Redakteur: Die Afrikaner 20 Oktober 2023

Met die oog op volgende jaar se algemene verkiesing, het die DA-leier, John Steenhuisen, die sogenaamde Moonshot pakt aangekondig, as ‘n soort samewerking van partye om gesamentlik die ANC uit die kussings te probeer lig.

Alhoewel die inisiatief van die DA deur ander opposisiepartye ondersteun is, was die Moonshot pakt-benaming nie ‘n treffer nie.

Die sewe partye wat ingekoop het in die moontlikheid om ‘n koalisie te vorm, het in Augustus byeengekom naby Kompton Park, en die Moonshot pakt is herdoop na die Veelparty Handves van Suid-Afrika. Die deelnemende partye is DA, IVP, VF Plus, Action SA, Isanco, UIM en SNP.

Verlede week het die ACDP aangekondig dat hulle ook deel daarvan wil word. Waarskynlik het hulle nie veel van ‘n keuse nie. Baie mense dink dat hierdie Veelparty Handves die oplossing vir die land kan wees, en teenstanders van die ANC sal waarskynlik nie ‘n party ondersteun wat nie deel van die Handves is nie.

Hoe die Handves uiteindelik gaan funksioneer, sal nog gesien moet word. Daar is reeds onderlinge wrywing tussen van die partye. Die VF Plus se dr. Pieter Groenewald het byvoorbeeld al ‘n kwalik bedekte belediging na John Steenhuisen van die DA gerig, toe Groenewald in die openbaar verklaar het dat ‘n wit president vir Suid-Afrika waarskynlik verkeerd is, en dat hy glo dat die IVP-leier ‘n geskikte kandidaat vir die presidentskap kan wees.

Ook in die Wes-Kaap is daar maar onenigheid. VF Plus het die CapeXit ondersteun in dié se versoek aan die DA-premiet van die Wes-Kaap, Alan Winde, om ‘n referendum te hou oor moontlike afskeiding van die Wes-Kaap. Winde het dit van die hand gewys, en uiteraard is die VF Plus “teleurgesteld” in Winde se besluit.

As na die partye wat deel is daarvan gekyk word, is dit ‘n resep vir toekomstige konflik. Weer eens: hoe gaan die Handves werk? Die partye gaan sogenaamd almal onder eie vaandel aan die verkiesing deelneem. Die vraag gaan by baie kiesers ontstaan: waarom dan vir verskillende partye stem? Waarom nie dan sommer dadelik vir die DA stem nie, want hy is die grootste, en hoe verder hulle op die Handves-pad loop, hoe minder blyk daar werklike beleidsverskille te wees.

Maar nog is het einde niet. Nog meer vreemde bedbedmaats het toegetree. ‘n Klomp organisasies van verskillende taal- en kultuurgroepe het nou die Convergence4SA gevorm. Hulle stel dit duidelik dat hulle geen politieke party is nie, maar wel die politiek in die land wil beïnvloed. Dit is amper ‘n groep soos die SAKP aan die ANC-kant. Die SAKP beïnvloed ook die politiek van die land deur die ANC te manipuleer, te dryf of selfs af te dreig. Maar die SAKP sal dit nie waag om onder eie vaandel aan die verkiesing deel te neem nie, en hulle geniet die rol agter die skerms. Convergence4SA wil skynbaar ‘n soortgelyke pad stap: beïnvloed die politiek sonder om self aanspreeklik gehou te word by ‘n stembus.

Die eerste naam wat opgeval het, was dié van dr.Theuns Eloff, een van die Dakar-gangers om met die ANC te gaan knoei toe dié nog ‘n verbode organisasie was. Later het hy as rektor PU vir CHO getransformeer na Noordwes-Universiteit, en toe word hy die uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-Stigting.

Die eerste aksie waarmee Convergence4SA hom wil besig hou, is om mense aan te moedig om te registreer vir die verkiesing en dan om inderdaad te gaan stem. Volgens Eloff is daar ongeveer 15 miljoen swart kiesers jonger as 30 wat nie geregistreer is om te gaan stem nie. “As Convergence4SA vyf miljoen van hierdie ongeregistreerde burgers kry om te stem, is dit ‘n reuse oorwinning,” het hy verklaar. Maar wat as drie miljoen van daardie jong swartes vir die EFF gaan stem, en een en ‘n half miljoen vir die ANC en die oorblywendes vir deelnemers aan die Veelparty Handves? Gaan dit dan steeds ‘n reuse oorwinning wees.

Duidelik speel hierdie groep met vuur, en hulle kan nie tot verantwoording geroep word nie, behalwe dalk deur hulle lede. En daarom is dit dalk goed om te noem watter organisasies hierby betrokke is, sodat hulle lede hulle van binne tot verantwoording kan roep.

Hulle is: Afrikaanse Taalraad, Afrikanerbond, Centre for Public Witness, Entrepreneurial Group, Ground Work Collective, Indigenous Languages Action Forum, Kaapse Forum, Khulumani Support Group, Network for a New Beginning, Neusa, NG Kerk, One South Africa Movement, Operation Watershed 2024,Oxfam, Rivonia Circle, Solidariteit Vakbond, Solidariteit Beweging, South Africa First Forum, The United South Africa Movement, Thrive Foundation, Wes-Kaapse Raad van Kerke, en Yoh Vote.

En dan sê die VF Plus by monde van dr. Corné Mulder dat hulle die totstandkoming van Convergence4SA verwelkom. Hoeveel stemme dink die VF+ gaan deur dié aksie na hulle toe kom, en kan niemand sien dat om swart kiesers te wil registreer, net die ANC en EFF gaan bevoordeel nie?

Vreemde bedmaats wat vreemde bedmaats omarm.