Die HNP veg vir vryheid

Die HNP veg vir die herstel van die Afrikanervolk se vryheid in sy vaderland

Die Afrikaner se politieke posisie

Die Afrikaner is in 1994 in ‘n posisie van politieke verowering en onderdrukking gedompel. Dit was ’n politieke daad. Om hierdie toestand om te keer, verg weer eens ’n politieke aksie.

Die herstel van die Afrikaner se vryheid sal deur die politiek moet geskied. Nie die kultuur, godsdiens, ekonomie of die vakbondwese kan alleen die Afrikaner se politieke vryheid herstel nie. ’n Gesamentlike politieke aksie is nodig.

Die gees van die Bittereinders

Na die Engelse Oorlog van 1899 tot 1902 was die gees van die Bittereinders die  kosbare besit van die strydende Afrikanerdom ― dié Afrikaners wat glo dat die prys van ’n volk se vaderland en vryheid nooit te hoog is om te betaal nie.

Daardie gees is vandag steeds teenwoordig by ’n sterk deel van die Afrikaner-volk. Ons berus ook nou nie in die verraad en onreg wat ons volk aangedoen is om onder die juk van ‘n kommunistiese vyand te dien nie. Ons is weer die Bittereinders wat die eer en die voortbestaan van die Afrikanervolk moet red.

Hierdie gees van vryheid moet weer volkstrots by ons volk inskerp. Dan kan die Afrikaner weer opgehef word tot die trotse volk wat ons wil en kan wees. Laat ons dié boodskap van volkskap en vryheid oor gans ons vaderland uitdra.

Staan op Afrikaner!
Staan op om Afrikaner te wees.
Staan op om as volk vry te wees!