Probleme vir die bevolkings van die wêreld

In aansluiting by my stuk wat in die vorige uitgawe van Die Afrikaner verskyn het, wil ek in vandag sestuk skryf oor die spesifieke probleme wat inwoners van lande oor die wêreld heen ondervind. Terwyl baie lande reeds energie-krisisse en voedseltekorte ondervind en nog groter probleme in die toekoms op hulle wag, gaan hul voort met wetgewings om produksie in te kort.

Die boere in Nederland protesteer oor die drakoniese wette wat hul regering aangeneem het om die sogenaamde “aardverwarming” teen te werk. Die ergste van die wetgewings gaan daaroor om boere te dwing om hul gebruik van stikstof en ammoniak in bemesting uit te sny en ook om hul kuddes te verminder. Dit sal baie boere se oeste en inkomste so verminder dat hulle hul plase sal verloor. Dit sal ook ‘n voedseltekort in Nederland tot gevolg hê. Nederland is een van die lande wat die grootste uitvoerder van voedsel is en ander lande sal dus ook geraak word. Die boere betoog nou al vir weke oor hierdie WEF (Wêreld Ekonomiese Forum)-gedrewe beleid, maar die linkse Westerse media gee nie aandag daaraan nie.

In Kanada is hul eerste minister, Justin Trudeau, die dryfkrag agter soortgelyke wetgewing as wat in Nederland beplan word. Wat ons moet onthou is dat Trudeau ‘n leerling en aanhanger van Klaus Scwab en sy WEF is. Trudeau is ook besig om al meer wetgewings deur te voer wat van hom ’n soort diktator sal maak. Hy sorg ook dat beperkende maatreëls oor Covid-19 in plek gehou word, alles net om die bevolking in bedwang te hou. Kanada beleef die hoogste inflasiekoers in 40 jaar. Maar gelukkig is daar al meer mense in die provinsiale regerings en in ander organisasies wat vasskop teen Trudeau se sosialistiese wetgewings. Die “Trucker”-betoging ‘n ruk terug, en die staat se optrede teen die betogers het steeds ‘n invloed. Trudeau se toekoms om eerste minister te bly word al kleiner. Hopelik sal die Kanadese van hom ontslae raak.

Nog ‘n leerling en navolger van Klaus Scwab, is die eerste minister van Nieu-Seeland, Jacinda Ardern. Sy volg ook steeds die meer beperkende maatreëls om Covid-19 streng te beperk, en die bevolking is al redelik keelvol hiervoor. Sy volg ook die beleid om boere se produksie te beperk. Inflasie was ‘n rukkie terug reeds 7,3%, wat die hoogste in 32 jaar is. Haar vriendelikheid teenoor Sjina staan ook nie die inwoners aan nie.

In Europa is nog ‘n sterk land besig om te sink en blyk dit uit ekonomiese voorspellings dat die Duitsers baie arm kan word. Duitsland se probleem is dat hulle dadelik vir Oekraïne ondersteun het, militêr asook finansieel. Dit het inflasie begin opjaag. Wydstrekkende sanksies is ook teen Rusland ingestel. Die groot probleem het toe van Rusland gekom toe dié op die sanksies gereageer het. Rusland was Duitsland se grootse voorsiener van energie in die sin van vloeibare gas en olie. Rusland het die voorsiening verminder na 20% van die gewone voorsiening. Hul rede was dat daar onderhoud aan die pypleiding gedoen moes word. Hierdie tekort aan olie en gas het die Duitsers groot probleme in energie-voorsiening gegee. In lyn met Klaus Scwab en sy WEF se riglyne het Angela Merkel, die vorige kanselier, begin om steenkoolkragstasies en ook kernkragopwekkingseenhede af te skakel. Dit het energiepryse en ook voedselpryse laat styg. Nou het energie so skaars en duur geword dat ekonome ‘n resessie teen die einde van die jaar verwag.
Besighede is gevra om kragverbruik te verminder deur hul advertensieborde se beligting af te skakel. Die inwoners word ook beperk oor op watter temperatuur hul lugreëlings gestel mag word. Kantore moet ook hul beligting beperk. Wat in die winter gaan gebeur, is vir die gewone Duitser ‘n erge probleem en begin hulle om bome in plantasies af te kap om hout in die hande te kry aangesien dit nou ook ‘n skaars artikel is. Duitsland probeer nou om ‘n pypleiding vanaf Portugal na Duitsland te bou om so gas daarvandaan te ontvang. Frankryk weier egter om die Pypleiding te ondersteun en nou moet daar ander planne beraam word om die pypleiding tot in Duitsland te kry.

Ook in Italië is die bevolking keelvol vir die wyse waarop die regering hul lewens volgens die WEFsiening bestuur. Dit het gelei dat die eerste minister en sy regering reeds bedank het en sal daar binnekort ‘n verkiesing gehou word om ‘n nuwe regering daar te stel. Die verwagting is dat die twee sterkste regse partye onder Giorgia Meloni en Matteo Salvini die verkiesing sal wen.

In Brittanje is daar ernstige onrus in die politiek. Die gewese eerste minister, Boris Johnson, het reeds bedank en is deur Liz Truss vervang. Johnson was ‘n groot ondersteuner en het Oekraïne besoek om Zelenski te dwing om aan te hou met die oorlog en nie vredesonderhandelings met Rusland te begin nie. Hy het later weer met Zelenski gesprek gevoer. Engeland het reeds baie militêre en finansiële hulp aan Oekraïne verleen. Inflasie styg skerp en word daar ook ‘n resessie in Engeland verwag. Die tekort aan gas en olie het reeds veroorsaak dat aangekondig is dat energiepryse met 80% gaan styg. Selfs ‘n oggendprogram op Britse TV het ‘n kompetisie waar ‘n prys gewen kan word waar die TV-stasie jou kragrekening vir 4 maande sal betaal.

Turkye het aanvanklik ook vir Oekraïne ondersteun, maar het nou van deuntjie verander. Turkye is nou in sy eie twis met Griekeland gewikkel oor of ‘n eiland aan Turkye of Griekeland behoort. In Tsjeggië het ongeveer 70 000 mense van verskillende denkrigtings op 4 September teen die geweldige styging van veral energiekoste betoog. Sjina met sy beleid om alle mense in te perk wanneer daar ‘n Covid-19-geval ontdek word, het veroorsaak dat een stad nou weer geheel ingeperk is. Diere word gedood en mense word toegesluit in hul woonstelle of in kampe. Dit verhoog die teenstand teen die huidige regering. Ander gebeure het daartoe gelei dat Sjinese vir die eerste keer in ‘n lang tyd in groot getalle betoog het. Die huismark het in duie gestort en die ontwikkelaars wat lenings by banke gehad het, kon nie meer hul skuld vereffen nie. Dit het banke gedwing om rekeninghouers se rekenings te vries en kon die publiek nie hul geld onttrek nie.

Verder is daar ernstige droogte in Sjina en riviervlakke is baie laag. Een van die grootste riviere, die Yangtze, is so droog dat dit nie meer hidrokrag kan opwek nie. Dan het Xi Jinping, die eerste minister, met sy generaals ‘n geheime vergadering gehou oor hoe om Taiwan in te val en oor te neem. Een generaal het die geheime gesprek wel opgeneem en laat uitlek. Xi Jinping het daarna vier generaals om die lewe laat bring en nog ander in hegtenis laat neem. Dit blyk dat Jinping nou hard sal moet werk om veel langer aan sy mag vas te klou. Die tekort aan sekere voedselprodukte en die styging in lewenskoste en veral energiekoste, veroorsaak dat die bevolkings van Europese lande omgekrap raak en poog om hul regerings te dwing om hulp aan Oekraïne te staak en eerder na hul eie mense begin omsien.

Oor die VSA se inmenging oral in die wêreld sal ons later verslag doen, maar met die swakste president, Joe Biden, aan die stuur, kan enigiets gebeur. Dit is nie uitgesluit dat die VSA in ‘n oorlog met Rusland en Sjina betrokke kan raak nie.

Dit sal die wêreld raak, ook hier by ons.

Die Afrikaner 19 September 2022