H van der Schyff Die Afrikaner 06 Oktober 2023
Ons volg op wat mnr. Jaap Marais verder in sy toespraak gesê het. Hy volg op met die baie belangrike gedagte:
“WIE IS DIE VYAND?
“Ons sal moet besef dat as ons eenheid wil hê, ons ook die keuse van die vyand duidelik moet hê. Op die oomblik is dit ‘n groot vaagheid. Wie is ons vyand? ‘n Mens moet in die onmiddellike omstandighede veg teen die verloopte Afrikaners. Jy moet veg teen die buitelandse inmenging: teen die finansiële imperialiste, en teen hierdie regering wat vandag feitlik net ‘n apologie vir regering is en verwoesting en verwildering laat toeneem. Maar ons sal moet besef dat die werklike vyand die Kommunisme is wat agter dié regering opereer en ook skuil agter die liberaliste.
“Die Kommuniste is die beweging wat Swartes gebruik teen Afrikaner-nasionalisme. As ons die fokus van vyandskap daar vestig, het ons onmiddellik ook aan die teenkant die versekering van Afrikaner-nasionalisme, met beklemtoning van al die fasette daarvan — taal, kultuur, geskiedenis, vaderland — maar tegelyk ook op die Nieblanke groepe se potensiaal van ‘n versterkte gevoel van onderskeidende identiteit om hulle te verset teen die oorheersing van die Kommuniste.
“Dit is sinvol dat by so ‘n bespreking mense rekenskap gee van wat die verwagtings is in die toekoms en wat vir ons voorlê.
“Daar is natuurlik korttermyn-ontwikkelings, mediumtermyn en langtermyn. Dit is moeilik om ‘n grens te trek tussen korttermyn, mediumtermyn en langtermyn. Maar oor die korttermyn kan u aanneem die land en die samelewing gaan beheers word deur misdaad. Misdaad gaan nie afneem nie, want die respek vir gesag en wet en orde het verval. En in ‘n bevolking waar grense afgebreek word en mense nie meer deur sterk sosiale bande gebind word nie, ken mense mekaar al minder en word die sosiale afkeer van misdaad al meer uitgeskakel. Namate die misdaad toeneem, sal dit waarskynlik lei tot ‘n al hewiger soort oorlog in Suid-Afrika bo-oor die etniese grense, maar ook tot versameling van mense wat hulleself sal moet beskerm. Die Readers Digest het reeds bevind dat Suid-Afrika die moorddadigste land in die wêreld is. Die Star het onlangs gerapporteer: een Voertuig word elke 54 minute gekaap. Een moord elke 30 minute. Een verkragting elke 28 minute. Een rooftog elke 6 minute. Een motorvoertuig gesteel elke 6 minute. Een diefstal uit ‘n voertuig elke 3 minute. Een huisbraak elke twee minute. Dus, u kan sien wet en orde het heeltemal verval.
“Hierdie regering is nie in staat om mense se eiendom en lewens te beskerm nie.
“Naas die misdaad en wat die nouste verband daarmee hou, is die ekonomiese toestand. Daar is geen manier waarop die ekonomie deur die regering reggeruk kan word nie.
“Net in een jaar, 1994 tot 1995, het die staatskuld gestyg van R192 miljard tot R245 miljard. Die staatskuld en die rente daarop word net al groter en groter.
“Die parlement kan dikwels nie fungeer nie, en raadgewers van buite is aangestel om te gaan help. Maar wat gaan aan in die land? Daar is prakties geen regering nie, want sonder enige regering sou die land waarskynlik beter daaraan toe gewees het as met dié een. So, op die korttermyn kan ‘n mens verwag dat effektiwiteit sal daal en die ekonomiese toestand en misdaad sal vererger. Érens sal dit ‘n breekpunt bereik. Jy kan nie met so ‘n beleid in so ‘n toestand aangaan sonder dat dit by ‘n breekpunt kom nie.”
Waarvan ons deeglik kennis moet neem is dat mnr. Marais hierdie toespraak reeds in Desember 1995 gehou het. Toe was ons nog nie eers bewus van al die korrupsie, staatskapery en van algehele finansiële wanbeheer by staatsondernemings soos, Denel, SAL, Sanral, die poskantoor, vernietiging van ons eens goeie treinstelsel, banke wat verval, waterwerke wat nie in stand gehou word nie, Eskom wat volgens mnr. De Ruyter, R1 miljard weens diefstal, sabotasie en korrupsie per maand verloor. Die HNP sal mnr. Marais se leiding weer moet optel en ons vyand identifiseer, en dan die vyand soos ‘n vyand hanteer, en nie probeer om sy welwillendheid te wen deur kruipery nie. Ek weet daar is ‘n hele lys vyande, maar ons moet hulle identifiseer en bepaal wie en hoe ons hulle kan beveg.