Met die nuwe inperkings wat ingestelis, wil dit voorkom of daar ‘n selfs groter vorm van histerie merkbaaris by media en  akademici.

  Daar is tans wydlopende debatte aan die gang oor veral die  kwessie van inentings. Die groot kwessie isof dit inderdaad veilig is, of dit werklik help, en of dit afdwingbaar is?

  Die ander saak is of Ivermektien wel help teen die virus of nie.

  Al hoe meer druk, selfs kwalik bedekte dreigemente, word aangevoer oor waarom mense wel die inentings moet neem. In dieselfde asem word die Ivermektien-moontlikheid of afgemaak, of belaglik gemaak. 

  In verskeie radio-debatte en -onderhoude is daar al oor hierdie twee sake gepraat. Waar mense as inbellers dit durf waag om te verskil, word hulle in wese gedreig daarmee dat hulle fopnuus versprei en hulle daardeur in terme van die Covid-regulasies strafregtelik vervolg kan word. In een geval het ‘n dokter skynbaar inderdaad ‘n klagte aanhandig gemaak nadat hy skynbaar ʼn stemboodskap op sosiale media gekry het waarmee hy nie saamstem nie.

  Hier is ‘n hele paar sake ter sprake.

  Eerstens, wat het geword van vryheid van keuse? Alhoewel daar tans nog erken word dat van die entstowwe in eksperimentele fase is en mense dus nie gedwing kan word om dit te neem nie, word daar al verwys na die feit dat bepaalde inentings in die verlede wel verpligtend was, veral vir kinders. Daar word dus reeds voorbrand gemaak dat mense een of ander tyd gedwing kan word om dit te neem. 

 As die gesprek oor aborsie gaan, wat vanuit Christelike oogpunt onverdedigbaar is, word die argument vinnig geopper dat ‘n  vrou self oor haar liggaam kan besluit en dat geen wet dit kan beheer nie. Dus, nou kan ‘n twaalfjarige meisie al sonder haar ouers se  toestemming ‘n aborsie laat uitvoer, sou sy swanger wees. Is die argument oor iemand se keuse oor sy liggaam dan nie van toepassing rondom die inentings nie? 

 Tweedens, wie bepaal wat is fopnuus of nie? Omdat sekere  arrogante “meningvormende” joernaliste nie van ‘n stelling hou nie, maak dit nie fopnuus nie. Omdat ‘n voorsitter van ‘n mediese vereniging nie saamstem met die bevinding van ‘n kollega nie, maak nie die kollega se bevinding fopnuus en dus strafbaar nie. Daar kan tog nie links en regs vervolgings vir fopnuus wees as dit nog nie eens behoorlik gedefinieer is nie? 

 Derdens, in enige arbeidsomgewing is daar verskil van standpunt, en verskil in benadering. Die mediese wetenskap ervaar dit ook. As  twee dokters nie met ‘n diagnose of prognose saamstem nie, wie pleeg fopnuus, want dit is hoe die argumentering tans verloop? Alhoewel ons beslis nie die rol van die wetenskap wil verkleineer nie, en erken dat goeie werk gedoen word, is dit so dat ook die wetenskap nie alwys is nie. Die wetenskap word steeds deur sondige mense bedryf en daarom kan daar foute plaasvind. Daarom is dit ook so dat die wetenskap met twee bevindings vorendag kan kom,
juis weens verskil in benadering en uitgangspunte, wat heeltemal toelaatbaar en aanvaarbaar is in die ondersoek van dinge. Watter bevinding moet dan nou as fopnuus afgemaak en vervolg word? Om een standpunt as die alfa en omega aan te bied, dui op ‘n arrogante onverdraagsaamheid wat nie opbouend is in die voortdurende soeke na oplossings nie. 

Vierdens, die hele gesprek rondom fopnuus kom daarop neer dat ook vryheid van spraak in gedrang gebring word. Sosiale media het hulleself al so aangematig dat hulle die beskermers is van wat hulle as waarheid beskou, dat ander opinies summier verwyder word. Die bekendste is Donald Trump, wie se Twitter-rekening summier gesluit is omdat die beheerders van daardie platform nie van sy standpunte
gehou het nie. As daar op Facebook iets oor Covid gesê word, word  dit of summier verwyder, of daar verskyn een of ander waarskuwende kennisgewing daarby.

Laastens is daar ook iets soos gesonde verstand. Die reg werk met die benadering van die gemiddelde mens. Die gemiddelde mens, wat ‘n bepaalde vlak van intellek besit, sal dadelik kan agterkom as daar ‘n slang in die gras is, en sal die kaf van die koring, of waarheid van fopnuus, kan onderskei. Dit is werklik nie nodig dat die gemiddelde of bogemiddelde mens, wat kan dink en redeneer, verhoed word om dit te doen, net om tot die vlak van die ondergemiddelde mens  verlaag te word nie. Ons bly mense, en sal weier om tot robotte van die “establishment” gedegradeer te word.