Tydens die Stellenbosh Woordfees, wat hierdie jaar weer na ’n paar jaar van afwesigheid plaasgevind het, het die Afrikaanse weergawe van die ANC-regering se His Masters’ Voice, RSG, verskeie gesprekke oor die lug aangebied.

Feitlik elkeen van die gesprekke het ’n sterk politieke inslag gehad, baie aandag is aan die Khoisan gegee, die Universiteit van Stellenbosch het ruim geleentheid gekry om sy verengelsingsbeleid te regverdig, en natuurlik was die nalatenskap van apartheid meerdere male ter sprake.

Die omroepers wat die gesprekke lei, is ’n jonger geslag wat niks van apartheid weet nie, behalwe wat hulle uit die eensydige linkse handboeke leer wat die universiteite voorskryf.

So het die een aanbieder, Udo Carelse, wat in 1978 in Atlantis gebore is en ’n produk is van UK (United Kingdom), ’n hele klaaglied gesing oor die arm mense wat na dertig jaar van “demokrasie” steeds ver van hulle werksplekke af werk en elke dag lang ure in busse moet deurbring om by hulle werk te kom, terwyl die sogenaamde rykes dit dan soveel makliker het omdat hulle naby die werk is. Natuurlik is dit die nalatenskap van die apartheid geskepte samelewing.

Dit is baie duidelik dat die mense wat aan dié gesprekke deelneem, absoluut niks weet van die desentralisasiebeleid wat die NP-regering onder veral dr. HF Verwoerd, ingestel het nie. Dié beleid was daarop gemik om fabrieke en ander groot nywerhede te skuif van die tradisionele blanke gebiede na die natuurlike tuislande van elke swart volk. Daardeur sou die swart arbeider van sy huis en gesin af kon werk, en dus elke aand en naweek by sy familie wees, sonder om lank en ver te pendel daarheen. Nywerhede is aangemoedig om te skuif, en die regering van destyds het selfs aansporingsmaatreëls, onder andere hulp met hervestiging, ingestel.

Trouens, dr. Voerwoerd het as minister van Naturellesake reeds in 1954 die situasie ingesien en tydens ’n toespraak voor die Gefedereerde Kamers van Nywerheid in Kaapstad op 26 Mei, die volgende oor die probleem gesê:
“Eerstens is dit waar, soos u president gesê het, dat naturellebeleid van groot belang vir die nywerheid is omdat die nywerheid die Bantoe as ’n werker nodig het en omdat die aanwesigheid van daardie werker, die manier waarop hy gehuisves word en die voorwaardes waarop werkgewing toegelaat word, alles noodwendig die nywerheid en sy ontwikkeling raak.

“Maar daar is ’n ander kant hiervan ook en dit is dat naturellebeleid tans regstreeks deur die nywerheid geraak word. Die nywerheid is die magneet wat die Bantoe trek na wat ek verkies en sal voortgaan om te noem ‘blanke Suid-Afrika’.

“Tweedens behoort die welvaart van Suid-Afrika, wat ons algemene uitkyk ook mag wees, ons gemeenskaplike saak te wees en terselfdertyd moet ons na ’n lewenswyse strewe vir almal – nie net die blanke nie maar ook die Bantoe – bevredigend sal wees. En wanneer ons of ’n maatskaplike of ’n ekonomiese beleid vir hierdie land soek, moet ons belang stel in die skepping van toestande in ons nywerheid waaronder ons ekonomies kan floreer maar terselfdertyd ons maatskaplike struktuur kan bewaar – en sodoende moet ons seker maak dat almal, Blanke en nie-Blanke, in Suid-Afrika en veral in die groter sentrums, op so ’n wyse kan lewe dat hulle tevrede en gelukkig is en ’n toekoms vir hulself kan sien.”

Verder het dr. Verwoerd al die desentralisasie-gedagte so begin verwoord: “Maar hoe kan dit ooit wees dat die magneet wat die bevolking na hom toe trek – nywerheidsontwikkeling – nie in ’n sekere rigting gestuur word nie? Dit is die rede waarom ek meer as een keer al gesê het dat wat langtermynbeleid betref (en ek moet die woord ‘langtermyn’ beklemtoon, want groot veranderinge in enige rigting kan nie binne ’n kort tyd plaasvind nie) daar aanvaar moet word dat nywerhede naas aan die Bantoegebiede wat vir hierdie doel geskik is, ontwikkel moet word… As die arbeiders wat daardie nywerheid nodig het, in hul eie Bantoegebied gehuisves kan word, dan kan ’n hele Bantoeraamwerk van maatskaplike lewe en administrasie soos in die aangrensende
blanke gebied daar opgebou word op ’n grondslag van Bantoe-arbeid.”

Dit is duidelik dat die ou NP-regering die probleem reg ingesien en korrek benader het. As dit dan misluk het, is dit omdat dr. Verwoerd se opvolgers daarvan begin afwyk het, en die nywerhede nie hulle samewerking gegee het soos wat nodig was nie. Dit kan allermins op apartheid se brood gesmeer word. Die afsonderlike ontwikkelingsbeleid, wat die Engelse “apart hate” gemaak het, was regverdig, en totaal die teenoorgestelde van wat die land tans beleef.

Die Afrikaner 14 Oktober 2022