HNP se 53ste Jaarkongres met tema
Bostaande opskrif was die tema van die HNP se 53ste jaarkongres wat in Pretoria gehou is, en dit was ook die tema van die uittredende leier van die HNP, mnr. Andries Breytenbach, se toespraak.
Mnr. Breytenbach het sterk klem daarop gelê dat ons nooit die eis op ons land mag laat vaar nie, en het verwys na die Jode wat ook lank hulle eis op hul land bly stel het, totdat dit uiteindelik gerealiseer het.
Hy het ook gesê dat die tema nie ‘n oproep tot oorlog is nie. Voor 1994 het mnr. Jaap Marais gesê dat dit onsinnig is om jou land weg te gee en dan daarna wil beding om ‘n klein stukkie terug te kry. “Geen grondwet beskerm ‘n bevolking teen magsmisbruik nie. Ons politieke, militêre, wetgewende en juridiese basis is uit ons hande uit of baie wankelrig,” het mnr. Breytenbach ter inleiding van sy toe- spraak gesê en ook gewys op negatiewe hofuitsprake soos die onlangse uitspraak waar Julius Malema deur die hof in die gelyk gestel is dat “Kill the Boer” nie haatspraak is nie, en ‘n vroeëre uitspraak van die toenmalige hoofregter Mogoeng Mogoeng, waarin die Witman se verlede as ‘n onreg beskryf is en dat die grondwet nie daar is om onregte te beskerm nie.
Mnr. Breytenbach se volledige laaste toespraak as HNP-leier word hier weergegee: Gegewe die huidige politieke bedeling in Suid-Afrika, die bevolkingsgetalle en die demografiese verspreiding in die land, klink so ‘n oproep belaglik. Voeg daarby die projeksies van die Suid-Afrikaanse bevolkingsgroei in die volgende twee of drie dekades, dan moet selfs die grootste idealis tot die gevolgtrekking kom dat die grafskrif van die Afrikanervolk in Suid-Afrika op 27 April 1994 onherroeplik op die bakens van die geskiedenis gegraveer is. Elke magsbasis waaroor ons volk beskik het — polities, militêr, wetgewend, juridies — is ons ontneem en aan ʼn kommunistiese bende wat op die rug van die swart gepeupel ry, persent gegee. Sedertdien misbruik hulle die verkreë mag om wat nog van óns invloed en vermoë oorgebly het, te probeer vernietig.
Volgens amptelike statistiek is die Witman nou minder as 8% van die totale bevolking van SA, waarvan ‘n deel al die nuwe bedeling aanvaar het en nie ons sentimente en waardes deel nie. Dié persentasie krimp by die dag namate die Swartes ongebreideld aanteel en jong Blankes die land verlaat. Mens kan maar net raai hoeveel van dié 8% is aan “ons” kant, d.w.s. vereenselwig hulle met die Afrikaner/Boerevolk se historiese strewe na eie volkskap. Daardie jong Swartes het oor ‘n paar jaar ook stemreg, wat die posisie verder verswak.
Eie volkskap impliseer ‘n eie vaderland, eie regering en eie beskikking oor ons natuurlike bates en ons politieke en ekonomiese lotgevalle onder ʼn Grondwet wat óns waardes en beskouing weerspieël en beskerm. Ons het dit maar vir ʼn baie kort rukkie in ons geskiedenis gehad — vanaf 1852 toe die Sandrivierkonvensie onderteken is, totdat diamante in 1867 in die Boereland ontdek is en Engeland dit sommer gou van ons geroof het. Daarna het die ontdekking van goud en die rampspoedige gevolge wat dit vir ons meegebring het, gevolg totdat die ou republieke vernietig en ons volk byna uitgewis is.
Selfs toe ons in 1961 ‘n nuwe republiek, afgeskei van die Britse kroon, geword het, was slegs maar ‘n klein deeltjie van ons volk se bates in eie hande. Die oorgrote meerderheid daarvan was en word steeds besit deur kapitalistiese bloedsuiers wat die rykdom wat hulle uit hierdie bodem gehaal het, aangewend het om die bevolkingsbeleid wat die voortbestaan van die Blanke beskawing in SA moes verseker, te ondermyn. Ná 1994 het die bietjie waaroor ons nog beskik het, soos Yskor, Volkskas, Sanlam, Federale Volksbeleggings en andere ook in vreemde hande oorgegaan. Dan was daar ook mense met Afrikaanse name wat eerder vir hulleself as vir Suid-Afrika gewerk het. Geen wonder nie dat baie van ons mense reguit sê: “Ons het nie meer ʼn land nie.”
Hoe realisties is dit dan om te sê “Witman, Afrikaner, vat jou land terug!”
Volgens menslike maatstawwe is dit nie moontlik nie. Geloof in God, die Beskikker oor die lotgevalle van mense en volke, werk egter nie met menslike maatstawwe of demokrasie nie. Hy het ons volk in aansyn geroep en ons land vir ons gegee. En omdat Hy Hom deur sy woord openbaar as die Getroue God wat nie die werke van sy hande laat vaar nie, kan en mag en moet ons glo dat Hy vir ons volk ‘n doel en bestemming bepaal het. Dit het ons al die jare geglo en dit het nie verander net omdat die vyand oorgeneem het nie. Dié geloof vra vertroue — die soort vertroue wat die Jode al die eeue sedert die Romeine hulle tempel verwoes en hulle oor die aarde verstrooi het, gekoester het dat hulle weer na die land wat God hulle gegee het, sou terugkeer. Wat ons ook al vandag oor die Jode (of dan die wat glo dat hulle Jode is) mag sê, die onomstootlike feit is dat hulle sowat 20 eeue nadat hulle as volk uitmekaar geslaan en uit hul land verdryf is, weer hul land regeer. Nooit gedurende die 2000 jaar van hulle verstrooiing het hulle hul aanspraak op die grondgebied wat hulle vandag beset, ontken of prysgegee nie. Na eeue het hulle mekaar inderdaad in Jerusalem ontmoet, en is vandag die politieke eienaars van hulle land. Daarenteen is daar van die eens magtige Romeinse ryk vandag slegs ruïnes oor.
Hoe is dit met ons volk gesteld? Is daar nog ‘n volk op aarde wat so hard ontken dat sy land sy land is, soos sommige volksgenote vandag doen? Hulle wil die geskiedenis en wettige konstitusionele ontwikkeling wat na die tweede Vryheidsoorlog plaasgevind het, ignoreer asof dit ongeldig was of nooit gebeur het nie, en terugval op republiekies wat tot stand gekom het deur hierdie of daardie verdrag of ruiltransaksie wat verder terug in die verlede met swart kapteins gesluit is, asof ons volk nét op daardie gebiede ‘n aanspraak het. Ons het ‘n reg op Blank Suid-Afrika wat deur die buiteland erken was.
Lees ons die Bybel, vind ons talle skrifgedeeltes, van Moses af deur die Psalms en die profete, waar onbeskroomd verklaar word dat Israel se land eers aan ander volke behoort het, wat God in hulle hand gegee of voor hulle uit verdryf het en die land aan hulle (Israel) as besitting gegee het.
Geld dieselfde beginsel dan nie vir ons volk nie? God het hierdie land aan ons gegee — die dele wat onbeset was; die dele wat ons geruil of gekoop het; die dele wat ons verower het toe ons sonder provokasie aangeval was. Ons erken die ander volke in Suid-Afrika wat hulle in bepaalde gebiede gevestig het, se reg op daardie gebiede en ons gun dit vir hulle. Aan sommige van hulle het ons onafhanklikheid gegee, terwyl andere nog in die proses op pad daarheen was. Ons maak egter met die volste reg aanspraak op die land wat ons as Blank Suid-Afrika geken het.
Wanneer ons dus sê: “neem jou land terug”, is die eerste vereiste ʼn absolute oortuiging dat dié land óns land is, selfs al verkeer ons volk tans in verstrooiing en interne ballingskap en al regeer ons nie nou meer daaroor nie. Dié aanspraak mag ons nie prysgee nie, want gee ons ons reg op ons land of ʼn deel daarvan prys, kan ons dit nie later wanneer omstandighede in ons guns verander het, weer opeis nie. Intussen moet ons ons aanspraak op ons land uitleef/betuig deur ons stempel duidelik en sigbaar af te druk waar ons kan. Waar Afrikaners gekonsentreer is, moet ons die karakter van die omgewings Afrikaans maak. Dit bly ‘n doring in die oog en oor dat banke en ander besighede in gebiede waar die meerderheid inwoners — en dus kliënte — Afrikaners is, hul advertensies en praktiese besigheid uitsluitlik in die koloniale Engelse taal voer. Dat die inwoners dit toelaat, skep die indruk dat hulle in hul gemoed ook maar die verowering aanvaar het en daarin berus. Ons moet ons koopkrag inspan om die besighede te dwing om hulle besighede ʼn karakter te gee wat respek vir hulle ondersteuners toon. Daar is tog plekke in ons land waar die besigheidsname, advertensies en openbare kennisgewings onmiddellik opval wanneer jy deur die strate ry, omdat dit in mooi, oorspronklike Afrikaans vertoon word. Maar sulke plekke is dun gesaai…
Van Afrikaans gepraat, daar was ʼn tyd toe die media, dit is die koerante en die radio (en voeg die televisie in sy beginjare hier in Suid-Afrika maar by), absoluut daarop ingestel was om mooi, goeie, suiwer Afrikaans te gebruik. Die uitgangspunt was: Toon die voorbeeld van hoe ons taal gepraat en geskryf behoort te word en voed ons lesers en luisteraars op om trots te wees op ons taal. Maar toe die loslitbenadering van die sogenaamde verligtes eers posgevat het, het die uitgangspunt verander na: Ons moet praat soos die mense praat, en toe begin hulle praat en skryf soos die “volkies” praat. Vandag gril ek by die aanhoor van ons kinders se gesprekke, want wat die veragters van Afrikaans in C.P. Hoogenhout se tyd smalend ʼn “Hotnotstaal” genoem het, het in die mond van soveel ontwikkelde Afrikanerkinders hul omgangstaal geword. Hulle is nie eers skaam om te sê hulle praat Anglo-Afrikaans of Afro-Afrikaans nie.
Eweneens behoort die skoolgaande kinders in Afrikaanse omgewings in volkseie skole geskool en opgevoed te word waar hulle ons geskiedenis, ons liedere en gedigte en prosa, ons hoë sedelike standaarde en etiese gedrag leer. Ander voorbeelde kan genoem word, veral op die ekonomiese, finansiële en arbeidsterreine.
En kon daar tog meer nedersettings soos Orania en Kleinfontein oral in die land gevestig word waar groepe volksgenote fisies stukkies van ons land beset en met volkseie arbeid bewerk!
Die kern van die saak is dat ons ʼn soortgelyke ingesteldheid by ons volk moet inburger as wat wyle genl. Hertzog gedoen het toe hy die standpunt ingeneem het dat Suid-Afrika se belange eerste gestel moet word wanneer die belange van die Britse ryk oorweeg word. ʼn Ingesteldheid dus dat óns, die Boerevolk, se belange eerste gestel moet word wanneer dit teen die breër Suid-Afrikaanse belange opgeweeg word. Ons eie kom eerste! Daarvoor moet ons bereid wees om stryd te voer en die opofferings te maak wat die stryd mag vra.
Vir 25 jaar word nou al voorspel dat daar groot konflik tussen Blank en Nieblank sal kom. Tot dusver het dit nie gebeur nie, maar die politieke klimaat neig daarheen. Ons moet reg wees daarvoor, want in so ‘n situasie, het Jaap Marais gesê, sal nuwe grense getrek word: etniese grense. Ons moet net nie moedeloos word nie. Om stryd te voer, om op te offer, om ongerief en ontberings te verduur moet mense gemotiveerd en in hul gemoed oortuig wees van die reg van hul saak en dat hulle regmatig optree om wat aan hulle behoort, te handhaaf en te beskerm.
Sou die agteruitgang en haatstokery in die land uiteindelik tot ʼn algemene binnelandse militêre konflik lei en die institusionele instrumente wat wet, orde en reg in die land moet handhaaf, in duie stort, sal ons die gebied(e) waar ons ons wil handhaaf, moet afgrens en verdedig en die inwoners teen die terreur van die gepeupel en gesagsdraers van die tirannieke owerheid eskerm. Daarbinne sal ons eie strukture moet vestig wat gesag uitoefen, orde handhaaf en verseker dat die gewone lewe van die burgery ordelik voortgaan. Met ander woorde, dan sal gebeur wat mnr. Jaap Marais voorspel het toe hy gesê het dat daar nuwe grense in hierdie land getrek sal word — grense langs etniese lyne.
Die bostaande handel oor ons volk. Op die vraag hoe dit alles daarop sal uitloop dat ons, die Afrikaners, weer die beheer oor ons land staatsregtelik oorneem, is daar nie ʼn duidelike klaar antwoord nie, maar as die volk nie geestelik, fisies en ekonomies sterk en reg en georganiseerd is om ons land terug te neem nie, sal dit nie gebeur nie. As ons daarenteen voorbereid is om dit te doen, sal deur die beskikking van Hom op wie ons vertrou, die dinamika van die politiek die geleentheid daarvoor aan ons bied, en dan sal ons dit te baat neem.
Die vroeë Christendom het in ʼn heidense wêreld ontstaan en gegroei. In weerwil van vervolging en onderdrukking het hulle erns daarmee gemaak om hul Christelike geloof en alledaagse optrede ʼn leefwyse te maak. Aanvanklik is hulle wreed vervolg, maar ondenkbaar soos dit toe was, het daar tog ʼn dag gekom, minder as 400 jaar later, toe die Christendom die staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk geword het. Ek noem dit, sodat ons sal besef dat hoe onmoontlik die ideaal van die herwinning van ons vryheid en ons vaderland vandag lyk, dit tog op die regte tyd — dit is God se tyd — in vervulling kan en sal gaan. Laat ons dié ideaal uitleef en uitdra ongeag die heersende ongunstige omstandighede waarin ons ons tans bevind.
Die Afrikaner 11 November 2022