Die Afrikaner 3 Februarie 2023

Die ANC en sy herkose leier, Cyril Ramaphosa, hou van mag. Hoe meer mag, en hoe meer onderdrukkend daardie mag, hoe beter.

Ramaphosa het sy teenstanders om die leierskap in Desember redelik gemaklik uitgestof. Hy staan heelwat sterker as toe hy as ANC-leier in 2017 verkies is. Dit sal interessant wees om te sien of die Cyril 2022-veldtog net soveel of dalk meer gekos het as sy Cyril 2017-veldtog, waarom daar maar baie vrae, bedenkinge en twyfel bestaan…

Dit beteken dat Cyril nou meer mag in die ANC het, en dat sy regering daardeur voel dat hulle ook meer mag het, want daar is nie meer die interne opposisie wat die lewe op die korttermyn vir hom moeilik kan maak nie.

Sommer vroeg in die nuwe jaar word die Covidvuurtjie weer aangeblaas, en die diktatoriale en waarskynlike ongrondwetlike “Covid-bevelsraad” kom weer byeen. Helaas vir daardie magsbeheptes blyk die nuwe vlam van Covid nie meer as ‘n sterwende bietjie warm as te wees nie. So die “bevelsraad” kon nie werklik weer hulle onderdrukkende magte gebruik nie. Nou is daar egter ‘n nuwe bedreiging op die horison, en dit is ‘n noodtoestand oor die krag krisis. Dié blink gedagte kom vanaf die ANC en sy leier en die eerste berigte het reeds melding gemaak dat hierdie noodtoestand dan bestuur moet word min of meer op dieselfde basis as die Covid-noodtoestand.

Beteken dit weer sekere beperkings, soos dat drankwinkels moet toemaak sodat die yskaste afgeskakel moet word om krag te bespaar? Van hierdie bewind kan enige sotlikheid te wagte wees, net solank hulle hul magsbeheptheid kan uitoefen en af forseer, ongeag die skade aan die ekonomie.

Hierdie regering het sedert 1994 bewys dat enigiets waaraan hulle raak na rommel verander. Beloftes dat beurtkrag voor die einde van die jaar iets van die verlede gaan wees, is praatjies vir die vaak.

Eskom se uittredende hoofuitvoerende beampte, André de Ruyter, het self erken dat beurtkrag nog etlike jare met ons gaan wees. Dink Ramaphosa en Gwede Mantashe werklik dat hulle kan regkry wat De Ruyter nie kon regkry nie? Die antwoord lê nie in ‘n noodtoestand wat deur die staat beheer word nie. Hoe minder die staat aan instansies raak, hoe beter. Een van die bewyse daarvan is Sasol, wat eens ‘n staatsentiteit was, wat geprivatiseer het en waar dit tans relatief goed gaan. Doen dieselfde met Eskom, dank die minister van energiesake af, want hy beteken niks behalwe om ‘n versperring vir vooruitgang te wees nie, en bring kundiges terug, maar nee, selfs in hierdie kritieke situasie moet daar nou van nog 500 Blankes (ja, die ras word spesifiek genoem) by Eskom ontslae geraak word. Daar word nie gepraat van onbekwames wat moet gaan nie, maar van Blankes.

Nou kan ons maar die teenargument gebruik dat die swart regering sedert 1994 getoon het dat hulle ‘n volslae mislukking is, ten spyte daarvan dat daar soms ‘n Blanke of Indiër in die kabinet betrek word. Hulle is te min om in elk geval enige verskil te maak. Voor 1994 het ons gewaarsku dat ‘n swart regering die patroon van Afrika gaan volg: magsbeheptheid en ‘n onvermoë om te kan regeer. Dit word daagliks meer sigbaar.

Dit is goed dat daar bepaalde burgerregte organisasies is wat die stelsel aanvat, die klomp hof toe sleep en na alternatiewe kyk. Dit is egter noodsaaklik dat daar ‘n groter mobilisasie van ons mense moet kom. Die leunstoel-benadering van ons hoef niks te doen, behalwe dalk ‘n geldjie te gee aan bepaalde organisasies, wat dan namens ons die werk doen, is eenvoudig nie meer goed genoeg nie.

In Sjina het die bevolking in opstand gekom toe nuwe drakoniese Covid-inperkings ingestel is, met sukses. Tans is daar groot proteste in Frankryk omdat die regering die aftree ouderdom met twee jaar wil verhoog. Ons mense se sigbaarheid vir verset is noodsaaklik. Ook ons sigbaarheid om te toon dat ons nou behoorlik keelvol is vir die bestel wat ons het, en dat dit moet verander sodat ons weer ‘n vrye volk kan wees wat oor onsself regeer. As die ander hulle dan in die afgrond wil regeer is dit hulle saak, maar dan word ons nie meer, soos nou saam na die afgrond gesleep nie.