Verskillende denkrigtings in SA

Vier denkrigtings in die SA politiek

  • Die sosialisties-marxistiese ideologie;
  • Die liberaal-demokratiese denkrigting;
  • Verset vir minderheidsregte en gemeenskapsregte;
  • Afrikanernasionalisme.

In die harwar van die daaglikse politiek word daar selde gevra waaroor dit nou werklik gaan. Min mense sien raak dat ons steeds midde-in die ideë-oorlog verkeer wat in Suid-Afrika ontbrand het na die Tweede Wêreldoorlog.

Kortliks gestel het ons vandag te doen met vier breë denkrigtings in die Suid-Afrikaanse politiek, elk met verskillende nuanses.

DIE SOSIALISTIES-MARXISTIESE IDEOLOGIE

Die eerste opsigtelike denkrigting is die sosialisties-marxistiese ideologie. Dit straal uit byna elke beleidstuk van die ANC-regime en sy meelopers, en dit het eintlik die rewolusionêre kommunistiese denke as agtergrond.

Binne die sosialisties-marxistiese denkrigting is daar weliswaar klemverskille: aan die een kant is daar politici wat meen dat ’n gemengde ekonomie verkieslik is vir ekonomiese groei, beter indiensneming en die land se verhouding met die kapitalis-tiese geldmag. Aan die anderkant is daar die radikaal-rewolusionêre faksie wat die Witman as ’n setlaar en kolonis beskou.

Rykdom moet volgens hierdie faksie eenvoudig met geweld ingepalm word; en die nasionalisering van hulpbronne word as oplossing vir swart armoede bepleit.

Die twee faksies binne die sosialisties-marxistiese denkrigting het nou in openlike botsing getree, soos getoon deur die mynwerkerstaking by Marikana en die probleme wat die ANC met Julius Malema ervaar. Tog het die twee faksies baie in gemeen en gaan die verskille meer oor metodes as oor doelwitte.

DIE LIBERAAL-DEMOKRATIESE DENKRIGTING

Naas die sosialisties-marxistiese denkrigting is daar die liberaal-demokratiese denk-rigting. Binne hierdie groep se politieke visie is daar die opvatting dat die grondwet-like bedeling van 1994 inderdaad ’n nuwe demokratiese bestel daargestel het waarin sosialistiese en rewolusionêre ideale nie plek het nie. Suid-Afrika moet dan, binne die raamwerk van die grondwet, gelei word in die rigting van die liberaal-demokratiese ideale waarin menseregte, die integriteit van die regbank, en die markgerigte ekono-mie sal sorg vir toenemende vrede, gelykheid en die geluk van al die mense.

Daar word gesê dat konflikte tussen taalgroepe, volke en rasse sal verdwyn as almal die taak van die oop demokrasie op hul skouers neem en werk vir goeie regering en skoon administrasie. Die DA verteenwoordig hierdie denkrigting. Alhoewel talle Afrikaners hulle vereenselwig met die DA en die DA steun, beweeg die DA al meer na die Sosialistiese-Marxistiese ideologie en konsentreer daarop om swart steun te monster ten einde die politieke mag te probeer verower.

Die liberaal-demokratiese idees word uiteraard sterk deur die media bevorder ― soos aangedui deur hul verset teen maatreëls om die pers aan bande te lê en hul kritiek op die ANC se korrupte praktyke. Hulle skakel van al die denkstrominge die beste by die belange van die geldmag in Suid-Afrika in.

MINDERHEIDSVERSET

’n Derde denkrigting, wat nie maklik benoem kan word nie, is die gedagte van minderheidsverset. Dit is veral Afrikaners wat hulself nie binne die eersgenoemde twee strominge tuis voel nie, wat hierdie denkrigting verteenwoordig. In hierdie kamp hoor mens die pleidooi dat verset teen die oorheersende ANC-alliansie aangepak moet word in die naam van menseregte ― maar ook in naam van minderheidsregte of groepsregte. Dit herinner sterk aan die politieke idees wat in die verdwene Nasionale Party vaardig was in die dekades van die 1980’s en 1990’s.

Tog is daar in die derde denkrigting dikwels liberale aksente, wat nader staan aan die liberaal-demokratiese. Hulle verwerp apartheid as rassisme, aanvaar die nuwe “demokratiese” bedeling as voordelig, en baseer hul politiek op aanpassing by die omstandighede om die huidige politieke bedeling te maak werk.

  1. Konserwatiewe idees

Binne die derde denkrigting (die gedagte van minderheidsverset) is daar egter ook konserwatiewe idees wat weer nader staan aan die denkrigting van Afrikaner-nasionalisme. In die agtergrond van die konserwatiewe verset is daar die gedagte dat daar van binne die bestaande stelsel of van binne die bestaande grondwetlike bedeling gestry moet word vir die erkenning van minderheidsregte, taalregte en kulturele regte.

Dit behels dikwels ’n minimalistiese benadering ― liewer die afdwing van klein voordele en klein winste vir die Afrikaners, as om groot politieke ideale na te streef soos onder Afrikanerleiers in die verlede.

In sterk kontras met bogenoemde is daar die Afrikanernasionaliste, mense wat hulle openlik vereenselwig met die geskiedenis van die Afrikaner as volk en wat daardie geskiedenis vertolk as ’n strewe na vryheid en onafhanklikheid binne ’n eie vader-land. Binne hierdie denkrigting word daar by die leiers van die verlede aangesluit; en by hulle visie vir die vryheid van die Afrikanervolk. Dié denkrigting weerstaan die gedagte dat die volk moet opgaan in ’n veelrassige bestel waarin sy stem en sy waardes oorheers word deur die sogenaamde “demokratiese meerderheid”.

Natuurlik is daar ook binne die vierde denkrigting aksentverskille, en nuanses oor hoe hierdie ideaal verwesenlik moet word. Sommiges maak staat op die toekomstige verval van die ANC-regime wat nuwe geleenthede vir die Afrikanervolk se strewe sal skep; ander wil pro-aktief optree om Afrikanervryheid te verwesenlik binne ’n eie gebied. Ander soek na nuwe vorms en nuwe instellings waarbinne hul hul vryheidstrewe kan uitleef ― soos in taalbewegings, skole, kultuur-organisasies, kerke, en politieke aksies. Maar deur dit alles is volkstrou en nasionalisme die rigsnoer van hul denke.

2. Kompleksiteit van ons situasie

Wanneer mens hierdie breë landskap van idees beskou, word dit duidelik dat die kompleksiteit van ons Suid-Afrikaanse situasie vir baie Afrikaners oorweldigend moet lyk.

Die sosialisties-marxistiese denkrigting is tans oorheersend en die aanhangers daarvan is met politieke en grondwetlike mag beklee.

Die liberaal-demokratiese denkrigting het hier en daar nog houvas op sake op plaaslike of provinsiale vlak, maar kompromie en voortdurende kompetisie vir populêre steun by die stembus verswak die politieke impak daarvan.

Binne die minderheidsverset is daar soms liberale aksente, en dan weer idees wat nader aan Afrikanernasionalisme staan. Maar daar is ’n duidelike verskil tussen diegene wat deur middel van minderheidsverset beskerming soek vir Afrikaner-belange, en diegene wat deur middel van Afrikanernasionalisme ’n toekomspad wil vind. Onthou: ’n volk is ’n volk in sy eie reg ― ’n volk kan nooit ‘n minderheid wees nie.

Taktiese voordele

Minderheidspolitiek kan wel taktiese voordele inhou. Dit kan mens nie ontken nie. Maar dit skep ’n opvallende leemte in die politieke stryd: Afrikaners word nie meer herinner aan hul afkoms en hul volksideale nie; hulle word ontmoedig om veral die geskiedenis van die era van Malan, Strijdom en Verwoerd met alle mag te verdedig, en hulle word ingeprent dat die toekomstige politieke bedeling eintlik gesoek moet word deur regsbeskerming binne die konteks van die nuwe Suid-Afrika.

Soms word daar selfs verwys na ’n opvolgskikking wat nodig sou wees; ’n onderhandelde skikking waarin kulturele regte net beter beding sal word as in die De Klerk-era van 1990 tot 1996.

Regsaksies in die howe het binne dié raamwerk taamlik sukses, maar dit is beperk. Een nadeel is dat Afrikaners maklik terugsit en aanvaar dat sulke aksies genoeg sal wees om ons in die toekoms teen swart oorheersing te beskerm; niks meer is nodig as dat mens jou op jou regte gaan beroep nie. Daar word dan ook geredeneer dat sulke aksies “beter is as niks nie”.

Gemeenskapsregte

Wat hieruit voortspruit, is dat voorstaanders van minderheidsregte binne die bestel eintlik implisiet die bestel moet aanvaar soos hy is; daar is selfs ’n positiewe waardering vir die proses van demokratisering en ’n beroep op die bepalings van die bestaande grondwet. In die plek van die volksbegrip word die gemeenskaps-begrip verkondig; juis ’n politieke maneuver om nie direk met die meerderheids-bewind in konflik te tree nie.

Daardeur word ook die aanklag van rassisme gesystap. Die voordeel van die gemeenskapsbegrip is dat dit lokale sake as fokus kan kies ― die behartiging van die onderwys, behuising, taalsake, infrastruktuur, veiligheid en so meer. Dit het dus taktiese voordele. Maar die gemeenskap van Heidelberg of die gemeenskap van Bloemfontein verwys nie noodwendig na Afrikaners alleen of na die Afrikanervolk nie. Selfs die begrip taalgemeenskap (of sprekersgemeenskap) verwys nie net na Afrikaners nie; dit sal eerder vertolk word as ’n inklusiewe verwysing na alle Afrikaanssprekendes, alle gebruikers van Afrikaans.

Om na die sake van ’n gemeenskap om te sien, het nie dieselfde betekenis as om na volksbelange om te sien nie. Die volksbegrip impliseer volkswye belange en volkswye verantwoordelikhede. So het ons dit altyd verstaan, en ons het die volks-begrip presies só gebruik. Wat wen ons as ons afstap van dié betekenis en die vaer begrip van gemeenskappe in die plek daarvan wil stel?

Korttermyn suksesse 

Afrikanernasionalisme bots lynreg teen die liberale politieke denkrigting van ons tyd. Liberale Afrikaners vind geen aansluiting by Afrikanernasionalisme soos dit histories in Suid-Afrika ontwikkel het nie, en spreek hulle dikwels daarteen uit ― net soos talle Engelssprekendes in die liberaal-demokratiese politiek. Daar is egter ook behouden-de Afrikaners in die beweging vir minderheidsverset wat hulle nie heeltemal tuis voel in die nasionalisme as sulks nie; ook hulle meen dat Afrikanernasionalisme tot die verlede behoort en eintlik ’n verleentheid inhou binne die huidige grondwetlike bestel.

Dit is natuurlik so dat die grondwet vandag geen voorsiening maak vir die uitleef van enige nasionalisme nie ― of dit nou nasionalistiese denke onder die swart volke of onder die Blankes sou wees. Soms kry mens die indruk dat diegene wat hul per definisie skaar by minderheidsverset, of burgerlike aksie binne die grondwet, sodanige optrede bloot as taktiese maneuver gebruik ― met die uiteindelike doel om tog by die herlewing van die Afrikaner se volkslewe uit te kom.

Dit kan egter ’n verwarrende taktiek wees, omdat Afrikaners nie meer herinner word aan hul ware aard en ware vryheidsideale nie.

Geen Afrikanervryheid nie

Minderheidsverset, in liberale of meer konserwatiewe gewaad, kan lokale suksesse behaal, rondom sake soos taalregte of in hofaksies waar die grondwet en die regstelsel aangewend word om ’n politieke oorwinning te behaal (dink maar aan die geval van die verbod op die Malema-strydlied); maar dit bly uiteraard minderheidsverset wat nie die bewind kan oorneem of staatkundige vryheid vir Afrikaners kan of wil bewerkstellig nie.

Wat die “gemeenskapsbegrip” betref, is daar taamlike onduidelikhede. In Suid-Afrika, waar die rasidentiteit van mense so ’n opvallende werklikheid is, is die gemeenskaps-begrip verwarrend en vaag. Skeidslyne van ras is immers oral sigbaar in ons “gemeenskappe”. Kwalifikasie van die begrip is dus aan die orde van die dag, en selfs noodsaaklik. Ons praat byvoorbeeld van die blanke gemeenskap, die Afrikanergemeenskap, die Engelssprekende gemeenskap, die Kleurling-gemeen-skap, en so meer.

Wanneer daar afgestap word van die volksbegrip en wegbeweeg word van die onderskeidende kenmerk van ras, het die denkrigtings van die liberaal-demokratiese politiek en die sosialisties-marxistiese politiek die stryd om idees in beginsel gewen.

Sodoende word alle moontlikhede gesluit vir die herlewing van Afrikanernasionalisme en is daar nie ’n toekoms vir die verskillende volke van Suid-Afrika binne hul eie kulturele konteks nie.

AFRIKANERNASIONALISME

Die vierdie denkrigting binne die Suid-Afrikaanse politieke landskap is Afrikaner-nasionalisme.

Mnr Jaap Marais het Afrikanernasionalisme bestempel as die groot drywende mag wat die politieke toneel in Suid-Afrika telkens oorheers het, gekenmerk deur die stryd van ons volk om vry te wees van vreemde oorheersing. Enersyds was dit telkens ’n stryd teen die Britse (of buitelandse) magte; en andersyds was dit ’n stryd teen oorheersing deur swart getalle binne Suid-Afrika.

Hierdie basiese posisie wat Afrikanernasionalisme in ons politiek inneem, is nog steeds geldig. In eenvoudige terme staan ons vandag maar weer in ‘n stryd teen verengelsing, en teen oorheersing deur ’n getalle-oormag uit Afrika.

Afrikanernasionalisme verteenwoordig in sy kern ook ’n ryke erfenis van kulturele en godsdienstige invloede. Afrikanernasionalisme is meer as net ’n politieke platform; dit omvat eintlik ons hele identiteit as Afrikaners, van ’n volk afkomstig uit Europa met ’n bepaalde geloof, bepaalde tradisies, opvattings en oortuigings.

Politieke beskouings

Wanneer ons van Afrikanernasionalisme praat, praat ons in een asem van politieke beskouings, staatkundige opvattings, kulturele en geestelike besit. Hierdie werklik-heid word dikwels vergeet, veral wanneer daar oor ons politieke verlede gepraat word. Ons vyande verwys daarna as sou dit net ’n bepaalde politieke beweging gewees het, wat ewe maklik met nuwe opvattings of nuwe politieke idees vervang kan word.

Ten diepste behels Afrikanernasionalisme eintlik al die sentimente wat in die agter-grond van die Afrikanerpolitiek teenwoordig is. Ons geskiedenis getuig op soveel maniere daarvan. Selfs wanneer leiers afgedwaal het van ons volk se strewe, het hulle hul telkens nog beroep daarop dat hulle goeie Afrikaners wil wees of selfs as nasionaliste geken wil word. Maar ons sien dit ten duidelikste in die lewens van ons groot volksleiers wat in hul onkreukbare lewenswandel, in hul uitsprake en in hul stryd om volksbelange, telkens die hartklop van ons volk raak opgesom het.

Mnr Jaap Marais het Afrikanernasionalisme ook beskryf as ’n vitale betuiging van hartstog vir die lewe ― dit wil die volk se lewensideale verteenwoordig; dit wil strewe na vryheid; en dit wil sake soos gesin, geloof, en geskiedenis sentraal stel in die volkslewe.

Nasionalisme is nie ’n ideologie nie

So gesien is nasionalisme ook nie net bloot ’n ideologie nie. Veral vir die Afrikaners was ons geloofsoortuigings steeds deel van ons nasionalisme. Ons het dit nie net gesien as ’n handige politieke kreet nie.

Toets maar die uitsprake van volksleiers in hul redevoering by sleutelgeleenthede in ons geskiedenis. Ek neem net hierdie voorbeeld: President SJP Kruger se toespraak by die staatsfees te Krugersdorp op 16 Desember 1896, ter herdenking van die groot volksbyeenkoms by Paardekraal in 1880. Hy het die teenwoordiges herinner:

”U ganse skaar wat hier vergader is om die gedenkteken wat vir ons en ons nageslag as ’n blywende monument opgerig is; let op wat daarop geskrywe staan, op die feite, sodat u weet wat God gedoen het om ons te verlos en ons kan vashou aan die gedagte dat Hy sy volk verlos het met sy almagtige hand, opdat ons getrou mag wees aan ons gelofte om Hom te dien en ander daartoe op te wek.”

Later in Kruger se treffende toespraak keer hy terug na ons geskiedenis, en sê: ”Die vernaamste voorneme van die Voortrekkers was om ’n vry land te verkry om hulle aldaar te kan vestig, en het hulle deur die Vrystaat getrek, sonder egter om die swakker stamme daar iets te ontneem, maar alleen in vrede en vriendskap handel gedryf.”

Volksvryheid

In hierdie uitspraak sien ons die kern van ons volk se staatkundige ideaal uitgedruk. Die Voortrekkers se strewe was na ’n eie vaderland onder ’n eie regering – sonder om andere hul land of hul vryheid te ontsê. Hierdie ideaal definieer Afrikanernasionalisme soos geen ander nie.

Dit loop dan ook soos ’n goue draad deur ons geskiedenis, deur die woelinge en storms van die Twintigste Eeu, tot vandag toe. Ware Afrikanernasionaliste streef volksvryheid na, en ware Afrikanernasionaliste wil dit verwesenlik sien binne ’n eie land, binne ’n eie grondgebied.

Wanneer ons die politieke toneel vandag beskou, is dit nie moeilik om raak te sien watter organisasies of bewegings hulle aan die ideale van Afrikanernasionalisme verbind het nie; en daar behoort ook geen verwarring daaroor te wees nie.

Tog skep die gebruik van verskillende woorde, soos “selfbeskikking” of die stryd om kulturele regte soms verwarring by mense; dit klink soos Afrikanernasionalisme, en dit kan dit ook wees; maar bedoel almal dieselfde strewe wanneer hulle sulke terme gebruik?

Ons gebruik ook woorde soos “volkstaat”, “boerestaat”, “republikeinse vryheid”, “volksregte” en so meer, om die doel van ons vryheidstrewe aan te dui. Oor die inhoud van sulke begrippe sal daar nog lank gedebatteer word.

’n Verdere probleem kom na vore wanneer daar oor metodes gepraat word. Daar is klaarblyklik geen eenstemmigheid oor hoe die Afrikaners binne die getalsoormag van ons dag, binne die gemengde staat wat De Klerk en Mandela in 1994 tot 1996 tot stand gebring het, weer hulle vryheid kan herstel nie.

Maar laat ons ter wille van die toekoms nooit vergeet nie dat ons stryd in sy kern gaan om die betuiging van ons volk se wil om vry te wees. Hierdie oproep reik bo-oor verskille wat metodes betref, en dit reik verby ons verskillende definisies van woorde. Ons kan tereg van ’n breë politieke denkrigting soos Afrikaner-nasionalisme praat.

Wanneer ons onsself toets aan Afrikanernasionalisme, dan toets ons onsself eintlik ook aan ons hele geskiedenis ― soos dit hoort.

 

Oktober 2017