Mnr Andries Breytenbach: Die Afrikaner 5 Mei 2023
Die appèlhof in Bloemfontein het pas die vroeëre uitspraak van die gelykheidshof, naamlik dat ppenbare vertoning van die republiekvlag op haatspraak neerkom, bekragtig. Die saak om dit as haatspraak verklaar te kry, is deur die Mandela-stigting aanhangig gemaak. Tog ironies, so ‘n uitspraak, as in ag geneem word wat die simboliek van daardie vlag bedoel was om te wees.
Op 31 Mei 1910 het die Unie van Suid-Afrika as ’n dominium — dit wil sê ’n selfregerende Britse kolonie — van die Britse Ryk tot stand gekom. Vir die volgende 18 jaar was die Britse vlag, die Union Jack, die amptelike vlag van die nuwe staat.
Die blanke bevolking van die Unie het bestaan uit die Boere van die gewese Transvaalse en Vrystaatse Republieke, en die Afrikaanse en Engelse onderdane van die twee Britse kolonies, Natal en die Kaap. Hierdie teenstellende twee volksgroepe met teenstrydige lewensbeskouings, kulture, lojaliteite, en opvattinge oor nasieskap moes nou tot een volk of nasie met ʼn gemeenskaplike lojaliteit groei.
Die Eerste Minister, genl. Louis Botha, en Jan Smuts het hulle heelhartig met die Britse ryk vereenselwig en Suid-Afrika ondergeskik aan die Empire beskou. Daarenteen was genl. JBM Hertzog daarop gesteld dat die nuwe Unie nie ’n hond aan die leiband van Brittanje mog wees nie, maar dat dit ’n selfstandige staat met selfrespek moes wees. Sommer vroeg-vroeg het hy dit onomwonde gestel dat in enige botsing tussen Suid-Afrika se belange en dié van die Britse ryk, Suid-Afrika se belange eerste gestel moes word.
In die naweë van 1922 se arbeidsonluste en Smuts se hardhandige onderdrukking daarvan, het die Nasionale Party en die Arbeidersparty van kol. FHP Creswell in 1924 ’n pakt gevorm en op 17 Junie van daardie jaar die algemene verkiesing gewen. Genl. Hertzog het nou die eerste minister geword en hy het dit sy taak gemaak om aan die selfstandige status van die Unie2 prakties beslag te gee. ʼn Belangrike stap hiertoe sou die skepping van ’n eie Suid-Afrikaanse burgerskap en vlag wees. Die man wat die bul by die horings sou pak, was die nuwe Minister van Binnelandse Sake en leier van die Kaaplandse Nasionale Party, dr. DF Malan.
Vir Malan was ’n vlag nie ’n blote doek nie, maar ’n sinnebeeld van volksbestaan; ’n lewende iets; die middelpunt van die volksgevoel. Daarom het hy reeds in September 1924 ’n eie nasionale vlag as simbool van gemeenskaplike nasieskap bepleit en aangevoer dat dit die twee volksgroepe tot een nasie sou smee. Die Natal Witness het gereageer met ’n eis dat enige vlagontwerp die Unie se verbintenis met die Britse ryk moes simboliseer.
Malan het sy pleidooi opgevolg deur in Januarie 1925 die Suid-Afrikaanse Nasionaliteits- en Vlagwetsontwerp in te dien.5 Omdat hy ’n party-politieke benadering in en buite die parlement oor die saak wou vermy, het die wetsontwerp nie ’n ontwerp vir ʼn vlag bevat nie, maar slegs voorsiening gemaak dat die Goewerneur-generaal “by kennisgewing in die Staatskoerant ’n tekening van die Nasionale vlag… (kon) voorskrywe”.
Smuts, wat toe die leier van die Opposisie in die parlement was, het die beginsel van ’n eie vlag ondersteun, dog het versoek dat die wetsontwerp ’n jaar lank uitgestel moes word sodat ’n gesamentlike kommissie ontwerpe kon ontvang en oorweeg. Malan het daartoe toegestem, maar gou agtergekom dat Smuts die voortgang van die saak doelbewus vertraag het. Op Smuts se aandrang is uiteindelik ’n onoffisiële konferensie van partyverteenwoordigers aangewys, wat dan ’n klein kommissie van deskundiges kon raadpleeg.
Malan se voorstel was dat geen van die ou simbole wat aan die stryd en verdeeldheid van die verlede sou herinner, in die vlag ingesluit moes word nie. Dit moes ’n “skoon vlag” wees wat die nuwe nasie tot een gemeenskaplike vaderlandsliefde kon verenig. Die SAP-verteenwoordigers daarenteen, was beslis dat die Britse konneksie op een of ander manier in die vlag voorgestel moes word.
Die vlagkwessie het prominensie in die koerante geniet en gemoedere het hoog opgelaai. Die SAPkoerante was venynig teen die idee van ’n eie Suid-Afrikaanse vlag en sou onder geen omstandighede ’n vlag aanvaar waarop die Union Jack nie prominent gepryk het nie. Malan was egter vasbeslote en het gedurende die 1926-parlementsitting weer die vlagwetsontwerp voorgelê. Na die Eerste Lesing van die wet is dit na ’n gekose komitee verwys. Op dié komitee was die NP en die Opposisie asook die twee bevolkingseksies eweredig verteenwoordig. Aanvanklik het sir Patric Duncan, die SAP-LV vir Yeoville op die komitee, dr. Malan se idee van ’n “skoon” vlag gesteun, maar Smuts en sy ander volgelinge se standpunt was: “we can’t give away the Union Jack. South Africa will be torn from one end to another if we do.”
Verskeie voorstelle is deur verskillende persone gemaak, dog elk daarvan het voor die kritiek wat dit ontlok het — veral van die pro-Britse en jingogeledere, wat op prominensie van die Britse vlag in enige ontwerp aangedring het — gesneuwel. Weens die ongekende teenkanting asook optrede uit eie NP-geledere, het dr. Malan in 1926 ingestem om die wetsontwerp vir nog ’n jaar voorwaardelik uit te stel. “Wanneer die volk beter ingelig is”, het hy verklaar, sou daar ’n ommekeer van gevoel plaasvind. Terwyl genl. Hertzog in 1926 die Rykskonferensie in Brittanje bygewoon het, het Tielman Roos as premier waargeneem. Onder sy leiding het die Uitvoerende Bestuur van die Transvaalse NP gedurende dié tyd aanbeveel dat die vlagwetsontwerp teruggetrek moes word. Ook Oswald Pirow, die bekende Volksraadslid vir Soutpansberg, het die aanbeveling gesteun.
Die Balfour-verklaring Die Rykskonferensie van 1926 was ’n triomf vir genl. Hertzog. Uit die konferensie het die Balfourverklaring gevloei wat SA se onafhanklike status bevestig het deur te verklaar dat Brittanje en die dominiums “outonome gemeenskappe binne die Britse ryk (is), gelyk in status, op generlei wyse in enige aspek van hul binne- of buitelandse sake die een ondergeskik aan die ander nie, hoewel verbonde deur hulle gemeenskaplike trou aan die Kroon en vryelik verenig as lede van die Britse Gemenebes van Nasies.” Dit was dan die status quo in daardie stadium, hoewel dit eers in 1931 wetlik beslag gekry het toe Brittanje die Statuut van Westminister aangeneem het.
Ná die Balfour-verklaring het genl. Hertzog se houding oor die vlagstryd ook verkoel. Die statuskwessie was opgelos en ’n aantal Engelssprekendes het te kenne gegee dat hulle bereid was om by die NP aan te sluit. Hulle het egter verwag dat die NP as quid pro quo die vlagwetsontwerp moes terugtrek. ’n Vasberade dr. Malan was egter nie bereid om die wetsontwerp terug te trek nie, en dus was Hertzog genoodsaak om die vlagstryd voort te sit.
Voor die aanvang van die parlementsitting van 1927 het dr. Malan ’n aantal persone wat buite die politiek gestaan het, genooi om in ’n vlagkommissie te dien wat ’n vlag moes ontwerp wat deur die breë volk aanvaar sou word. Maar ook dié vlagkommissie se voorstelle het teen soveel teenkanting gestuit dat die wetsontwerp ná die Tweede Lesing weer eens na ’n gekose komitee verwys is.
Om hierdie artikel nie te lank uit te rek nie, gaan ons maar verdere besonderhede verby en beweeg ons na die einde van die politieke drama.
Die saak moes tot ʼn punt kom. Uiteindelik het Hertzog sonder medewete van dr. Malan gehandel en Smuts privaat uitgenooi om met hom oor die saak te beraadslaag. Die uitkoms van die gesprekke was die ontwerp wat ons as die Unievlag, en sedert 31 Mei 1961 as die Republiekvlag geken het: die Oranje, Blanje, Blou met die vlae van die voormalige Boererepublieke en die Britse Union Jack in die middel op die wit baan. Smuts het aan die Union Jack die mees prominente plek naaste aan die vlagpaal gegee, en as verdere bevestiging van die Unie se verbintenis met die Empire is die tweestokbepaling by die wetgewing, wet 40 van 1927, ingesluit. Dit het bepaal dat die Union Jack by alle openbare geleenthede saam met die Unie-vlag ontplooi moes word. Dié bepaling is in 1957 van die wetboek geskrap.
Op versoek van dr. Malan het die wet op 31 Mei 1928 in werking getree. Op daardie datum is die Unievlag vir die eerste keer amptelik gehys. Daarmee het die Unie van SA weliswaar sy eie vlag gekry — ʼn vlag wat die verskillende volksgroepe in een lojaliteit moes saambind.
Dié kompromisvlag met sy Union Jack het egter nooit diep in die hart van die Boer ingekruip nie. Selfs dr. Malan het hom “teleurgesteld en bitter” by die skikking neergelê omdat hy nie ’n skeuring in die NP wou veroorsaak nie.16 In sy gemoed het die Afrikaner-nasionalis bly hunker na die dag wanneer die gehate simbool van onreg en onderdrukking, die Union Jack, uit die vlag verwyder sou word. Die ideale geleentheid daarvoor was toe SA in 1961 ’n Republiek buite die Statebond geword het en die Britse konneksie verbreek was. Weens politieke oorwegings van daardie tyd is dit nie gedoen nie en Suid-Afrika het die Union Jack op sy vlag in die lank begeerde Republiek ingedra.
Onder dié vlag en bekwame Afrikanerregerings het Suid-Afrika tot ʼn ekonomiese reus in Afrika ontwikkel, hoë wetenskaplike, tegnologiese en kulturele prestasies bereik en militêre roem verwerf. Die geslag wat dit alles bereik het, het met dié vlag geïdentifiseer en dit met trots gadegeslaan op ons vlagpale, ons vliegtuie en oral waar dit verkondig het: produkte en prestasies van Suid-Afrika!
Vir die kommuniste en hulle meelopers is die aanskoue van dié vlag een te veel. Die aanblik daarvan herinner hulle telkens aan hulle eie onvermoë en mislukkings. Daarom haat hulle dié vlag en moes dit uit die openbare oog verwyder word, terwyl die beste waarmee hulle vorendag kon kom, ʼn oproeplied is om die Boere te vermoor.