Hermanus van der Schyff. uit Die Afrikaner van 8 Julie 2022.
As mens na die missie van die HNP kyk, sal mens sien hoe dringend noodsaaklik dit wel is dat dié boodskap van die HNP by ons volk uitkom.
Laat ons eerstens kyk wat die missie van die HNP is:
Om Afrikanernasionalisme lewendig te hou en aan te wakker as die drywende mag wat tot nasionale Vryheid vir die Afrikanervolk moet lei.
• Ons wil dit bereik deur:
Volksgenote toe te rus met kennis, ten einde liefde en respek te kweek;
vir ons eiendomlike en ons nasionale strewe.
• vyandige en skadelike propaganda teen te gaan; en
• volksgerigte Afrikaners te betrek by doelgerigte aksies om hul identiteitsbewussyn, kulturele selfstandigheid, nasionalisme en die staatkundige vryheid van die Afrikanervolk te
bevorder.
Om die boodskap en die nodige agtergrond van Afrikanernasionalisme aan ons volk en veral die jonger geslag oor te dra, is dit nodig dat daar byeenkomste plaasvind waar dié boodskap aan die mense oorgedra kan word.
Weens die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkings kon sodanige byeenkomste nie die afgelope meer as twee jaar gehou word nie. Noudat die inperkings opgehef is, kan ons weer begin om sulke byeenkomste te reël. Die probleem is dat mense wat die byeenkomste wil reël, graag wil hê dat mense uit die leierskap die byeenkomste moet bywoon en die Party se boodskap kom oordra. Hulle is van mening dat dit meer gesag sal dra as leiers met die volk gesels.
Die probleem het egter nou ’n ander wending geneem met die totale verval van instandhouding van paaie, onbekostigbare brandstofpryse en die geweldige toename in misdaad. Dit maak dit moeilik vir mense om van plek tot plek te ry om vergaderings te hou. Daarom word ’n beroep op ons mense gedoen om self kleiner vergaderings, sê by ’n braaivleis of ’n koek en tee-byeenkoms, te hou. Wees verseker dat u meer weet as wat u dink u weet.
Vertel die mense van die beleid van die HNP. Gebruik Die Afrikaner as bron om die huidige politiek en die siening van die party oor te dra. Daar verskyn juwele in Die Afrikaner, nie net oor die huidige politiek in Suid-Afrika nie, maar ook van ons geskiedenis en die redes hoekom ons in hierdie benarde posisie van vandag is. Daar is ook nuus oor oorsese politieke verwikkelinge wat die rigting van sekere lande se toekomstige politiek kan beïnvloed en wat ook ’n invloed op Suid-Afrika kan hê.
Dan kan u ook op die webwerf van die HNP, www.hnp.org.za, gaan kyk vir ander inligting soos
die bespreking van die HNP se Program van Beginsels. Dit is ’n baie belangrike stuk wat gebruik kan word om aan mense te verduidelik wat en wie die HNP eintlik is. Dit sal al die wan-idees oor die Party wat deur die vyande van die Party verkondig word, uitskakel.
Dit is egter dringend nodig dat ons mense weer bymekaarkom en net lekker kuier. Daarom doen die HNP ’n ernstige beroep op u om wel aandag te gee aan sodanige byeenkomste. Die Volk vra daarvoor.
En Die Afrikaner wag vir nuus oor u byeenkoms wat u gehou het.