Woorde het betekenis en gevolge.
Daar was onlangs ‘n bespreking oor die rol van sosiale media in die samelewing en dat die vlak van gesprek baie vervlak het en verskuif het van die onderwerp na die persoon. Ons sien dit daagliks hoe baie dapper, dog onbekende of naamlose sosiale media-soldate hulle wyshede kwyt raak, en dan meesal eindig in ‘n moddergooiery tussen mense, terwyl die onderwerp ter sprake dan al lankal vergete is.
Daar is ‘n groot mate van onverdraagsaamheid teenoor ander standpunte. Dis óf my standpunt, of geen standpunt, is die indruk wat ons op die sosiale media kry.
Die interessante is dat daardie sosiale-media soldate, of selfaangestelde leiers oor een of twee, dit selfs regkry om ‘n gevolg op te bou wat dikwels roekeloos met gedagtes, beskuldigings of optredes omgaan. In die verlede was dinge dalk meer georden, maar nie noodwendig na wense nie. Om jou mening te lug, moes jy gaan sit en ‘n deeglike formulasie van gedagtes op papier sit, en dan hoop dat die koerant aan wie dit gestuur is, se brieweredakteur dit wil plaas. Daardie redakteurs is ook “media-hekwagte” genoem. Hulle bestaan steeds, en is die rede waarom die HNP geen dekking in die media kry nie, selfs nie in sogenaamde volksmedia nie. As ‘n volksnasionalistiese standpunt gestel word, sal so ‘n brief selfs vandag nog nie in die sogenaamde hoofstroommedia geplaas word nie. Daar is dus begrip daarvoor dat mense gefrustreerd word omdat hulle stemme doodgeswyg word, en dan is daar ‘n oorreaksie op sosiale media.
Hierdie soort optrede gebeur aan alle kante van die politieke spektrum. Wat egter verstommend is, is dat selfs die mediahekwagte, nie kan of wil onderskei tussen nuusdekking, slim of slinkse propaganda of die aanblaas van rewolusie nie.
Wat is die rede waarom iemand soos Julius Malema by alle media ‘n gewillige oor kry, meer nog, hulle is maar te bly om sy rewolusionêre galbrakery op te dis aan mense wat geen verbintenis met hom het of wil hê nie.
Hierdie week het TLU SA sy maandelikse statistieke van plaasaanvalle en -moorde bekend gemaak. Dit sal weinig of geen aandag kry nie, want slim kenners is deurentyd besig om Malema se “Kill the Boer, kill the farmer”-dreunskree by sy bende se tiende verjaardag te ontleed.
Die grootste fout wat die media reg van die begin af gemaak het, is juis om hom ruimte in die media te gee. Sy woorde en opswepery kon beperk gebly het tot sy rooipetbrigade in die stadion, maar nou weergalm sy rewolusionêre opswepery tot ver buite daardie kring, en is die media instrumenteel daarin om sy rewolusie en sy oproep om boere te vermoor, verder te dra.
Woorde het betekenis. Malema se “verweer” is dat hy nie bedoel dat Wittes of boere vermoor moet word nie. Dit beteken niks solank hy voortgaan om daardie moorde uit te brul nie.
Dit is natuurlik moeilik om ‘n direkte verband tussen woorde en gebeure te trek. Tog gaan ons enkele feite op die tafel sit.
Nadat FW de Klerk aan die begin van 1990 die deure van die tronke oopgemaak het om terroriste, kommuniste en ander vyande van die staat, en veral die Afrikaner, vry te laat en in te nooi in die stabiele politieke landskap, het die spreekwoordelike sluise van die hel oopgegaan. Daardie selfde jaar is 16 mense op plase vermoor – 10 blanke boere, 5 blanke gesinslede en 1 swart plaaswerker. So het dié syfers gegroei. Die ANC het nie die gewapende stryd laat vaar nie, telkens as hulle by die Kodesa-onderhandelings nie hulle sin gekry het nie en onttrek het, met ‘n Malema soort ywer verklaar dat die rewolusie voortgaan. So neem plaasmoorde toe tot 55 in 1991; 60 in 1992; 77 in 1993, tot ‘n rekord hoogte van 119 in 2002.
Die ANC het nooit gesê vermoor die boere nie, alhoewel hulle jeugleier wat later aan Vigs dood is, Peter Mokaba, het die slagspreuk “Kill the Farmer, kill the Boer” uitgedink. Hy was tot sy dood in 2002 in die ANC-regering. Dié slagspreuk het toe beslis ‘n invloed gehad, en as Malema dit nou uiter, gaan dit dieselfde invloed hê.
Die statistiek wat TLU SA vrygestel het, vertel daardie verhaal: in 2002 is 43 mense op plase vermoor, waarvan 22 wit boere was, 7 blanke familielede, 1 swart boer, 2 swart familielede. Vir die eerste sewe maande van 2023, is 34 mense op plase vermoor, waaronder 18 blanke boere, 9 blanke familielede, geen swart boere nie en een familielid van ‘n swart boer.
As hierdie statistiek geprojekteer moet word op die oorblywende deel van die jaar, sou dit beteken dat die moorde van net meer as 3 per maand in 2022, gestyg het tot byna 5 per maand, wat beteken dat ons teen einde Desember soveel as 58 sterftes kan sien – dus weer ‘n styging.
As gekyk word na die syfers vir plaasaanvalle, is dit duidelik dat die plase slagvelde geword het. Van 166 aanvalle in 2022 (byna 14 per maand) tot 103 vir die eerste sewe maande van vanjaar (byna 15 per maand), wat kan beteken dat teen dié tempo, daar teen die einde van die jaar sowat 177 aanvalle sal plaasvind.
‘n Reeds rewolusionêre omgewing, met ‘n wetstoepassing van nul of minder (soos waar polisie deel is van misdaad), hoef uitsprake soos dié van Malema nie veel meer aanmoediging te kry om hierdie statistiek nog verder in die rooi te druk. En die media doen heerlik daaraan mee, want dit is lekker sensasie, en Malema kry gratis publisiteit. So is die situasie dus nou bereik dat sedert 1990 daar 2 247 plaasmoorde plaasgevind het in 6 278 (gerapporteerde) aanvalle. En net om die linkse stelling dat “swart boere ook slagoffers is”, in perspektief te stel: hiervan was 1 335 blanke boere, 87 swart boere, 521 blanke familielede, 53 swart familielede, 36 blanke werkers, 178 swart werkers, 30 blanke besoekers en 7 swart besoekers.
Die swart landbou-organisasies soos Nafu en Afasa, roem daarop dat hulle etlike honderde duisende swart boere verteenwoordig, terwyl die tradisionele blanke landbou-unies praat van 30 000 kommersiële (hoofsaaklik blanke) boere.
Dan is Elon Musk heeltemal reg om te praat van ‘n volksmoord op die blanke boere. Die syfers beaam dit. En woorde soos dié van Malema het betekenis, en gaan beslis gevolge inhou. Boere, Boerevolk, wees paraat. Die aanslag is teen ons en verhewig daagliks.
Die Afrikaner 4 Augustus 2023