Die program van beginsels van die HNP
Woordverklaring
Die begrip Afrikaner, waar dit in hierdie dokument voorkom, sluit ook die begrip Boer in en andersom.
INLEIDING
Die Program van Beginsels van die HNP is aanvanklik in 1969, met die stigting van die Party, opgestel vir ‘n politieke party wat die potensiaal gehad het om die landsregering onder die toe geldende grondwet, in ‘n verkiesing te kon oorneem. In die huidige omstandighede is dit nie meer van toepassing nie. Derhalwe het die Hoofbestuur die Program van Beginsels hersien en meer vaartbelyn en toepaslik vir die huidige omstandighede gemaak.
Die ongemagtigde oorgawe van die regering in 1994 aan die SAKP-ANC-COSATU-alliansie het meegebring dat die HNP homself gedistansieer het van die nuwe regime om van buite die nuwe bestel die stryd verder te voer vir die vryheid van die Afrikaner in ’n eie vaderland. Vandaar dat die HNP nie meer deelneem aan verkiesings nie en die slagkreet “Stem reg, bly weg!” voortdurend weer op die voorgrond plaas. Vanaf 1994 het die HNP algaande sy rol as politieke party verbreed na dié van ’n volksfront van die Afrikaner wat op meer terreine as net dié van die politiek, na vryheid en identiteitshandhawing in ’n eie vaderland streef.
PROGRAM VAN BEGINSELS
- Naam en Beskrywing
- Die naam van die Party is Die Herstigte Nasionale Party, afgekort as HNP.
- As politieke volksfront van die Afrikanerdom wil die Party die Afrikaner wat dwarsdeur sy geskiedenis met groot opoffering en volharding alles in die werk gestel het om ’n eie vaderland te verkry en te behou en om ’n eie regeringsvorm op te bou om hom daardeur te vrywaar van wette en gewoontes van ander volke wat in stryd met sy gewete en nasionale gevoel is, voorgaan en aanspoor om die volgende grondslag en beginsels te handhaaf en daarvolgens op te tree.
- Grondslag
Die Heilige Skrif, die onfeilbare Woord van God, soos dit verstaan en uitgelê is in die Calvinistiese hervorming, waarvan ons die dankbare erfgename is, vorm die lewensbeskoulike grondslag van die Party.
- Beginsels en Uitgangspunte
- Soewereiniteit van God
In die uitleef van sy strewe (in die Grondwet van ’n toekomstige Afrikanerstaat), in die optrede van die Party en sy leiers en lede moet die Drie-enige God erken en verheerlik word as die soewereine God, die Skepper, Onderhouer, Herskepper en Voleinder van alle dinge tot wie se diens almal op alle lewensterreine geroep word en van Wie alles verwag word en van Wie alles en almal wat bestaan, afhanklik is.
- Nasionale Identiteit
Aangesien dit God behaag het om ’n verskeidenheid van volkere en nasies in aansyn te roep, moet:
- die nasionale identiteit van die Afrikaner as Witman, Afrikaner en Christengelowige noulettend bewaar word;
- die kultuuropdrag van die volk langs Christelik-nasionale weg geskied; en
- die antichristelike en antinasionale strewe na ras- en kulturele eenvormigheid, die uitwissing van alle grense, en die imperialisme met die oog op die tot stand bring van een staat vir die hele Afrika en een wêreldstaat, teengestaan word sodat ons volk binne die natuurlike lewenskringe van gesin, familie en volk beskerming, veiligheid en vooruitgang kan geniet.
Daarom kan die Afrikanervolk in beginsel nie deelneem aan die multikulturele en veelrassige reënboognasie en sy strukture wat in 1994 onwettig tot stand gebring is om die Afrikaner van sy soewereiniteit, sy vaderland en sy toekoms te vervreem nie.
- Instelling, doel en gesag van ’n Afrikanerstaat
- Die HNP streef na die vestiging van ’n eie, soewereine staat vir die Afrikaner- ofte wel Boerevolk in ’n eie vaderland onder ‘n volkseie owerheid. Sodanige staat sal gevestig word met die doel dat die staat al die opdragte vervat in die Woord van God om die goeie te doen en die deurwerking van die kwaad te stuit, sal nakom.
- Daarom word die reg van die owerheid om die swaard te dra, erken en aanvaar omdat die owerheid sy gesag van God ontvang en in die eerste plek aan God verantwoording verskuldig is vir die manier waarop hy sy dienswerk uitvoer. In die tweede plek is die owerheid ook verantwoording verskuldig aan die volk wat hom daarstel.
- Verantwoordelikheid van die burgery
Die burgery moet aan die owerheid gehoorsaam wees in alles wat nie strydig met die wet van God en die eise van reg en geregtigheid is nie. Die volk is medeverantwoordelik vir die beleid en dade van die owerheid wat hy gekies het. Daarom moet die stemgeregtigde burgers steeds die beleid en dade van die owerheid toets aan die wet van God en vir hierdie doel hulle kritiek en burgerregte uitoefen.
- Die verantwoordelikheid van ’n Afrikanerowerheid
Aangesien die staat die openbare regsgemeenskap is, is dit — met inagneming van die feit dat die owerheid se taak en gesag nie onbeperk is nie en ook nooit in absolutisme mag ontaard nie — die taak van die owerheid om:
- die publieke reg te handhaaf en die veelheid van regsbelange binne sy grondgebied in ewewig te hou;
- volgens Christelike norme ’n openbare orde te handhaaf waarbinne die Afrikanervolk sy roeping, taak en ideale kan uitleef;
- te waak teen elke vorm van vreemde oorheersing — hetsy dit geestelik, polities, ekonomies, kultureel of fisies is;
- onderworpe daaraan dat die soewereiniteit van die staat eerbiedig word, volle burgervryheid aan die volk te verseker;
- op alle lewensterreine hulp aan die volk of gemeenskappe te gee sodat selfstandigheid bevorder en staatsafhanklikheid vermy word;
- die onafhanklikheid en onpartydigheid van die regbank te handhaaf en te eerbiedig; en
- noulettend te waak teen enige skending van die soewereiniteit en onafhanklikheid van die Afrikaner-vaderland en moet alles wat hiermee strydig is, met alle geoorloofde middele bestry word.
- Die Afrikanervolk en ander volke
- Die samelewing in Suid-Afrika na 1994 is ’n saamvoeging van ’n veelheid van volke, gemeenskappe en stamme wat ten opsigte van ras, taal, godsdiens en kultuur verskil. Die strewe om al daardie eiesoortiges tot ’n enkele nasie te integreer deur middel van algemene stemreg onder ’n sentrale owerheid het geen kans op sukses nie. Terselfdertyd is dit in stryd met die erkende reg op die voortbestaan en selfbeskikking van volke en gemeenskappe.
- Die geskiedenis van Afrika is ’n aanskouingsles van die mislukte pogings om uiteenlopende volke, groepe en gemeenskappe in een parlementêre demokrasie te akkommodeer.
- Die geskiedenis van die Sowjetunie en verskillende state in Sentraal- en Oos-Europa het getoon dat kulturele, godsdienstige en historiese verskille vernietigend kan ingryp in samelewings waar gepoog is om duidelike uiteenlopende volke, groepe en gemeenskappe kunsmatig te integreer.
- Daarom streef die HNP daarna om die Afrikanervolk op ’n vreedsame wyse uit te lei uit die slawehuis waarin die Afrikaner vanaf 1994 vasgekeer is. Aangesien die Afrikaner die enigste blanke volk is wat hier te lande gebore is en by uitstek die draer van die Christelik-nasionale lewensbeskouing is en aangesien die Afrikaner weens sy eiesoortigheid geen regstreekse versterking van buite kan ontvang nie, wil die HNP deur onttrekking van die Afrikanervolk uit die multi-kulturele, nie-Christelike gemeenskap wat in 1994 in Suid-Afrika geskep is, sorg dat die Afrikaanse taal, kultuur en lewens- en wêreldbeskouing gehandhaaf word en die nasionale en kultuur-identiteit van die Afrikanerdom ongeskonde bewaar bly en groei.
- Die HNP wil by die Afrikaner sy kragtige besef van nasionale selfstandigheid en vryheid stimuleer en verder ontwikkel sodat die Afrikaners hulle nasionale identiteit sal handhaaf en uitbou.
- In sy betrekkinge met ander state en volkere moet die owerheid sorg:
- dat die belange van die eie staat en volk te alle tye vooropgestel word.
- dat die soewereiniteit en onafhanklikheid van die eie staat in geen opsig aangetas word nie;
- dat daar te alle tye regsgelykheid tussen die betrokke partye is; en
- dat geen inbreuk op ons Christelik-nasionale karakter en tradisionele lewenspatroon gemaak word nie.
- Immigrasie moet daarop gerig wees om die blanke beskawing uit te bou en dit moet streng beheer word ten einde die Protestantse karakter van ons volk te beskerm.
- Die Afrikaanse Taal
- Die HNP erken Afrikaans as ’n inheemse taal van Afrika en as ’n kultuurtaal wat anders is as al die ander inheemse tale.
- Afrikaans is die enigste Westerse taal wat in Afrika sy beslag gekry het. Dit is die taal:
- waarin die vryheidstryd teen die Engelse imperialisme en verdrukking gevoer is;
- waarin die groot staatkundige, maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling plaasgevind het;
- wat sy stempel afgedruk het op duisende plase, dorpe en stede van die land met hulle tipiese Afrikaanse name;
- wat die riviere en berge, bome en plantegroei, visse, voëls en diere van die land hulle name gegee het; en
- wat terme, woorde en uitdrukkings bevat om tegnologie, wetenskap en ekonomie te beskryf en wat elke volk die morele reg gee om oor homself te regeer omdat hy ten volle kan kommunikeer.
- Dit gee aan Afrikaans ’n onvervreembare en unieke reg en sal daarom die enigste amptelike taal in die Afrikanervaderland, waarna gestreef word, wees.
- Immigrante kan slegs burgerskap van die Afrikanerstaat ontvang indien hulle in staat is om die Afrikaanse taal op ‘n bevredigende vlak te lees, skryf en praat
- Onderwys
- Die HNP sal skole en hoër onderwysinrigtings daarstel waarin die Afrikaner se geskiedenis, kultuur en lewensbeskouing aan die lerende gemeenskap oorgedra word.
- Onderrig en vakinhoud moet van ‘n akademiese standaard wees wat by geen ander in die wêreld agterstaan nie.
- Solank die Afrikanervolk hom binne die heersende bedeling bevind, beywer die HNP hom vir die daarstelling en uitbouing van volkseie onderwys wat aan die voorgenoemde norme beantwoord, deur middel van Christelik-volkseie (CVO) skole, volkskole en tuisonderrig. Ouers word aangemoedig om hul kinders in volkseie onderwysinrigtings te laat onderrig en hulle sodoende van die verderflike invloed van die huidige bedeling se staatskole te weerhou.
- Ekonomie
- Die HNP wil ‘n gesonde volksekonomie daarstel deur ‘n beleid van Meelewende Kapitalisme as ‘n ekonomiese stelsel wat kapitaal voortbring as beloning aan die entrepreneur en hom die geleentheid bied om sy vermoëns aan te wend tot sy voordeel en tot diensbaarheid aan sy volk met verantwoording en eer aan sy Skepper. Kompetisie, winsneming, etiese norme en selfbeheersing vorm deel van die stelsel, getoets aan die riglyne van Die Bybel.
- Die positiewe eienskappe van Kapitalisme moet bevorder word en die negatiewe eienskappe daarvan moet teengewerk word.
- Ekonomiese beleid moet vrye ondernemerskap aanmoedig en toestande skep wat aan almal ‘n behoorlike lewensbestaan verseker en teen uitbuiting beskerm.
- Eiendomsreg moet noulettend erken en beskerm word en ‘n beleid gevolg word wat indiwidue in staat stel om eienaarskap van grond en ander vaste eiendom te verkry.
- Staatsregulering in die ekonomie moet beperk word tot dit wat noodsaaklik is om die stelsel van Meelewende Kapitalisme te bevorder, te beskerm en te voorkom dat volksbelang benadeel en volksbates vervreem word, sodat die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe bly.
- Die owerheid het die reg om billike belastings te hef ter bestryding van die koste wat by die uitvoering van sy taak noodsaaklikerwys aangegaan moet word. Belasting moet in ‘n gesonde verhouding tot die BBP van die landsekonomie staan.
- Belasting moet optimaal aangewend word in belang van die volk en vir die doel waarvoor dit gehef word.
- Die bodem, omgewing en natuurlike hulpbronne van die land moet beskerm en met verantwoordelikheid sodanig benut en ontwikkel word dat dit ook vir die volgende geslagte behou bly.
Einde