Wat kan ons in 2022 verwag:
Aan die einde van ‘n jaar is dit altyd redelik maklik om terug te kyk na wat die jaar gebeur het. Aan die begin van ‘n nuwe jaar is ‘n ander oefening, soos om uit te maak wat in die kristalbal aangaan.
Een saak is egter reeds kristalhelder en dit is dat hierdie jaar ook maar ‘n moeilike jaar gaan wees, waarin veral die Blanke en die nasionalistiese Afrikaner in die besonder, die teiken sal bly van swart verwyte en jaloesie. Die eerste tekens het ons al binne die eerste dae van die jaar opgemerk.
As ons dan so ‘n bietjie mag bespiegel oor wat die nuwe jaar kan inhou, gaan die oorheersende tema waarskynlik die leierskapsverkiesing van die ANC wees aan die einde van die jaar. Die eerste slagordes is al opgestel en ‘n kwalik bedekte leierskapstryd is reeds aan die gang.
Aan die een kant is dit Cyril Ramaphosa wat die mag wil behou en probeer om by wyse van ‘n koorddans tussen twee verskillende denkrigtings oor die kloof te kom.
Aan die een kant sy groep, wat dit met die vorige leiersverkiesing maar net-net gemaak het, en kompromieë wat gemaak moes word om ‘n skeuring te vermy, aan die ander kant die steeds stewige Zuma-faksie, oftewel die sogenaamde Radikale Ekonomiese Transformasie (RET)-groepering. Dit is nie duidelik hoe sterk hulle presies is nie, maar dat hulle deur onluste die land tot stilstand kan dwing, het ons reeds verlede jaar in Natal en die Witwatersrand gesien.
Deesdae wil dit voorkom of die RET-groep gelei word deur Lindiwe Sisulu, wat skynbaar haar oog op die leierskap het, en graag geskiedenis wil maak as die eerste vrouepresident van Suid-Afrika. Gelukkig is daar nie meer te veel hoop dat Nkosazana Dalmini-Zuma daardie eer te beurt sal val nie. Sy het by feiltik almal ongewild geword as gevolg van haar belaglike inperkingsregulasies.
Sisulu het die jaar afgeskop met ‘n striemende aanval op die land se grondwet en die regbank, veral nadat die eerste Zondoverslag na staatskaping openbaar gemaak is. Regter Zondo het haar tydens ’n mediakonferensie geantwoord. ‘n Onbekende ANC-woordvoerder het wel gesê dat die ANC hom van haar uitsprake distansieer, maar van die leier van dié party, is daar nog geen woord gehoor nie. Hy gaan waarskynlik ook ‘n soort stille diplomasie volg sodat hy nie nodig het om op iemand se tone te trap nie. Hy wil immers tog die leier bly…
Die Zondo-verslag het stilweg die notules van die ANC se Kaderontplooingskomitee gepubliseer. Die ANC is woedend daaroor, want hulle het gevra dat Zondo hulle moet waarsku as hy dit sou doen, sodat hulle dit by wyse van ‘n interdik kan keer.
Gelukkig was Zondo slimmer as dit, maar dit bewys weer eens dat die hele Zondo-kommissie uiteindelik een van die grootste geldvermorsingsoefeninge in die Ramaphosa era sal uitstaan. As die ANC self sy spore wil doodvee, en die Zondokommissie wys vingers na ANC kaders, en selfs Ramaphosa self, moet ons nie dink dat daar noemenswaardige optrede uit gaan voortspruit nie, ten spyte van die Nasionale Vervolgingsgesag se huidige maar waarskynlik kortstondige ywerigheid om
mense in te trek om te help om vervolgings in te stel. Die korrupte politici sal uiteindelik besluit wie word vervolg en wie nie. Al waarvan Zondo redelik seker kan wees, is dat hy nie permanent
aangestel gaan word as hoofregter nie, want hy laat hom skynbaar nie heeltemal deur die ANC voorskryf nie.
In Ramaphosa se toespraak by die ANC se verjaardagvieringe, het hy dit beklemtoon dat onteiening sonder vergoeding sal voortgaan, al het die parlement nie die land se grondwet gewysig gekry nie. Hy gaan ander wetgewing daarvoor instel. Dit gaan dus steeds een van die bedreiginge van die nuwe jaar wees.
Ander negatiewe aspekte waarvoor ons onsself moet regmaak, sluit onder andere in:
• Minimum lone vir plaas- en huiswerkers gaan verhoog, terwyl produksie en opleiding nie ‘n rol speel nie, en ten spyte daarvan dat dit die reeds enorme werkloosheidsyfer gaan verhoog;
• Eskom gaan sy tariewe verhoog. Tans vra hulle vir 20,5%, maar selfs al word die “net” 10%, raak dit onbetaalbaar vir huishoudings, boerderye en besighede;
• Eskom het een van sy opwekkingseenhede by Koeberg afgeskakel vir langtermyn-instandhoudingswerk. Beurtkrag bly ‘n bedreiging vir die nuwe jaar;
• Alhoewel die grootste deel van die land juig oor die besondere reënval die laaste twee maande, is dit ook so dat die wispelturige Suid-Afrikaanse klimaat soms na die anderkant oorslaan – van jarelange droogtes, tot skielike vloede, oorstroming en verlies van oeste. Dit kan lei tot hoër voedselpryse;
• Daar gaan naarstigtelik gesoek word na die R1 miljard wat skielik aan die taxibedryf beloof is as “Covid-vergoeding”. Netso word ‘n verdere R1 miljard benodig om die parlementsgebou in Kaapstad, wat erg beskadig is tydens ‘n brand, te herstel. Met volgende maand se begroting kan dus verwag word dat daar nog heffings by die reeds buitensporige brandstofprys gevoeg gaan word. Dit is mos die maklike melkkoei;
• Nog meer betogings: Bloemfontein is eerste in die ry: Mangaung Service Delivery Forum wil die stad vir drie dae toemaak oor swak dienslewering – pas nadat waarskynlik die meeste van hulle lede vir die ANC gestem het op 1 November;
• Skool-beheerliggame gaan verder van magte gestroop word en tuisonderrig gaan aan bande gelê word as die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys goedgekeur gaan word;
• Nog meer stakings as gevolg van vakbonde se onrealistiese eise. Van hulle het reeds hul veldtogte verskerp vir ‘n algehele nasionalisering, met ander woorde ‘n suiwer kommunistiese bedeling.
Dan is daar tog sekere ligpuntjies ook, veral in volksgeledere. Dit wil voorkom of daar groter gewilligheid is vir gesprekke tussen organisasies en individue, soos op die HNP se laaste kongres voorgestel is. Laat ons hoop dat hier ‘n eerlike en oop geleentheid kom om te besin oor die pad vorentoe vir ons volk. Uit bostaande negatiewe punte behoort dit tog vir enige regdenkende
en nie-opportunistiese volksgenoot duidelik te wees dat hierdie bedeling niks vir die Afrikaner kan bied nie.
Einde Februarie is weer die jaarlikse herdenking van die Slag van Majuba, by die Majubaberg. Dit is een van daardie volksfeeste wat ons weer besiel uit die verlede se suksesse. Dit is veral ‘n fees wat besondere aanklank vind by ons jongmense, en daarom is dit veral vir ouers met kinders ‘n moet om dit by te woon. Daar leer mens ook kortstondig wat veiligheid beteken, waar jy die motor, woonwa of tent kan oop los sonder die vrees dat dit gaan verdwyn.
Maar laat ons aan die begin van die jaar ons kalenders oophou en merk vir die ander volksfeeste of belangrike gebeurtenisse, waaronder Van Riebeeckdag (6 April), Republiekdag (31 Mei), Konsentrasiekampdag (16 Junie), Krugerdag (10 Oktober) en Geloftedag (16 Desember). Dan sal dit ook op 2 November 100 jaar gelede wees dat wyle mnr. Jaap Marais gebore is, en wat vir ons ook ‘n dag van besondere betekenis is.
Al hierdie feesdae gee ons die geleentheid om as volksgenote bymekaar te kom, te herdenk wat die Here vir ons in die verlede beteken het, en wat dit vir die toekoms kan beteken.
Dit is ‘n geleentheid van saam verkeer, weer tot die besef te kom ons is nie alleen agter ons duiwelsvurk, doringdraad en veiligheidskameras nie. Daar is nog mense wat soos ons voel.
Laat ons ook die jaar groter betrokkenheid toon by instansies wat goeie werk doen: landbou-organisasies, kultuur organisasies, kerke en andere.
Uiteindelik gaan 2022 so goed of sleg wees as wat ons dit vir onsself gaan maak.
Die geskiedenis het getoon dat verset werk, veral as ons
Hemelse Vader deel is daarvan soos by Bloedrivier. Laat ons 2022 ‘n opstaan jaar maak, en nie ‘n gaan-lê-en-vertrap-ons jaar nie!