Energieskandaal verdiep: Die Afrikaner 17 Februarie 2023
Ernstige vrae ontstaan oor wat die werklike rede is vir die noodtoestand wat die ANC-staatshoof, Cyril Ramaphosa, aangekondig het tydens die parlementsopening.
Ramaphosa het daarmee saam aangekondig dat daar ’n minister van elektrisiteit in die residensie aangestel moet word, wat beteken dat drie ministers nou ’n sê oor Eskom gaan hê: hierdie nuwe minister wat nog nie aangestel is nie, die minister van energiesake, wat tans Gwede Mantashe is en gesien word as een van die onbekwaamste lede in Ramaphosa se kabinet, en Pravin Gordan as minister van openbare werke, wat reeds nie meer die goue seun van die ANC van voorheen is nie. Wat net so verstommend is, is die feit dat hierdie noodtoestand weer eens onder die bestuur staan van die minister van samewerkende regering, Nkosazana Dlamini-Zuma, ou liefde van oud-president Jacob, en seker die heel ongewildste minister na haar diktatoriale en vernietigende beheer oor die noodtoestand tydens Covid-19. Sy is bowendien al ver oor die aftree-ouderdom en moes al met pensioen gegaan het.
Ewe onverklaarbaar is dat daar nog geen regulasies afgekondig is oor wat die noodtoestand gaan behels nie. Al wat die burgery weet, is dat ’n noodtoestand vir die regering buitengewone magte en beheer gee, maar dit is duidelik dat hulle nog nie weet wat om daarmee te doen of dit te bestuur nie. Maar hulle het hullself solank die mag toegeëien! Intussen word daar ook al meer vrae gevra of die beurtkrag waarmee die land geteister en die ekonomie verwoes word, werklik resultate behaal en of dit daarom werklik nodig is? Die bedoeling is dat krag gespaar moet word sodat die land nie ’n totale uitval van elektrisiteit gaan hê nie.
’n Kitsopname wat deur TLU SA se Noordstreek gedoen is, wys egter dat die teendeel gebeur! Geen elektrisiteit word gespaar nie, maar die verbruik, en dus die rekeninge, is hoër!
Nou blyk dit dat Eskom beurtkrag skynbaar nie as ’n besparing sien nie, maar eerder die verspreiding van kragtoevoer binne ’n beskikbare megawatt. Hierdie benadering en optrede is egter ’n vorm van kontrakbreuk met sy kliënte, die verbruiker. Ten spyte daarvan dat elektrisiteit nie altyd beskikbaar is nie, word daar steeds geld gevra vir dienste wat nie bestaan nie, en waarop kontraktueel ooreengekom is.
Die feit is egter dat die verbruiker wat direk by Eskom elektrisiteit kry, maandeliks die volgende heffings betaal: diens- en administrasieheffing (dit is ’n vaste heffing gebaseer op die dae van die maand, maar vir die ure wat daar geen diens is nie, word geen afslag gegee nie…); ’n netwerkkapasiteitheffing (ook ’n vaste maandelikse heffing wat ten volle vereffen moet word, al beteken beurtkrag dat die netwerk beslis geen kapasiteit het nie); ’n netwerkaanvraagheffing, ’n Bykomende diensfooi en energieheffing. Die laaste drie is gekoppel aan die kilowatt-uur (kWh) wat verbruik word. Maar as die krag af is, is die verbruik dus minder.
Veral gewone ligte, wat relatief min elektrisiteit verbruik, en dalk lugversorgers in huise en kantore, asook elektriese ketels, kan daarmee verligting bring. Maar feitlik alle ander toerusting gebruik daarna soveel meer elektrisiteit, want ys- en vrieskaste en koelkamers moet harder werk om die temperature weer reg te hou. Was- en skottelgoedmasjiene, boorgatpompe, swembadpome en elektriese stowe word soveel meer gebruik as die elektrisiteit weer aan is, en plaas dan op daardie gebied ’n veel hoër en gekonsentreerde aanvraag op elektrisiteit as wat normaalweg die geval sou gewees het.
Volgens ’n elektrisiën wat al metings gedoen het, is dit ook so dat wanneer die elektrisiteit weer aangeskakel word na beurtkrag, daar ’n “spike” oftewel kragstuwing plaasvind vir ongeveer ’n sekonde, waartydens soveel as drie maal meer elektrisiteit getrek word, voordat die krag weer egaliseer na normale vlakke. Veral huiseienaars met voorafbetaalde krag, kan dit beaam. Mense wat dit al dopgehou het, het dit beaam dat die eenhede wat hulle beskikbaar het, drasties gedaal het nadat die krag weer aangeskakel is. Die advies is dat mense alle skakelaars afskakel met beurtkrag, en dan ongeveer vyf minute wag nadat die krag weer aan is, en dan die skakelaars aanskakel, want dan is die kragstuwings eers verby.
Die een deel van die skandaal is dus dat verbruikers in baie gevalle selfs meer betaal met beurtkrag as daarsonder, maar dat hulle nie hulle werk kan verrig nie, en daardeur skade lei. As die werk of besigheid wel sake wil doen, moet kragopwekkers gebruik word. Die kapitale uitleg daartoe is ook hoog, en die regering kry op elke aankoop, asook op die hoër elektrisiteitsrekenings, sy 15% BTW. Die kragopwekkers loop nie op wind of sonkrag nie en gebruik petrol of diesel – duur petrol of diesel, waarop die regering ook sy fooi kry in die vorm van belastings en heffings, terwyl selfs die padongelukkefonds bevoordeel word uit kragopwekker brandstof van kragopwekkers wat nooit eers op die paaie kom nie!
Die oorskakeling na son- en windkrag is vir Eskom riskant, want dit kan net in sekere tye gebruik word vir opwekking, terwyl die steenkool- en kernkragsentrales meer stabiele krag kan lewer deurentyd — as hulle onderhou sou gewees het, wat nie die geval is nie, en van hulle moet teen 2030 weens ouderdom toemaak, en gaan die probleem vergroot. Dit is ook bekend dat baie van nie “opkomende en voorheen benadeelde” sakemanne, groot belange het in die steenkoolmyne en brandstofmaatskappye. Dit pas hulle dus dat brandstofverkope die hoogte inskiet sodat hulle winste meer kan wees ten koste van die publiek.
Intussen sien Eskom uit na April, wanneer sy toegelate tariefverhoging van byna 19% in werking tree, sonder dat hy van plan is om meer elektrisiteit te voorsien nie.
Met alle gegewens wat nou na vore kom, word al meer vrae gevra of die beurtkrag werklik nodig is, en of dit nie maar net nog ’n manier is om mense te beheer en te bestuur nie, en te sien hoe ver mense gehoor gee aan die verdrukking en verontriefting wat ons moet deurmaak, terwyl dit wil voorkom of ander agendas (en beursies) daardeur bevoordeel word.
Sodra Nkosazana-Zuma haar regulasies onder die noodtoestand bekend gaan maak, sal die prentjie duideliker ontvou.
Redakteur: Die Afrikaner 17 Februarie 2023