Die Redakteur: Die Afrikaner: 17 Februarie 2023

Nie dat dit ons juis verbaas nie, want ons het geleer uit die lesse van Afrika en het geweet dit gaan ons voorland wees. Maar die klug van plaaslike regeringspolitiek, ken geen beskrywing nie, en om dit met ‘n sirkus te vergelyk, is ‘n belediging vir enige goeie sirkus, waar moeilike akrobatiese toertjies met fyn kundigheid en na lang oefening uitgevoer word; waar hansworse se humor ‘n fyn kuns is en vir vermaak sorg, en waar diere oor lang tye geleer word, en waar hulle hanteerders die fyn kuns van makgemaakte wild moet verstaan om nie die slagoffer van hulle passie te word nie.

Plaaslike regering in Suid-Afrika is daarom nie met ‘n sirkus vergelykbaar nie, behalwe dat die meeste van hulle as hansworse voorkom, maar van dié soort waarvoor ‘n mens nie kan lag nie, want dit is nader aan walglik as aan humor.

Feitlik daagliks word daar op die nuus verneem van een of ander burgemeester wat ontsetel is, nadat daar na ‘n deeglike geknoeiery, ‘n mosie van wantrou teen die persoon ingestel is. Dan gaan die ontsetelde burgemeester of sy party hof toe om dit te betwis, meestal op gronde daarvan dat die vergadering onwettig belê is, of een of ander dergelike onreëlmatigheid. Dikwels gee die hof die ex-burgemeester gelyk, wat beteken dat die ex-burgemeester die pos heropneem, en dus ‘n ex-ex-burgemeester is. Weer vind daar ‘n gekonkel plaas, poste word belowe, moontlik word daar nog iets onder die tafel deurgeskuif (wie sal weet in ‘n land waar Phala-Phala optredes ook onder die tafel én die mat ingevee word…), en siedaar, ‘n nuwe mosie van wantroue word ingestel, en slaag, wat beteken die ex-ex-burgemeester, kry nou ‘n bykomende ex-titel tot sy of haar naam.

Hierdie is helaas nie die uitsondering nie. Dit is die reël. Johannesburg, Durban, Port Elizabeth, Pretoria… Al die groot sentrums waar daar gehunker word na mag en geld. Selfs kleiner plekke soos Beaufort-Wes loop deur onder hierdie nie-sirkusverwante politieke hansworsery deur. Die burgemeester van Pretoria was egter nie lus vir die geex- ery nie en het vroegtydig self bedank. Maar toe word die vergadering waar sy bedanking bespreek word, eenvoudig afgestel. “Uitgestel” tot ‘n latere datum. Hoe gebeur sulke dinge?

Intussen is raadslede besig om vir hulle posisies te veg, want elke burgemeester stel sy eie burgemeesterskomitee aan, waarin maatjies vir hul lojaliteit bedank word. Amptenare weet nie herwaarts of derwaarts, of hulle neem agter die skerms aktief deel om raadslede uit te werk om ander maatjies ingewerk te kry.

Dit beteken dat die plaaslike raad se paaie nie herstel word nie, dat riooolwater (met selfs meer as net water) in die strate loop, ligte werk nie meer nie, want daar word gepartypolitiek.

Politieke ontleders jubel oor die totstandkoming van koalisiepolitiek, want dit kan dan wigte en teëwigte inbou. Maar die koalisie het niks met beginsels te doen nie. Ook nie met dienslewering nie. Dit gaan oor mag en hebsug.

Die Westminsterstelsel van kiesafdelings en setels was nie ideaal nie. Onlangs het emeritus-professor Pieter Labuschagne nog op ‘n onderhoud met RSG verwys na die onbillikheid wat daardie stelsel in hom gedra het. Hy het spesifiek daarna verwys dat die HNP destyds ‘n enorme hoeveelheid stemme gehad het, maar geen enkele geografiese setel kon verower nie. Die HNP moes, in terme van ‘n proporsionele stelsel, die opposisie gewees het, maar die destydse stelsel het dit verhinder. Dink net hoe anders sou die politiek uitgedraai het as dit die geval sou gewees het…

Koalisiepolitiek kan tot ‘n mate werk in ‘n hoofsaaklik homogene samelewing, en binne dieselfde kultuurraamwerk. Om Westerlinge, Asiate en dertien verskillende Afrika-volke in een koalisiepot te probeer saamgooi, is resep vir konflik, want daar is verskillende waardes en benaderings. Afrika en Europa se denke sal nie met mekaar versoen nie.

Die politieke boewery op plaaslike regeringsvlak, word geleer by soortgelyke politieke boewery op nasionale vlak, waar ‘n parlementsitting ontwrig word. Is dit die soort mense wat die “demokrasie” moet handhaaf en verdedig?

Om te dink dat koalisies die oplossing vir die toekoms is, is dieselfde wensdenkery as die reënboognasie. Maar intussen gaan dit nog vir heelwat politieke prettighede sorg vir diegene wat nie in daardie gemors betrokke geraak het nie en hulle polities skoon daarbuite gehou het.