Henk van de Graaf – Die Afrikaner 25 November 2022
Die beste Eerste Minister wat SA nooit gehad het nie.
As wyle mnr. Willie Marais, opvolger van mnr. Jaap Marais as leier van die HNP na laasgenoemde se afsterwe, nog sou geleef het sou die opskrif hierbo waarskynlik die kern van sy huldeblyk aan sy voorganger uitgemaak het. Dié woorde het mnr. Willie Marais tydens mnr. Jaap Marais se begrafnis gebruik, en ook herhaalde kere daarna.
Hierdie uitgawe herdenk die geboortedag van mnr. Jaap Marais 100 jaar gelede, en daarom is lesers gevra om insette te lewer oor hulle belewenisse met mnr. Marais, na wie regdeur hierdie uitgawe verwys word as oom Jaap.
As redakteur het ek dit myself aangematig om die voorblad vir my ervarings met oom Jaap vir myself uit te hou, want my joernalistieke loopbaan het begin as gevolg van oom Jaap, en gaan waarskynlik eindig by Die Afrikaner, waaroor oom Jaap jaloers gewaak het.
Toe die Herstigte Nasionale Party (HNP) gestig is, was ek maar 8 jaar oud. My pa (wat ‘n maand na oom Jaap 100 jaar oud sou gewees het) was ook geen stigterslid nie. Hy het op daardie stadium namens Militêre Intelligensie ‘n veldkantoor in Nederland hanteer om inligting in te win oor die ANC en kommuniste se bedrywighede teen die Republiek vanuit Oos-Afrika. Wel het ek in 1970 gesien hoe ons radio in Sliedrecht in Nederland, gestel was op Radio Suid-Afrika om die uitslae van die 1970-verkiesing te hoor. Dr. Pieter van der Dussen, wat toe besig was met sy doktorale studies in Nederland, het die dag met sy gesin by ons gekuier. My pa en Oom Piet was toe al HNP, alhoewel nog nie ongeskrewe lede nie as gevolg van die afstand. Toe die uitslae van daardie verkiesing bekend gemaak is, was beide manne redelik platgeslaan.
Tog was Jaap Marais self voor ons tydelike vertrek na Nederland ‘n huishoudelike naam. My pa het baie baklei teen die invoer van immigrante wat die Engelse gemeenskap versterk het, soos die Britte, Portugese en Grieke. Hy het hom beywer vir Dietse en Duitse immigrasie wat die Afrikanergemeenskap sou versterk. Soms het daar in dié Verband probleme opgeduik, dan het my pa in sy Volksie geklim en van Potchefstroom af na Kaapstad gery, oom Jaap gaan sien en gevra dat dié die eerste minister, dr. Verwoerd, uit die parlement moet roep, want my pa wil met hom praat. Dr. Verwoerd was altyd toeganklik, en hulle het mekaar reeds etlike jare geken toe my pa as Nederlandse immigrant by Die Transvaler begin werk het, en dr. Verwoerd die direksie se voorsitter was.
Met ons terugkeer uit Europa in 1971, het my pa polities ‘n lae profiel gehandhaaf. Die Militêre Inligting-projek is gestop deur John Vorster en Lang Hendrik van den Berg, wat alles onder een sambreel ingesluk het, selfs teen die wil van PW Botha wat toe minister van verdediging was. My pa is op byna 50-jarige ouderdom op straat, maar kry toe ‘n pos by die RGN se Instituut vir Taal, Lettere en Kuns – destyds ‘n semi-staatsinstelling wat politieke betrokkenheid (veral na regs) ten sterkste verbied het. Tog het my pa ondervoorsitter geword van die HNP in die kiesafdeling Koedoespoort, en het hy as joernalis vir Die Afrikaner geskryf, onder die skuilnaam destyds van F Grondeur. Later, toe ek nuusredakteur geword het by Die Afrikaner, het Jan van de Graaf die buitelandse rubriek hanteer, en die laaste artikel het ‘n week na sy dood in 1993 verskyn. Toe Die Dietse Federasie in 1992 die CR Swart-prys aan my pa toegeken het, is die funksie gehou in die HNP se raadsaal in Hatfield, met oom Jaap as die hoofspreker.
Ek het dus in wese in ‘n HNP-huis groot geword, het pamflette gestrooi in die 1974 en 1977-verkiesings, en in die tyd as kind baie met oom Jaap te doen gekry. Hy was altyd uiters vriendelik teenoor ons kinders.
Nadat my ma oorlede is net voor die 1977-verkiesing, het my pa ‘n pos in Bloemfontein aanvaar by NALN. In my matriekjaar het ons spesiaal van Bloemfontein na Pratoria gekom vir die tussenverkiesing in Koedoespoort, waar oom Jaap kandidaat was teen Sybrand van Niekerk, en waar hy die HNP se steun geweldig verbeter het. Ek het gematrikuleer in Bloemfontein en is toe Kovsies toe, waar ek in 1980 die Hans Strijdom-studentetak op die kampus gestig het, en sodoende het ek lid geword van die HNP Jeugstrydaksie se Opperraad, waarop ek as eerstejaartjie gedien het met seniors soos die huidige proff. Koos Malan en Danie Goosen, asook destydse redakteur van Die Afrikaner, ZB du Toit, en vanselfsprekend die ander ook. Oom Jaap was altyd daar.
Mettertyd is ek Philippolis toe waar ek die HNP se voorsitter was in die kiesafdeling Fauresmith waar Charl Hertzog ons kandidaat was. Ek kry dit sowaar reg om ongeveer 1985 oom Jaap as spreker te kry in ‘n volgepakte stadsaal.
Vroeg in 1990, net na De Klerk se Swart Vrydagtoespraak, hou oom Jaap saam met Eugene Terre’Blanche ‘n vergadering in Kimberley. Dit was nie té ver nie, en slaggate in paaie was nog ‘n nie-bestaande konsep, dus ry ons deur daarheen. By die deur groet ons die sprekers, en stap na binne. Oom Jaap roep my terug. “Henk”, sê hy, “ek het al jou skryfwerk gesien en ek dink jy het potensiaal om ‘n joernalis te word. Ons het ‘n pos by Die Afrikaner oop. Wil jy nie aansoek doen nie? Gesels met Louis van der Schyff vir die besonderhede.”
Totaal verbluf het ek daardie aand nie veel van die toesprake gehoor nie, maar het dié kompliment en betuiging van vertroue my bygebly, en om ‘n lang verhaal te verkort, het ek toe op 1 Junie 1990 as nuusredakteur by Die Afrikaner begin, en daar oom Jaap van ‘n heel ander kant leer ken.
Donderdag was sakdag. Die oggend vroeg bel oom Jaap die redakteur, oom Hannes Ferguson, om te vra wat die voorbladberig is… dan word oom Hannes redelik breedvoerig gedikteer oor hoe om die berig te hanteer. Dan word ek gebel en gevra oor die tweede berig, en dan daaroor redelik gelei dat dit inpas by ons standpunte. Interessant genoeg het oom Jaap feitlik nooit ingemeng met die Hoofartikel/Kommentaar nie, en ook nie met Gawie wat op die hoofartikelblad was nie.
Dikwels is Kobus van Tonder na oom Jaap ontbied, en dan kry ons ‘n handgeskrewe dokument, op afval rekenaarpapier, wat ons kan gebruik in ons berigte en gedagtegang.
Oom Jaap was egter ook in sekere opsigte baie ydel. Ons kon Maandagaande op die beplanningskomitee reken op ‘n stewige uittrap as sy foto na sy mening té onvleiend was, of as FW de Klerk se foto na sy mening té vleiend was. Ek het eendag ‘n artikel oor oom Jaap gedoen, lank by hom gesit en ‘n onderhoud gedoen, notas geneem. Twee dae later bel hy my en sê hy wil graag die artikel sien voor publikasie. Ek stuur dit vir hom, en sy doodtrek of byvoegings was verstommend min. Tog op een plek het ek gepraat oor oom Jaap se netjiese taalgebruik en dat hy keurige Afrikaans skryf. Dit is doodgetrek en vervang met: “Mnr. Marais se skryfwerk is afgeronde prosa”, wat dit inderdaad was! Ek sou wat wou gee om in hierdie dae oom Jaap se afgeronde prosa wou sien as hy die Brakpanse dogtertjie, Charlize Theron, sou geantwoord het op haar belaglike 44 Afrikaanssprekendes-stelling. In sulke stukkies kon oom Jaap in die keurigste taal, met ’n hoop vol dodelike spot, humor, sarkasme en onbetwisbare feite, die vloer vee met iemand.
Ritte na openbare vergaderings was baie interessant as ek as bestuurder opgetree het. Daar is in
oor die politiek gesels, baie oor mense, die natuur, taal, letterkunde en musiek. Tot ‘n half uur oor die bestemming. Dan word die dakliggie aangeskakel, die gesprek gestaak en dan berei oom Jaap finaal sy toespraak voor, met sy klein velletjie aantekeninge, en dik lêer koerantknipsel-bewysstukke.
Op ‘n mooi dag kan ons nie by die kantoor in Pretoriusstraat uitkom nie. Die boere van die Transvaalse Landbou-Unie en Boere Krisis Aksie, het die hoofstrate versper met trekkers, Vragmotors en bakkies. ‘n Pragtige storie vir ‘n joernalis. Ek begin stap in die rigting van die stad. Daardie tyd het ons nog formeel ‘n das en baadjie gedra, en die dag het ek ‘n HNP-das aan. So loop ek met my kamera en notaboekie, en gesels met die boere. Almal vra, as hulle my das sien, “Waar is Oom Jaap? Hy moet kom.” Dit is nog voor die mobiele telefone, en uiteindelik kom ek by die eiendomsagent by wie ek my huis huur, en kon daarvandaan vir oom Jaap bel en sê die boere soek hom.
Die middag loop almal op na die Uniegebou vir die oorhandiging van die eise. Kays Smit laai oom Jaap af op die hoek van Kerk- en Hamiltonstraat en ons drie loop daarvandaan na die Uniegebou. As gevolg van die polio wat oom Jaap as kind gehad het, loop hy moeilik met sy opgeboude skoene. Almal was al feitlik by Die Uniegebou, en ons drie eensame siele dek die agterhoede. Ek loop net en dink waar ek môre werk gaan kry, want duidelik het ek oom Jaap hier in ‘n ongemaklike en selfs vernederende posisie geplaas. Uiteindelik is ons bo en gee iemand hom ‘n stoel. Die verrigtinge is klaar en almal stroom na onder. Weer eens is ons feitlik die laastes met oom Jaap wat stadig en moeisaam die trappies na onder aandurf. Die mense op die onderste terras, sien Oom Jaap en begin spontaan handeklap en hom toejuig, en so gaan dit van terras na terras, en die mense groet hom en gesels met hom. Dit was ‘n soort triomfmars vir hom, en ek het my werk behou…
Ons verneem dat FW de Klerk ‘n openbare vergadering op Vryheid gaan hou. Wyle mnr. Oscar Hartung vra of ek wil saamry, want hy gaan daarheen en hy verstaan die boere gaan nie vir FW laat praat nie. Ek stem in, dit kan mos ‘n goeie eerstehandse nuusstorie wees. Daar aangekom is dit die eerste keer dat daar gebruik gemaak word van metaalverklikkers en x-straal-toerusting vir handsakke. Oom Oscar het sy 9-mm pistool aan sy sy, en my pistool lê onder in my kamerasak. Wat nou gemaak, want ons gee nie ons wapens af nie. Aangesien ek voorheen by die SA Spoorwegpolisie op die JBM Hertzoglughawe in Bloemfontein gewerk het, en deeglik opgelei was in dié toerusting, het ek geraai dat hierdie SAP-outjies nie regtig weet hoe dit werk nie. Ek gee dus raad: Oom Oscar moet voetjie vir voetjie deur die metaalveklikker skuifel, sodat die magnetiese veld gewoond raak aan die pistool, dan sal hy nie afgaan nie. Dit werk toe en hy is die saal binne met sy pistool. Toe hulle my kamerasak in die x-straal-masjien wil sit, haal ek my perskaart uit, en sê dié masjien gaan my films (onthou digitaal het nog nie bestaan nie) bederf, hy kan dus nie daardeur (wat ek weet nie waar was nie, maar die masjien sou my pistool vertoon het). Hulle maak my sak oop, kyk vas in ‘n kamera met ‘n spul lense en flitsers, maak toe en laat my gaan.
So is ons die saal binne, waar daar chaos uitbreek toe De Klerk op die verhoog verskyn. Ek neem foto’s, en loop onder die verhoog verby, ongeveer twee meter van De Klerk af – op daardie afstand skiet mens nie mis nie… Maar ek hou maar verby. Uiteindelik is die vergadering uiteengejaag deur die polisie se traanrook, De Klerk het roemloos by die agterdeur uitgevlug en ons is in vrolike luim terug na Pretoria.
Die volgende dag is oom Jaap op kantoor en ek vertel hom die hele verhaal, veral natuurlik hoe ons met die wapens daar binne was tot naby aan FW. Hy kry so ‘n ondeunde laggie en sê: “Die tyd gaan dalk aanbreek dat jy nie van die geleentheid gebruik gemaak het nie toe jy kon…” Op my vraag of hy my (op daardie stadium) vier kinders sou versorg, het daar net ‘n laggie gekom.
As mens oor oom Jaap skryf, is daar telkens nuwe herinneringe wat na vore kom. Dalk moet iemand eendag ‘n boek van herinneringe oor hom saamstel, want ons ruimte is beperk.
Ek het een keer wel met oom Jaap verskil. Dit was tydens die stigting van die Afrikaner Volksfront. Oom Jaap was die middag in TLU se raadsaal toe genl. Constand Viljoen en die KP-LV’s die AVF aangekondig het. By sy terugkoms by die kantoor wag ek hom by die motor in, want dit was saktyd en ek wou sy kommentaar kry. Hy sê toe hy dink daar is potensiaal in. Die volgende oggend op kantoor het hy totaal omgekeer, my berig daaroor van die tafel gevee en gesê hy wil daar niks mee te doen hê nie, want “Constant Viljoen is ‘n skurk”. Ek glo steeds as oom Jaap daar sou gebly het, en net soos die KP hulle ondersteunende organisasies soos AKB en andere daarin getrek het, die HNP sy ondersteunende organisasies betrek het, kon die geskiedenis anders verloop het. Dink net: Oom Jaap van die HNP, Oscar Hartung van MAG, Leon Strydom van die GHA, Jan Pretorius van die GRA, Jan van de Graaf van Die Dietse Federasie en nog ander, sou beslis vir Constand Viljoen aan bande gelê het en kon dalk die geskiedenis verander het.
Later toe ek weg is by Die Afrikaner, het ek steeds ‘n punt daarvan gemaak om een keer per maand by oom Jaap te gaan tee drink, om net weer met sy prinsipiële denke op te vang, want dit kon ek altyd gebruik. In my tyd by Radio Pretoria kon ek hom heelwat kere in diepte besprekings betrek as gas in die ateljee, of ek kon hom vinnig skakel vir ‘n onderhoud oor een of ander saak. Toe oom Jaap oorlede is, het ek ook die herdenkingsprogram saamgestel, en was dit ‘n voorreg op die trompet te speel in die Paul Krugerkerk tydens die begrafnisdiens.
En so het oom Jaap se aanbod in Kimberley se stadsaal my lewe verander en verryk. Hoe kan ‘n mens dan ooit so ‘n persoon vergeet, wat ‘n vriend en ook ouderdomsgenoot van my pa ook was…