Dié gebeure laat die vraag ontstaan:
Redakteur in Die Afrikaner van 6 Junie 2023.
Gebeure die laaste week of twee, het by politieke ontleders en ekonome die vraag laat ontstaan wanneer die land se totale ineenstorting ‘n werklikheid word?
Nie net Eskom, wat waarsku dat fase 8-beurtkrag die winter ‘n groot waarskynlikheid is, is ‘n probleem nie. Trouens, dit is dalk maar net een van die kleiner haakplekkies.
In die aanloop tot volgende jaar se algemene verkiesing storm die ANC-regime eenvoudig voort op sy kommunistiese doelwitte van totale beheer oor alles en die vernietiging van private besit of inisiatief.
Die landbougemeenskap is hewig ontsteld oor die skielik publikasie van konsep regulasies wat Blankes gaan dwing om tot soveel as 75% van hulle plase of besighede aan Swartes oor te dra as hulle enigsins toegang tot water wil hê. Natuurlik is die sektore met regeringsmaatjies, soos mynbou en plaaslike owerhede, daarvan uitgesluit. Hierdie bepalings gaan die landboubedryf tot so ‘n mate benadeel, dat daar al gepraat word van die totale vernietiging van die bedryf, met ongekende voedseltekorte en -onsekerheid. Dit word gesien as nog ‘n berekende poging van die ANC-bewind om die suksesvolle blanke boere van hulle grond te verdryf. Ekonome maan dit sal lei tot ‘n uitvloei van kapitaal. Hierdie regulasies het tot in baie van die buitelandse media aandag getrek.
Daar word nou voluit voortgegaan met die implementering van die nasionale gesondheidsplan. Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) het sterk gereageer en gesê hy verwerp die wetsontwerp in sy huidige vorm, en die vakbond Solidariteit sê hy oorweeg ‘n grondwetlike uitdaging van die konsepwetgewing wat deur die Portefeuljekomitee oor Gesondheid goedgekeur is. Die wets-ontwerp word al vier jaar lank oorweeg, met kommer wat geopper word deur die Parlement se regsadviseur en opposisiepartye, asook insette wat ontvang is van ‘n groot aantal belanghebbendes, van private gesondheidsorgverskaffers tot pasiëntvoorspraakgroepe. Die ouliks gewysigde weergawe is sopas deur die komitee aanvaar. Die plan word gesien as ‘n poging van die regering om sy korrupte kloue te kan lê op die miljarde rande se reserwes wat die mediese fondse besit.
Die jongste misdaadsyfers verhoof die land se status as misdaad Mekka van die wêreld. Die moordsyfer het nou gestyg van 73 moorde tot 76 moorde per dag. Dit beteken dat meer as drie moorde per uur in Suid-Afrika gepleeg word. Ander geweldsmisdade, roof en diefstal het net so toegeneem, maar die onbevoegde minister van polisie, Bheki Cele, beweer dat “die draaipunt van misdaad nou bereik is”. Waar hy aan so ‘n sotlike uitspraak kom, is vir waarnemers ‘n absolute raaisel wat op geen wetenskaplike basis staan nie. Net na die misdaadsyfers aangekondig is, is die land weer geruk deur ‘n uiters wrede plaasmoord in Ohrigstad, waar die eienaars aan die brand gesteek is nadat hulle eers gruwelik gemartel is deur terroriste.
Die Reserwebank het die rentekoers weer met 0,5% verhoog, wat beteken dat die rentekoers tans die hoogste is in 14 jaar. Daar word verwag dat dit gaan lei tot talle likwidasies en sekwestrasies, en dat baie mense hulle huise en motors kan verloor. Daar is aangekondig dat die Poskantoor amptelik bankrot is, en is onder voorlopige sekwestrasie geplaas. Dit is die eerste van die staatsbeheerde instellings wat nie eens meer met ‘n staatsreddingsboei gehelp kan word nie, en daar word gevra wanneer SAL, Prasa en Eskom volgende is.
Die ouditeur-generaal se jongste verslag toon dat plaaslike owerhede ‘n yslike R4,7 miljard vermors het. Dit is meer as dubbel van die vorige jaar! Van die 257 munisipaliteite het slegs 38 ‘n skoon oudit verslag gekry. Verlede jaar was dit nog 41.
Intussen heers daar groot paniek in mediese kringe oor die uitbreek van cholera in die land. In die DA-beheerde gebied van “Tshwane” is reeds 26 mense daaraan dood in Hammanskraal, omdat die plaaslike owerheid nie die gehalte van drinkwater kan verbeter nie. Daar was ook reeds ‘n sterfte in die Vrystaat, en die siekte is ook reeds in ander provinsies aangemeld. Kenners reken dit is net die punt van die ysberg, en dat die groter probleme wag om soos ‘n bom te ontplof.
In Mahikeng se hospitaal is daar nie genoeg beddens vir die bevolkingsontploffing van babas nie. Dié kan nou nie meer in broeikaste gehuisves word nie, en word in die neonatale eenheid in kartondose geplaas. Die provinsiale regering het geen geld vir toerusting nie, maar het wel met trots aangekondig dat hulle begroting wel voorsiening maak vir die naamsverandering van vyf provinsiale hospitale in Wes-Transvaal!
In ‘n ander verslag blyk dit dat hospitale landwyd miljarde rande onregmatig aan bepaalde dienste bestee het.
Om alles te kroon, het die polisie nou die magte bekom om telefoonoproepe willekeurig af te luister, of om WhatsApp-boodskappe te onderskep. Daar word verwag dat dié magtiging gebruik gaan word om politieke opponente te frustreer, maar veral ook om blanke kommunikasie dop te hou om hulle te kan vervolg as hulle iets oor die regering of oor die meerderheid sê in terme of woorde waarvan hulle nie hou nie.
Die land beweeg al meer na ‘n polisiestaat met al hoe meer sentrale beheer, en ‘n kommunistiese bestel.
Dat hierdie bestel nie volhoubaar is nie, word feitlik elke uur al hoe duideliker, en die woorde van wyle mnr. Jaap Marais klink al hoe luider: “Hierdie bestel gaan in duie stort, en dit sal met geweld gepaard gaan, en dan sal nuwe grense getrek word.”
Hoe skrikwekkend die algehele ineenstorting ook al klink, is dit dalk juis nodig vir ‘n skoon begin.