Die Reakteur van Die Afrikaner: 18 Augustus 2023

Die sogenaamde Veelpartyhandves het die lig gesien, en in sekere kringe is daar ‘n optimisme dat dit die einde van ‘n ANCregering kan beteken in 2024.

Wat vir ons van belang is, is die teenwoordigheid van die DA en die VF Plus in daardie veelparty en veelrassige “handves”, aangesien hulle oor die algemeen die stemmende Blanke of Afrikaner trek.

Hierdie koalisiegesprek het gevolg op ‘n inisiatief van die omstrede ANC-adjunkpresident, Paul Mashatile, wat ook ‘n beraad gehou het waar besin is oor ‘n soort gereguleerde raamwerk vir moontlike koalisies. Dit is in ‘n poging om ‘n mate van orde te skep nadat die koalisies in verskeie metrorade redelik chaoties was, veral as gevolg van die wispelturigheid en omkoopbaarheid van die kleiner opposisiepartye.

In die Mashatile-gesprek het die ANC en die DA saamgestem dat daar ‘n kiesdrempel moet wees. Dit sou beteken dat as ‘n party minder as byvoorbeeld een persent van die stemme kry, daardie stemme na die groter partye sal gaan. Oor dié voorstel het die DA saamgestem met die ANC, want dit gaan die groter partye bevoordeel, omdat hulle in wese die stemme van die kleiner partye gaan steel. Die VF Plus het hom aan die kant van kleiner partye gestem en gesê hulle steun dit nie.

‘n Week later is hierdie twee weer in ‘n koalisiegesprek, maar met die bedoeling om saam te werk. ‘n Rukkie gelede het die twee partye ook redelik heftig van mekaar verskil toe die VF Plus se kleurlinglid in die Kaapse Wetgewer, Peter Marais, ‘n wetsontwerp vir selfstandigheid vir “die Kaapse gemeenskap” ter tafel gelê het, en die DA nie daarmee geneë was nie. Dit is dus duidelik dat dié twee partye redelik gereeld koppe stamp met mekaar.

Nou het hulle knus in die Veelpartyhandves-bed geklim, met die volgende ooreengekome regeringsbeginsels wat deur almal erken word:

= Die gesag van die Suid-Afrikaanse Grondwet, die oppergesag van die reg en gelykheid voor die reg;

= dat mag tot op die laagste vlak van regering gedesentraliseer word; verantwoordbare, deursigtige regering sonder enige verdraagsaamheid wat korrupsie betref;

= ‘n bekwame regering wat staatsgeld doeltreffend bestee om gehaltedienste aan almal te lewer;

= ‘n regering wat omgee en sy mense eerste stel en die armes prioritiseer;

= ‘n vryemarkekonomie;

= die herstel van die onregverdighede van die verlede deur nierassigheid en eenheid in diversiteit te bevorder.

Die gesamentlike gedienstigheid aan die SA Grondwet, beteken dat die Afrikaner se eis en strewe na selfbeskikking of vryheid in sy eie staat effektief nek-om gedraai word. Immers: Aie Aanhef van dié dokument begin met: “Ons, die mense van Suid-Afrika, erken die ongeregtighede van die verlede; huldig diegene wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het…” Net daarna in artikel 1 staan dit: “Die Republiek van Suid-Afrika is een, soewereine staat…” Dus die onverdeelde of onverdeelbare eenheidstaat waarin almal gelyk is. As almal dan gelyk is, waarom sal daar dan vir bepaalde groepe, volke of selfs gemeenskappe besondere maatreëls aanvaar word? Dit druis in teen die gees van die SA Grondwet. Om dus dié dokument sodanig te verhef, terwyl ons weet dat dit ‘n dokument is wat vir die Afrikaner niks beteken nie, is ‘n verdere verknegting van die Afrikaner in ‘n reeds uitgewerkte en algemeen aanvaarde bestel.

‘n Regering wat “omgee vir al sy mense en die armes prioritiseer” is gewone ANC-beleid wat ingevoeg word om sogenaamde arm stemme te trek. Om armes te prioritiseer, beteken om maar net weer aalmoese en toelaes uit te deel, en minimumlone te reguleer terwyl kwalifikasies en produksie nie in ag geneem word nie. Die ekonoom Dawie Roodt, het onlangs die stelling gemaak dat daar nie werk geskep moet word nie. Die ekonomie moet gestimuleer en gebou word, dan sal werk vanself gebeur. Die wat dan wil werk, sal werk. Baie is egter arm omdat hulle dit so verkies.

En dan natuurlik die kersie op die koek, wat in wese ‘n dinamietstafie is wat gaan ontplof as hy aangesteek word: “Die herstel van die onregverdighede van die verlede deur nierassigheid en eenheid in diversiteit te bevorder”

Daar is teen hierdie tyd tog geen twyfel meer oor wat met hierdie sinsnede, wat ook in die Aanhef van die SA Grondwet staan, bedoel word nie: die blanke regerings voor 1994 was ‘n klomp skurke wat uit die geskiedenis geskryf moet word, wie se intensies verdraai moet word en wie se prestasies ontken moet word.

Hoe kan enige Afrikaner met selfrespek en wat sy geskiedenis ken, hom verbind tot so ‘n stelling? Die suikerlagie van “eenheid in diversiteit” is niksseggend, want die een deel van die “diversiteit” was dan verantwoordelik vir die “onregverdighede van die verlede” en moet daarvoor gestraf word, tot in die laaste nageslag! Daardie eenheid is dus om dié rede alleen onhaalbaar.

As al die partye wat by die Veelpartyhandves betrokke is, oor hierdie grondbeginsels saamstem, wat onderskei hulle dan van mekaar? Waarom sal ‘n Afrikaner dan vir die VF Plus stem as dié in wese dieselfde strewes huldig soos hier uiteengesit, as die DA. Dit kom daarop neer dat die stem vir een party, ‘n stem vir enige van die partye impliseer.

Die DA was aanvanklik die DP. Die Demokratiese Party het tot stand gekom uit die kader van Frederick van Zyl-Slabbert se linkse Progressiewe Federale Party (PFP) en ander linkse partye wat eerste met die ANC gaan heul het. Die DP het toe ‘n losse alliansie gevorm met ander partye, soos Kortbroek van Schalkwyk se NNP (voordat hy weer onttrek het en boedel oorgegee het aan die ANC), die gestorwe party van Louis Luyt en andere. Hierdie alliansie het uiteindelik die ander partye ingesluk en die DA het die party geword, want almal het saamgestem oor die beginsels van die alliansie.

Hier gebeur dieselfde weer. Dit gaan nie lank duur nie of die deelnemers aan hierdie Veelpartyhandves gaan ingesuig word in die DA. Dalk word die nuwe party se naam sommer die Veelpartyhandves, en dan het die linkses weer die situasie gekaap. Tensy daar die politieke moed en wil sou wees om uit die ding te tree en weg te stap op ‘n suiwer beginselbasis. Dit gaan egter moeilik wees, want om eers daardie beginsels te verdwerg in so ‘n veelrassige struktuur sonder beginsels, net om dit later weer met groot fanfare uit te haal, skep op sigself ‘n geloofwaardigheidskrisis.

Enige stem dus vir enige party in dié Veelpartyhandves, is ‘n stem wat ons Afrikaners in die beskuldigdebank gaan hou omrede die “ongeregtighede van die verlede”, wat van alle waarheid ontbloot is en ‘n kommunisties-rewolusionêre propagandaslagspreuk van die ANC, SAKP en hulle meelopers is. Om vir enige party wat deel is van daardie koalisie te stem, is om ‘n streep deur ons geskiedenis te trek, om ons Boere of Afrikanerheldedom te verloën en om enige strewe na ‘n vrye Afrikanervolk, te begrawe in die onverdeelbare eenheidstaat met sy grondwet, waarvan prof. Koos Malan al by herhaling gesê het ‘n grondwet is sonder gewaarborgde waarborge, spesifiek vir die Afrikaner.

Om enige steun te gee aan hierdie koalisie wat die onregverdighede van die verlede erken, beteken om goedkeuring te gee aan die onregverdighede van die toekoms wat al begin het en nie gaan ophou nie, waaronder ons kinders, kleinkinders en ongebore nageslag dan die bitter gevolge sal moet dra.