Die hnp en partypolitiek

Binne die bedeling wat deur die ANC se kommunistiese alliansie na 1994 tot stand gebring is, het die HNP destyds besluit dat dit aktief in verset teen dié onheilige heer-skappy tree. Die HNP het nie aan die ANC se verkiesings deelgeneem nie. Die party het verklaar dat hy nie die politieke orde wat deur verraad en bedrog op die land afgedwing is, erken nie.

Hierdie standpunt van die HNP is vanuit Afrikanerkringe bevraagteken, en daar is gevra of die party nog enige bestaansreg as ‘n party het. Daar is tans verskillende gesigspunte wat hiermee verband hou, en dit is belangrik om hulle sorgvuldig te oorweeg.

Die eerste gedagte is of die partypolitiek as sodanig bevraagteken word? Die blank-bemande partye wat wel aan die ANC se algemene verkiesings deelgeneem het  (die Vryheidsfront, die Nasionale Party en die Demokratiese Party) het nie die bestaan van partye betwis nie. Hulle het dit egter beskou as die wet van Mede en Perse om aan alle verkiesings deel te neem, selfs al het die grondwet die Blankes se invloed vooraf tot ‘n nietigheid verklaar, en al word die toekoms binne ‘n swart meerderheids-regering vir almal voorgeskryf.

Die keuse van ‘n party om nie aan verkiesings deel te neem nie, is natuurlik ook ‘n demokratiese reg; en die HNP het daardie reg gebruik om enersyds protes aan te teken teen die onreg wat in 1994 gepleeg is en andersyds, teen die wyse waarop hierdie land regeer word. Die HNP se weiering om deel te neem, het beoog om ‘n basis te skep vir die samesnoering van alle Afrikaners wat teen die ANC-bewind gekant is.

Soms is daar gesê jy kan nie net ‘n politieke beweging definieer in terme van dit waarteen dit staan nie, jy moet ook sê waarvoor dit staan. Maar dié argument het, wat die HNP betref, geen gronde nie, aangesien dit baie duidelik uit sy program van beginsels blyk dat die HNP die politieke stryd voer in belang van die Afrikanervolk, en op grond van die beproefde beginsels van ons volk.

Kritiek teen die HNP het egter ook gekom vanuit kringe wat besware teen die party-politiek as sodanig gehad het. Die besware teen die partypolitiek as sodanig ken ons reeds sedert die dae van die Ossewa Brandwag (die OB), toe die romantiese gedagte gepropageer is dat volkseenheid net binne die OB se stelsel verkry kon word. Dit was egter binne die partypolitieke strewe van dr Malan en adv Strijdom dat betekenisvolle volkseenheid bewerkstellig kon word. Dit het die oorwinning van 1948 moontlik gemaak.

Die punt is dat die betekenis van ‘n politieke beweging nie opgesluit lê in sy naam nie, maar in sy grondslag en doelstellings ― en natuurlik ook binne die program wat sy leiers formuleer om praktiese uitvoering daaraan te gee.

Die HNP verteenwoordig deur sy geskiedenis in werklikheid iets baie meer as ‘n party. Die HNP het hom vanaf 1969 betoon as die stem van die nasionale Afrikaner-dom langs die koers wat sedert 1914 onder president Steyn, en onder generaals Hertzog, De la Rey en De Wet se leiding ingeslaan is. Die HNP wil inderwaarheid die volksfront van die Afrikaners wees, en daarmee wil die party ook die Republikeinse beginsels en tradisie navolg, soos dit uit ons geskiedenis gegroei het. Daaraan kan en wil die party getoets word.

Die vraag word soms gevra of die benaming van die party dan, vanuit hierdie pers-pektief beskou, nog gepas is; moet dit dan nie ‘n ander naam kry nie? Daarop kan mens antwoord dat die hele geskiedenis vanaf die stigting van die Nasionale Party in 1914 in sy naam opgeneem is, asook die stigting van die gesuiwerde Nasionale Party onder leiers soos Malan en Strijdom in 1933-1934. Verder word die geskie-denis van 1966-1969 ook in die naam van die party verteenwoordig, deurdat dit die Afrikanervolk terug gelei het na die beginselgrondslag van volksleiers soos Hertzog, Malan, Strijdom en Verwoerd.

Daardie hele geskiedenis is immers in die naam van die HNP vervat, maar dan ook in die optrede van sy leiers en die beleid wat dit as party verkondig het sedert sy stigting in 1969.