Die Afrikaner 17 Maart 2023

Terwyl Suid-Afrika op die sogenaamde Grys Lys geplaas is as gevolg van die swak ekonomie, en Moody’s die ekonomiese vooruitsigte verder negatief beoordeel het, het die ANC staatshoof, Cyril Ramaphosa, sy kabinet verder vergroot teen groot koste vir die steeds verminderende belastingbetalers.

Daarbenewens het hy ‘n geharde kommunis as sy adjunk-president aangestel. Paul Mashatile het in Alexandra grootgeword waar hy deel van die sogenaamde Alex Mafia was. Hy het sterk historiese bande met die SA Kommuniste Party. Hy is ‘n groot vriend van die sogenaamde Gautengse premier, Panyasa Lesufi, wat op sy beurt heul met Julius Malema van die radikale EFF. Daar is politieke waarnemers wat glo dat Mashatile self ook baie na aan die EFF beweeg.

Meer nog het Ramaphosa vir Mashatile die taak van grondhervorming gegee. Dit is uiters roekeloos om daardie sensitiewe portefeulje vir so ‘n geharde kommunis te gee, en die kanse dat onteiening sonder vergoeding nou baie vinnig momentum sal kry, is nie meer vergesog nie.

Die soustrein het nog twee waens bygekry met twee nuwe ministers en ‘n paar nuwe adjunk-ministers. Elke ministerie moet ‘n operasionele departement hê, met goed besoldigde amptenare. Intussen blyk dit Patricia de Lille, wat voorheen by die PAC was, toe by die DA uitgewerk is en toe haar eie Good Party gestig het en daarvoor ‘n ministerspos gekry het, op koste van die belastingbetalers die wêreld vol rond kerjakker. Haar reise die afgelope jaar het etlike miljoene rande gekos.

Ramaphosa het ‘n klomp onbekwame ministers op sy soustrein gelos. Nie dat daar juis baie is wat wel as bekwaam geskryf sou kon word nie, maar Nkosazana Dlamini-Zuma het hy gehou, net soos Bheki Cele en Gwede Mantashe wat uitstaan as die onbekwaamstes van die onbekwames. Drie ministers het wel die trekpas gekry. Lindiwe Sisulu, wat sedert 1994 ‘n parlementslid is, is as minister van Toerisme deur Patricia de Lille vervang, Nkoana-Mashabane is as minister in die Presidensie deur Nkosazana Dlamini-Zuma vervang, terwyl Nathi Mthethwa deur Zizi Kodwa vervang is. Die drie afgedanktes het kort daarna uit die parlement bedank. Die vermoede is dat hulle wel weer iewers ‘n prominente pos sal kry, dalk by Eskom, Prasa, SAL of ander staatsbeheerde entiteite.

Dan is dit ook onseker wie vir al die regskoste betaal wat deur munisipaliteite aangegaan word waar burgemeesters verkies en uitgeskop word en dan weer aangestel word.

Ramaphosa het met sy kabinet-herskommeling gesê dat van die ministeries net tydelik is, soos dié van elektrisiteit, en dat hy ‘n vroeëre belofte om die kabinet kleiner te maak, sal nakom as die ANC weer in 2024 na die verkiesing aan bewind sou kom. Suid-Afrika het tans een van die grootste kabinette ter wêreld, terwyl die staatsdiens ook veels te groot is en te duur is. Dit is die rede vir die enorme staatskuld.

Die feit dat Ramaphosa nie optree soos hy voorheen beloof het nie, dui daarop dat hy dalk nie meer ten volle in beheer van sake is nie. Sy kabinetskommeling sou al vroeër aangekondig gewees het, maar hy het toe ‘n veiling en ete op sy omstrede Phala-Phala plaas gaan bywoon, wat ook daarop dui dat sy ander belangstellings swaarder weeg as sy politieke belange, en vroeëre vermoedens dat sy belange met mekaar in konflik is, word hierdeur nuwe lewe gegee.

Redakteur