H F van der Schyff:

Vandag haal ek ‘n stuk uit mnr. Jaap Marais se skrywe oor “Wie is die Afrikaners” aan.

Ek dink dit is belangrik aangesien daar selfs mense met sogenaamde “regse sienings” is wat van “Afrikaners van verskillende velkleur” skryf. Ons moet besef dat Afrikaners net Blank kan wees. As ons ons geskiedenis bestudeer sal ons agterkom dat taal jou nie sommer net deel maak van ‘n ander volk nie. Daar is ook die partye wat eers net vir Afrikaners in verkiesings en parlement sou veg, maar nou hul beleid gewysig het om tot alle minderheidsgroepe se voordeel te veg. Van die partye sit nou reeds met anderskleuriges in hul bestuur, so is dié partye nog Afrikaner partye?

Mnr. Marais skryf die volgende oor hierdie onderwerp, en dit is belangrik dat ons Afrikaners dit ter harte neem. Hy het hierdie stuk geskryf op 28 Oktober 1987 na aanleiding van ‘n program wat op TV gebeeldsend was.

“Met die SATV se onlangse program oor die Afrikaners is dit ‘n gepaste geleentheid om dié vraag onder oë te sien.

“Daar was by meer as een van die deelnemers ‘n poging om Afrikanerskap oor die rasse- en kleurgrens te trek deur van die standpunt uit te gaan dat wie Afrikaans praat, ‘n Afrikaner is. En daar was pogings om Afrikanerskap wat behoudend is, veroordelend te bejeën. Daar was egter min getuienis van diepte oor die werklikheid van Afrikanerskap in sy oorsprong en sy tyd-ruimtelike omgewing.

“Die Afrikanervolk is bo alles ‘n volk wat stam uit die Blanke ras van Wes-Europa, dié ras wat in sy plus en surplus die wêreld fisiek oopgemaak, tegnologies ontwikkel en ‘n hoë mate geestelik oorspoel het. Die Afrikanervolk se kultuur is ‘n rasgebonde kultuur, net soos die Zoeloevolk se kultuur ‘n rasgebonde kultuur is. Anderrassiges kan dié kultuur ten dele aanvaar, maar hulle kan die diep verbondenheid aan die rasse-herkoms wat daarmee saamgaan, nie deel nie.

“As by so ‘n bespreking ras uit die oog verloor word, volg verwarring oor dié sake. Daar is nie so iets soos ‘n veelrassige volk nie, al sou mense van verskillende rasse een taal praat. Taal alleen bepaal nie ‘n persoon se volksverwantskap nie. Ras en kleur word nie as onderskeiding uitgewis deur deelgenootskap aan taal nie.

“’n Volk se geskiedenis is by sy identiteitsbewustheid net so belangrik as enige fisieke of geestelike eienskap. Want die geskiedenis is ‘n volk se geheue, en net soos geheue by ‘n persoon hom in staat stel om te weet wie hy is en wat sy status is, hou die geskiedenis ‘n volk bewus wat hy is en watter plek hy beklee.

“Uit die geskiedenis kom ‘n volk se heldedom, en dit is vir dié wat buite ‘n bepaalde volk staan, onmoontlik om dieselfde sentiment vir dié volk se helde te hê.

“Kan ‘n Afrikaanssprekende Kaapse Kleurling byvoorbeeld dieselfde sentiment koester vir pres. Kruger as ‘n Afrikaner? Kan ‘n Engelssprekende Indiër van Natal dieselfde sentiment koester vir byvoorbeeld Robert Clive (van die Black Hole of Calcutta) as ‘n Engelsman van Natal?

Dit is min of meer by hierdie punt dat die saak vereenvoudig kan word tot ‘n enkele stelling, naamlik wie hom- of haarself as ‘n Afrikaner beskou, is ‘n Afrikaner. En dít is die byna ondefinieerbare grens tussen Afrikaners en byvoorbeeld Afrikaanssprekende Kleurlinge.

“Dit is ‘n gemeenplaas dat die Kleurlinge, ongeag hulle gebruik van die Afrikaanse taal, hulleself nooit as Afrikaners beskou het nie, en dit is eweneens ‘n gemeenplaas dat die Afrikaners die Kleurlinge nie as Afrikaners beskou het nie. Volkskap is soos ‘n broederskap; jy behoort daaraan, of jy behoort nie daaraan nie.

“Waar daar gepoog word om Afrikanerskap hoofsaaklik, indien nie uitsluitlik nie, te definieer in terme van taalgebruik, is dit onwetenskaplik, dra dit nie by tot verheldering van die strydvraag nie en vertroebel dit die saak waarom dit gaan.

“Wat wel ter sake is, is dat binne ‘n volk daar te alle tye dié is wat hulle volkskap meer intens aanvoel as ander, wat ‘n sterker historiese bewustheid het as ander en wat nader aan die sentrum van ‘n volk leef as ander. Soos enige organiese wese het ‘n volk ook ‘n kern waaromheen daar ‘n wyer begrensing is, ‘n verskynsel wat die beste beskryf kan word deur die beeld van ‘n boom se stam. Binne is die harde pit, en daaromheen omhulsels wat in grade al sagter word in die uitkringing na buite. Die buitenste rand, die bas, is die sagste en mees verweerbare en vervangbare deel van die stam.

“’n Volk trek aan na homself; hy beweeg nie na ander nie. Hoe sterker Afrikaners hulle beroep op hulle afkoms, hulle gesinsverband, hulle geskiedenis, hulle heldedom, hulle afsonderlikheid in Afrika, hoe sterker sal die magnetisme van die kern wees wat trek en bind.

“Net soos die Afrikanervolk se rasse-afkoms ‘n onveranderlike aard het, is sy posisie in Afrika onveranderlik dié van afgesonderdheid. ‘Alleen onder die groot suidersterre’, het Van Wyk Louw dit beskryf, en ‘van verdrukking afgesonder’, het Opperman met verwysing na die Groot Trek gesê.

“Dit is die magte wat die Afrikanervolk se bestaan oorheers. As hy terugdeins van afgesonderdheid, vlug hy van sy eie beeld. As hy sy grense wil breek, sal hy soos ander Blanke gemeenskappe ‘in die welsand van Afrika’ verdwyn.”