Mnr H F van der Schyff Die Afrikaner 21 Julie 2023
Ons gaan hierdie keer verder met mnr. Jaap Marais se toespraak waar hy oor nasionalisme praat:
“Kulturele” identiteit
“Die tweede element van nasionalisme is die kulturele identiteit, die onderskeiding van hierdie volk deur sy taal, en sy kultuur, waarvan die handhawing hom onderskei van ander volke, en wat weens ingebore gebondenheid aan wat hy is en wat hy het, hom die dryfkrag gee om dit te behou.
“Die ander element van die nasionalisme is die geskiedenis. Ons is die verlengstuk van ons verlede. En die geskiedenis is die geheue van ‘n volk. As gevolg van die geskiedenis weet ons waarvandaan ons kom en kan die geskiedenis gebruik word as ‘n kompas vir die pad vorentoe. Maar die geskiedenis lewer ook ‘n volk se heldedom wat in tye van krisis ‘n bron van begeestering is.
“Wat die geskiedenis betref, moet ons nie net dink aan die geskiedenis wat ver terug lê nie, maar ook aan die geskiedenis van naby en van ons eie tyd: die tyd van Hans Strijdom en Hendrik Verwoerd byvoorbeeld. Daardie manne het van die dertiger tot die sestigerjare nie met die wapen geveg nie. Maar met toewyding en opoffering en gebondenheid aan hulle volk se reg en strewe na vryheid, het hulle net so ‘n heldestryd gevoer as wat die Boeregeneraals in die Engelse oorlog gevoer het. En hulle verdien dieselfde heldeverering. Die aard van hulle stryd toon parallelle met dié van ons eie tyd.
“Ons sal moet besef dat die stryd al meer in Suid-Afrika ‘n stryd sal word tussen nasionalisme en kommunisme. Dit is een van die mees voorspelbare dinge waarop ‘n mens jou verwagtings kan stel. Die nasionalisme erken volksgrense. Jy kan net jouself wees en vry wees binne jou eie begrenste volk. En binne jou volk kan jy “menseregte” geniet. Maar sodra jy buite jou volk en oor ras- en volksgrense heen “menseregte” erken, begin die verval van alle waardes. Daar kan geen gemeenskaplike standaarde wees wanneer jy oor die rasse-grense beweeg nie.
“Die nasionalisme is niks as dit nie die erkenning is van jou reg op voorkeur vir jou eie nie. Jy skuld aan niemand ‘n verskoning of verduideliking dat jy voorkeur het vir jou eie nie: of dit jou gesin, of jou eiendom, of jou volk, of jou kerk, of jou land, of ras is. Dit is jou mees basiese reg: die reg op voorkeur vir jou eie. En waar hierdie dinge van die nasionalisme gesê is, is dit ook waar, soos een van die skrywers oor genl. De Gaulle gesê het — De Gaulle, wat waarskynlik in Europa die mees uitstaande nasionalistiese figuur van ná die Tweede Wêreldoorlog is. Hy sê dat De Gaulle se natuurlike impuls was nie net om nee te sê nie, maar dat hy op sy gemak was alleen wanneer hy nee gesê het.
“Die nasionalisme moet die vermoë hê om nee te sê vir die vreemde, vir die aantasting van ‘n volk se wortels, vir die versperring van sy strewe. As ‘n volk dié vermoë verloor, het hy klaar sy eie aard verloën en word hy die prooi van sy vyande.” Volgens mnr. Jaap Marais.
As mens hierdie stuk mooi lees, sal mens sien dat jy nie aan die ANC-bestel moet deelneem nie. As jy dit doen verval die standaarde om jou. Ons beleef dit reeds daagliks. Niks werk meer daar waar die staat betrokke is nie. Daar is sekere dinge wat volgens wet afgedwing word en waarby ons nie verby kan kom nie. Die heel eerste stap wat ons moet doen, is om te onttrek van die ANC se verkiesings. As ons Blankes van voor 1990 af saam gestaan het, nie noodwendig in een party nie, maar wel as ‘n groep wat teen FW de Klerk se weggee aan die ANC was, sou die ANC nie al die onderdrukkende wette wat die Blanke teiken, kon uitvoer nie. Maar nou stem mense vir bont partye en ignoreer hulle volk se geskiedenis. Hulle wens die volksvreemdes geluk as hulle byvoorbeeld by die VF++ aansluit. Wat het van dié deel van ons volk se nasionalisme geword? Wat moet gedoen word? Moet ons julle ook uitwerk uit ons organisasies en selfs as vriende verwerp? Onttrek julle van die ANC se verkiesings! Kom bymekaar en wys die wêreld ons is nie tevrede met Dié wat hulle gehelp het met wat nou in Suid-Afrika aangaan nie. Daar is heelwat nasionalistiese Groepe in ons land. Ons hoef nie saam te smelt nie, maar ons kan saamwerk aan sekere projekte.