H F van der Schyff: Die Afrikaner 18 Augustus 2023

Ek gaan hierdie week verder mnr. Jaap Marais se toespraak: “Verdeeldheid en wat moet gedoen word”

Hy sê “Nou is die vraag: wat gaan die Afrikaner doen? Ons is almal bekommerd oor die verdeeldheid in ons volk. Vroeër was ons ook verdeeld, en ondanks die verdeeldheid na 1902 het ons uiteindelik weer ons vryheid gekry. As ons moet soek na ‘n verklaring, dan is dit omdat ‘n deel van die Afrikaners, ‘n minderheid van die Afrikaners, hulle gestel het op die regte beginsels en die regte waardes. En dit het ‘n magnetiese sentrum geword wat mense aangetrek en gebind en begeester het, en wat hulle eindelik weer tot vryheid gevoer het. Daar is geen ander vertolking nie as dat ondanks die verdeeldheid wat daar was, ons hierom kon slaag om weer ons vryheid te kry. Dit het nie vanself gekom nie; dit het harde stryd gekos, moed, durf, volharding. Maar die oorwinning is behaal. En nou is daar weer groot aandrang op eenheid. Dit kom van verskeie oorde en waarskynlik uit verskillende oorwegings.

“Vanuit die Broerderbond-gesindes is daar die aandrang op ‘n eenheid, ‘n eenheid wat ook ‘Afrikaanses’ moet insluit — nie meer net die Afrikaners nie. Die ‘Afrikaanses’ moet almal wees wat Afrikaans gebruik, nie as ‘n volkseie onderskeiding nie, maar net as ‘n gebruiksmiddel. Dit is ‘n verskuilde resep om ‘n veelrassige samelewing te bevorder in naam van die Afrikaanse taal.

“Laat daar aan een ding geen twyfel wees nie: Afrikaner-eenheid waarna gesoek word, is politieke eenheid. Hierdie verbrokkeldheid op kerklike en kulturele gebied spruit alles uit die politieke verbrokkeling wat ingetree het na die sluipmoord op dr. Verwoerd. Ons as Afrikaners is ‘n moeilike definieerbare eenheid, maar tog ‘n eenheid bo-oor die kerklike en kulturele en politieke grense. Maar die versugting wat daar is na eenheid, is na politieke eenheid, ten einde weer ‘n mag te wees. En u sal besef dat net soos na die Engelse oorlog, Smuts en Botha teenoor Hertzog en De Wet, heeltemal onversoenbaar was, net so is daar vandag die liberaliste wat die ‘Nasionale’ Party beheer het en nie te versoen met nasionalisme is nie.”

Ons kan in vandag se politiek sien hoe daar na ‘n oplossing, vry van ANC oorheersing, gesoek word. Nou word gewone Afrikaners gelok om partye te ondersteun met die belofte dat dié deurmekaarspul wel die ANC en EFF by die stembus kan verslaan. Wat hulle nie wil raaksien nie, is dat hulle steeds onder ander swart partye sal moet buig. Hulle het hul basis as Afrikaners verwerp en wil nou met ander rasgemengde groepe saamwerk. Hulle besef nie dat hulle hul kinders grootmaak in ‘n bontspul waar die kinders nie sal leer van hul geskiedenis, hul heldedom en die waarde om afsonderlik van ander groepe groot te word nie.

Daar is nie ‘n maklike oplossing om weer vry te wees nie. Om egter as Afrikaners saam te werk kan ons ons vryheidstrewe wakker hou. En om ons strewe wakker te hou, sal uiteindelik tog ‘n oplossing kom waar ons weer in ons vrye gebied oor onsself sal kan regeer.

Hou aan om ons boodskap uit te dra, want as ons aanhou, is ons vryheid een dag nader.