Die Afrikaner 07 07 2023

Vandag gaan ek weer uit een van mnr. Jaap Marais se toesprake aanhaal. Dit gaan oor die Boere-Afrikaners se situasie na die tweede Engelse oorlog en die politieke toestand daarna. Ons kan baie krag put uit die geskiedenis van die Afrikanervolk as ons die geskiedenis bestudeer.

Ek haal uit sy toespraak aan:

“Na 1902 was daar twee groepe Boereleiers. Die een gaan op by die vyand en die ander staan dit teë: ‘n duidelike grenslyn tussen Botha en Smuts aan die een kant en Hertzog en De Wet en De la Eey aan die ander kant. Aanvanklik het Smuts en Botha groot sukses gehad. Hulle het hul geblaak in die glorie van die Engelse wêreld, maar onverbiddelik is hulle dieper en dieper ingetrek by die vyand, sodat 12 jaar na die vrede, in 1914, toe skiet Botha en Smuts op hulle vorige strydmakkers, op De Wet en Kemp en Maritz.

“In die Eerste Wêreldoorlog word Smuts ‘n lid van die Britse kabinet, só diep is hy ingetrek by die vyand. En in dié proses het hy natuurlik ‘n al groter teenstand en vyandskap teen sy eie mense ontwikkel. Hy het al groter vereenselwiging met die vyand en al groter vervreemding van sy eie mense ontwikkel. Dit is die onverbiddelike wet wanneer jy ingaan by jou vyand, by die vreemde. Dan word dit ‘n proses wat jouself oorweldig.

“Genl. Hertzog, aan die anderkant, is gesmaad en gehoon. Hy is in 1913 uitgeskop uit Botha se kabinet en dit het gelyk asof dit die einde van sy politieke loopbaan sou wees. Maar kort daarna was daar die gewapende opstand, die Rebellie in 1914, wat misluk het as ‘n krygsdaad. Maar deur die teenwoordigheid van iemand soos genl. De Wet is ‘n hoë aansien aan die rebellie gegee. En die emosionele effek daarvan was stimulerend as gevolg van die betuiging van fisieke weerstand, en dit het ‘n blywende uitwerking gehad. De Wet en Kemp het in die tronk beland. De la Rey en Beyers is doodgeskiet. Maritz moes land uit vlug. Maar 10 jaar later het Hertzog die land regeer – die kulminasie van die besluit dat na 1902 die stryd voortgesit moes word. Nou moet ‘n mens ook besef dat waar die krygsdaad van die Rebellie misluk het om die mag te verower, dit die stryd met politieke middels was wat in 1924 die deurslag gegee het om Hertzog eerste minister te maak.

“Vir ons is dit belangrik om te besef dat in hierdie toestand ná 1902, toe die volk in die grootste ellende verkeer het, daar nie eenheid onder die Boeregeneraals was nie. Daar was ‘n skerp verdeeldheid, soos reeds gesê.

“Dit was met die versameling rondom die beginsels van Afrikanernasionalisme dat die begeestering gegroei het wat uiteindelik gelei het tot die Afrikaners se herowering van die politieke mag in Suid-Afrika. Die verowering van die politieke mag in 1924 was nie positief gebou op die idee van onmiddellike herstel van die voormalige republieke nie, maar hoofsaaklik op die “negatiewe”: die wil om Smuts te verslaan. Dit was die basis waarop genl. Hertzog se Afrikaanse Nasionale Party en kol. Cresswell se Engelse Arbeidersparty gemene saak gemaak het en Smuts in 1924 verslaan het.

Nasionalisme, patriotisme, identiteit, heldedom

“Die wil tot weerstand is die belangrikste faktor in so ‘n politieke stryd. Om ‘n volk se doel te bereik, moet ‘n teenmag eers ontdoen word. Daartoe is nasionalisme die werktuig. Die begeestering van nasionalisme kan op baie maniere gedefinieer word, maar daar is drie hoofelemente van nasionalisme. Die eerste is patriotisme, die gebondenheid aan die vaderland. Vaderland is ‘n beginsel, en gebondenheid aan daardie beginsel is patriotisme. Wie het hierdie land mak gemaak tot ‘n tuiste van ‘n gevestigde beskawing? Wie het die land se verborge bates ontbloot? Was dit nie die Afrikanerboer wat die plase aangelê en ontwikkel en die wilde wêreld getem het nie? Wat die land aan die wildernis ontworstel; die dorpe gestig, en die stede gebou het nie?

“Dié land dra die stempel van die Afrikaner se pionierswerk in elke sin van die woord, soos die name van berge en riviere, visse en diere, bosse en bome, plase en dorpe en stede getuig. Dis ons vaderland, ons het hom nie gesteel nie, ons het hom verwerf op elke wettige wyse van die volkereg: deur besetting, deur verowering, deur die uitruil van gebiede, deur die aankoop van grondgebied. En as ons hierdie land moet prysgee, omdat deur Afrikaners aan ons vertel word dat ons nie die morele reg het om hier te regeer nie, of dat ons nie meer die wil het om hier te regeer nie, dan is dit die ergste verloëning van patriotisme – ’n rasionalisasie van lafhartigheid en verraad.

“Mense moet kennis neem dat as jy deelneem aan hier terroristiese ANC se verkiesings dan verloën jy jou volk. Ons moet sover moontlik uit hierdie bestel uit bly sodat die wêreld kan sien dat ons die bestel verwerp. Dit sal ook aan die ANC en sy meelopers wys dat hulle nie sonder die Blanke kan aanhou regeer nie en dat die bestel dan totaal verval en ons die land kan herwin.

“Op die huidige toestand van die verskillende anti-ANC groepe is gewapende teenstand nie moontlik nie. Maar die groepe kan nader aan mekaar beweeg deur die huidige op soveel moontlike plekke teen te staan in propaganda en so ver moontlik buite die bestel te bly. Om saam die bestel te verwerp, gaan die Afrikaner-groepe nader aan mekaar bring en die ANC en sy meelopers se mag verswak.

“Laat ons ons boodskap uitdra. Laat ons ons beweging finansieel ondersteun om meer sigbare teenstand te toon. Laat ons bly glo dat ons ‘n roeping in hierdie land van ons het. En ons sal weer oor onsself regeer.”