Mnr Andries Breytenbach

“Iemand het oor die HNP geskryf dat die HNP so anders is, omdat die ander so eenders is. Dit onderskei ons van die ander. As ons ophou om die stryd te stry, sal dit verraad wees teenoor dit wat die afgelope halfeeu gebeur het, sal verraad wees teenoor die geskiedenis.”

Dit was die woorde van die leier van die HNP, mnr. Andries Breytenbach, in sy toespraak by die HNPkongres wat onlangs op Kleinfontein gehou is en waaroor Die Afrikaner in sy vorige uitgawe reeds breedvoerig berig het.

In ‘n kort oorsig oor die jongste plaaslike regeringsverkiesings het mnr. Breytenbach gewys op die feit dat die ANC die land regeer met 26% van die stemgeregtigde bevolking, dus is dit ‘n absolute minderheidsregering. Dit bevestig die klug van die Suid-Afrikaanse demokrasie.

Mnr. Breytenbach het in sy leierstoespraak gesê al die partye wil hê die wittes moet stem, want dan kan gesê word dat die blankes ‘n demokrasie het. “Die blankes het geen inspraak in enige aangeleentheid nie, en dit is geen demokrasie nie, maar ‘n tirannie.

“Soos die HNP se standpunt deurgaans was, is dat daar niks te wen is nie en dat ons die vernedering en verowering van ons volk aanvaar.”

Deelnemers aan die verkiesing het die argument geopper dat ’n wegblystem die ANC bevoordeel, en daarom sou die HNP in effek vir die ANC stem. “Dit is die grootste bog argument denkbaar. Ons betwis die gevolgtrekking waartoe hulle kom,” het mnr. Breytenbach gesê. “Hulle argument gaan net oor getalle in ‘n verkiesing. Die HNP se doel en roeping gaan egter oor ons vryheid as ‘n volk wat ons moet verkry. As ons ons gaan laat insuig in die ‘demokrasie’, gee ons daardie beginsel prys.”

Die land se grondwet se aanhef meld onder andere dat “Ons, die mense van SA, erken die onregte van die verlede,” dus ‘n verdoeming wat die Afrikanervolk gedoen het. “Die grondwet huldig dus diegene wat gely het vir die nuwe bedeling, dus die terroriste” sê mnr. Breytenbach. Hoofstuk 1 het verder grondliggende bepalings, naamlik dat die RSA ‘n soewereine onverdeelde staat is, en dat dit ‘n nierassige en nie-seksistiese staat is. “Dit beteken dat daar geen onderskeid tussen rasse en geslagte is nie, wat verklaar waarom howe troues van mans met mekaar goedkeur.”

Mnr. Breytenbach het ook daarop gewys dat elke lid wat toetree tot die parlement ‘n plegtige verklaring of eed moet aflê voor die president van die Konstitusionele Hof wat lui: “Ek, … , sweer/verklaar plegtig trou aan die RSA en dat ek die Grondwet en die ander regte van die RSA sal eerbiedig, bevorder en onderhou”. Mnr. Breytenbach sê so ‘n verteenwoordiger wat hom wil beywer vir die vryheid van ons volk, is in stryd met sy eed en onderneming wat hy gegee het. “Dit wys op die klug van die demokrasie.”

Dit word ook bewys deur die vryhede wat die Grondwet sogenaamd gee, wat net eenvoudig weer weggeneem kan word. “Die parlement hoef nie die ramptoestande goed te keur nie, en die ramptoestand gee die regering groter vryhede as ‘n noodtoestand, want die parlement moet oor ‘n noodtoestand besluit. ‘n Klein groepie besluit oor die ramptoestand en proklameer net, en die land moet luister. Dit is ongelooflik hoe die polisie kan toeslaan op mense. Hulle steur hulle nie veel aan
plaasmoorde nie, maar moet net nie ‘n ramptoestandreël oortree nie. Watse demokrasie is dit?” het mnr. Breytenbach verklaar.

Die reg op eiendom (art. 25), word in die grondwet gemeld, maar hulle besluit net eenvoudig om toe te slaan. Die Nasionaal Demokratiese Rewolusie (NDR) is hulle program van voortgaande sosialisering om die land volledig kommunisties te maak. Dit is die program om wat in die Freedom Charter staan, volledig te verwerk.

“Mens se asem slaan weg as mens sien hoe die regering die ekonomie vernietig. Hulle weet dit en doen dit doelbewus, sodat meer en meer mense hulle onafhanklikheid verloor en meer afhanklik word van die regering.

“Toe die HNP 52 jaar gelede gestig is, het die leiers, veral dr. Albert Hertzog, besef die stryd gaan fel
wees. Hy het geweet hoe sterk die NP was, teen wie die HNP wou opstaan. In die beginjare wou ons setels wen, en moes daarvoor getalle hê. Gelukkig het die leiers daardie tyd al gesê getalle is nie ons eerste doelwit nie. Ons eerste doelwit is om die beginsels van Christenskap, volkskap en nasionalisme te handhaaf.

“Soos die stryd voortgegaan het, het daar ‘n diepte in ons stryd gekom, met die besef dat die gejaag na stemme niks beteken nie. Na 1994 was dit duidelik dat ons geen verandering in sake kon maak nie. Daarom het die leiers daardie tyd gesê ons handhaaf eerder ons beginsels as om deel te neem. Die hele argument oor getalle en oor stem of nie stem nie, is ‘n ander dimensie as die HNP se toekomsvisie en die stryd wat ons voer. Of ons baie is of min, maak nie saak nie. Wat saak maak is dit waaraan ons glo: die beginsels wat die grondslag lê van die Christendom, wat Jesus Christus
as verlosser wil uitleef. Die stryd gaan oor die hele wêreld en lewensbeskouings, en ʼn verstaan van lig teenoor duisternis. In die politiek word dit soms selfs beter uitgedruk as in die kerk, omdat die politiek ‘n harde stryd is. Baie kerke vermy dit om by die volkstryd betrokke te raak, en predikante wat daarvoor wegdeins, moet aangespreek word”, sê mnr. Breytenbach. “Wanneer het u laas ‘n predikant hoor bid vir ons volk, wat opgedra word aan Sy Troon van Genade? Die stryd wat ons voer is anders as vir stemme by ‘n stembus. Gelukkig is daar ‘n deel van die volk wat deel van die 7 000 is
wat nie die knie voor Baal gebuig het nie.”

Ons wil enkele kernpunte maak: Hoe kom ons die vreemde politieke juk uit? Dis maklik om te sê “kom bymekaar”, maar dis nie die einde nie. Al bou ons ʼn Kleinfontein, staan ons steeds onder die wette van die land. Unrepresented Nations and Peoples Organization (UNPO), wat volke in eie reg is wat onder vreemde heerskappy staan, het 39 lede. As dit so eenvoudig was om onder ‘n bestaande staatsbestel uit te kom, sou daardie 39 al vry gewees het. “Geen regering gee summier toestemming vir vryheid nie, al staan almal saam en eis dit. Daar is internasionale konvensies wat regerings beveel om volke te help om vry te word. Hoeveel regerings steur hulle daaraan?”, vra mnr. Breytenbach.

Die Boere-Afrikanervolksraad het die pad geloop wat die Internasionale Reg voorskryf. “Dit het ons
nêrens gebring nie. Om te hoop op ‘n hofuitspraak, is vergeefs. Ons sal dalk uiteindelik ‘n fisiese stryd moet stry vir vryheid. Ons is amper in dieselfde posisie as die Boere voor die Tweede Vryheidsoorlog. Britse opposisie het die regering oorgeneem en ons selfbeskikking gegee. Dis heeltemal anders as nou. In 1924 het ons weer ‘n konstitusionele weg gehad na vryheid. Dit bestaan nie, en art. 235 is vaag en onhaalbaar en sal nie onder ‘n ANCregering erkenning kry nie.

“Ons moet weier om die onderwerping aan ‘n vreemde regering te aanvaar. Dit het in die verlede
gebeur: leiers het nie berus in die verowering nie. Die HNP is die enigste party wat weier om rasloosheid te erken, en ons erken verskille tussen rasse en daardie verskille is een van die redes waarom ons nie kan deel word van die bedeling nie.

“Die tweede punt is dat leiers die moed en durf moet hê om die proses van vryheid aan die gang te sit. Daar moet trou wees aan daardie wete van geroepenheid, en ‘n aanvoeling van leiers vir die bestemdheid van die volk, geloof in God en bereidheid om ten spyte van die ongunstige omstandighede te volhard in die stryd. Dit was nooit die meerderheid wat verskille aan ons volk gemaak het nie, dit was die klein groepie. Dit is vandag dieselfde,” sê mnr. Breytenbach.

“Nasionalisme se hoofelemente is patriotisme, gebondenheid aan die vaderland. As dit verloën word, is dit ‘n rasionalisasie van lafhartigheid en verraad”, sê Jaap Marais. “Ons land is ons land”, sê die HNP. Dit is die erfdeel wat ons gekry het, soos Israel ander nasies verdryf het om vir hulle daardie reg te gee. Daar is te veel mense wat vertel dat ons nie regtig reg op die land het nie, behalwe die enkele lappies grond wat by swartes geruil is. Ons moenie skaam wees oor ons standpunt dat ons erfreg ons deel is nie. Nog ‘n element van nasionalisme is ons kulturele identiteit as witmense, handhawing van taal en kultuur. Die derde element is die getrouheid aan die geskiedenis, wat die verlengstuk is van die verlede na die hede, en wat die kompas is vir die
toekoms. ‘n Geskiedenis wat ons ‘n heldedom gegee het. Die helde van ons volk was wedergebore
kinders van God en hulle vertroue gestel het op die God van die Bybel. Nasionalisme veronderstel ook dat ‘n volk ‘n voorkeur het vir ons eie: Eie Volk, Eie Land. Dié slagkreet moet weer gebruik word. Eie volk, eie Regering. Dit moet by ons mense se koppe inslag vind. Die Stem Reg, Bly Weg, ken
almal nog vanaf 1994. So moet ons Ons Eie Eerste laat inslaan by ons volk en veral by die jong
geslag,” is mnr. Breytenbach se oproep.

“Dan hoor ons: ‘Staan saam’. Daar is geen gemene saak tussen die nasionalisme en liberalisme nie.
Daar is ‘n onoorbrugbare kloof tussen die groepe. Daar moet ‘n sentrum van geloof en beginsel wees, en as die HNP daardie sentrum kan wees, sal ons die Vader dankbaar wees. Die HNP staan rondborstig vir die Afrikaner se belang en staan aan die voorpunt van die vryheidsaspirasie vir die Afrikanervolk. Soek die Wil van God, en doen dit, want dit is al wat gaan slaag.

“Ons moet hande vat met nasionaliste oor nasionale grense heen, wat in hul eie lande dieselfde gretigheid het. ‘n Internasionale konferensie moet daaroor gehou word. In ons eie land moet ons in die komende jaar ‘n groep leiers bymekaar kry en ‘n volkskongres hou waar ons weer op wyer skaal ons volk rigting kan gee. “Laat ons met vertroue ons standpunte uitdra. Die buite stemmers is meer as die wat gestem het. Baie stemmers stem tog ook om hulle weersin teen die bestel te toon, en is die noodwendig gekoppel aan ‘n organisasie nie.

“‘n Leier is ‘n prop in die water. As daar geen water is nie, gaan die leier ook lê. Ons gaan voort in geloof, of ons baie of min is. Een is ‘n meerderheid met God,” het mnr. Breytenbach sy toespraak afgesluit.

Mnr Andries Breytenbach

Die Afrikaner 26 November 2021