Redakteur Die Afrikaner 20 Oktober 2023

“Alles waaraan die ANC raak, maak hulle ‘n gemors van as gevolg van wanaanwending van fondse. Die staatsamptenare se pensioenfonds is nou volgende. Om ons mense te beskerm, is dit nodig dat ons ‘n ekonomie binne ‘n ekonomie vestig, soos die Jode dit gedoen het.”

Dit was die reaksie van mnr. Hannes Scholtz, besturende direkteur van die volkseie Oranjekas Spaar en Krediet Ko-op Bpk, nadat die staatsamptenarepensioenfonds (GEPF) radikale transformasie aangekondig het, wat die vrees laat ontstaan dat die pensioenfonds vir die verkeerde redes uitgeput kan raak.

“Ons geld moet so lank as moontlik binne onsself en ons eie strukture sirkuleer. Ons moet finansieel oorleef, en in die proses mekaar ondersteun, tot ons in ‘n vryheidsbedeling kan uitkom,” is mnr. Scholtz se oplossing teen hierdie soort aksies,

Dondo Mogajane, voormalige grootkop by tesourie en deesdae voorsitter van die GEPF, het die GEPF se transformasiebeleid amptelik bekendgestel, wat, soos hy dit stel, “’n waterskeidingsskuif vir ekonomiese transformasie in Suid-Afrika aandui.” Hierdie beleid, wat by die GEPF se jaarlikse leierskapskonferensie in Kaapstad onthul is, “sal die volle gewig van Afrika se grootste pensioenfonds agter die bevordering van sosio-ekonomiese ontwikkeling en die aanspreek van historiese ongelykhede binne die land en die finansiële sektor gooi.”

Mogajane het ‘n beroep op die finansiële dienstebedryf gedoen om te herbesin oor die manier waarop hy belê en “saam te werk om ‘n meer regverdige en inklusiewe finansiële sektor te skep.” Dit beteken dat hy die finansiële sektor in wese vra om finansiële selfmoord te pleeg.

As Suid-Afrika se grootste belegger met R2,3 triljoen se bates onder bestuur, het hy die GEPF se vasberade verbintenis uitgelig “om sosio-ekonomiese verandering binne die plaaslike finansiële landskap aan te dryf deur huidige en voornemende beleggings strategies te benut, gelei deur dié transformasiebeleid.”

“Omdat ons Suid-Afrika se grootste belegger is, verstaan ons die belangrike rol wat ons kan speel om Suid-Afrika se sosio-ekonomiese wanbalanse aan te spreek deur transformasie, ekonomiese groei, werkskepping en positiewe omgewingsuitkomste te ondersteun en te fasiliteer,” het hy gesê.

“Die Transformasiebeleid sal gebruik word om beleggings te rig wat sosio-ekonomiese transformasie sal bevorder, deur spesifieke impakareas te identifiseer wat geteiken sal word om ons doelwitte te verwesenlik.”

Die vier sleutelareas wat deur die Transformasiebeleid
geïdentifiseer is, sluit in:

Transformasie op bedryfsvlak: Die GEPF is daartoe verbind om aktief te belê in opbrengssoekende, gesonde beleggings wat die transformasie van die finansiëledienstesektor ondersteun. Hierdie beleggings behoort die groei van batebestuurders in swart besit, private-ekwiteitfondsbestuurders, vasteinkomstebatebestuurders, ouditfirmas, aktuarisse en ander relevante opkomende finansiële diensverskaffers binne die sektor aan te moedig.

Ekonomiese transformasie: Die beleid beklemtoon opbrengssoekende beleggings wat Breë-gebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBBEE) en transformasie binne die breër ekonomie bevorder, en toegang tot finansiering vir klein en mediumgrootte ondernemings in swart besit ondersteun, wat werkskepping bevorder en ekonomiese groei.

Sosio-ekonomiese transformasie: Die GEPF sal beleggings kanaliseer in bateklasse wat daarop gemik is om positiewe finansiële en maatskaplike diensuitkomste vir Suid-Afrika se voorheen benadeelde bevolkings te lewer, wat historiese ongelykhede direk aanspreek.

Omgewingsvolhoubaarheid: Met die erkenning van die belangrikheid daarvan om ESG-faktore in ag te neem wanneer beleggingsbesluite geneem word, en veral omgewingsverantwoordelikheid, is die GEPF verbind tot beleggings wat Suid-Afrika se regverdige oorgang en langtermyn-omgewingsvolhoubaarheid ondersteun. Dit moet maatreëls insluit om klimaatsverandering te versag en hernubare energie te bevorder.

Mogajane het beklemtoon dat die GEPF van voorneme is om ‘n aktiewe rol te speel om toesig te hou oor die maatskappye en projekte waarin hy belê, om te verseker dat sy beleggings in ooreenstemming met sy transformasiedoelwitte bly.

Mnr. Scholtz wys daarop dat die wanaanwending van pensioenfondse se geld tot dusver moeiliker was as die ander entiteite waarop die ANC se hande gelê het en wat hy leeg laat bloei het deur onbekwaamheid, korrupsie en blatante diefstal. “Hierdie transformasieplan maak dit egter vir hulle baie makliker. Die beleggings wat hulle gaan maak gaan nie in belang van hulle lede wees nie, en die lede gaan in die toekoms die prys betaal vir hulle ideologiese benadering. Hulle stel hul eie mense aan, en befonds dan hul eie instansies,” sê mnr. Scholtz. Hy wys daarop dat hulle eie helde-pensioenfonds reeds tot niet is, en dat dieselfde in Zimbabwe gebeur het.

“Dit is waarom ons onsself moet verskans in ‘n eie volksekonomie waaraan ons na ons eie mense eers kyk, en waar gesonde en ekonomies regverdigbare beginsels die optrede bepaal, en nie ‘n uitgediende sosialistiese ideologie nie,” sê mnr. Scholtz