Uit Die Afrikaner van 29 Januarie 2021:
Vryheid van spraak?
Dit wil voorkom of die vryhede waaraan mense oor eeue gewoond geraak het, of waarvoor hulle geveg het, een vir een weggeneem word.
Die uitbreek van die Sjinese griep was ‘n handige middel om eers mense bang, amper histeries te maak, om hulle daardeur te kan manipuleer op byna elke denkbare lewensterrein. Inperkings het gevolg, en mense het hulself slaafs onder huisarres laat plaas. Sekere luukshede soos tabak en alkohol is weggevat, en nou word die vryheid van besluitneming ook aangetas met die voorstel dat almal die entstof vir Covid-19 moet neem. Vroue mag aborsies laat ondergaan onder die slagkreet dat hulle oor hul eie liggame mag besluit, maar as mense wil besluit om geen entstowwe in hulle liggame toe te laat nie, kan dit strafbaar word met sekere sosiale sanksies, soos reisverbod of verbod om bepaalde plekke te besoek of byeenkomste by te woon.
Dit is al lank verbode om enigiets negatief oor COVID te sê, veral as dit bepaalde op ons afgeforseerde stellings wil bevraagteken.
Toe dit ook slaag, soos die huisarres, het dit die eienaars van sosiale medianetwerke gesterk in hulle drang om algehele vryheid van spraak in te perk. Seker die beste voorbeeld daarvan was Twitter, wat eensydig net eenvoudig oud-president Donald Trump van Amerika se rekening permanent gesluit het. Trump mag nie meer praat nie.
Terselfdertyd het WhatsApp ook met nuwe gebruiksvoorwaardes
vorendag gekom, wat nog nie direk dui op inperking van vryheid van spraak nie, maar wel reeds inbreuk maak op privaatheid, wat ‘n reg is gelykstaande aan die reg van vryheid van spraak. Facebook het al ‘n geruime tyd gelede begin om veral nasionalistiese groepe of standpunte die mond te snoer. Elke swart rassis of kommunis mag die sosiale media gebruik om hulle opruiende en dikwels openlik anti-blanke sentimente die wêreld in te stuur, maar sodra daar ‘n nasionalistiese klankie deurkom, slaan die sensuur toe. Trump was seker die bekendste voorbeeld daarvan.
Ook in Suid-Afrika bestaan daar nie meer werklik mediavryheid en vryheid van spraak nie. Dit was lankal duidelik by die Afrikaanstalige openbare uitsaaier, RSG. Sekere omroepers het op hul aktualiteitsprogramme onverbloem en hinderlik onprofessioneel uit hul pad gegaan om te kyk of hulle ‘n stok kon kry om Donald Trump mee by te kom.
Toe kom die voormalige aanbieder by RSG, Izak du Plessis, met die sak patats vorendag op sy Facebook. Hy sê die sogenaamde hoofstroommedia word dikwels uitgehaal oor hulle skeeftrekkings en huil dan lang trane omdat niemand die moeilike werk van ‘n joernalis verstaan nie.
Hy haal dan aan wat Donald Trump in sy klein afskeidsboodskap
voor sy vertrek Florida toe gesê het. Hy bedank sy familie vir hulle harde werk en veral sy vrou Melania. “She is so popular with the people, so popular with the people,” sê hy voor hy haar geleentheid gee om te praat. Netwerk24 vertaal dit so: “Ek is so gewild onder die mense, so gewild.”
Hy sê dit is een van die menige voorbeelde van hoe skeef die media Donald Trump uitgebeeld het. Maar dan kom hy met die eintlike skande van media manipulering vorendag: “Ek onthou by Monitor en Spektrum hoe ek menigmaal ‘n gesprek met my redakteur gehad het omdat ons die heeltyd daarop uit was om negatief oor Trump te berig. Nie een keer het ons by daai radiostasie berig oor ‘n oplewing in die ekonomie of ‘n positiewe ding wat Trump gesê het nie. Nee wag, ons het een keer, ek het met Rhoda Kadalie ‘n onderhoud gehad waarna Theo Venter my in ‘n WhatsApp of twee uitgetrap het omdat ek dit durf waag het om iets positief oor Trump te laat uitsaai.
“Ek is self in die bedryf, maar laat ek jou sê, daar is net een ding erger en heiliger as ‘n dominee, en dis ‘n joernalis… die meeste van ons is maar arrogante donners wat dink ons is te slim vir die wêreld. Laat niemand tog vir ons iets vertel nie, laat niemand ons tog kritiseer nie, ons is die handhawers van openbare belang, die hekwagters van die demokrasie.”
En dan sluit Du Plessis af dat hy tans aan ‘n boek skryf oor iemand wie se hele lewe vernietig is deur joernaliste se arrogante aanspraak dat hulle die openbare belang dien. “Se gat man, hulle “copy en paste” skaamteloos, senior, vermaarde joernaliste, “celebrity” joernaliste in SA, nie een nie, nie twee nie. En dan wil hulle hul beroep op persvryheid as die onderwerpe van hulle stories wil terugslaan. Dit het lankal tyd geword dat joernaliste so klein bietjie
minder van hulself dink,” skryf Du Plessis, self ‘n joernalis.
En dit is hierdie mense wat hulleself aangestel het as “meningsvormers” en dit werklikwaar regkry om mense te beïnvloed soos hulle wil.
Wanneer iemand die ander kant van die saak wil stel, is daar ‘n Menseregte Kommissie wat onmiddellik wil inmeng en ‘n saak van sogenaamde haatspraak wil uitmaak, ongeag of dit die waarheid is of nie.
As daar een vryheid is wat ons nooit mag opgee nie, is dit vryheid van spraak. Vandag word ons monde gesnoer oor nasionalisme, môre oor godsdiens, en waar gaan dit dan ophou?