Deur Jan-Tinus Smuts. Die Afrikaner 25 November 2022

Wyle mnr. Jaap Marais, tweede leier van die Herstigte Nasionale Party (HNP), was beginselvas en sy aand en môre praatjies het áltyd ooreengestem. Hy het nooit histeriese uitlatings gemaak nie, jaar altyd weldeurdagte uitsprake in lyn met die beginsels van Afrikanernasionalisme en Witmanskap gelewer. Dit is hoe ek oom Jaap Marais destyds, toe ek ‘n werknemer van die Die Afrikaner en ‘n HNP-jeugleier was, leer ken het. Hy het ook ‘n groot liefde vir die Afrikanerjeug gehad.

Elke jaar op my verjaarsdag dink ek aan oom Jaap, want ons albei was op 2 November gebore. Hierdie jaar sou oom Jaap ‘n hele 100 jaar oud gewees het en ek was dankbaar dat die HNP ‘n gedenklesing oor die gróót volksman gehou het. Toe die redakteur van Die Afrikaner my vra om ‘n kort stukkie oor my ervaring as destydse jeugleier met oom Jaap te skryf, het ek ingewillig want dit is ‘n groot eer om so ‘n volksman en leier soos oom Jaap te kon geken het.

Ek het oom Jaap die eerste keer persoonlik op 15 Mei 1995 ontmoet. Dadelik het ek besef wat se waardige heer hy is. Ek was ‘n jongman van 19 jaar en ek het kort voor die dag van ontmoeting vir wyle mnr. Louis van der Schyff, destydse HNP-hoofsekretaris, gevra of dit moontlik sou wees dat ek oom Jaap kon ontmoet. Hy het oom Jaap gekontak wat toe ook dadelik ingestem het. Op 15 Mei het wyle mnr. Kobus van Tonder oom Jaap HNP-hoofkantoor toe gebring, waar ek hom toe in die raadsaal ontmoet het.

Dit was vir my ‘n baié groot oomblik en wonderlik dat so ‘n groot volksleier spesiaal die tyd ingeruim het om my te ontmoet. Dit was die tipe persoon wat oom Jaap was: hy was ‘n baie besige man maar sou altyd tyd inruim vir ‘n jong Afrikaner wat graag met hom wou gesels. Geduldig het hy geluister na al my baié vrae en gedagtes en dan geantwoord. Twee dae nadat ek oom Jaap ontmoet het, het ek formeel aangesluit by die HNP.

Op 21 September 1996 was die HNP se Pretoria-Jeugraad gestig. Ek was verkies as voorsitter en Hester-Marie van der Schyff as sekretaresse. By die geleentheid het ons twee sprekers gehad: wyle mnr. Leon Strydom (toe HNP-woordvoerder oor Buitelandse Sake) en dan natuurlik oom Jaap as leier van die HNP.

Dit was by daardie jeugbyeenkoms waar oom Jaap ‘n wonderlike boodskap oor nasionalisme vir spesifiek die Afrikanerjeug gebring het. Oom Jaap het gesê dat “binne ‘n volk is die nasionalisme die ongeskrewe kontrak tussen dié wat dood is, die wat leef, en dié vir wie die lewe wag.” Hy het gesê dat vir die HNP is dit die nasionalisme waarom dit gaan en dat dít die grondslag van goeie verhoudings tussen volke in die wêreld is.

Oom Jaap het voortgegaan en gesê dat, anders as met ander “ismes” soos kommunisme, gaan nasionalisme oor die werklikheid van volke-verskeidenheid. Volgens oom Jaap kan daar sonder hierdie basiese feit van die lewe géén sprake van nasionalisme wees nie.

“Nasionalisme beoog om vir toekomstige geslagte te bewaar en te beskerm wat aan ‘n volk en sy mense behoort. Die nasionalis redeneer vanuit die werklikheid van volke-verskeidenheid wat tot stand gekom het as ‘n skeppingsdaad,” het oom Jaap verder in sy toespraak gesê. Die jongmense het almal aandagtig na élke woord geluister.

Volgens oom Jaap het die nasionalisme ontspring aan drie dinge: Grondgebied, gemeenskaplike verlede en kultuur. Die beginsels van nasionalisme was (1) identiteit, (2) kontinuïteit, en (3) vryheid.

Die oproep van nasionalisme, het oom Jaap aan die jongmense verduidelik, is eerstens selfbehoud, tweedens selfrespek en derdens selfbetuiging. Hiernaas, het oom Jaap gesê, is daar die waardes van die nasionalisme wat dit onderskei van die ander politieke filosofieë en ideologieë, naamlik gesag, gesin, godsdiens en geskiedenis: die vier G’s. Die aksente van nasionalisme was weer die vier V’s: verinniging, verdieping, veredeling en versterking (wat teenoor die liberale aksente van aanpassing, verandering en hervorming staan).

Saam met die waardes gaan ook die verhouding met ander: voorkeur van die eie, begrensing en diskriminasie. Oor laasgenoemde het oom Jaap die volgende in sy toespraak gesê: “Dis een van die woorde wat vandag baie onder verdenking gebring word. Diskriminasie is egter net die teenhang van voorkeur. Elke volk en elke mens in die wêreld diskrimineer elke dag tussen goed en kwaad en tussen mooi en lelik. Daar word gediskrimineer ten gunste van wat mooi en goed is; en ten gunste van wat beskou word as aanvaarbaar, en téén wat verwerplik is. Elke voorkeur wat betuig word, is uiteraard verwerping van, of diskriminasie teen ‘n ander. As ‘n volk nie diskrimineer ten gunste van sy eie taal, sy eie godsdiens, sy eie kultuur, sy eie land nie, sal so ‘n volk verdwyn van die aarde. Hy kan nie bestaan as hy nie ten gunste van sy eie diskrimineer nie.”

Oom Jaap het toe die jeug direk aangespreek: “Laat die jeug aanvaar dat daar ‘n begeestering is in die trompetwoorde van die nasionalisme: vaderland, vryheid, heldedom. Laat die ideale hoog gestel word onder ‘n vaandel wat aan die wêreld sê: dié land is ons land; ons sal nie berus in die bedrogvolle wyse waarop ons ons vryheid verloor het nie; ons sal, soos die sterk voorgeslag daaruit ons kom, weer veg om vry te wees om onsself te wees as Witman en Christen en Afrikaner in Afrika.

“Geen meer uitdagende, meer opwindende oproep kan daar aan jong mense wees nie as die oproep van nasionalisme; en geen meer verheffende en veredelende daad as om in plig en eer en trou te staan waar Kruger en Steyn, De la Rey en De Wet en Hertzog en Malan en Strijdom, die groot Afrikanerleiers van hierdie eeu, verwag om hulle nasate te kry.”

Oom Jaap het sy uitstekende toespraak afgesluit met die volgende bemoedigende woorde: “Die jongmense van vandag staan aan die drumpel van ‘n nuwe Afrikaans nasionale beweging, wat na die herwinning van ons vryheid moet lei. Laat dit ‘n inkantasie wees van Jong Suid-Afrika. Die stryd wat ons vaders begin het, sal woed tot ons sterf of oorwin het. Dít is die eed van Jong Suid-Afrika.”

Dit is die plig van diegene van ons wat oom Jaap persoonlik geken het, om sy wysheid met die geslagte wat kom te deel. Oom Jaap se boodskap aan die jeug van destyds is steeds geldig vir die jeug van vandag. Laat ons dus veg dat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly. Ons moet die vlam
van Afrikanernasionalisme weer hóóg laat brand!
(Mnr. Jan-Tinus Smuts is tans ‘n Dagbestuurslid van die HNP).