Die pad na vryheid.

Sedert die ANC die bewind in 1994 oorgeneem het, is daar al baie gepraat oor vryheid en selfbeskikking. Meer as 26 jaar later is daar weinig vordering te rapporteer. Inteendeel. Die hele Covid-19 fiasko het ons gewys dat ons vryhede nou meer bedreig word as ooit tevore en dat die ANC-bewind nou reguit, vinnig en doelgerig afpyl op ‘n kommunistiese bestel, waarin elke landsburger uiteindelik net slawe gaan wees.

   Dit is so dat daar geen padkaart na vryheid bestaan nie. As ons die oplossings gehad het, was ons al daar.

   Sedert 1994 was daar baie inisiatiewe: daar was die sogenaamde akkoord tussen genl. Constand Viljoen en die ANC, waarvan dadels gekom het; die Volkstaatraad het ‘n mooi dokument opgestel wat in die onderste laai beland het; pogings om Artikel 235 van die land se grondwet (wat voorsiening maak vir selfbeskikking van minderhede) in werking te stel, het nog niks opgelewer nie; die Boere-Afrikanervolksraad het net so ‘n indrukwekkende dokument opgestel en ook internasionaal bekend gestel, met geen reaksie nie; verskeie instansies het al die VN se Menseregtekommissie se Forum vir Minderheidsaangeleenthede ingelig, met geen resultaat nie; VF Plus is sterk verteenwoordig in Unpo, die staatlose volke se organisasie, waar nie veel meer bereik kan word as ‘n welwillende oor nie; ander instellings is kort-kort op die vliegtuig iewers in die wêreld vir sogenaamde internasionale aksies, waarvan die resultaat nouliks, indien ooit, verneem word. Maar almal is besig, terwyl ons geleidelik terugsak en veld verloor.

   Die Covid-gedoente het “toevallig” juis ontstaan in ‘n tyd dat volksnasionalisme en die terugkeer na volksidentiteit wêreldwyd aan die toeneem was. Die verkiesing van Donald Trump, en die feit dat hy nog al sy verkiesingsbeloftes nagekom het ook, was vir die linkse wêreld een te veel. Skielik duik korona op, en die hele wêreld word ingeperk en mense soos gevangenes en slawe ingeperk, terwyl hulle reg op vryheid van spraak ook aan bande gelê is. Sosiale media is egter die een medium wat gehelp het dat mense nie heeltemal verslaaf het nie. Twitter en Facebook het hulle bes gedoen om sensuur toe te pas, maar dit het misluk.

   Wat egter ook duidelik geword het, is dat die ANC-bewind getoon het hoe pateties hy werklik is. In die verlede kon hy nog weerligafleiers gebruik om sy onvermoë agter weg te steek. Met die inperking en die belaglike regulasies daaromheen, het hy egter al die aandag op hom gevestig, en die toets met onderskeiding gedruip.

   Dit het egter gelei tot ‘n toenemende sluimerende verset, veral onder die Blankes, want net soos die droogtehulp, het wit boere geen korona-ondersteuning gekry nie, en in die toerismebedryf is ook swart bevoordeelde instansies gehelp ― Blankes kry niks. Boonop verklaar Ramaphosa dat die land ‘n koloniale en apartheidsekonomie het, wat nou dringend getransformeer moet word.

   Die vraag is dan hoe ons uit so ‘n bedeling kan kom, as ons in 26 jaar nog geen suksesse gehad het nie.

 Daar is vordering

Al die aksies van die laaste 26 jaar, al was dit nie meetbaar suksesvol nie, het die papierspoor gelaat dat ‘n beduidende deel van ons volk nie tevrede met die situasie is nie. Waar ons in die verlede vyande in die wêreld gehad het, is hulle dalk nie summier bekeer tot vriende nie, maar hulle het ‘n meer neutrale houding begin inneem, wat ‘n reuse vordering is.

   Net soos die sosiale media die individualisme bevorder het, sal toekomstige prosesse ook meer individualisties begin en gedryf word, totdat groter gemeen-skaplike inkoop verkry word.

   ‘n Paar sake wat dus tans ‘n gegewe is, sluit die weerstand teen die ANC-bewind en feitlik elke minister in; die toenemende vlakke van burgerlike verset; die teenstand teen die ANC se flagrante rassisme teen Blankes; die weiering om alles soos soetkoek op te eet; en die besef dat daar ‘n nuwe normaal gaan kom.

   Daardie nuwe normaal het nie net te doen met gesondheid nie. Dit gaan alle vlakke van die samelewing raak. Dit gaan egter beteken dat ons ons eie nuwe normaal moet vat, anders gaan dit vir ons voorgeskryf en aan ons opgedwing word.

 Selfbehoud

As eerste stap moet ons as volk sorg dat ons kan oorleef. Ek noem dit selfbehoud: ons moet kyk na ons gesondheid, en kyk na ons ekonomiese oorlewing. Om dit te kan bereik, moet ons samedrommings vermy, veral waar die ander ongedissi-plineerdes ons verdruk. As hulle hulleself wil besmet, is dit hulle saak. Ons moet dit vermy.

   Dit kan bereik word deur baie meer aanlyn-aankope te doen. Daar het in die inperkingstyd skielik ‘n ontploffing plaasgevind van mense wat direk by boere hulle vars produkte aankoop, en nie meer nodig het om in moontlik besmette winkeltoue te staan nie. Boonop beteken dit ondersteuning van ons eie mense, en omseiling van die rassistiese bemagtigingsinstellings en voorwaardes. Ons gaan onsself beter kan beskerm deur ons eie mense te ondersteun en ons eie instansies sterk te maak. Dit sal ons gesond hou, en ons eie ekonomie stimuleer.

   Onder selfbehoud geld ook ons veiligheid. Die polisie stel meer belang om drawwers op die strand te arresteer of om rokers te jag, as om plaasmoordenaars en verkragters te soek. Ons betrokkenheid by plaas- en buurtwagte sal verhoog moet word.

 Selfbestuur

Sodra ons ons selfbehoud menslikerwys redelik verskans het, moet ons beweeg na selfbestuur.

   In terme van veiligheid word selfbestuur reeds in wese toegepas, maar dit kan nog verbeter. In talle stedelike en landelike gebiede is daar al toegangsbeheer, waar gemeenskappe self die toelatingsvereistes bepaal. Dit kan verder verskerp word.

   Die chaos wat ook nou met die skole ontstaan het, en die feit dat soveel ouers aangewese was om in die inperkingstyd hulle kinders self verder te help met die leerplanne, het tuisonderrig baie meer aanloklik gemaak. Talle mense het geen vertroue in die veiligheid van die skole meer nie. Voorheen was veiligheid al toenemend ‘n probleem, nou het gesondheidsrisiko’s bygekom. Talle ouers het aangedui dat hulle nie hulle kinders gaan terugplaas in die skole nie. Die staat het in wese beheer verloor, en gemeenskappe moet dit gebruik. In gemeenskappe wat reeds ‘n vorm van veiligheid-selfbestuur het, kan nou ook ‘n onderwys- selfbestuurstelsel begin, in die vorm van skoolsentrums in gebiede. Kry gekwalifiseerde onderwysers of afgetredenes, en gebruik normale skoolfondse om hulle ‘n vergoeding te gee. Van nou af gaan niemand waarskynlik meer die vlakke van salarisse kan kry as voorheen nie.

   Net so kan daardie gemeenskappe hulle eie gesondheid bestuur. Daar kan private klinieke daar gevestig word op dieselfde basis as wat die onderwys hanteer word, en later selfs kragvoorsiening, vullisverwydering, ens. Natuurlik gaan daar van staatskant gepoog word om allerhande struikelblokke daar te stel, en regulasies uit te vaardig om die vorme van selfbestuur te frustreer. As daar egter landswyd talle sodanige selfbestuursgebiede gevorm word, is dit ‘n damwal wat gebreek het en waaraan die staat niks kan doen nie.

   Dit laat die geleentheid vir verskillende selfbestuursgebiede om ‘n soort selfbestuurskonfederasie te vorm, waar gedagtes gewissel word, mekaar se suksesse bespreek kan word, waar oplossings vir gesamentlike probleme gevind kan word, en waar selfs ‘n soort volksregering tot stand kan kom met “ministers” wat die onderskeie onderwysinisiatiewe kan koördineer, en dieselfde met energie, volkshandel, volksgesondheid en enige moontlike ander terrein.

 Selfbeskikking

Dan is in wese die grootste vlak van selfbeskikking bereik. Hierdie gebiede sal groei namate die suksesse daarvan gesien word, en hoef nie beperk te wees tot die Oranias of die Kleinfonteins nie. Stedelike en plattelandse gebiede kan op die manier herower word, solank die volkswil daartoe bly bestaan.

   Uiteraard is dit ‘n moeilike en lang pad, maar daar kan nie nog 26 jaar gewag word om daarmee te begin nie. Ons skuld dit aan ons kinders en kleinkinders. Dit is iets waaraan almal kan meewerk, ook die Facebook-“kundiges” wat oplossings vir alles het, maar niks doen nie. Korona en sy “nuwe normaal” gee vir ons daardie geleentheid, mense is ryp gemaak vir verandering, en die regte verandering moet aan hulle voorgehou word.

   Dit beteken uiteraard aan die ander kant die boikot van alle propaganda daarteen. Media-instellings wat in hierdie tyd hartlik meegedoen het aan die Covid-histerie, het hulleself as onbetroubaar en selfs vyandig bewys. Die nuwe normaal sal wees dat hulle moet verdwyn, net soos die swart bemagtingsingskruipers en figure met kopdoeke.

 

Deur Denker

Die Afrikaner, 5 Junie 2020