H F van der Schyff 11 November 2022 in Die Afrikaner

Die HNP se kongres was hierdie jaar onder moeilike omstandighede gehou. Die hoë brandstofpryse, swak paaie, algemene prysstygings en misdaad het heelwat mense verhoed om die kongres by te woon.

Tog was die kongres ‘n sukses en was dit lekker om ou vriende weer te sien. Die besprekings was soos gewoonlik op die vlak soos wat ons van ons mense verwag.

Gedurende die bespreking is daar na mnr. Jaap Marais verwys en hoe akkuraat hy die politiek kon ontleed. Hy het natuurlik ook die toekoms van die Suid-Afrikaanse politiek ingesien en kommentaar gelewer oor wat ons van die ANC-bende kon verwag. Dan het hy uitgespel hoe swak die ANC sou regeer en hoe dit die Afrikaner sal raak.

Hy het in sy een toespraak spesifiek die pad uitgestippel wat die Afrikaner sal moet loop om weer vry in sy eie land te wees.

Ek gaan ‘n stuk uit dié toespraak aanhaal sodat ons weer kan sien hoe ons moet voortgaan om ons vryheid te verkry. Tydens die kongres is juis gepraat oor die jeug en jongmense wat nie die geskiedenis van die verraad teen die Blanke en veral teen die Afrikaner, ken nie.

Ons sal hierdie geskiedenis in die toekoms stukstuk in Die Afrikaner behandel sodat die mense kan leer wat die Afrikaner in Suid-Afrika opgebou het voordat dit deur verraad weggegee is en nou alles tot niet gegaan het.

In sy toespraak, “Bring bymekaar wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort”, het mnr. Marais gesê dat wanneer oor die probleme in Suid-Afrika gepraat word, dit nodig is dat sekere prioriteite bepaal word. Hy gaan voort: “En laat my by herhaling sê: Ons moet die vyand kies, sodat ons die grense kan trek. Hierdie verwardheid van grenslyne is ons grootste frustrasie. Ons moet ‘n enkelsinnige benadering hê vanwaar jy die vyand kan identifiseer. En as die Kommunis gekies word as vyand, dan betrek dit elkeen wat rondom hom is. En u sal sien, as die Kommunis aangeval word, hoe hierdie liberaliste tot dié se hulp gaan kom. So, dít is die eerste vereiste.

“Die tweede, nadat die vyand gekies is, is om georiënteer te word tot stryd. ‘n Volk kan nie dink dat hy sonder stryd en opoffering en toewyding enige ideaal kan bereik nie. Dit was die lesse van 1877 tot 1881 en van 1902 tot 1961. En as jy praat van prioriteite en jy praat van lydelike verset en die moontlikheid van geweld wanneer hierdie stelsel inmekaar stort, is die eerste prioriteit: organiseer; maak die volk weer sterk deur die organiese eenheid te herstel in organisasies wat Afrikaner-nasionalisme as basis het.”

Mnr. Marais sê verder dat in die Afrikaner se stryd was geweld nie suksesvol nie, maar politieke aksies het groot vordering gebring het. Hy verwys na die slagspreuk wat die opskrif van sy toespraak is, en voeg dan by dat dié innerlike oortuiging die gehegtheid aan ons Witmanskap is, die gehegtheid aan ons Christenskap is, die gehegtheid aan ons Afrikanerskap is en die begrensing van ons kultuur en ons ras is.

Mnr. Marais gaan verder en sê “dat op die langtermyn moet daar een onverbiddelike strategiese doelwit wees: Dié land is ons land. Ons sal weer ons vryheid verwerf, kom wat wil. Ons sal weer die onomkeerbare omkeer. As ons nie vir mekaar dit sê nie, is ons as Afrikaner-nasionaliste nie eerlik in hierdie stryd nie.”

Mnr. Marais stel dit verder dat “die stryd stel ‘n groot toets aan mense se geloof, want soos in die Bybel gesê is: geloof is ‘n oortuiging aangaande die dinge wat die mens nie sien nie, en ‘n bewuste verwagting van wat die mens hoop. Dit is geloof wat ons volk se leiers gedra het. In tye van krisis moet geloof, trou en volharding die volk uit sy beknelling lei. En dit is altyd die minderheid in ‘n volk wat die geskiedenis maak, wat die boodskap van die geskiedenis hoor en die verwagtings vir die toekoms aanvoel. Moenie vir u laat vertel dat as ons ‘n minderheid is, ons magteloos is nie. Wanneer sy saak reg is, is ‘n minderheid ‘n mag.”

Laat ons mnr. Marais se boodskap weer lees en aan ons kinders en kleinkinders oordra. Met geloof en stryd, sal ons weer vry wees om in ons land oor onsself te regeer. Onthou die boodskap: “Dié land is ons land”.