Ontstaan en stigting

25 Oktober 1969. Die stigting van die HNP. Die Skilpadsaal in Pretoria was gepak. 8 000 mense het die stigtingskongres bygewoon.

Toe mnr John Vorster op 13 September 1966, na die moord op dr HF Verwoertd op 6 September van daardie jaar, as Eerste Minister aangewys is, het hy op die trappe van die parlement gesê: “My pad sal die pad van Verwoerd wees”. Vorster het egter gou ‘n ander politieke koers ingeslaan. Met dié geleidelike afdwaling van die beleid van die Nasionale Party het daar vrae ontstaan wat gevolglik
toenemende reaksie uitgelok het. Aanvanklik was dit die politici wat besef het dat Vorster ‘n nuwe koers inslaan, maar gou het die kultuurgemeenskap ook besef dat Vorster nie dieselfde politieke pad as dr Verwoerd geloop het nie. Daar het in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns polarisasie gekom. Dr Hennie Terblanche van die Vaktaalburo het teen Vorster kant gekies. Hy is
ondersteun deur die Direkteur van die Akademie, Daan Goosen en sy twee sekretarisse, Barry Botha en JS du P Potgieter. Die Christelike Kultuursaksie (CKA), die Stigting Dirkie Uys en die Nasionale Raad teen Kommunisme het by die stryd betrokke geraak. Leidende kultuurpersone wat betrokke was, was ds Jan Jooste, prof. FPD Weiss en mnr Piet Malan. Vorster het in stryd met hulle getree en met sy Heilbronse toespraak in 1968 hierdie mense finaal van hom vervreem toe hy na hulle as bogte en bobbejane en wagters op Sionsmure verwys het.

‘n Groepie jong manne van Pretoria het ‘n nie-ondertekende dokument teen Vorster versprei waarin skerp kritiek teen Vorster en die NP uitgespreek is. Die dokument het bekend geword as “die smeerbrief”. Vorster was so ontsteld en het dié brief so ernstig opgeneem dat hy die hoof van die Veiligheidspolisie, genl. Hendrik van den Berg, opdrag gegee het om die oorsprong van die brief vas te stel. Vorster was oortuig dat mnr Jaap Marais, die LV vir Innesdal, daarvoor verantwoordelik was. Die manne wat die dokument versprei het, was bevrees dat politici wat nie daarby betrokke was nie, se name in die gedrang sou kom. Hulle was Pieter te Groen, Barry Botha, Fanie van Huyssteen, Pieter Hartman, Pieter van der Merwe, Attie Nel en Jan Prinsloo. Die woelinge binne Nasionale geledere het al ernstiger geword. Vorster het na die aktiwiteite van politici, kultuurmense, akademici, joernaliste, kerkmanne en sakemanne in Pretoria wat teen sy afwykende beleid was, as die Pretoria-groepie verwys, maar gou is die naam, die Hertzog-groep, aan hulle gegee.

Die ontevredenheid in die geledere van die Nasionale Party (NP) was aanvanklik gesentreer rondom die rol wat deur koerante gespeel is, wat voorgegee het dat hulle die NP steun. Dit was veral Die Burger, met Piet Cillié as redakteur, en die Sondagkoerant, Die Beeld, met Schalk Pienaar as redakteur. Twee publikasieis is in Pretoria gestig. Dit het die stryd binne die NP verhewig. Hoofstad het op 1 April 1968 sy versyning gemaak met dr Andries Treurnicht as redakteur, en Veg het in die tweede helfte van die jaar verskyn met Barry Botha as
redakteur. Dr Treurnicht (Hoofstad) het noue voeling met die regses in die Volksraad gehandhaaf, maar was nie die vyandig teen Vorster se rigting nie. Die assistantredakteur, Beaumont Schoeman, was egter ‘n sterk ondersteuner van mnr Jaap Marais. Barry Botha (Veg) was openlik in sy vyandskap teen die NP. Die groot waterskeiding het gekom toe Hoofstad in Januarie 1969 ‘n paar kontroversiële sake aangeroer het, veral die toelating van Maori’s in die besoekende All Blackrugbyspan. Die kritiek teen Vorster het toegeneem. In Augustus 1968 het Vorster ‘n griewekonferensie in Pretoria belê waar lede van die NP hulle griewe teen die party kon lug. Die regses in die NP kon nie vasgetrek word nie, want hulle het by hulle standpunt gestaan dat as Maori’s nie in Suid-Afrika toegelaat gaan word nie, hulle steeds die NP-beleid steun.

Op 3 Maart 1969 het die LV vir Moorreesburg, mnr Piet Marais, in Die Burger, mnr Jaap Marais daarvan beskuldig dat hy hom met die kritici van die NP en met Veg assosieer. Dit het opslae veroorsaak. Dit is op 4 Maart in die NP-koukus bespreek en het tot die stel van ‘n mosie van vertroue in mnr Vorster gelei. Dr Hertzog het voorgestel dat die name van Dagbreek en Die Beeld ook bygevoeg word. Mnr Jaap Marais het ook ‘n amendement voorgestel. Beide is verwerp. Dr Hertzog en mnr Marais het buite stemming gebly toe oor die mosie van vertroue gestem is. Ander manne wat buite stemming gebly het, was mnre Willie Marais, Daan van der Merwe, Cas Greyling en Louis Stofberg. Hierdie manne is toe deur hulle provinsiale leiers gekonfronteer. Daar was sprake dat hulle uit die koukus geskors sou word.
Intussen is dr Hertzog in Februarie 1968 deur Vorster ontslaan as Minister van Posen Telegraafwese. In 1969 is begin om Louis Stofberg in die Kaap te isoleer. Op 28 Maart het Stofberg en Frank Waring oor sport gepraat. Hulle het oor die toelating van Maori’s in Suid-Afrika verskil. Dit het duidelik geword dat die regering tog sy beleid verander het ten gunste van die toelating van Maori’s. Die groot struweling van die jaar was oor dr Hertzog se Calvinistiese toespraak op 14 April in die Volksraad. Beaumont Schoeman het die toespraak in Hoofstad aangeprys. Vorster was woedend oor Schoeman se hoofartikel. Piet Cillié het dit in Die Burger afgekeur. Op 23 April het Vorster en Ben Schoeman die Calvinistiese toespraak gerepudieer onder aanvuring van De Villiers Graaf (die leier van die VP en die amptelike
opposisie). Die onrus oor die politieke koers wat Vorster ingeslaan het, het voortgeduur.

Die finale aanslag het by die NP se Transvaalse jaarkongres gekom. Minder as ‘n maand voor die kongres het Ben Schoeman as leier van Transvaal saam met mnr Jaap Marais ‘n openbare vergadering in Innesdal (mnr Marais se kiesafdeling) toegespreek. Schoeman het daar aangedui dat sy geduld met die Pretoria-groep op was, maar het hom in vraetyd in ‘n vyandigheid vasgeloop. Op 2 September 1969 het Vorster by die Kaaplandse kongres in Port Elizabeth gesê dat hy nie sal toelaat dat die NP van binne gerysmier word nie. Almal het geweet dat die uur van beslissing by die Transvaalse kongres van 9 tot 11 September in Pretoria aangebreek het. Toe die sportbeleid aan die orde gestel is, was die vet in die vuur. Dr Hertzog het na aandete aan die bespreking deelgeneem. Hy het openlik sy teenkanting teen die
toelating van Maori’s in Suid-Afrika uitgespreek. Die toelating van Maori’s in ‘n besoekende All Black-rugbyspan was in stryd met dr Verwoerd se Loskopdamtoespraak en ook met mnr Jan de Klerk se verklaring daarna wat eenparig deur die kabinet onderskryf is. Sewe kongresafgevaardigdes het teen die sportbeleid gestem en elf, waaronder Jaap Marais, het buite stemming gebly. Dié agtien mense se name en adresse is geneem. Schoeman het aangedui dat hulle deur hulle afdelingsbesture gekonfronteer sou word.

Dr Hertzog het na die kongres ‘n persverklaring uitgereik waarin hy hom met die standpunte van vorige premiers vereenselwig het. Hertzog is op 4 Oktober deur die afdelingsbestuur van Ermelo tydens sy vergadering op Breyten met 64 stemme teen 23 uit die NP geskors. Jaap Marais is op 6 Oktober met 36 stemme teen 23 deur Innesdal geskors. Louis Stofberg is reeds op 25 September deur die Kaapse hoofbestuursvergadering geskors. Hy was dus die eerste LV wat uit die NP geskop is. Mnr Willie Marais se stryd met die NP het langer geduur. Hy het op 15 Oktober uit die NP bedank. Intussen is ‘n volksvergadering op 8 Oktober 1969 in die stadsaal in Pretoria-Noord belê. Duisende mense het opgedaag. Almal kon nie in die saal kom nie. Die gevolg was Jaap Marais en Louis Stofberg afsonderlik groepe buite die saal toegespreek het. Na die toesprake in die saal het prof AB du Preez voorgestel dat ‘n aksiekomitee gestig word om ‘n kongres te reël vir die stigting van ‘n nuwe politieke party. Die aksiekomitee het bestaan uit Albert Hertzog, Jaap Marais, Louis Stofberg, Jan Jooste, Daan Goosen, Gert Beetge, ds AJG Oosthuizen en dr At van Wyk. Op versoek van Daan Nel is Andries Treurnicht se naam bygevoeg. Prof Du Preez se naam is ook bygevoeg. Dr Treurnicht het nie sy benoeming aanvaar nie. Stigting van die HNP Die Hertsigte Nasionale Party is op 25 Oktober 1969 in die Skilpadsaal op die Pretoriase Skouterrein gestig. 8 000 mense het die kongres bygewoon. Dit is beskryf as ‘n volksbeweging wat van die grond af gekom het.

Dr Albert Hertzog is as die eerste Hoofleier van die HNP gekies. Jaap Marais is aangewys as onderleier. ‘n Program van Beginsels wat gebaseer is op die suiwer basis van Afrikanernasionalisme is aanvaar met as grondslag die onfeilbare Woord van God soos dit verstaan en uitgelê is in die Calvinistiese Hervorming. Wat rasseverhoudings betref, is die suiwer beleid wat deur dr Verwoerd geformuleer is,
naamlik afsonderlike ontwikkeling, aanvaar. Mnr Daan Goosen is aangestel as die eerste hoofsekretaris, maar het dié pos vir ‘n
uiters kort tydperk hanteer. Hy is opgevolg deur mnr Frik Jacobsz. Die eerste hoofbestuursvergadering is dieselfde dag onmiddellik na afloop van die kongres gehou. Ds Jan Jooste is daar as die eerste voorsitter aangewys.