Nuwe geleenthede op suiwer beginsels

Die Afrikaner 23 Junie 2023

Daar is nie veel wat ons kan byvoeg tot die HNP-leier se brief aan die Poolse president oor die Diplomatieke en ander gemors van Afrikaleiers, onder medeaanvoering van Cyril Ramaphosa se mislukte “vredesending” nie. Ons wil daarom nie kosbare tyd en spasie afstaan om meer te probeer sê as wat mnr. Fritz van Graan gesê het nie.

Een aspek wat egter wel uit hierdie inisiatief van die HNP-leier na vore gekom het, is om die Boere-Afrikanervolksraad se eis om selfbeskikking ook aan die Poolse president te stuur. Hierdie daad het die Boere-Afrikaner se vryheidstrewe en -eise weer eens in die internasionale arena geplaas – iets wat lanklaas gebeur het, want die Suid-Afrikaanse politiek word oorheers deur die mislukkings van die ANC enersyds, en die geskarrel van opposisiepartye om koalisieste vorm.

Die huidige Suid-Afrikaanse politiek is daarom tans eerder op pragmatisme geskoei in plaas van beginsels, en die HNP bring met sy skrywe aan Pole weer eens die politieke beginsels van die Afrikanervolk na vore – iets wat so uiters belangrik is in hierdie tyd, en veral ook in aanloop tot volgende jaar se algemene verkiesing.

Sedert 1994 het die HNP die standpunt ingeneem om nie vrywillig aan die bestel wat op ons afgedwing is, deel te neem nie. Daarom dat die stembus, wat in elk geval getalsgewys sodanig gelaai is dat geen noemenswaardige sukses moontlik is nie, nie as opsie gesien word nie.

Dit is egter so dat veral die jonger geslag, wat nie noodwendig op hoogte is van die gebeure en verraad van voor 1994, omdat hulle dit nie self beleef het nie, die stembus as ‘n geleentheid sien om hulle misnoeë te kenne te gee deur ten die ANC te stem.

Om teen iets te stem, is een ding. Maar die beginsel behoort te wees om vir iets te stem, en daardie iets moet duidelik omlyn wees en in beginsels gebed wees.

Die HNP stel dit onomwonde at ‘n eenheidstaat geen duursaamheid het nie. Selfs in ‘n ontwikkelde en beskaafde Westerse staat soos België, waarin twee volke woon, naamlik Nederlandssprekende Vlaminge en Franssprekende Wale, is daar konflik. Geen twee volke hoort in dieselfde staat nie, selfs nie eens in ‘n federasie soos België nie. Hoeveel te meer is dit die geval in Suid-Afrika, waar daar historiese konflik bestaan tussen die blanke Afrikaanssprekendes en Engelssprekendes, dan is daar die Kleurlinge, Indiërs en nog twaalf swart volke, wat aangegroei het tot meerderes na aanleiding van die onbeheerde invloei van Zimbabwiërs, Malawiërs en M Mosambiekers en andere. So ‘n eenheidspot sal bly prut tot dit oorkook.

In terme van internasionale reg, het die Boere-Afrikanervolk die reg op selfbeskikking, soos dit baie duidelik uiteengesit is in die Volksraad se eis daartoe. Daarom hoef ons as volk nie gelate te aanvaar dat ons na byna dertig jaar nog deur ‘n volksvreemde regering regeer hoef te word nie, en dan maak dit nie saak of die staatshoof ‘n Venda, Xhosa, Zoeloe of blanke Engelsman is nie. Dit bly ‘n volksvreemde regeerder, wat die Afrikanervolk nie hoef te aanvaar nie. Ons het die reg om oor onsself te regeer, om dan wel aan ‘n volkseie demokratiese stemming deel te neem om ons eie Godvresende volksleiers aan te wys.

Waarheen die koalisiedryf onderweg is, is onthul deur die leier van VF Plus, in ‘n onderhoud op BizNews met die joernalis, Linda van Tilburg, oor koalisies en hulle mislukkings.

Groenewald het daar die stelling gemaak dat koalisies ná die verkiesing gevorm word. Al waaroor daar op hierdie stadium tussen die tien partye wat deelneem aan die koalisiegesprek gewerk word, is aan ‘n onderneming van alle partye dat hulle nie in enige regering sal saamwerk met die ANC of EFF nie. Wat word daar dan van die ander beginsels? Wat van die Afrikaner se reg op Selfbeskikking, reg op die erkenning van sy taal (die koalisiegesprekke vind natuurlik in Engels plaas…), die reg op ons eie skole en so meer?

Op ‘n vraag van die joernalis, Linda van Tilburg, aan Groenewald of ‘n witman weer president kan word, het Groenewald gesê hy is op rekord dat die land nie weer ‘n wit president kan hê nie. Die ANC sal die beskuldiging opper dat dit ‘n terugkeer na apartheid is. Dus, daardeur gaan die ANC steeds ‘n wesenlike invloed op die politiek hê deurdat ‘n moontlike koalisie die heel tyd oor sy skouers moet loer na moontlike beskuldigings deur die ANC of EFF, en daardeur ‘n neutrale en ontmande politieke leierskap sal vorm wat geen wesenlike veranderings kan aanbring nie. Groenewald het selfs sover gegaan as om te sê hy glo dat die leier van die IVP, Hlabisa, geskik sal wees om president te wees van ‘n koalisie-geleide regering.

Ons wil nie baklei met diegene wat wel glo aan die stembus as opsie nie. Ons wil wel ‘n beroep op hulle doen om druk op die party waarvoor hulle wel sou wou stem, te verhewig om terug te keer na volksbeginsels, anders gaan ons vir ewig en altyd knegte bly in ons eie land.

Die HNP se slagspreuk is “Eie Volk Eerste”. Dit moet ons slagspreuk bly, en alles wat in konflik daarmee is, behoort summier verwerp te word.