Die Afrikaner 21 Julie 2023

Soos die HNP al agtergekom het, is die sogenaamde Menseregtekommissie (MRK) ‘n geldslurpende hond sonder tande, wat nou summier afgeskaf behoort te word. Daar is waarskynlik ander sogenaamde Hoofstuk 9-instellings wat alles behalwe onafhanklik is en wat maar dieselfde pad as die MRK kan loop.

Dit is die mening van die HNP se leier, mnr. Fritz van Graan, nadat regter Roland Sutherland in die hooggeregshof in Johannesburg bevind het dat die MRK ‘n verkeerde bevinding gemaak het oor Malema se haatspraak, en dat die MRK se bevinding in daardie verband nie bindend was nie. Trouens, die besluit impliseer dat die MRK nie bindende bevindinge kan maak nie, maar hoogstens ‘n saak kan verwys na die Gelykheidshof.

“Die HNP het al ‘n paar keer met die MRK te doen gekry, en elke keer was dit maar ‘n frustrerende oefening,” sê mnr. Van Graan. “Of hulle doen niks aan die saak nie, of hulle verwys dit na ‘n ander entiteit waarvan niemand ooit gehoor het en wat geen ontvangserkenning op skrywes gee nie, of hulle weet gewoon nie hoe om ‘n saak te hanteer nie,” sê mnr. Van Graan.

Die laaste keer dat die HNP ‘n saak na die MRK verwys het, was in Augustus verlede jaar toe die voorsitter van die HNP, mnr. Peet Joubert, beswaar gemaak het by die MRK oor die beoogde naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonument in Paarl. Die MRK het laat weet dat dit by ‘n ander instansie aanhangig gemaak moet word, en sedertdien is daar nog niks verder verneem nie – byna ‘n jaar later.

Etlike jare gelede het die MRK wel onmiddellik opgetree toe die destydse hoofsekretaris van die HNP, mnr. Louis van der Schyff, ‘n kleurling verslaggewer van Beeld toegang tot die HNP se kongres geweier het, omdat slegs Blankes toegelaat is. Nietemin kon die MRK nie tot ‘n besluit kom oor wat om met mnr. Van der Schyff te doen nie, en het dié instansie se onbeholpenheid en magteloosheid reeds geblyk.

Hierdie uitspraak in die Johannesburgse hooggeregshof kan egter nog bepaalde nadraaie hê. So is die sanger, Steve Hofmeyr, ‘n boete opgelê oor hy die homoseksuele gemeenskap kwansuis sou beledig het.

Ook TLU SA is tevrede met die uitspraak, omdat die MRK so onlangs soos Mei vanjaar beslis het dat Cosatu geen haatspraak gepleeg het toe hulle beweer het dat boere hulle werkers verkrag en aanrand.

“Dit is tyd dat die Nasionale Vergadering kennis neem van en optree teen eensydige uitsprake van die MRK wat nie die regte van alle Suid-Afrikaners beskerm nie. TLU SA het daarom, in lig van die onlangse omkering van ‘n uitspraak van die MRK oor Julius Malema se haatspraak in 2016 deur die hooggeregshof, ‘n skrywe gerig aan die speaker van die parlement, president Cyril Ramaphosa en die voorsitter van die MRK, professor Bongani Majola.

“TLU SA hoop dat hierdie uitspraak ook die baan sal weg om sake wat die MRK nie as haatspraak wou ondersoek nie, hersien sal word. Die MRK het in Mei aan TLU SA gesê dat Cosatu se uitlatings dat boere moordenaars en verkragters is slegs kwetsend is en nie neerkom op ‘n menseregteskending nie,” sê mnr. Bennie van Zyl van TLU SA.

“Die MRK het in verskeie uitsprake, veral waar dit wit Afrikaners en boere aangaan, gewys dat die liggaam eerder ‘n spesifieke deologie as die menseregte van alle Suid-Afrikaners wil bevorder. Daarom verwelkom ons hierdie uitspraak wat ons sien as die begin van die ontmaskering van die MRK,” sê mnr. Van Zyl.

In die skrywe het TLU SA versoek dat die uitsprake van die MRK wat Suid-Afrikaners as onregverdig beskou aan ʼn tribunaal voorgelê word vir hersiening. TLU SA beveel verder aan dat die liggaam se kommissarisse afgedank word en die terugbetaal van salarisse oorweeg word.

“In terme van Malema sal ons graag wil sien dat die haatdraende uitsprake wat nou op haatspraak neerkom hom ‘n misdaadrekord besorg sodat hy nie meer as ‘n parlementslid kan dien nie,” sê mnr. Van Zyl. “Julius Malema doen, sedert hy die eerste keer ‘n openbare spreekbeurt gekry het, onherstelbare skade aan vertroue in die land. Onder die beskerming van die MRK het hy moord en geweld aangehits sonder enige gevolge. Dit is tyd dat hy daarvoor aangevat word,” meen mnr. van Zyl.

Mnr. Van Graan sê dat die MRK die belastingbetalers hope geld kos, en hulle net frustreer met hulle openlik anti-blanke uitsprake en bevindings (wat nou onwettig blyk te wees). “Selde word ‘n swart persoon of instelling aangevat oor hulle rassisme, terwyl blankes al skuldig is nog voordat ‘n saak behoorlik ondersoek is. Daarom kan die land baie geld spaar en sal daar minder frustrasies wees as hierdie ‘His Masters’ Voice’ van die toneel verdwyn,” sê mnr. Van Graan