Verskillende denkrigtings in SA

Verkiesingsmanifes 2019

PRINSIPIËLE REDES WAAROM ONS NIE STEM NIE
  • Die ontstaan en ontwikkeling van die Boere-Afrikanervolk en die Afrikaanse taal was die sentrale gebeurtenis in die Suid-Afrikaanse geskiedenis van die afgelope drie en ’n halwe eeu. Die groot historiese momente soos die Groot Trek, die Gelofte en Bloedrivierslag, die vryheidsoorloë, die omvorming van Suid-Afrika van ‘n ongerepte wildernis tot ’n beskaafde eerstewêreld land en Republiekwording het hieruit voortgespruit. Op elke plek in die land waar die Boere-Afrikaner gevestig het, het hy die oppergesag van die Drie-enige God erken en bely.
  • Sedert ons volk se ontvangenis tot op hede moes ons stryd voer teen oormagte wat ons wou vernietig: Brittanje, vyandige swart volke, die volksvreemde geldmag en die internasionale Kommunisme. In die stryd het ons beurtelings neerlae gely en oorwinnings behaal.
  • Die verraderlike prysgawe van die Blanke se politieke mag in 1994 het ons volk aan ‘n swart oormag uitgelewer. Daardeur is ons onder die wetlike gesag van ’n sekulêre grondwet gestel wat daarop toegespits is om ons historiese, geestelike en kulturele wortels af te sny. Alle grense en verskille tussen rasse en volke moet uitgewis word, sodat ons volgens die Amerikaanse “melting pot”-opvatting met die Nieblankes in een nuwe basternasie sal versmelt.
  • Enige moontlikheid om weer as ’n selfstandige volk te bestaan, word ons deur dié infame grondwet ontsê. Bepalings wat selfbeskikking toelaat (maar geen verpligting op die regering lê om dit moontlik te maak nie); en wat taal-, kultuur- en godsdiensregte “waarborg” terwyl dit terselfdertyd rasse-integrasie afdwing, is oëverblindery. Dit kan ons volk nie teen die invloed en belange van die groter bevolking en die regte wat aan húlle toegesê word, beskerm nie.
  • Die beste bewys daarvan is die toenemende agteruitgang van die Witman, en veral die Afrikaner, sedert die kommunistiese magsoorname in 1994, waardeur hy ’n vreemdeling in sy vaderland geword het. Sy taal en kultuur word vertrap, sy skole en universiteite verengels, hy word ekonomies onderdruk, vermoor, werkloos, verarm, veronreg en van sy bates beroof. Tans is die maghebber besig om wetgewing deur die parlement te voer om die Witman se eiendom (sy plaas, sy woonhuis, sy spaargeld, sy pensioen) wetlik te steel. Geen grondwetlike “waarborge” of parlementêre verteenwoordiging het dit verhoed nie. Boonop het die Konstitusionele Hof die vertrapping van ons kultuur op 21 Julie 2016 gevindikeer met ’n (haat)uitspraak wat daarop neerkom dat blanke Suid-Afrikaners, en in besonder Afrikaners, se kulturele tradisies wat in ons geskiedenis veranker is, geen erkenning of beskerming in die grondwet geniet nie.[1]
  • Ons ontken die legitimiteit van die regime, die grondwet en die bedeling wat daardeur tot stand gebring is, omdat —
  • die grondwet en sy ver-linkse grondwetlike hof elke gebod van God misken en in die plek daarvan perverse “menseregte” voorop stel. Uiteindelik wil hulle in eg kommunistiese styl elke faset van die samelewing en selfs ons denke voorskryf en beheer;
  • ons volk nooit goedkeuring gegee het dat die politieke mag in Suid-Afrika aan ’n swart konglomeraat oorhandig word nie; volksvreemdes het geen reg om oor óns volk en land te regeer nie;
  • dit die Witman onherroeplik onderworpe wil hou en ’n bevolkingsbeleid daarstel wat tot die vernietiging van die Boere-Afrikanervolk moet lei; en
  • omdat dit deur verraad, bedrog en onwettige optrede tot stand gebring is.
  • Daar is geen manier om dit deur u stem te verander nie. Die groot partye wil nie, want hulle het die bedeling daargestel. Klein partye kan nie, want hulle word deur die swart getalle oordonder. Vrywillige deelname aan ’n verwerplike politieke stelsel wat u nie met u stem kan verander nie, is ’n vernedering vir uself en ons volk.
  • Deelname aan die verkiesing word deur die linkses en die buitewêreld as bewys van ons tevredenheid met die politieke bestel en berusting in ons neerlaag beskou. Wat ’n ewige skande sal dit tog nie vir ons volk wees as dit waar moet wees nie!
  • Die enigste nie-militêre optrede om ons teenkanting en verset daarteen te toon, is om die rug daarop te keer en ‘n eie volksverkiesing te steun. Daardeur sê ons vir hierdie regime en die wêreld: ons ís nie en wil nie deel wees van julle sg. reënboognasie nie. Ons is ’n volk in eie reg en ons maak aanspraak op ons reg op soewereine onafhanklikheid onder ’n grondwet wat die Drie-enige God en sy gesag erken.
Wetsgehoorsaamheid

Daar is volksgenote wat ons smalend verwyt dat ons die legitimiteit van die bedeling ontken en nie deelneem aan die verkiesing nie, maar nogtans die landswette gehoorsaam en belastings aan die regime betaal.

Ons antwoord daarop is dat die regime tans de facto die land regeer en die magsinstrumente soos die polisie en regsprekende mag beheer. Ons kan nie maak of hulle nie bestaan nie, daarom

  • kom ons tans nog die landswette na ter wille van goeie orde, want ons is Christene, nie anargiste nie; maar ons verwerp immorele wette wat misdadigheid, soos diefstal van ons eiendom, wil “wettig”; en
  • betaal ons belasting onder dwang, nie uit eie keuse nie.
ANDER REDES OM NIE TE STEM NIE
  • Die bostaande oorwegings bied afdoende rede om ons rug op die staat se verkiesings te keer. Daar is egter volksgenote wat nie uit prinsipiële (beginsel) oorwegings handel nie, en eerder pragmaties (uitgaan van wat prakties en bruikbaar is) optree. Hulle standpunt is dat ons nou eenmaal in hierdie bedeling vasgevang is en al stem ons nie daarmee saam nie, moet ons die middele en geleenthede wat dit bied — insluitend die “demokratiese” reg om te stem — benut.
  • Wat is demokrasie?
    In ‘n werklike demokrasie word staatsgesag gelegitimeer deurdat die kiesers invloed verkry eerstens op die samestelling van die regering en tweedens op die beleid van die regering. By gebrek aan sodanige invloed, bly die legitimeringsproses onvervuld.[2] Daarenteen is die reg om te kan stem die liberalisme en kommunisme se enigste definisie en maatstaf van demokrasie.
  • Die Afrikaner polities ontmagtig
    Vanweë die Witman se getalle-agterstand teenoor die gekombineerde swart etniese groepe kan die Afrikaner geen betekenisvolle invloed op óf die samestelling van die (swart) regering wat oor hulle regeer óf sy beleid uitoefen nie. Ofskoon ons ons dus in ‘n de jure-demokrasie bevind, is daar wat ons betref geen legitimering van die Suid-Afrikaanse politieke proses nie.[3] Die gevolg is dat die “demokrasie” ten opsigte van die Boere-Afrikanervolk niks anders is as ’n skynheilige metode om ons polities te ontmagtig en te vernietig nie. Dit is ’n herhaling van Milner en die Britte se strategie meer as ’n eeu gelede om die Boererepublieke deur die uitlanderstem onder te ploeg. Pres. Kruger het hulle motiewe raakgevat toe hy vir Milner gesê het: “dit is nie die stemreg wat julle wil hê nie, dit is my land.”
  • Deelname aan die skyndemokrasie
    Een van die sekerste maniere waardeur ’n volk sy onderworpenheid aan ’n vreemde maghebber betoon, is om vrywillig te doen wat daardie maghebber wil hê. Vir die voorstanders van die Suid-Afrikaanse “demokrasie” is dit belangrik dat die groots moontlike getal landsburgers daaraan moet deelneem, omdat deelname krities vir die sukses daarvan is. Daarom word die media, en selfs die kerke opgeroep om mense te beweeg om tog te registreer en te stem. Dit maak nie vir hulle saak vir wie jy stem nie (want soos hieronder aangetoon, is die invloed van die wit stemkrag op die uitslag gering), solank jy net stem!

Sou enige bevolkingsgroep, maar veral die Blankes — as die meer ontwikkelde en identifiseerbare groep — nie aan die verkiesing deelneem nie, word die voorgegewe “demokrasie” ontbloot vir die skyn en karikatuur wat dit werklik is. Só belangrik is hierdie faktor dat genl. Constand Viljoen se dreigement kort voor die 1994-verkiesing om daaraan te onttrek tensy die ANC die destydse Afrikaner-Akkoord onverwyld sou teken, die VSA-ambassadeur genoop het om die ANC opdrag te gee om dit onmiddellik te doen, anders sou die nuwe bestel reeds by sy instelling platgeval het. Die ANC hét dit toe geteken… en hom tot vandag toe nie verder aan daardie Akkoord gesteur nie! Die prys wat die Afrikaner vir daardie nuttelose ondertekening betaal het, was die algehele prysgawe van sy politieke mag.

GETALLE
  • Politieke mag
    Politieke verkiesings gaan oor politieke mag. Die burgers van die land kry tydens ’n verkiesing die geleentheid om ‘n keuse te maak en te stem vir die politieke party wat hulle glo in hulle belang sal regeer. Die party wat die meeste stemme kry, kry die mag om te regeer, met ander woorde om die wette te maak en te sorg dat dit uitgevoer word. Partye wat weet dat hulle nie die mag kan verower nie, hoop om deur die aangaan van koalisies inspraak te verkry en sodoende invloed uit te oefen.
  • ’n Belangrike vraag: kan enige swart groepering by die stembus verslaan en van die politieke mag ontneem word?
    Baie kiesers stem net om téén die ANC te stem. Nêrens op die stembrief is daar egter die keuse om téén ‘n party te stem nie, jy stem vir ’n ander party. Omdat die DA die grootste party naas die ANC is en dus die grootste moontlikheid bied om die ANC te verslaan, val diesulkes se keuse meestal op die DA. In die 2014-verkiesing het 11,4 miljoen kiesers vir die ANC gestem, 4,1 miljoen vir die DA (dit is meer as die totale getal stemgeregtigde blankes), 1,2 miljoen vir die EFF, en 0,2 miljoen vir die VF+ en Front Nasionaal. Dit is dus moontlik dat ‘n swart party soos die ANC deur ’n ander swart party soos die DA verslaan kan word. Aan ons volk se politieke situasie sal dit geen verskil maak nie.
  • Sou die DA wen, sal hy in belang van die Witman en die Afrikaner regeer?
    In al die verkiesings sedert 1994 het die meeste Blankes wat gestem het, hulle stemme op die DA uitgebring in die hoop dat hulle die ANC sou verslaan. So het die liberaliste ’n groot deel van ons volk net waar hulle ons al die jare wou gehad het: Afrikaners stem nou in massa vir die hedendaagse weergawe van die ou Progressiewe Party met sy integrasiebeleid! (In die vorige bedeling kon hulle ons nooit daartoe beweeg nie omdat ons besef het dat dit politieke selfmoord sou wees).

Dieselfde tendens kan weer verwag word. Vir die Witman bied dit ydele hoop, want In ‘n demokrasie gee getalle, en slegs getalle, die deurslag; dus moet die DA die swart kiesers se guns wen om ’n verkiesing te kan wen. Daarom sal die DA graag die Blankes se stemme ontvang, maar hy sal nie die Witman se belange — die blanke kind se onderwys, handhawing van die Afrikaanse taal, herstel van Afrikaanse universiteite, ens. — ten koste van sy swart steun beskerm nie. Kyk maar wat het met hul eertydse leier, die ou Black Sash-aktivis Helen Zille gebeur toe sy die waarheid gepraat het met die opmerking dat álles van kolonialisme tog nie sleg was nie!

  • Is dit dan hoegenaamd moontlik om die vryheidsideaal deur die stembus te bereik?
    NEE, ook nie met die bykomende stem van die Kleurlinge, waarop sommige Afrikaners hulle hoop vestig nie. Die Kleurlinge se stemkrag is min of meer dieselfde as dié van die Blankes en hul politieke lojaliteit opportunisties en verdeeld.
  • Suid-Afrika se kiesstelsel
    Suid-Afrika se stelsel van verteenwoordiging werk so: daar is 400 setels in die nasionale vergadering. Die totale aantal geldige uitgebragte stemme in ’n verkiesing gedeel deur die aantal setels is ‘n setelkwota. Die aantal stemme wat ‘n party trek ÷ die setelkwota = die aantal verteenwoordigers van daardie party in die nasionale vergadering.

Volgens Statistiek Suid-Afrika is daar ongeveer 37,8 miljoen mense van  stemgeregtigde ouderdom (18 jaar en ouer) in Suid-Afrika.[4] Hiervan is 26 727 921 as kiesers geregistreer.[5] Met ‘n optimistiese stempersentasie van 75% sal die setelkwota dus 26 727 921 x 75% ÷ 400 = 50 115 stemme wees. Om die mag te bekom, moet die party wat wen, meer as 200 verteenwoordigers in die nasionale vergadering hê, dit wil sê hy moet (200 x 50 115) = meer as 10  miljoen stemme kry. Die totale getal Blankes in hierdie kategorie (18 jaar en ouer) is maar sowat 3,6 miljoen. Sou Blankes in dieselfde verhouding as die res van die bevolking as kiesers geregistreer wees, beteken dit dat daar sowat 2,6 miljoen Blankes geregistreer is,[6] dit is nie eers ‘n tiende van die totale aantal geregistreerde kiesers nie.

Dit is egter ’n ernstige denkfout om al die Blankes as ’n homogene magsgroep by die stembus te beskou. Talle Blankes, ook Afrikaanssprekendes, vereenselwig hulle volkome met die heersende bestel en verbaster biologies met die gekleurdes. Hulle deel nie die Boere-Afrikanervolk se vryheidsideaal nie en stem vir die ANC en ander partye van die sogenaamde reënboognasie.

  • Bevoordeel nie-stemmers die ANC?
    Behoudende volksgenote word soms verwyt — veral deur ondersteuners van die VF+ — dat hulle deur nie te stem nie, die ANC-verteenwoordiging in die parlement versterk. Dié argument moet aan die hand van werklike syfers getoets word:

In die 2014-verkiesing het minder as een persent van die kiesers vir die Vryheidsfront Plus en Front Nasionaal gestem.[7] As in daardie verkiesing ‘n 100 000 (honderd-duisend) nie-stemmers sou deelgeneem en almal vir die VF+ gestem het, sou dié party ses verteenwoordigers in plaas van die huidige vier gekry het, terwyl die ANC en Agang elk een minder sou gekry het. Die ander partye (DA, EFF, Inkhatha, NFP, UDM, Cope, ACDP, AIC, PAC en APC) se verteenwoordiging sou presies dieselfde gebly het. Gesamentlik sou die ANC en EFF 273 setels oftewel 68% verteenwoordiging gehad  het. Dit is heelwat méér as die tweederde meerderheid waarmee opposisiepartye mense bangpraat om stemme vir hulleself te monster. Sou ’n kwartmiljoen nie-stemmers vir die VF+ gestem het, sou die ANC en EFF gesamentlik steeds meer as tweederdes van die verteenwoordigers gehad het, te wete 271 dit is 67,6% teenoor die VF+ se nege (2,3%).

Bostaande syfers demonstreer hóé ontmagtig die Afrikanervolk in hierdie bestel is. Ons invloed by die stembus op die oormag swart getalle is so gering dat dit die verwyt wat ons teen die kop gegooi word, belaglik maak.

  • Valse hoop
    Oor die senders van PretoriaFM loop ’n advertensie van die VF+ waarin ’n aantal dinge genoem word wat mense glo moedeloos stem: moord, plaasaanvalle, misdaad, haatspraak, onteiening, korrupsie, buitensporige belastings, swak dienslewering, beurtkrag, besoedeling, ens. Dan volg ‘n tipiese verkiesingsbelofte: “gelukkig is daar hoop; stem vir die party wat dóén!” Die advertensie skep valse hoop, want wat dié party in 25 jaar reggekry het om enige van die genoemde misstande reg te stel, word verswyg — sekerlik nie omdat hulle nie wóú nie, maar omdat die Afrikaner se stemkrag eenvoudig nie opweeg teen die swart getalle nie.

Dié probleem wil hulle oplos deur vir die Kleurlingstem te bie; daarom die heftige ontkenning dat die VF+ primêr ’n party vir die Afrikaner of Blanke is en die aanwysing van mnr. Peter Marais as hul premierskandidaat vir die Wes-Kaap. Dis een ding, en in bepaalde omstandighede aanvaarbaar om verkiesingsooreenkomste met ander partye en groeperinge aan te gaan; dis ’n ander ding om hulle in dieselfde party op te neem, want wanneer die verskillende gemeenskappe (volksgroepe) se belange verskil — en daar is sekerlik méér belange as net taal ter sprake — moet die party, net soos die DA, kies wie se steun by hom die swaarste weeg.

  • Is daar voordele in om te stem?
    Die stemmers voer aan dat deelname aan die parlementêre prosesse tog voordele inhou, byvoorbeeld dat inligting wat andersins moeilik bekombaar sou wees, daardeur bekom word; dat ons stem darem in die Parlement gehoor word; en dat hulle ’n belang daar verteenwoordig, nie getalle nie. Dit word nie ontken nie, maar weeg sulke voordele nou op teen die strategiese nadeel daarvan om aan so ’n volksvyandige en volksvernietigende bedeling respektabelheid te gee en dit in stand te help hou? Boonop is meeste van die misstande soos staatskaping, diefstal van staatsgeld, tenderbedrog en dies meer nie deur die blanke party in die parlement blootgelê nie, maar wel deur organisasies buite die Parlement, veral onafhanklike ondersoekers en die openbare media.
  • Stem of nie stem nie: wat het die grootste impak?
    In die lig van bogemelde moet ons onsself afvra wat die grootste impak sou hê: as al die stemgeregtigde Afrikaners vir die VF+ en Front Nasionaal sou stem en ’n paar verteenwoordigers in die parlement sou kry, of wanneer hulle soos een man hul rug op die verkiesing sou draai en sodoende ’n onmiskenbare boodskap uitstuur: ons distansieer ons van hierdie volksvyandige bestel!
VRYHEID VEREIS VERSET EN OPOFFERING
  • W.J. Leyds, eertydse Staatsekretaris van die ou ZAR, het ingesien dat “wanneer ’n volk vir ’n lang tyd magteloos onder die voet van die veroweraar lê, word hy vals en kruiperig en gaan hy moreel agteruit.”[8] ’n Belangrike element van die morele agteruitgang is die volk se toenemende berusting in sy verowering en ’n verflouing van sy verset daarteen.
  • Terselfdertyd word die deelnemers aan die bestel so ingesuig deur hul betrokkenheid by die politiek van die dag dat die vryheidsideaal al verder op die agtergrond geskuif word. Uiteindelik is hulle só diep in die heersende bestel en die “reënboognasie” ingetrek dat dit haas onmoontlik word om daarvan af te skei. Daarom leer Gods Woord: “Gaan onder hulle uit en sonder julle af…” (2 Kor. 6:14-18).
  • Wanneer die vryheidsideaal nie doelgerig nagestreef en beklemtoon word nie, stomp die volk ten opsigte daarvan af. Mense verloor moed, hulle verloor geloof in ’n uiteindelike oorwinning, hulle versaak die ideaal en aanvaar maar hulle lot gelate, of verlaat die land.
  • In die afgelope 25 jaar het talle individue en organisasies in ons volk allerlei ad hoc-aksies uitgevoer met die bedoeling om selfbeskikking vir ons volk te verkry. Hoe lofwaardig sulke aksies ookal mag wees, slaag hulle nie in die gestelde doel nie.
  • As die herwinning van ons vryheid daarenteen ons erns is, is die enigste opsie buiten gewapende geweld, die voer van ’n volgehoue omvattende veldtog van nie-militêre konflik. Dit kan nie halfhartig gevoer word nie: jy tree saam in verset of jy bly daaruit en berus in jou onderwerping. ‘n Boikot van die staat se verkiesings is ’n internasionaal erkende en aanvaarde vorm van weerstand in so ’n veldtog.
  • Die vyande van die vorige (blanke) bedeling was baie suksesvol met hul propaganda dat die Swartes uitgesluit was van die demokrasie omdat hulle nie in die blanke land waar hulle gewoon het, stemreg gehad het nie. Hulle het die stemreg wat hulle vir die tuisland-owerhede kon uitoefen, voorgehou as net ’n rookskerm om die beweerde uitsluiting te verdoesel.
  • Eweneens word die Boere-Afrikanervolk struktureel van die demokrasie uitgesluit omdat ons stem geen gewig kan dra teen die swart oormag nie. Dié feit word agter ‘n skyn van stemreg As propaganda vir ons saak het dit sterk potensiaal in die internasionale arena MITS ons as ’n doelbewuste versetaksie geen verteenwoordigers na die parlement stuur nie. In ons stryd om steun vir ons aanspraak op vryheid sal ons weiering om aan die skyndemokrasie deel te neem, ons waardevolste politieke kapitaal wees. Die ANC se rampokkery en die toestroming van derdewêreld-immigrante na Europa en die VSA skep ’n ontvanklike klimaat daarvoor.
  • In 1992 het duisende Blankes hulle doof gehou vir die waarskuwings teen ’n ja-stem vir De Klerk se onderhandelinge met die kommuniste. Die prys wat ons almal vandag daarvoor betaal, is onberekenbaar. Die geleentheid is nou daar om die rug te keer op ’n vernederende verkiesing wat net ons volk se politieke onmag bevestig.
  • Daar mag ’n dag kom dat ons grootste politieke kapitaal sal wees dat ons nooit deelgeneem het aan hierdie bedeling nie.
Bied weerstand!

Verwerp die ANC/DA/EFF-bestel

Behou jou volkstrots!

Stuur ’n boodskap aan die ganse wêreld:

Die Witman aanvaar nie die onderdrukking in sy vaderland nie!
Kies reg. Bly weg!

 

[1][1]  City of Tshwane Metropolitan Municipality v Afriforum and Another [2016] ZACC 19.

[2] P. Kruger, Settlement of the Boer-Afrikaner People’s claim to territorial self-determination: Inviting international intervention — Memorandum by the Volksraad to the international community, p. 138.

[3] Ibid, pp. xix, 138.

[4] STATS SA, Statistical Release P0302 mid 2018 bevolkingskattings, p. 10.

[5] https://www.sanews.gov.za/south-africa/700-000-new-voter-registrations, 29 Jan 2019.

[6] Berekening gebaseer op bostaande bronne.

[7] https://en.wikipedia.org/wiki/2014_South_African_general_election#National_Assembly.

[8] W.J. Leyds, De Eerste Annexatie van de Transvaal, p. 312.