Die Afrikaner 19 Mei 2023
Staatspresident CR Swart is op 31 Mei 1961 as die eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika ingehuldig nadat die land ‘n Republiek geword het op dieselfde dag.
Die aand is ‘n staatsbanket in Pretoria aangebied en die eerste minister, dr. H.F. Verwoerd het die heildronk op die Republiek en die Staatspresident ingestel.
Dit is die toespraak wat hy by die heuglike geleentheid gelewer het:
Meneer die Staatspresident, edelagbare burgemeester, eksellensies, dames en here, by hierdie besondere geleentheid sal die heildronk nie formeel wees nie. Dit is ‘n spesiale geleentheid waarby ons ‘n heildronk op Suid-Afrika met die naam van ‘n nuwe Staatshoof kan koppel, en ek sal u oor ‘n paar minute vra om op die gesondheid van ons nuwe Staatshoof te drink, terwyl u terselfdertyd aan hierdie groot Suid-Afrika van ons en sy toekoms dink. Maar voordat ek dit doen, wil ek graag namens die Regering van Suid-Afrika al daardie goedgesinde state oor die hele wêreld, waarvan baie vanaand hier verteenwoordig is, wat so welwillend gedurende hierdie afgelope dae aan ons gedink het en wat deur hulle staats- of regeringshoofde ons by hierdie uiters gewigtige geleentheid geluk gewens het, bedank.
Ek wil ook graag u, meneer die burgemeester, die stad Pretoria bedank vir hierdie banket wat u vanaand hier ter ere van die Staatspresident aanbied. Ek wonder of so ‘n banket op enige ander plek in so ‘n pragtige, kunsmatig geskepte omgewing aangebied kon gewees het. Pretoria het ons wonderlik behandel, maar dit is gepas dat die administratiewe hoofstad van Suid-Afrika die eerste moet wees om eer te bewys aan die eerste Staatshoof wat in Suid-Afrika gebore is.
Wanneer ek u vra om aan Suid-Afrika te dink, wil ek graag hê dat u aan Suid-Afrika moet dink as hierdie pragtige land waarin ons woon; die land wat ons so liefhet; die land wat ons van voorouers geërf het wat nie alleen vir hom geveg het nie, maar ook deur geslagte wat oor 300 jaar strek vir Suid-Afrika gewerk het, wat uit die ope veld vir ons en diegene wat ons later sal volg, die wonderlikste tuisland opgebou het; die land van ruwe berge en wydgestrekte grasvelde met hulle talryke pragtige diere wat ons probeer om vir ons nageslagte te bewaar, wat uiteindelik miskien slegs in ons land in Afrika bewaar sal word. Dink aan hierdie skone Suid-Afrika met sy blou lug, sy wit strande wat om ons land strek, met skoonheid oral en soms ook ruheid, wat egter versag as met liefde daarna gekyk word. Ek wil u vra om aan Suid-Afrika te dink as hierdie welvarende land wat deur ons bewoon word – u moet nie na aandelemarkte kyk om te sien of Suid-Afrika ‘n algemene basiese welvarendheid het nie! Dink aan die natuurlike hulpbronne en dink aan die mense wat hom bewoon en wat hierdie bronne kan ontgin, want welvarendheid word per slot van rekening deur die mens gemaak en kan slegs ontstaan as ‘n land inwoners het met die inisiatief en bereidwilligheid tot selfopoffering om, indien nodig, deur middel van swaar werk te bou en met die krag van hul arm te verdedig, indien dit so moet wees. Dit hang van die mense van ‘n land af of die land vir lang tydperke welvarend kan wees.
Ek wil graag hê u moet aan Suid-Afrika as ‘n vrygewige land dink, ‘n land wie se mense nie net vir hulself lewe nie, ‘n land wie se inwoners en Regering dink in terme van almal vir wie hulle verantwoordelik is. Die buitewêreld is geneig om Suid-Afrika as ‘n verdrukkende land te sien. U wat hier woon, weet dat dit nie die geval is nie. Ons het ons verskillende rassegroepe, wat nog in baie opsigte agterlik is, maar nêrens in die wêreld het ‘n volk die agterlike mense in sy midde aan die lewe gehou en gepoog om hulle te ontwikkel, soos Suid-Afrika vir geslagte gedoen het nie.
Miskien het die inheemse bevolking nêrens anders in die wêreld nie net voortbestaan nie, maar in so ‘n mate toegeneem dat hulle die probleem geword het waarmee die buitewêreld nie hoef te handel nie, maar wat ons probleem is en wat ons bereid is om op te los, maar op ons eie manier en op die enigste manier waarop mense wat in verskillende beskawingstadiums is, saam kan lewe – mense met verskillende ideale, wie se leefwyse en uitkyk so geweldig verskil, maar wat nogtans soos nasies wat op soortgelyke wyse van mekaar verskil, saam kan werk en langs mekaar kan woon en vriende kan wees. Aldus sal ons ons weg in hierdie land vind soos reeds gebeur, en ook ten opsigte van ons verhouding met ander state in Afrika, wat namate hulle meer volwasse raak, ook hulle maniere kan vind om saam te lewe sonder om ‘n aangrensende land te probeer verdruk of vir hul eie selfsugtige doeleindes te gebruik.
Mag ek u vra om aan Suid-Afrika as ‘n eerlike land te dink. Ons kan maklik die wêreld ‘n rad voor die oë draai deur oënskynlik beleide te volg wat sy vereistes bevredig, maar wat, wanneer hulle behoorlik nagegaan word, bevind word net die teenoorgestelde te wees van wat hulle oppervlakkig skyn te wees, soos in so baie van die lande wat ons kritiseer die geval is. Ons in Suid-Afrika is eerlik omdat ons niks anders kan wees nie. Ons hou daarvan om ons probleme openlik in die oë te staar, om ons beleide duidelik te stel, om te doen wat ons kan vir mekaar en vir onsself, om die hele wêreld in die oë te kyk, indien nodig.
Mag ek u vra om aan Suid-Afrika te dink as ‘n land met standvastige mense, mense wat glo in wat hulle sê en probeer doen wat hul glo wat reg is. Dit mag miskien vir ons baie moeilikheid en misverstand meebring, maar op die lange duur is dit waarheidsliefde en eerlike bedoelinge en duidelikheid van ideale wat van ‘n nasie maak wat hy moet wees.
U, meneer die Staatspresident, is geroepe om die wêreld saam met ons in die oë te kyk en om die wêreld te laat weet dat wat ons ook al doen, ons dit as ‘n Christenvolk doen, as mense wat bereid is om ons Christelikheid te bely en om dit uit te lewe volgens ons opvatting van sake. U, meneer die Staatspresident, is die simbool van hierdie volk en mag u en ons almal geleidelik beter verstaan word. Mag ons die vriende terugkry wat ons gehad het en dié behou wat ons het, want ek weet uit ondervinding dat hoewel daar baie van hulle is wat hulle in die oë van die buitewêreld blykbaar losmaak van ons, hulle diep in hulle harte en agter die skerms hulle baie naby aan ons harte en ons denkwyse bevind.
Meneer die Staatspresident, ek het gesê dat hierdie eenkeer ons nie net ‘n formele heildronk op u instel nie, maar op Suid-Afrika en op u, ons Staatspresident, die eerste hoof van ons staat. Ons doen dit vanaand so omdat dit ‘n heel besondere geleentheid is. Vir ons is dit ‘n toppunt. Ons het ’n berg uitgeklim oor jare. Ons het uiteindelik ‘n plek bereik, nie die hoogste in die lewe van ons volk nie want miskien is dit vandag nog maar net die begin van groter dinge; maar vir ons is dit ‘n hoogtepunt wat ons bereik het, die vervulling van ideale om u nou te mag aanspreek as ons eie Staatspresident. U het saam met ons gelewe. U het saam met ons in hierdie land gegroei. U ken ons moeilikhede. U ken ons swakhede. U ken ook ons deugde. Ons swakhede en deugde deel u ook en daarom is dit dat in die volkslewe vorentoe, Staatshoof en volgelinge een kan wees. Terwyl die een die ander respekteer en mekaar liefhet – liefhet as medeburgers en landgenote – sal ons saam vorentoe kan beweeg.
Maar nou sal u, die Staatspresident, in ‘n sekere sin ook eensaam word. U was deel van ons volksgroep, ons volksmassa, maar nou staan u uit as ‘n simbool van die hele volk. Vir u is daar nie meer die engere bande nie, die bande met die kleinere kringe, die Bande met lokale groepe wat vir u dierbaar was en na aan die hart gelê het. Party-voorkeur val vir u weg. U staan as die simbool vir die gehele Suid-Afrika. Niks wat klein is, niks wat beperk is, niks wat seksioneel is, is nou meer vir u nie. Vir u is alleen die hele volk. Maar in die mate van vereensaming wat u noodwendig moet ondergaan, sal daar vir u tegelykertyd ook ‘n groot loon wees en dit is die loon van die trou en van die liefde van die hele volk – nie net ‘n deel daarvan nie. Maar al sal u onttrek wees van die stryd wat noodwendig die lot is van baie van ons, die stryd vir Suid-Afrika en sy toekoms, sal u ‘n onmisbare rol speel in ons land. Want ons wat moet bou en moet stry, sal noodwendig verskillende gedagtes hê oor hoe Suid-Afrika se toekoms uitgebou moet word. Ons sal oodwendig uit die diepte van ons oortuiging daaroor met mekaar veg. Maar onder dit alles sal daar die grondliggende eenheid van een volk van die Republiek van Suid-Afrika moet wees en u sal die band moet wees wat ons almal bymekaar hou. En as die dae van smart kom, sal u sien hoe ons nie net deur bande van bloed nie, maar ook deur die bande van een gemeenskaplike nasie, aan mekaar geknoop is. En wanneer daar dae van vreugde kom, sal u ons ook almal saam sien jubel soos vandag, omdat ons dan ook in ons blydskap soos in ons smart besef dat ons een volk is, die volk van die Republiek van Suid-Afrika. Waarvandaan of uit watter stamlande ons ook al mag kom, hoe lank ons en ons voorgeslagte ook al in Suid-Afrika reeds woonagtig mag wees, tussen ons almal is daar en sal daar net een band wees, die band van liefde vir ons vaderland.
En nou vra ek u almal om saam met my ‘n heildronk te drink op Suid-Afrika en sy nuwe Staatshoof, Staatspresident Swart.