Die hele wêreld het die afgelope tyd in chaos verval.
H F van der Schyff 02 September 2022
Eers was dit die Covid-19 pandemie waar die regerings hulle magsmisbruik tot onaanvaarbare hoogtes gevoer het waardeur mense en besighede bankrot geraak het. Ekonomieë is op hul knieë gedwing en die regerings het onder die bose riglyne van die Wêreld Gesondheid Organisasie, wat weer deur die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) van Klaus Schwab bestuur is, mense ingeperk en kinders is ten minste twee jaar se normale ontwikkeling ontneem.
Die regerings het agtergekom dat die ekonomiese en finansiële probleme wat veral klein besighede en die gewone man ondervind het, tot opstande kon lei, en het hulle finansiële hulppakkette daargestel om mense en besighede te help. Die meeste regerings het nie oor die kontant beskik om hierdie massiewe hoeveelheid geld wat vrygestel is, te finansier nie. Hulle het dus geld begin leen en ook begin om geld te druk.
Die resultaat was dat alle lande ’n styging in inflasie beleef het.
Nadat die Covid-pandemie se rampspoedige uitkoms begin verflou het, is die regerings deur die ondersteuners van die WEF aangemoedig en basies gedwing om steeds maatreëls daar te stel om hul mag te wys en is maatreëls behou wat die gewone mense onderdruk. Dit was egter nie so suksesvol soos tydens die pandemie nie. Daar is toe ’n ander probleemarea, naamlik aardverwarming, uitgewys wat gebruik is om regerings te dwing om streng maatreëls daar te stel om die aardverwarming teen te werk. So is daar maatreëls in plek gestel om die verhoging in CO² te verminder asook om ander chemiese stowwe in landbou te verminder. Hierdie vermindering in chemikalieë sal die produksievermoë van boere drasties verminder. Veral in Nederland is daar drakoniese wette ingestel wat baie boere se lewenswyse tot ’n einde sal bring.
Regerings het onder die druk van ander regerings soos die Europese Unie en die volgelinge van Klaus Schwab besluit om na die sogenoemde “groenkraglewerings” oor te skakel en om kragstasies wat steenkool en gas gebruik, asook kernkragsentrales, af te skakel.
Wat daarna gebeur het, bly maar ’n raaisel. Daar het ’n oorlog tussen Rusland en Oekraïne uitgebreek. Die vraag wat gevra kan word, is of dit deur die WEF beplan is en was Rusland deel van die plan? Of het die VSA en die Europese lede van Navo, Oekraïne misbruik om die oorlog uit te lok? In elk geval, die twee lande is die twee lande wat die meeste graan in die wêreld produseer en uitvoer. Skielik is daar wêreldwyd ’n tekort en pryse van onder andere kos en kookolie begin sterk styg.
Die oorsaak van die oorlog word deur die VSA en die res van Navo op Rusland gepak en hulle het streng sanksies teen Rusland ingestel. Ook die invoer van Russiese petroleumolie en gas deur sekere lande is beperk. Nou het baie lande die probleem dat hulle nie meer toegang tot genoeg olie en gas het nie en kan hulle nie aan die energiebehoeftes van hul lande voorsien nie. Dit het daartoe gelei dat alhoewel daar sanksies teen Rusland ingestel was, sommige lande steeds olie en gas vanaf Rusland ingevoer het. Rusland het geantwoord deur sy lewering van olie en gas tot 20% van sy normale voorsiening te verminder. Die rede wat Rusland aanvoer vir die vermindering, is dat die sanksies die voorsiening van onderdele beperk om die pypleiding optimaal te benut.
Die tekort aan olie- en gasprodukte vanaf Rusland veroorsaak dat die meeste Europese lande erge energie probleme ondervind en met die winter wat vir hulle voorlê, is dit ’n ernstige krisis. Allerhande beperkings word op kragverbruik ingestel. In stede word advertensieborde se krag afgeskakel. Kantore mag nie meer hul lugversorgers gebruik nie en baie kantore moet ook hul ligte afskakel. So erg is die probleem dat Engeland aangekondig het dat elektrisiteitspryse met 80% gaan styg. Hoe arm mense so ’n tariefstyging gaan oorleef, weet nugter. Duitsland sit met dieselfde probleem en daar word beplan om van die afgeskakelde “aardverwarming”en opwekkingseenhede weer aan die gang te kry. So gebeur dit nou dat dit nie net Suid-Afrika is wat beurtkrag ondervind nie.
Die VSA se linkse president, Joe Biden, het nog voor die oorlog begin het, reeds begin om die ontginning van olie in die VSA te stop. Dit het veroorsaak dat brandstof by die pomp van ’n gemiddelde prys van ongeveer $2,50 per gelling, na ’n gemiddelde van $4,60 verhoog het. In Kalifornië was die prys op ’n stadium reeds $6,90 per gelling. In die VSA styg pryse op alle produkte en word voedselpryse en huurtariewe reeds erg verhoog. Die VSA het nou twee kwartale opeenvolgend gehad van ’n inkrimping in die ekonomie. Volgens ekonomiese definisies word ’n land wat twee kwartale na mekaar ekonomies inkrimp, as ’n land beskou waar daar ’n resessie heers. Biden probeer die aanname verberg onder die argument dat dit slegs ’n transformasieis en nie ’n resessie is nie.
Die oorlog tussen Rusland en Oekraïne het ook ’n ander bron van invloed op inflasie in die Navo-lande. Navo met veral die VSA, Engeland, Duitsland en Pole verskaf baie fondse en wapens aan Oekraïne om hul oorlog voort te sit. Sonder hierdie hulp sou die oorlog reeds beëindig kon wees. Hierdie hulp word nie uit besparings finansier nie, maar word die reserwebanke gedwing om ekstra geldvoorraad te druk. En enige persoon weet dat as jy ’n land se geldvoorraad verhoog sonder gepaardgaande verhoging in produkte en dienste, verhoog inflasie. Dit is dus nie verbasend dat ekonome en kommentators wêreldwyd verwag dat daar teen die einde van die jaar ’n resessie wêreldwyd sal heers nie.
En met dié dat lande nie meer afgesonderd in die wêreldmarkte funksioneer nie, kan ons verwag dat Suid-Afrika ook deur hierdie wêreld ekonomiese resessie getref sal word. En dan kom die verkiesing van die nuwe president van die ANC aan die einde van die jaar aan die beurt en kan ons nog ander probleme tussen die groepe binne die ANC verwag wat die ekonomie ook kan benadeel.
Ons moet ons dus instel om spaarsamig te lewe sodat ons die aankomende krisis kan oorleef.