die Engelsspreken­de inwoners van Kaapland en Natal koloniale regimente tot stand gekom het wat hulle aan die kant van Brittanje geskaar het teen die Republikeinse magte.

Daardie oorlog het ‘n vyandskap en verwydering tussen die Afrikanervolk — veral die nasate van die Boere — en die Engelssprekende bevolkingsgroep in Suid-Afrika te­weeggebring wat selfs tot vandag toe voortduur.

Die Unie van Suid-Afrika

Agt jaar ná die oorlog is die voormalige Boererepublieke (ZAR en die OVS) en Britse kolonies (Kaap en Natal) in die Unie van Suid-Afrika saamgesmee: uiterlik ‘n een­heid, maar in sy bedoeling reeds ‘n daad van vyandig­heid, ‘n politieke voortsetting van die oorlog, waarin Engeland die geleentheid gesien het om die Boerevolk finaal in die groter eenheid van die Unie te assimileer.

 Die Boereleiers, aan die ander kant, het weer daarin die verwesenliking van ‘n lang gekoesterde ideaal van ‘n verenigde Afrikanerdom gesien. Pres. Steyn vertel byvoorbeeld van 'n insident tydens die Tweede Vryheidsoorlog toe hy ná die slag by Gras­pan op die slagveld gekom en die plek aan hom gewys is

“waar drie van ons manne gesneuwel het — ‘n Kolo­nialer, 'n Vrystater en 'n Transvaler. Ek het ge­sien hoe hulle lewensbloed in een groot plas bloed saamgestroom het.

“Ek het by die plas vasgenael gestaan. Ek het met niemand gepraat nie. Dit was vir my 'n heilige oom­blik. Nuwe hoop en nuwe moed het my vervul.

“Ek het op my perd geklim en weggery, oortuig dat ek die ware vereniging van Suid-­Afrika gesien het — want daardie bloed kan geen mens weer skei nie.[1]

Volksleiers het besef dat so ‘n verdeelde volk op die lange duur nie houdbaar was nie — nie te midde van ‘n toenemende getal swartes wat die blanke land binnege­stroom en ‘n groeiende faktor in die politiek geword het nie. Daar moes groter eenheid in blanke geledere kom: op die minste moes die Engelssprekende Suid-Afrikaners hul trou aan Engeland verruil vir trou aan Suid-Afrika.

Voortsetting van die Republikeinse strewe

In Afrikanergeledere het ‘n stryd oor die saak ontstaan, en waar genl. Louis Botha vanweë sy lojaliteit aan die Britse Ryk ‘n pro-Engelse houding ingeneem het, het genl. Hertzog die Afrikaner opgeroep tot lojaliteit aan Suid-Afrika met die slagkreet “Suid-Afrika eerste”.

Die republikeinse ideaal was nie dood nie; dit het in die gemoedere van die Boere wat die wapen voor die Britse oormag moes neerlê, gesluimer, maar het ook posgevat in die harte van die Kaapse Afrikaners wat hulle met die republikeinse strewe vereenselwig het.

Die NP: Politieke Volksfront van die Afrikaner

Vir die Afrikanerdom was die Nasionale Party wat tot stand gekom het, dus inderdaad “die politieke volksfront” soos dit in hul Program van Beginsels eksplisiet gestel is. Verarm ná die Tweede Vryheidsoorlog en grootliks uitge­rangeer uit deelname aan die ekonomie waar die myne, groot nywerhede en finansiële instellings in die hande van die Engels-Joodse kapitaliste was, sou die Afrikaner deur die politiek stry om weer die regeermag in die hande te kry en die republikeinse ideaal te verwesenlik.

Dit is dus te begrype dat ‘n Afrikanerregering, en veral die Eerste Minister as die hoof uitvoerende lid daarvan, bui­tengewone aansien in die oë van sy ondersteuners ge­niet het en dat hulle in sy leiding ‘n rolmodel gesien het van wat hoort en wat nié. Deur sy optrede het hy ‘n sede­like en etiese norm vir die openbare lewe daargestel waarvan die invloed deurgewerk het om ook die karakter van die volk wat hom aangehang en in daardie posisie gestel het, te help vorm. Trouens dit het ‘n impak gehad het op die hele samelewing vir wie die Regering verantwoordelik was.

Dít was die ervaring onder die Eerste Ministerskap van genl. Hertzog en dit het voortgeduur, gedra deur ander Afrikanerleiers deur die jare van Smutsregering, en is weer vervat met die bewindsoorname van dr. D.F. Malan in 1948.

Onder die opeenvolgende regerings van dr. Malan, mnr. Strijdom en dr. Verwoerd is die standaarde van sedelik­heid in die openbare lewe, doeltreffende en gesonde staatsadministrasie, werksetiek, verantwoordbaarheid teenoor die kiesers en aanspreeklikheid vir die hantering van belastings en ander bates van die publiek wat aan hulle toevertrou is, tot ongekende hoogtes gevoer.

Dit was die situasie toe dr. Verwoerd ons ontval het. Om in daardie tyd ‘n aanstelling in die kabinet te gekry het, of selfs net as parlementariër verkies te geword het, was ‘n posisie van besondere openbare aansien. Van lede van die Volksraad is verwag om ware volksverteenwoordigers te wees wat op ‘n eerbare manier aan die hoë eise van so ‘n posisie moes voldoen.

Jaap Marais in die Parlement

In daardie kultuur het mnr. Jaap Marais tot die Parlement toegetree.

Daar het hy hom uit die staanspoor onderskei as ‘n toe­gewyde verteenwoordiger van die kiesafdeling wat hom verkies het, en van die Nasionale Party wat die Afrika­nervolk se aspirasies gedra en daarvoor gestry het.

In dié hoedanigheid het hy hom deeglik in alle vraag­stukke wat in die parlement ter sprake gekom het, inge­studeer sodat hy met gesag daaroor kon praat en ‘n produk­tiewe inset kon lewer in elke Volksraadsdebat waaraan hy deelgeneem het. (Sy rol as parlementariër is in 2004 deur mnr. W.T. Marais in ‘n gedenklesing uitvoe­rig behandel). 


Wyle dr. Albert Hertzog, mnr. Jaap Marais en ander Volksraadslede van die Nasionale Party het ingesien dat die implikasies daarvan verder as sport sou strek; trou­ens dit sou die land oopmaak vir algemene maatskaplike vermenging, wat op sy beurt na ander terreine sou uit­brei, en daarom het hulle Vorster geopponeer.

Omdat die Nasionale Party en die oorgrote meerderheid van die blankes sterk verenig was en die beleid van afsonderlike ontwikkeling volmondig onder­steun het, kon Vorster nie reguit sê waarmee hy besig was nie omdat hy geweet het die kiesers sou dit nie aanvaar nie. Gevolglik moes hy die koersverandering op subtiele wyse “insmokkel”. Daarmee het hy ‘n styl in die openbare lewe ingelui wat vir die land, en in besonder vir die Afrikaner, vreemd was. Dit was naamlik ‘n styl van dubbelpratery, van een ding te sê en dit later, soos en wan­neer dit hom pas, te vertolk en te plooi om byval te vind by die gehoor tot wie hy hom op daardie tydstip gewend het. Spoedig was dit duidelik dat die openbare uitsprake van die regerende politici nie meer aanvaar en vertrou kon word nie.

Selfs in die binnekring van die Nasionale Party, die NP-koukus, was daar totale verwarring en onsekerheid omdat Vorster aan die een kant versekerings gegee het dat daar nie van die be­kende en beproefde NP-beleid afgewyk sou word nie, maar aan die ander kant in die koukus betoog het dat Suid-Afrika aanpassings sou moes maak ten einde te verhoed dat die land op sportgebied geïsoleer word. Terwyl meeste van sy volgelinge geglo het dat die NP-beleid gehandhaaf sou word, is segsmanne wat te kenne gegee het dat Maori’s in ‘n All Black-span hier ontvang sou word, ook nie gerepudieer nie. Gevolglik is, volgens mnr. Marais, “die indruk gelaat dat so ‘n verwarring bevor­derlik is vir die NP omdat dié onbeslistheid ondersteuners na links en regs sou paai.”[1]

Openbare eerbaarheid en eerlikheid

Daarteenoor het mnr. Marais in die styl van dr. Verwoerd en sy voorgangers sy standpunte in die openbaar reguit en ondubbelsinnig gestel. Onbevrees het hy nie net Vorster en die NP se dubbelpratery ontmasker nie, maar self ‘n standaard van eerlikheid, openheid en betrou­baarheid in die openbare lewe gestel wat hy dwarsdeur sy politieke loopbaan gehandhaaf het: As Jaap Marais iets gesê het, was daar geen twyfel wat hy bedoel het nie en almal het geweet hy sou nie later terugkrabbel en aanvoer dat hy verkeerd aangehaal of verstaan is nie.

Dit was in skrille kontras met politieke opponente wat so lank as moontlik op twee stoele probeer sit het net om hulle setels in die Volksraad of hulle lidmaatskap van die NP te probeer behou, en toe hulle eenvoudig nie meer die waarheid kón ontwyk nie, dit afgemaak het met ‘n uit­spraak soos “Ek het nie van standpunt verander nie, ek het my standpunt vir ‘n beter een verruil”.

Mnr. Marais se styl van openbare eerlikheid en eerbaar­heid het deurgewerk na sy volgelinge sodat dit ‘n ken­merk van die HNP geword het wat dié Party anders as sy opponente in die politiek gemaak het. Uiteindelik was die verskille tussen die HNP en ander partye in Afrikaner­geledere nie beperk tot politieke standpunte nie; ‘n wesen­like verskil in die kultuur van die HNP het hom van die ander onderskei — ‘n onderskeid wat sekerlik daartoe bygedra het dat die HNP en ander regse of skynregse partye en groepe wat die politiek op ‘n soortgelyke manier as die Nasionale Party bedryf het, mekaar nooit kon vind nie en wat tot op hierdie dag ‘n wesenskenmerk van die HNP is.

Beginselpolitiek

Dit kon seker ook nie anders nie, want Jaap Marais het die politiek vanuit beginsels benader en beoordeel. Hy het beginselpolitiek bedryf en kon vinnig onderskei wan­neer ‘n beginsel ten grondslag van enige politieke saak of koers gelê het en hoe die toepassing of nalating daarvan sake vorentoe sou beïnvloed. Deur by beginsels te hou, het dit die beoordeling en optrede in elke soortgelyke omstandigheid vergemaklik en konsekwent gemaak. Vriend en vyand het geweet waar hulle met hom gestaan het. Hierdie benadering en wyse van die politiek te bedryf, het hy by sy ondersteuners gevestig. Ook dít het ‘n wesens­kenmerk van die HNP geword.

Mnr. Marais het geweet dat afwyking van ‘n beginsel noodwendig tot gevolg sou hê dat ‘n regering of party hom telkens tot dubbelpratery en akrobatiese toertjies sou moes wend om sy eie onder­steuners om die bos te lei ten einde hulle steun te behou, soos mnr. Vorster se hantering van die sportbeleid gedemonstreer het.

Moed van sy oortuigings

Die voer van beginselpolitiek het meegebring dat Jaap Marais standpunte wat hom steun en stemme gekos het omdat dit omstrede of onpopulêr was, nogtans rond­borstig gestel en dit verdedig het sonder om van die impli­kasies daarvan weg te skram. Die standpunt oor gemengde sport is ‘n uitnemende voorbeeld hiervan. Aanvanklik het die breë kieserspubliek die Nasionale Party se tradisionele standpunt teen gemengde sport onder­steun. Toe gemengde wedstryde eers praktyk ge­word het en politieke leiers wat dit aanvanklik verwerp het, dit later ook aanvaar het, was dit by ‘n sportmal pu­bliek nie meer populêr om ‘n standpunt te stel wat voort­gesette sportboikotte tot gevolg sou hê nie.

Dieselfde geld vir die HNP se taalbeleid. Vir die eerste keer in die geskiedenis het ‘n politieke party die moed aan die dag gelê om ten opsigte van die landstaal in sy Program van Beginsels neer te lê en selfs in die Parlement te bepleit wat diep in die harte van ons volk geleef het, naamlik dat Afrikaans, as die taal wat hier te lande ont­staan het en eie is aan hierdie bodem, die enigste ampte­like landstaal van Suid-Afrika moes wees.

Openbare fatsoenlikheid

Mnr. Jaap Marais se openbare lewe is gekenmerk deur sterk, moedige optrede, dog tewens het hy selfs in die aangesig van uiterste provokasie hom immer waardig gedra en nooit tot die vlak van sy teenstanders gedaal nie.

Mnr. Vorster het as Eerste Minister hom meermale op ‘n ietwat plat manier en ‘n wyse wat daardie hoë posisie onwaardig was, uitgedruk, byvoorbeeld toe hy Kaunda in die openbaar gedreig het dat Suid-Afrika hom “voor brek­fis sou opeet”[1]; of toe hy in die openbaar neerhalend na medeAfrikaners verwys het as “‘n jong bog”, ‘n “bobbe­jaan” en wagters op Sionsmure.

In soortgelyke trant het Staatspresident P.W. Botha ‘n lid van die publiek tydens ‘n openbare vergadering toege­snou: “jy met jou oerangoetanggesig”.

Daarteenoor het mnr. Jaap Marais selfs tydens die skerpste debat of redevoering hom van skeld- en plat taal of roekelose uitlatings weerhou. Hy het die politiek met groot erns bejeën en daarom sorg gedra dat hy hom nooit skuldig gemaak het aan goedkoop of onverant­woordelike uitsprake wat homself en sy ondersteuners in die verleentheid kon stel en wat hy later sou moes reg verduidelik of terugtrek nie.

Sodoende het hy ‘n voorbeeld gestel en ‘n norm neergelê waarby die politieke leiers van sy tyd — Eerste Ministers en Staatspresidente — nie kon kom nie. Die standaard wat hy vir volksverteenwoordiging gestel het, sal verby die heersende regime strek en sal vorentoe, wanneer ons volk weer onsself regeer, die maatstaf wees vir respektabelheid in die openbare lewe en be­skaafde regering op hierdie donker kontinent.

Mnr. Jaap Marais was inderdaad ‘n “Eerste Minister wat ons nie ge­had het nie.”

Politieke optrede in die “Nuwe Suid-Afrika”

Die politieke bedeling wat F.W. de Klerk op Suid-Afrika afgelaai het, het die blanke, en dan in besonder die Afri­kaner, met ‘n situasie gelaat waarin ons nog nooit voor­heen verkeer het nie en waarvoor daar nie parallelle in ons geskiedenis bestaan nie. Dit is naamlik ‘n een man een stem-bedeling waarin die blankes getalsgewys ‘n abso­lute minderheid teenoor die nieblankes is. Die bede­ling is dus gestruktureer om die blankes permanent in ‘n posisie van onderhorigheid te hou. Dit is inderdaad die verwesenliking van die Milner-ideaal “to wipe out the last trace of Africanderism”.[1]

In dié bedeling — so was die berekening van die linkses — kan die blanke eintlik net een pad gaan, en dit is om saam met Kleurlinge, Indiërs en Swartes wat nie die ANC ondersteun nie, ‘n opposisieparty te vorm met die hoop om die bewind van die ANC oor te neem. Dat hulle daarin geslaag het om baie blankes in dié koers te dwing, is duidelik uit die ondersteuning wat die Demokratiese Allian­sie (DA) by die stembus geniet, waar duisende van die Nasionale Party se ondersteuners nou hulle steun toesê aan die beleid van die ou Progressiewe Party in die valse waan dat dit darem opposisie is wat die ANC op ‘n manier aan bande kan lê of selfs kan verslaan.

Binne die parlementêre politiek — of dit nou ‘n hoofsaak­lik blanke party is soos die VF+ of ‘n gemengde party soos die DA — is die blankes se politieke mag perma­nent ondergeskik aan swart oorheersing, en beskik hy dus in werklikheid oor geen politieke mag nie.

Dit was mnr. Jaap Marais wat aan die blankes die alter­natief voorgehou het om die bedeling te verwerp deur nie aan die politieke prosesse daarvan deel te neem nie.

“Ons moet nie deel hê aan hierdie besmetlike bestel wat aan ons opgedwing is nie. Ons neem aan geen politieke proses van hom deel nie. Ons bly buite om ons geveg vir ons vryheid van buite die bestel te voer!”[2]

Vir baie was en is dit steeds ‘n sonderlinge benadering wat indruis teen die praktiese politiek waar stemme getel word, dog Jaap Marais het hom betoon as ‘n leier wat verder gekyk het as die onmiddellike situasie. Hy het be­klemtoon dat iemand wat aan die konstitusionele bedeling deelneem, mettertyd so daarin opgesuig word dat hy uiteindelik deel word daarvan en sy visie weggetrek word van die groter ideaal, naamlik om as volk vry te word.

. “Die natuurlike neiging (is dan) dat jy nie meer dink aan alternatiewe nie, want jy is verstrik in daardie bestel en jy moet jou beweging daarbinne soek.”[1]

Hoe reg hy geoordeel het, word deur die praktyk bewys. Genl. Con­stand Viljoen se Vryheidsfront het tot die 1994-verkiesing toegetree met die belofte dat dit die weg sou baan om van die ANC-regering ‘n volkstaat te verkry. Dit was sy “strategiese alternatief” vir harde en selfs gewapende verset teen oorgawe aan die ANC. Wat was die resul­taat? Die Volkstaatraad wat tot stand gebring is, is uitein­delik weer deur die Regering tot niet gemaak en die VF+ het as ‘n onbenullige party in die parlement aangebly met sy leier nou ‘n adjunkminister in Zuma se kabinet. Van vryheid en ‘n volkstaat vir die Afrikaner is nooit meer  uit daardie geledere iets gehoor nie.

‘n Tweede beginsel wat mnr. Marais aan ons gegee het om te koester, is dat dié land óns land is. Net soos die swart volkere hulle historiese gebiede het (die “tuislande), het die Afrikaner ook sý land — die deel van Suid-Afrika wat ons beset en aan die wildernis ontworstel het, en of­skoon meerdere getalle swartes hulle hier gevestig het en dit vandag inderdaad beset, mag ons nie ons histo­riese aanspraak op ons vaderland prysgee nie.

Vir mnr. Marais was dit absoluut noodsaaklik dat die poli­tieke stryd moet voortgaan. Die demokrasie is nie sterk genoeg om die verskeidenheid van kulture en volke wat in hierdie staatsbestel saamgedwing is, onbepaald by­mekaar te hou nie. Die geskiedenis van Afrika het her­haaldelik getoon dat dit lei tot ‘n magstryd en ‘n uiteenval van die politieke bedeling. Wanneer dit gebeur, het mnr. Marais gesê, sal daar nuwe grense getrek word en sal die Afrikanervolk weer sy vryheid terugneem.

Die doel van die politieke stryd moet wees om ons self­respek te herwin en ons volk saam te snoer in ‘n gees van verset, ‘n weiering in die gemoed om die heersende situasie te aanvaar.

 “Dit kan jy net doen as jy werklik ‘n politieke mag het wat vir jou kan lei vanuit eenheid-in-verset na vry­heid-deur-verset!”

“Wanneer die gees van die stryd en die wil tot verset daar is, kom daar geleenthede wat omgesit kan word in groot dade, maar as die wil tot verset en die gees van die stryd nie daar is nie, dan gaan al daardie geleenthede verby.”

“Of dit (die vryheid) dan kom deur die wapen of nie, maar selfs as dit moet kom deur die wapen, is dit die politieke stryd wat die saambinding gee wat uiteindelik aanleiding tot effektiewe aksie kan gee.”[1]

Vandag leef daardie standpunte van mnr. Marais voort in die HNP (asook in die groepe wat van die HNP wegge­skeur het); en al is daar baie volksgenote wat moeg of afvallig raak en hulle dan maar uit radeloosheid tot die stembus wend — al is dit net om uiting te gee aan hul opge­kropte gevoelens en wrewel — bly daar die wete dat dit die regte dinge is om te doen: bly weg van verkie­sings onder hierdie Grondwet; behou ons aanspraak op ons volkskap en ons vaderland; weier om in die verowe­ring van ons land en volk te berus; smee ons mense saam in verset deur middel van die politieke stryd. So­doende bou ons die selfrespek en die morele basis waarop ons moet staan die dag wanneer ons ons vryheid opeis en herstel.

Afrikanernasionalisme

Geen Afrikanerleier het Afrikanernasionalisme so filoso­fies en omvattend begrond en geformuleer soos mnr. Jaap Marais nie. Hy was ‘n politieke filosoof, toegewyd, wyd belese en skerpsinnig, met ‘n geloof in die geroepenheid en toe­komsbestemming van die Afrikanervolk. Daarom het hy dikwels betoog dat daar dinge is wat meer werd is as die lewe self, dinge wat werd is om voor stryd te voer en as dit nodig is, jou lewe voor af te lê. Want anderkant hierdie lewe van die individu gaan die lewe en die groei van die volk voort na ‘n hoër eindbestemming. Die vryheid van ons volk is by uitstek een van daardie dinge wat werd is om jou lewe voor af te lê.

Hy het klem daarop gelê dat die volk nie maar net ‘n versameling individue is wat die­selfde land deel en dieselfde taal praat nie. Die Afrika­nervolk kom voort uit eeue van beskawingsontwikkeling en vestiging van geestelike waardes wat veranker is in die Christelike geloof. Vir Jaap Marais was die behoud van laasgenoemde ‘n absolute voorwaarde vir ons voortbestaan as volk, en het hy dit onomwonde aan F.W. de Klerk gestel:

“Dit is daarom ondenkbaar dat in ‘n nuwe bedeling van (die Afrikaner) verwag kan word om deel te wees van... ‘n staatshuishouding wat op ‘n ander grondslag rus as dié van die geloof in die Drie-enige God. Hy sal nie alleen vreemd voel in so ‘n staatsbestel nie, maar dit sal neerkom op ‘n verloëning van sy diepste geestelike waardes en sy God. Daar is nie ‘n resep wat met meer sekerheid die totale verwildering, ver­val en vernietiging van die Afrikanervolk kan bewerk nie.”[1]

Dit sal geen oordrywing wees om te beweer dat ná pres. Paul Kruger, geen leier met soveel erns en toewyding hom beywer het vir die volkome vryheid van die Afrika­nervolk soos mnr. Jaap Marais nie. Die volk moes staat­kundig, geestelik en ekonomies vry word van alle vreemde oorheersing. Daardie vryheid moes opgerig word op die fondamentstene van Christenskap, witman­skap en Afrikanerskap. Die beleid van apartheid moes daardie vryheidsideaal dien.

In die loop van sy politieke loopbaan het hy in honderde toe­sprake en geskrewe stukke al die fasette van Afrikanernasio­nalisme aangeraak, hetsy herkoms, ras, taal, godsdiens, Christelike waardes, lewensbeskouing, geregtigheidsin, vaderlandsliefde en –trou, tradisie, stryd, selfbetuiging, besef van groepsidentiteit, respek vir die voorgeslag, vereenselwiging met volkshelde, die natuurlike skanse van volks- en rassegrense, sedelike opvattings, die reg op voorkeur vir die eie, die krag van die Gelofte in ons volk.

Telkens wanneer mens oor een van die onderwerpe be­sin, vind jy in nagelate geskifte of toesprake rigtinggewende bespreking daarvan wat so gesagheb­bend is dat daar weinig meer oor die onderwerp gesê kan word. Mnr. Jaap Marais het as’t ware die laaste woord daaroor gesê en sy uitsprake is meestal tydloos. Sodoende het hy aan ons ‘n ryk skat nagelaat wat telkens weer die denke en gedagtes prikkel en wat deur elke geslag wat dit lees, opnuut ontdek sal word.

Daaruit sal ons put om hierdie volk, wie se afsonderlik­heid en onafhanklikheid deur die politieke bedeling wat FW de Klerk op ons afgedwing het, grootliks vernietig is, weer uit hierdie bedeling op te hef en op­nuut bewus te maak van sy roeping, en om die nuwe ge­slagte op te voed om aan daardie roeping getrou te wees.

Ras en Kultuurverskeidenheid

Mnr. Jaap Marais het ‘n grondige begrip getoon van die biologiese, psigiese en geestelike verskille wat in rasse opgesluit lê en wat die verskille tussen rasse definieer. Die uiterlike kenmerke soos velkleur, haarstruktuur en gelaatstrekke wat rasse van mekaar onderskei, is maar oppervlakkige verskille. Dieperliggend is daar “diepgaan­de historiese verskille en nog dieper genetiese verskille, wat saam sosiale, kulturele en godsdienstige afstand skep wat onoorbrugbaar is.”[1]

Hy het gewaarsku dat waar ‘n verskeidenheid van rasse en kulture in een staatsbestel saamgedwing word, het so ‘n bestel geen binding nie, is daar gedurige wrywing en botsing van belange en lei dit uiteindelik tot óf die uit­mekaarval óf die oorheersing deur die getalrykste groep tot ellende van al die ander.[2]

In die kommentaar wat hy voorgelê het aan die Suid-Afri­kaanse Regskommissie oor laasgenoemde se werkstuk 25 in verband met ‘n Menseregte-Akte het mnr. Marais daarop gewys dat die Kommissie se werkstuk gaan om die daarstelling van ‘n bedeling waarin die grondslag gelê word vir die onvermydelike geleidelike likwidering van “groepe” en die opgaan van hulle individue in ‘n breë verband van “’n nuwe nasie”.[1]

Terwyl daar in die nuwe bedeling gepoog is om alle ver­skille in die SA samelewing te ignoreer ten einde ‘n soge­naamde geregtige en gelyke samelewing daar te stel, het mnr. Marais betoog dat dit ‘n “opperste dwaling is om gelykheid en geregtigheid met mekaar gelyk te maak.”[2] Gelykheid is nie geregtigheid nie, inteendeel, dit druis in teen die reg op voorkeur vir die eie, ontneem mense hulle vryheid en lei tot gedwonge integrasie.[3]

Nugterheid en realisme in die politiek

Jaap Marais het hom van ander leiers in die regse politiek onderskei deur die nugtere en beredeneerde wyse waarop hy die politiek bedryf het.

Sy skerpsinnigheid, intelligensie en kennis van ‘n wye verskeidenheid onderwerpe het hom in staat gestel om insig in politieke vraagstukke te toon wat enige van sy tydgenote oortref het. Daarby het hy die vlak van politieke debat op ‘n hoë intellektuele vlak gevoer wat sy oppo­nente so in die skadu gestel het dat hulle soos amateurs teenoor hom vertoon het.

Hy het dikwels daarop gewys dat die politiek die kroonrat is waaromheen die samelewing draai. Daarom het hy dit met erns benader en op ‘n waardige, verantwoordelike manier bedryf wat enige van sy tydgenote hom kon beny. 

Dit is tragies dat die media daarin geslaag het om met ‘n volgehoue venynige aanslag hom so ongewild by die gewone kieser te maak dat die HNP net nooit die steun by die stembus kon kry wat hom in ‘n magsposisie in die Suid-Afrikaanse politiek sou stel nie.

Die parlement was die politieke magsentrum wat deur die Grondwet van die land voorgeskryf is en wat uit ‘n eeue-oue demokratiese tradisie gekom het. Toe mense deur die uitslae by die stembus moedeloos gestem is en hulle tot allerlei ander bewegings as die partypolitieke stryd gewend het, het Jaap Marais steeds voortgegaan om die politieke stryd op ‘n verantwoordelike manier te stry.

Hy het besef dat ‘n regering slegs kan regeer en opoffe­ringe van ‘n volk kan vra as hy die volk se steun het. Daarom het hy, in weerwil van die karige media wat hom simpatiekgesind was en sy boodskap by die volk kon uitbring, volgehou dat politieke verandering teweeggebring moes word deur die volk te oorreed om die HNP in genoegsame getalle te ondersteun ten einde die politieke mag oor te neem en die mandaat wat die Party gevra het, langs wettige weë uit te voer.

Toe dit duidelik geword het waarop De Klerk se regering afgestuur het, het hy besef dat die gevaar vir ons volk so groot geword het dat alle ander verskille tussen regsgesinde Afrikaners ondergeskik gestel moes word ten einde ‘n gemeenskaplike front te vorm en De Klerk tot ‘n algemene verkiesing te dwing met die doel om sy regering te verslaan en die politieke mag oor te neem. Dit was die enigste haalbare en wettige manier om die NP se oorgawe aan die ANC te stuit.

‘n Veldtog is gevoer om die volk daartoe te oorreed en toe die volk ryp was vir die gedagte, is die generaals van buite gestuur om die aksie te onderskep en die Afrikaner Volksfront tot stand te bring met die doel om so ‘n verkiesing onder die voorwendsel van ‘n Volkstaat te voorkom en seker te maak dat De Klerk se oorgawe nie gekeer sou word nie.

(In dié verband moet ons ook kennis neem van genl. Constand Viljoen se openlike erkenning by die onlangse inwyding van die S.A. Weermag Muur van Herinnering op die Voortrekkermonumentterrein, dat die Suid-Afrikaanse Weermag tyd moes koop om die politici geleentheid te gee om ‘n politieke oplossing vir Suid-Afrika te vind. Dieselfde erkenning word gemaak in genls. Jannie Geldenhuys se boek Die wat Wen en dié van genl. Magnus Malan My lewe saam met die SA Weermag. Dit is in wese wat mnr. Marais reeds in 1985 in Die Afrikaner geskryf het toe hy daarop gewys het dat die Regering nie van plan was om die oorlog teen die terroriste te wen nie, maar dat hulle by die onderhandelingstafel wou oorgee[1]).

Mnr Marais wou hom nie inlaat met die onbekookte Volkstaat-idee waarvoor daar geen uitvoerbare plan bestaan het nie en wat in daardie stadium heeltemal absurd was omdat state nie sommerso eensydig uit ‘n staat soos die RSA kan afskei en stede en dorpe hulleself na willekeur in so ‘n nuwe Volkstaat kon “inpresteer” soos destyds voorgegee is nie.

Die realisme en nugterheid waarmee mnr. Marais die politiek beoordeel en bedryf het, was tot groot frustrasie van sy opponente in “regse” geledere, omdat hulle nie daarin kon slaag om die HNP by hulle in te trek en sodoende te vernietig nie.

Tot vandag toe is die HNP daartoe verbind om op die weg wat mnr. Marais ingeslaan het, voort te wandel en die politiek op ‘n verantwoordelike en nugtere wyse te bedryf ter herwinning van ons vryheid.

Die Afrikaner

Veel van mnr. Jaap Marais se denke en kennis is nagelaat in toesprake, boeke, briewe, koerant- of tydskrifartikels, klankopnames en in die harte en gemoedere van mense: sy volgelinge en ook sommige van sy vyande wat besef het dat hulle in hom ‘n waardige en meerderwaardige opponent gehad het.

Een van sy grootste nalatenskappe is die koerant, Die Afrikaner waarvan hy ‘n medestigter was en wat hy met groot ywer, opoffering en toewyding in stand gehou het.

Hy het die noodsaak van ‘n koerant as voorwaarde vir die bestaan van die HNP en die uitdra van die boodskap van Afrikanernasionalisme goed besef en selfs onder die grootste finansiële druk daarop aangedring dat die koerant teen elke prys moes bly verskyn, ook in die tyd toe Die Patriot in die lewe geroep is en hom tot dieselfde mark gewend het as waarin Die Afrikaner gesirkuleer het.

Danksy mnr. Marais se volharding en deursettingsvermoë oor hierdie aangeleentheid, verskyn Die Afrikaner vandag steeds om die boodskap van Afrikanernasionalisme week na week uit te dra, as teenvoeter vir al die propaganda uit die magtige mediastal van koerante, radio en televisie wat ons volk se selfrespek en geloof in ons roeping en voortbestaan ondermyn en afbreek.

Slot.

Die beskrywing van mnr Jaap Marais as “die grootste Eerste Minister wat Suid-Afrika nie gehad het nie” is treffend omdat dit so raakvat.

As leier van ‘n Party wat, op ‘n enkele uitsondering na, nie daarin kon slaag om parlementêre verteenwoordiging te kry nie, is hy deur sy opponente gevrees vanweë sy beginselvastheid, uitsonderlike kennis, politieke insig en redenasievermoë waarmee hy hulle verraderlike politiek keer op keer ontmasker en hulle argumente tot kleingeld gemaak het. Die beginsels, waardes en norme wat hy in die HNP gevestig het, het die fondament verskaf waarop die HNP tot op hierdie dag staande gebly het, en dit lê aan ons ‘n morele verpligting op om te volhard totdat ons weer ‘n vrye volk in ons Godgegewe vaderland sal wees.

Met die leuse: “Stryd is lewe” het hy aan die Afrikanervolk ‘n nastrewenswaardige voorbeeld van stryd, moed en eerbaarheid in die openbare lewe nagelaat. Uit die skat van nagelate toesprake en geskrewe werke sal ons en die komende geslagte wat hierdie volk weer moet opbou, put aan kennis, inligting, begronding en deurgronding van die dinge wat ten grondslag van ‘n volk se bestaan lê en hom (die volk) tot grootheid voer in die galery van volkere en die geskiedenis van die wêreld.

Want dít is Jaap Marais se grootste nalatenskap aan die Afrikanervolk: sy visie van vryheid vir dié volk in sy eie soewereine vaderland. Dit is wat ten grondslag lê van al sy denkvrug oor nasionalisme, kultuur, rassebeleid en ekonomiese selfstandigheid. In die trefwoorde Christenskap, Witmanskap en Afrikanerskap het hy die fondamentstene uitgekap waarop hierdie volk weer sy vryheid moet bou, ‘n vryheid wat groter sal wees as wat ons gehad het, omdat dit nie meer die tweeslagtigheid van ‘n Afrikaans/Engelse Suid-Afrika sal verteenwoordig nie, maar ‘n ware tuiste vir die Afrikanervolk, waar ons sal wees: “Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry!”

Soos wat C.J. Langenhoven in sy tyd van genl. Hertzog gesê het, kan ons ook in ons tyd van Jaap Marais sê:

“My vriend, die vyand van Jaap Marais, wees dankbaar vir wat hy vir jou Afrikanersiel gedoen het.”

Ons dank God vir wat Hy aan ons volk gegee het in die persoon van Jaap Marais.


(1) Ster Aktueel, 1970, p. 50.

(2) Jaap Marais, Waarheid en werklikheid, p. 23.

(3) Dit is ironies dat dit uiteindelik Kaunda was wat Vorster by die onderhandelingstafel as’t ware “opgeëet” het deur hom te oorreed om Rhodesië in die rug te steek ter wille van Zambië en Afrika se goedgesindheid. 

(4)  J.H. Breytenbach, Die Betekenis van die Tweede Vryheidsoorlog, Derde uitgawe, p. 17.

(5) J.A. Marais, Toespraak te Balmoral, 16 Junie 2000.

(6) A.E. Breytenbach (redakteur), Ons sal Opstaan, pp. 85-86. (Toespraak van Jaap Marais, Volkskongres, 18 Nov 1994).

(7) J.A. Marais, Toespraak te Balmoral, 16 Junie 2000.

(8) J..A. Marais, Afrikanernasionalisme en die nuwe Suid-Afrika, p. 8

(9) Jaap Marais, Waarheid en werklikheid, p. 15.

(10)  Ibid

(11)  Ibid., p. 76

(12)   J.A. Marais, Afrikanernasionalisme en die Nuwe Suid-Afrika, p. 81.

(13)  Ibid., pp. 83, 85

(14  J.A. Marais, Ibid., pp. 12-21.

 

© Kopiereg 2009 HNP

 

 

 

 

.

Kopiereg © 2009 Herstigte Nasionale Party

Kontak HNP -Kontak diensverskaffer