Van Britse verskroeide aarde na: Henk van de Graaf
Die Britte het in die Tweede Vryheidsoorlog van 1899 tot 1902 die boere se plase afgebrand en vee vermink en doodgeskiet. Dit was die sogenaamde verskroeideaardebeleid.
Sedert die oorname van die ANC in 1994, is daar ‘n gedurige afbrand van die land se historiese erfenis.
Die geweldige verwoestende veldbrande wat groot dele van die land getref het en miljarde rande se skade aangerig het in die Vrystaat, Noord-, Wesen Oos-Transvaal, Noord-Kaap en Natal, en waarin miljoene hektare weiding afgebrand is, herinner aan die Britte se verskroeideaardebeleid.
Die nuus dat die museum op Lichtenburg, waarin onder andere persoonlike besittings van genl. Koos de la Rey gehuisves was, in ligte laaie gegaan het as gevolg van brandstigting, het dit genoodsaak om ondersoek in te stel na wat reeds van die Afrikanerkultuur en blanke beskawing van Suid-Afrika vernietig is.
Dit is duidelik dat onder die ANC-bewind, nie net die aarde verskroei word nie, maar die hele land. Die Britte se verskroeideaardebeleid lyk na ‘n Sondagskoolpiekniek teenoor dit wat onder die ANC-bewind plaasvind. Die Britte het immers nie sover gegaan om pres. Paul Kruger se huis in Pretoria of die ZAR se Volksraadgebou op Kerkplein af te brand nie. Ook nie die verskillende presidensies in Bloemfontein nie.
Tans word die land se kulturele erfenis geleidelik vernietig. Kyk gerus na die tabel van bekende geboue wat ons kon opspoor wat deurgeloop het onder brande op bladsy 16 tot 18. Heel waarskynlik is hierdie lys nie volledig nie, en nooi ek lesers uit om bykomende inligting aan ons deur te stuur om dié skandlys so volledig moontlik te kry.
Ons het ander brande wat waarskynlik nie deel van opsetlike brandstigting was nie, of wat nie bepaalde historiese betekenis het nie, nie by die lys ingevoeg nie. As elke sogenaamde diensleweringbetoging, waartydens winkels of burgemeesters se huise aan die brand gesteek word, bygevoeg moet word, gaan die lys onoorsigtelik lank word.
Eweneens is daar die ander vorme van vernietiging deur brandstigting, naamlik die vragmotors op die paaie wat op gereelde basis aan die brand gesteek word, wat die verlies van goedere, voedsel en selfs lewens tot gevolg het.
Natuurlik sal die ANC-bewind ontken dat hy iets daarmee te doen het. Maar solank daar gesê word dat die boere die grond gesteel het, en daar gedurig gewys word op die sogenaamde onregte van die verlede, word die kulturele erfenis as deel van die ongeregtigheid gesien, en moet dus verwyder word.
Die ANC-regering het hieroor nog nooit enige opmerkings gemaak nie, behalwe toe hulle sagte groen stoele van die Kaapse parlementsgebou gebrand het en hulle die harde stoele van Kaapstad se stadsaal moet gebruik.
Terwyl Suid-Afrika brand, en daar niks aan gedoen kan word nie omdat brandweerdienste onder ANC-plaaslike owerhede in wese nie meer bestaan nie, speel Cyril Ramaphosa op sy sportkitaar, gaan Frankryk toe om ‘n beker omhoog te hou waarin hy geen aandeel gehad het nie.
Die Afrikaner het al etlike jare gelede ‘n volledige artikel gepubliseer oor die verval van museums in die land. Hier is ‘n stadige maar duidelike kulturele vernietigingsproses aan die gang, sodat die Afrikaner mettertyd niks meer gaan oor hê om van sy trotse geskiedenis te wys nie. Tensy ons self vinnig en drasties ingryp en red wat gered kan word.