Bespreking van Beginsels van die HNP — Grondwet vir die Boere-Afrikanervolk (1)

 

Geskryf deur mnr Andries Breytenbach, die leier van die HNP.

 

Toe die HNP op 25 Oktober 1969 tot stand gekom het, het die stigters daarvan ʼn program van beginsels aanvaar wat, soos geen politieke beweging vantevore nie, uitdrukking gee aan die wese, karakter en strewe van ons volk. Daarom kan dit tereg  voorgehou word as die grondwet vir die Boereoftewel Afrikanervolk. Dit bestaan uit vier hoofstukke, naamlik (1) die naam van die party, (2) die grondslag waarop die party gebou is, (3) die doelstellings van die party en (4) die program van beginsels wat nagestreef word om die genoemde grondslag en doelstellings in die volkslewe tot hul reg te laat kom. In die volgende uitgawes van Die Afrikaner sal elk van hierdie onderwerpe van naderby beskou en lesers uitgenooi word om aan die bespreking daarvan deel te neem.

Op daardie tydstip in ons geskiedenis (1969) was politieke partye die georganiseerde politieke instrumente waarin kiesers wat dieselfde basiese oortuigings  gehuldig het, saamgetrek en getrag het om die landsregering onder die toe geldende grondwet in ʼn verkiesing oor te neem. Merkwaardig genoeg, het die grondwet van die land glad nie na politieke partye verwys nie. Kiesers het vir candidate gestem wat die afgebakende gebied (kiesafdeling) waarin die kieser gewoon het, in die Volksraad moes verteenwoordig. Kandidate sowel as kiesers kon dus onafhanklik van enige politieke party wees en ten volle aan die demokratiese prosesse deelneem. Die praktyk het egter getoon dat onafhanklike kandidate gewoonlik maar min steun in verkiesings gekry het. Die politieke party het vanweë sy uitspelling van beleid, propaganda om sy beleid bekend te stel en ʼn organisasie wat die kiesers kon bereik en in ʼn funksionerende masjien kon saamsnoer, die aanvaarde instrument geword waardeur verkiesings in die land gevoer is. Die feit dat met unifikasie in 1910 ʼn bevolking met wyd uiteenlopende lojaliteite, beskouinge en strewes in een staatsverband saamgevoeg is wat op die Britse parlementêre stelsel geskoei was, het noodwendig so ʼn bedeling van politieke partye teweeggebring.

Die Program van Beginsels van die HNP is dus aanvanklik in 1969 opgestel vir ʼn politieke party wat die potensiaal gehad het om in ʼn verkiesing aan bewind te kom. In die huidige omstandighede is dit nie meer van toepassing nie. Derhalwe het die Hoofbestuur die Program van Beginsels hersien om dit meer vaartbelyn en toepaslik vir die huidige omstandighede te maak. Die kern en karakter daarvan het egter onaangetas gebly.

Die ongemagtigde oordrag van die politieke mag in 1994 aan die (swart) meerderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking het meegebring dat die HNP homself gedistansieer het van die nuwe regime, om van buite die nuwe bestel die stryd verder te voer vir die vryheid van die Afrikaner in ’n eie vaderland. Vandaar dat die HNP nie meer deelneem aan verkiesings nie en die slagkreet “Stem reg, bly weg!” voortdurend weer op die voorgrond plaas. Vanaf 1994 het die HNP algaande sy rol as konvensionele politieke party verbreed na dié van ’n volksfront van die Afrikaner wat op meer terreine as net dié van die politiek, na vryheid en identiteitshandhawing in ’n eie vaderland streef.

Toe die skrywer hiervan by geleentheid aan mnr. Jaap Marais gevra het hoe ʼn party kan verseker dat hy suiwer bly, dit wil sê nie geleidelik deur persone oorgeneem word wat beskouinge teenstrydig met die party se beginsels huldig en hom mettertyd laat ontspoor nie (soos wat met die Nasionale Party gebeur het), was sy antwoord: “deur voortdurend klem te lê op die party se beginsels en die uitleef daarvan. Sodoende sal persone wat hulle nie daar kan tuisvoel nie, nie daarby aansluit nie en sal mense wat dit nogtans doen, geïdentifiseer en binne die party geïsoleer word.” In dié vraag en antwoord lê die rede opgesluit vir die noodsaak van ʼn duidelik geformuleerde beginselbasis vir enige liggaam of beweging wat hom op die steun van die volk beroep. Daaraan word so ʼn liggaam geken. Daarsonder en slegs met vae emosionele slagkrete word mense maklik emosioneel op sleeptou geneem om (dalk onbedoeld) hulle steun te gee aan instansies wat iets anders in die oog het as wat sulke ondersteuners glo of wil hê. ʼn Goeie analoog daarvan vind ons in die kerklike wêreld waar ʼn groot getal kerke bestaan wat elk daarop aanspraak maak dat hulle dieselfde Bybel as grondslag het, maar wat nogtans wyd uiteenlopende vertolkings van die Skrifboodskap huldig. Die Gereformeerde kerkvaders het daarom belydenisskrifte geformuleer waarin duidelik verklaar word hóé hulle God se woord verstaan. Dit grens hulle duidelik af van kerkgenootskappe wat ander beskouinge huldig.

Ons wil daarom in die volgende uitgawes van Die Afrikaner die genoemde Program van Beginsels publiseer en dit nader toelig in die vertroue dat dit in hierdie tyd van verdeeldheid en politieke verwarring in Afrikanergeledere, ʼn basis sal skep vir groter eensgesindheid onder enersdenkende volksgenote. Al versamel almal nie onder die sambreel van die HNP nie, huldig ons tog as volk grootliks dieselfde wêreld- en lewensbeskouing, en onderskryf ons bewustelik of onbewustelik dieselfde grondslag en beginsels. Daarom stel die HNP dit as een van sy eerste doelstellings “om as politieke volksfront van die Afrikanerdom, die Afrikaner, wat dwarsdeur sy geskiedenis met groot opoffering en volharding alles in die werk gestel het om ’n eie vaderland te verkry en te behou en om ’n eie regeringsvorm op te bou om hom daardeur te vrywaar van wette en gewoontes van ander volke wat in stryd met sy gewete en nasionale gevoel is, voor te gaan en aan te spoor om die onderhawige grondslag en beginsels te handhaaf en daarvolgens op te tree.”

 

Uit Die Afrikaner van 26 Februarie 2021