H F van der Schyff: Die Afrikaner 17 Maart 2023

Verlede keer het ons geëindig waar mnr. Jaap Marais sê: “Al hierdie partye het ‘n skuldgevoel teen die HNP, omdat die HNP se politieke oordeel telkens reg bewys is, omdat die party trou aan die beginsels van nasionalisme gebly het wat deur hulle verloën is, en omdat die HNP staande gebly het ten spyte van al die pogings van hulle kant om hom te vernietig.” Dit is hoekom ons vir fondse vra om steeds voort te gaan, want die vyand uit Blanke geledere wil nie erken dat hulle fouteer het en FW de Klerk ondersteun het om Suid-Afrika aan ‘n terroriste-bende oor te gee nie. Nou probeer baie Blankes van die vorige partye, onder andere uit die NP en die KP wat nou die stemmers vir die VF Plus is, steeds poog om die HNP tot niet te maak.

Mnr. Marais voer verder aan: “Dat daar tans weer rekening gehou moet word met vyandige skemas teen die HNP, is vanselfsprekend, veral omdat die HNP lewenskragtig vertoon teen die ander Afrikanerbemande politieke partye, en ewe belangrik, omdat Afrikanernasionalisme die effektiewe politieke mag teen die Liberalisme en Kommunisme is wat tans die bedreiging van die Afrikanervolk vorm.

“Die aksies in Junie 1996 rondom kmdt. (Willem) Ratte se eetstaking wat gepaard gegaan het met die verskyning van wat ‘nuwe regse leiers’ genoem is, en ‘n skielike onverwante aandrang op volkseenheid, terwyl die KP ook skielik van nêrens te voorskyn getree het as ‘n belanghebbende by die Red Willem Ratte-aksie — al dié dinge was bereken om nuwe dwaalweë aan te lê, met die hand van Militêre Intelligensie byna sigbaar daaragter, soos in 1993 by die stigting van die Afrikanervolksfront (AVF). Hierdie episode moet dien om HNP-mense op hulle hoede te stel vir verdere pogings om deur sulke manipulasies verwarring te skep, en die HNP te benadeel, sonder enige bevordering van volkseenheid, soos die AVF bewys het.”

Hierdie waarskuwing van mnr. Marais is nou nog belangriker as toe hy sy voordrag gelewer het. Hou maar net die sosiale media dop, veral Facebookblaaie, oor hoeveel sogenaamde regse groepe en partye gestig word. En elke leier vertel net hoe hy die volk gaan red. As jy egter verder na hul strategie kyk, word dit duidelik hoeveel van dié groepe aan die ANC se sisteem wil deelneem, en hoe hul ondersteuners soek ook onder Swartes om hul sover te kry om lede in die verkiesing van 2024 in die parlement te kry. Kyk maar wat die VF Plus doen: ‘n swart stadsraadslid in Warmbad en die aandra van skoolklere na ‘n swart skool. Sommige ander groepe betrek ook swart lede en verskeie van die leiers beweer selfs dat hulle die man in die “bruin pak klere” is wat volgens Siener van Rensburg, voorspel het dat hy die leier is wat die Afrikaner na vryheid sal lei.

Mnr. Marais lig verder uit: “Teen hierdie agtergrond moet die HNP sy historiese rol bepaal, sy strategiese doelwitte stel, en sy organisatoriese propagandistiese vereistes bereken.”

Om dit te doen, beteken nie dat die verkose dagbestuur van die HNP alleen die werk vir die HNP moet doen nie. Dit beteken dat elke lid van die HNP nog lede moet werf, dat hul debietopdragte vir die party of Die Afrikaner moet werf. Dat hul plaaslik iets moet reël soos ‘n koffie-aand of braaivleis waar oor politiek gepraat kan word. Bou mekaar se geloof in die toekoms op en bevorder Afrikanernasionalisme. Hoe groter en sterker die party word, so sal meer aksies geloods kan word. Moenie verval in die geloof dat ons nou verslaan is en ons niks meer het om voor te veg nie. Onthou hoe die situasie na die tweede Engelse oorlog gelyk het. En ons het ons vryheid weer gekry. Dit het ‘n klompie jare gevat, maar ons was weer vry. Ons kan weer vry raak as ons aanhou stry en vasbyt en in geloof ons taak aanpak.

Soos mnr. Marais gesê het: “Die strategiese doelwit van Afrikanernasionalisme kan niks minder wees as herwinning van Afrikanervryheid nie — op watter wyse en op watter tydstip sal bepaal word deur die aard en verloop van die stryd. ‘n Strategiese doelwit verander nie. In die stryd kan daarom taktiese veranderings gemaak word, maar die einddoel moet ‘n onveranderlike aantrekkingskrag behou waarheen graadsgewys gedurigdeur geneig word. Die vryheidstrewe is so ’n ideaal waardeur nasionalisme langdurig begeester en aangespoor word.”