Die Redakteur Die Afrikaner 22 September 2023

Die dood van die 95-jarige Mangosuthu (voorheen Gatsha genoem) Buthelezi, het alweer gelei tot ’n twis in Afrikanergeledere.

Skielik is daar ‘n stortvloed van eerbetone en huldeblyke, ook uit Afrikanergeledere, aan dié man wat nie altyd so Afrikanervriendelik was nie.

Wat waarskynlik die toppunt van onsensitiwiteit was, was die feit dat die Voortrekkermonument, wat onder die nuwe bestuur baie trots daarop is dat “Ons Plek” nou ook gebruik is vir ‘n eerbetoon aan Buthelezi deurdat ‘n gedenkdiens daar gehou is. Skynbaar was die aanvanklike beplanning om dit in die senotaafsaal te hou, maar daar is van dié plan afgesien nadat die protes vanuit Afrikanerkringe rugbaar geword het. Dit is toe verskuif na die ou restourant, net langsaan waar die museum voorheen was.

Dit maak in wese nie saak waar dit gehou is nie, dit bly onvanpas.

Die Voortrekkermonument beeld juis die konflik tussen Boer en Zoeloe uit, wat uiteindelik uitgeloop het op die Slag van Bloedrivier, wat gevolg het op die Gelofte wat die Boere aan God gegee het dat as Hy die vyand in die Boere se hand sal gee, daar ‘n tempel tot Sy eer opgerig sal word, en dat die dag en datum altyd as ‘n dankdag gehou sal word om die eer aan Hom te gee. Dit is wat die Voortrekkermonument uitbeeld, en daarom dat ook juis op 16 Desember van elke jaar ’n sonstraal op die senotaaf deur die dak van die Monument skyn. Dit is dus ‘n monument waarin die Gelofte sentraal staan. Dit was ‘n Gelofte van die Boere aan God, en waar die Zoeloes
die vyand was wat die blanke Boere wou uitwis.

Om dan ‘n Zoeloeleier op dié terrein te vereer, terwyl nog geen Afrikanerleier op dié wyse op dié terrein vereer is nie, is bloot onsensitief, en ruik na politieke kruipery, en wat ‘n streep trek deur “Ons Plek”.

Die Zoeloes was nooit werklik vriende van die Afrikaners nie, nie by Weenen en Bloukrans nie, nie by Bloedrivier nie, nie by Kodesa nie, nie in die presidensie nie, en bepaald ook nie by die huidige Zoeloe-minister van polisie nie.

Buthelezi was geen politieke engel nie. As hy nie in sy verlede dieselfde verkeerde besluite as Shaka en Dingaan geneem het nie, kon die land anders daaruit gesien het. Hy het sy politieke opleiding in sy jeugdige jare by die ANC gehad. Toe die ANC verban is, het hy sy eie koers ingeslaan, met steeds noue bande met die ANC. So het hy op aandrang van die ANC nooit as hoofman van Zoeloeland dié gebied onafhanklik laat word soos Transkei nie. Die ANC wou daardeur die tuislandbeleid kelder, en Buthelezi was maar te gewillig om die ANC daarin te steun.

Daar was nooit werklike fundamentele beginselverskille tussen Buthelezi en sy latere IVP nie. Dit was uiteindelik maar ‘n magstryd tussen die Zoeloes in die IVP en die Xhosas in die ANC. Die feit dat Buthelezi in sy jonger jare aktief in die ANC was, het die Zoeloes laat opsien na die “prins” en hom gevolg daarheen. Sy latere vertrek daaruit was vir baie Zoeloes onverklaarbaar, omdat die twee partye nie werklike fundamentele verskille gehad het nie. Daarom het so baie Zoeloes in die ANC agtergebly.

Toe dit by die verraderlike onderhandelings van FW de Klerk met die ANC duidelik word dat dit maar net ‘n tweespraak is tussen die NP en die ANC, en dat Buthelezi en sy IVP nie daar ‘n rol sou speel nie, het hy hom aan Cosag se kant geskaar – ‘n groepering van die KP en enkele tuislandleiers, wat op daardie stadium almal plegtig belowe het om nie aan die 1994-verkiesing deel te neem nie. Uiteindelik het die onbetroubaarheid van Dingaan vroeër ook hier in Buthelezi gemanifesteer, en het hy wel aan die verkiesing deelgeneem.

As Buthelezi in die eerste plek Zoeloeland onafhanklik sou laat word het soos Transkei, Ciskei en Bophuthatswana, sou die oorgawe aan die ANC waarskynlik nie kon plaasgevind het nie. Maar daar het hy in die ANC se hand gespeel. As hy daarna by Cosag sy onderneming gestand gedoen het, sou die verkiesing nie plaasgevind het nie, en sou die bedeling met sy gemors waarin ons nou sit, nie ontstaan het nie.

Hy is deur Mandela beloon met ‘n ministerspos, en hy het talle kere as staatspresident waargeneem as Mandela en sy Klerk, saam met Mbeki, hulle oorwinning oor die Afrikaner in die buiteland gaan vier het. As leier van ‘n opposisieparty het hy nie werklik indruk gemaak nie, want hy en die ANC het te naby aan mekaar gebly, behalwe in die tyd voor die 1994-verkiesing toe daar oorlog in Natal was om die Zoeloesteun te kry. Dit het om mag gegaan en nie beginsels nie.

Om so ‘n politieke figuur by “Ons Plek” te gaan vereer, is onsensitief. Eintlik ‘n belediging vir die Afrikaner.

Waar ons aanvanklik versigtig optimisties was oor die nuwe rigting wat die Monument ingeslaan het onder nuwe bestuur na die bestuurstyd van genl. Gert Opperman, met wie verskeie Afrikanerorganisasies dikwels gebots het om soortgelyke redes, is ons nou bevrees dat ‘n valse politieke gedienstigheid, en ‘n onnatuurlike strewe na versoening met dié mense wat ons Boere voorgeslagte uitgemoor en babas teen wawiele doodgeslaan het, ons weer eens met vrae laat oor of dit wel die langtermyn regte bestuur is, ten spyte van wat hulle al wel verbeter het daar. Ons sal hulle toekomstige dade fyn dophou.