‘n Kritiese valuering van die HNP Gedenkalbum

Die boek, die HNP Gedenkalbum ‘n Politieke voëlvlug oor vyftig jaar, beslaan 388 bladsye en bevat 26 hoofstukke op glanspapier. Dit is geskryf deur mnr LJ van der Schyff. Dit word in twee afdelings verdeel. Die eerste ‘n politieke voëlvlug oor vyftig jaar wat die rol van die HNP se verset teen die politieke verraad van die RSA uiteensit, asook die voortdurende beklemtoning van die belangrikheid van Afrikanernasionalisme, waarin ongetwyfeld uitnemend geslaag is. Dit is geskryf met die oog op veral oningeligtes en diegene wat al vergeet het. Die tweede, wat oor die HNP se strukture handel, bevat sowel inligting oor die HNP se deelname aan algemene- en tussenverkiesings, asook die rol van dié Party se leiers, ampsdraers en lede in die stryd wat gestry is en steeds gestry word. Die boek lyk soos ‘n kunswerk en word verfraai deur ‘n groot verskeidenheid foto’s, oorwegend in kleur. Daar is ook voorsiening gemaak vir hoofsaaklik grepe uit toesprake van mnr Jaap Marais onder die opskrif “Koers in die krisis”, wat baie netjies en kleurvol daar uitsien.Die skrywer het ‘n aangename en vloeiende skryfstyl en die boek lees gevolglik maklik. Dit kos R590, posgeld uitgesluit.

Afdeling A

In Hoofstuk 1 met as opskrif Die ontstaan en stigting van die HNP volg ‘n volledige uiteensetting waarom bepaalde beginselvaste lede hulle op verantwoordelike wyse verset het teen eerste minister John Vorster se beleidsafwykings en hoe daar toe ‘n heksejag deur hom teen hiedie lede op tou gesit is en hulle ten einde laaste op ongenaakbare wyse uit die Nasionale Party verdryf is. Dit het tot gevolg gehad dat hulle op 25 Oktober 1969 die HNP gestig het. Dr Albert Hertzog is by dié geleentheid as Hoofleier verkies en mnr Jaap Marais as onderleier. Hierna is die wraaksugtigheid teen die HNP en sy leiers onverpoos voortgesit.

Hoofstuk 2 se opskrif is Die NP en die Regering se verandering van beleid enhandel oor die wyse waarop die NP sy tradisionele skeidingsbeleid stap vir stap begin aftakel het, beginnende met John Vorster se skrapping van die sportbeleid. Deur sy uitwaartse beleid het hy aanknoping by swart staatshoofde gesoek en ook binnelands meer toegewings aan Kleurlinge, Indiërs en Swartes gemaak wat uiteindelik op volledige rasse-integrasie sou uitloop. In hierdie proses het Vorster ‘n handige instrument in die Afrikaner Broederbond (AB) en ander linkses gevind. Die HNP het hom strykdeur daarteen verset.

Hoofstuk 3 het as opskrif Suid-Afrika se blanke buurstate aan swart bewinde oorgegee waarin die skrywer aangedui het hoe Suid-Afrika se buurstate Mosambiek, Angola en Rhodesië op verraderlike wyse deur die NP uitgelewer is en Suidwes-Afrika ook prysgegee is. HNP-verset het tot arrestasie van sy lede aanleiding gegee. Dr Albert Hertzog se persoonlike pleidooi aan Vorster om nie SWA aan die kommunistiese SWAPO uit te lewer nie, het ook op dowe ore geval.

In Hoofstuk 4 word sake wat verband hou met Die politieke ontwikkeling na die verkiesing in 1977.  van nader bekyk. Daarin word aandag geskenk aan die heropbou van die HNP en tersaaklike aangeleenthede. Die Inligtingskadaal is ook onder die loep geneem, asook die toenemende integrasie soos bewys is deur die instelling van ‘n Raad van Kabinette en ‘n Presidentsraad. In ‘n poging van mnr Jaap Marais, wat die politiek ingrypend kon verander het as dit aanvaar sou word, is ‘n voorstel aan dr AP Treurnicht gemaak, wat dit egter nie aanvaar het nie. Die verdere ineenstorting van die apartheidsbeleid is belig deur verwysing na die regering se aanstelling van die Wiehahn- en Riekertkommissies en die uiters nadelige uitwerking wat dit op die Blanke werkers gehad het.

In Hoofstuk 5 met PW Botha betrek die geldmag en die HNP toon nuwe groei as opskrif, word dit aan die orde gestel hoe PW Botha die geldmag betrek het deur die die Carltonberaad, asook die welslae wat die HNP in tussenverkiesings behaal het. Dit het onteenseglik aangetoon hoe die HNP besig was om te groei, soos dit onder  meer ook blyk uit die uitslae van die 1981 algemene verkiesing.

Hoofstuk 6 wy ‘n bespreking aan die Skeuring in die NP en die stigting van die KP. Hierdie skeuring het aanleiding gegee tot die stigting van die Konserwatiewe Party (KP). Daar word ook daarop gewys hoe die Broederbond verhoed het dat die HNP en KP kon saamwerk. Die HNP het dan ook uitgewys hoe masgdeling deur die 1977-grondwetlike voorstelle versnel is en die Blanke Parlement sy houvas op die politiek verloor het. ‘n Volledige bespreking is ook gewy aan die 1982 en 1983 onderhandelinge oor samewerking tussen die HNP en KP.

Hoofstuk 7 neem Die politiek na die stigting van die KP in oënskou en wys op die anti-NP deurbraak wat samewerking tussen die HNP en KP tot gevolg gehad het toe die HNP op 30 Oktober 1985 die tussenverkiesing in Sasolburg gewen het en die HNP na 16 jaar van stryd uiteindelik welslae behaal het. Die 1983-referendum, die 1987– en 1989-verkiesings is ook te berde gebring en ook die ongelukkig twis tussen die HNP en KP oor setels.

Hoofstuk 8 het as opskrif Politieke oorgawe versnel deur nog linkse druk. Daarin word onder meer verwys na die afskaffing van die Wet op die Verbod op Gemengde Huwelike en die Ontugwet. Die onluste en die geweld in die tagtigerjare het die NP verdere toegewings laat maak. In 1986 het die Broederbond ook in ‘n omsendbrief aan sy lede begin voorbrand maak vir ‘n swart regering in Suid-Afrika. Ten spyte van terroristiese geweld het ‘n groep blankes dan ook in 1987 o.l.v. Van Zyl Slabbert met die ANC in Dakar gaan onderhandel. In 1990 het NG-geestelikes daardie voorbeeld gevolg en op vermetele wyse by monde van Willie Jonker tydens die Rustenburg-beraad skuldbelydenis namens die Afrikanervolk gedoen en apartheid tot sonde verklaar. Aan die positiewe kant was daar die 1986 volksaamtrek by Monumentkoppie waardeur die sowat 40 000 Afrikaners duidelik laat blyk het dat hulle gekant is teen die linkse rigting wat die NP ingeslaan het. In dieselfde gees het Groot Trek 150, die herdenking van die 1838 Groot Trek, geskied.

Hoofstuk 9 het as opskrif Mandela vrygelaat, Generaals, Volkstaters en Kodesa. Op 2 Februarie 1990 het De Klerk sy berugte Rooi Vrydag-toespraak in die Parlement gelewer waarin hy aangekondig het dat Mandela vrygelaat gaan word en dat die ANC, PAC en SAKP ontban word. Daarmee was begin om die laaste spyker in die doodskis van die blanke bewind te slaan. Die HNP-leiers het op 26 Junie 1990 ‘n vergeefse persoonlike poging aangewend om De Klerk tot ander insigte te bring, maar tevergeefs. Die Idasa-komplot, waarby die Viljoenbroers betrek is, het die oorgawe-politiek ‘n stap verder gevoer. Die HNP het geweier om hom by hierdie verraad teenoor die Blankes te laat betrek en het sy verset voortgesit en was ook nie bereid om by die Kodesa-onderhandelings met die ANC-terroriste betrokke te raak nie. Die Volkstaat-gedagte van die KP het nie net teenstand van die HNP ontlok nie, maar selfs sommige van die KP-lede het hulle ook daarteen uitgespreek en dié gedagte het uiteindelik op niks uitgeloop. Ten spyte van die teenkanting van ‘n groot aantal regse organisasies het De Klerk dit reggekry om op bedrieglike wyse daarin te slaag om tydens die referendum van 17 Maart 1992 die misleide blankedom sover te kry om met ‘n groot meerderheid sy onderduimse weggee van die Blanke gesag te bekragtig en so vele niksvermoedende en goedgelowige Blankes hulle eie doodsvonnis laat teken. Die skrywer behandel ook die bedenklike rol van bepaalde generaals, onder wie Constand Viljoen en Tinie Groenewald en hoe hulle by onderhandelings met die ANC betrokke geraak het. Beloftes is deur Mbeki aan Viljoen gemaak dat as hy help om ‘n blanke opstand voor die verkiesing, wat op 27 April 1994 plaasgevind het en gerieflik deur die ANC gewen is, te voorkom, die ANC Afrikanerselfbeskikking sou toelaat. Mbeki het selfs ‘n Akkoord namens die ANC tot dien effekte geteken, waarvan natuurlik niks gekom het nie. Met die verkiesing het die ANC die mag oorgeneem en was die verraad van die NP en sy leiers voltrek.

In Hoofstuk 10, met as opskrif Die politieke verloop na die verkiesing in 1994, word aangedui dat die HNP nie na die 1994-verkiesing gaan lê het nie, maar strykdeur Afrikanerbelange bevorder het en ‘n grootskaalse herlewing van Afrikanernasionalisme bepleit het. Dit was dan ook op mnr Jaap Marais se inisiatief dat op 23 Junie 1994 die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) tot stand gekom het. Dié organisasie moes die Afrikaanse taal bevorder en terselfdertyd toesien dat Afrikaans nie misken word nie. Mnr Marais het ook in die stryd ten behoewe van die Afrikaner met die KP gesprek gevoer. In ‘n brief aan Constand Viljoen het hy beklemtoon dat by die Blankes wantroue oor sy (Viljoen se) rol in die openbare lewe bestaan. Jaap Marais was nogeens reg, aangesien Viljoen hom van regses gedistansieer het en voor middernag op 4 Maart 1994 sy Vryheidsfront as politieke party geregistreer het om aan die 1994-veelrassige ANC-verkiesing deel te neem. Daarenteë het die HNP deelgeneem aan ‘n Volkskongres van nie-stemmers wat op 17 en 18 November 1994 plaasgevind het en ten doel gehad het om Afrikanerbelange te bevorder in ‘n poging om die vryheid te herstel. Intussen het die ANC na sy magsoorname begin om Blankes in die staatsdiens en elders uit hulle poste te verdryf. Morele verval het ook weldra ingetree en die aantal dobbelhuise het oornag toegeneem.

Hoofstuk 11 het as opskrif Deelname aan die bestel en regse weerstand. Die skrywer toon hierin aan hoe Constand Viljoen en die Vryheidsfront afgesien het van die volkstaat omdat dit onbereikbaar sou wees. Die KP het eweneens omgeswaai en in 1995 besluit om aan die munisipale verkiesings deel te neem en het uiteindelik toe ook aan die verkiesing van 1999 deelgeneem. Slegs die HNP het voet by stuk gehou om nie te stem nie en sodoende nie geldigheid/wettigheid aan die ANC-regime verleen nie. Terselfdertyd het die HNP ook verskeie aksies geloods om Afrkanernasionalisme uit te bou en te versterk, soos deur die skrywer aangetoon. In dié proses het mnr Marais koningin Elizabeth 2 van Brittanje versoek om haar beoogde 1990 besoek aan Suid-Afrika te kanselleer, asook dat sy verskoning moes vra vir die volksmoord wat die Engelse tydens die Tweede Vryheidsoorlog teen die Boerevolk gepleeg het. Sy het albei versoeke geweier. Die HNP het ook in 1998 nie-stemmers uitgenooi na ‘n vergadering waar ‘n mosie aanvaar is om van die stembus weg te bly en te poog om langs ander weë die vryheid te herwin. ‘n Volledige bespreking is ook gewy aan die klugtelike Waarheids- en Versoeningskommissie van Tutu, aangesien dit duidelik was dat die kommissie niks met waarheid of versoening te doen gehad het nie, maar in werklikheid net die Afrikaner in die beskuldigdebank wou plaas én veroordeel. In 1999 het die herdenking van die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog plaasgevind en het Elizabeth ‘n tweede staatsbesoek aan Suid-Afrika gebring. In hierdie jaar het ook die tweede ANC-algemene verkiesing plaasgevind waarin die ANC ‘n twee-derde meerderheid behaal het.

Hoofstuk 12 wat handel oor Jaap Marais se afsterwe in 2000, is die kortste van die 15 hoofstukke. Hierdie Afrikaneredelman, politieke leier en geharde Afrikanernasionalis is op 77-jarige ouderdom op 8 Augustus 2000 skielik oorlede. Hiermee het ook die grootste en vurigste kampvegter vir die Afrikaner en sy vryheid van die toneel verdwyn. Ofskoon daar baie uitstaande leiers in die HNP was, sou hy geweldig gemis word en sou sy skoene beswaarlik volgestaan kon word. Vanselsprekend sou huldeblyke van oral instroom, waaronder selfs dié van PW Botha. Vandag eers word werklik besef hoe ‘n groot leier hierdie was. Die besonderhede oor die begrafnis, wat deur 2 000 mense bygewoon is, asook die teraardebestelling het die skrywer volledig aan die orde gestel. Tydens die roudiens in die Paul Kruger Kerk het ds Jan Jooste in sy huldeblyk daarop gewys dat Jaap Marais tien talente van ons Hemelse vader ontvang het en al tien gebruik het. Mnr Willie Marais het by dieselfde geleentheid na hom verwys as die grootste eerste minister wat Suid-Afrika nooit gehad het nie. Enkele jare gelede het selfs die redakteur van Rapport die opmerking gemaak dat Jaap Marais toe al die tyd (oor die verraad) reg was

Hoofstuk 13 handel oor die HNP se landswye aksies én die Menseregte-kommissie (MRK). Die gestorwe leier is in Maart 2001 tydens die HNP-kongres deur mnr Willie Marais as leier opgevolg en hy het nie van die ingeslane weg afgewyk nie. Afgesien van die streeksbyeenkomste wat deur verskeie HNP-sprekers toegespreek is, het verskeie ander byeenkomste in 2001 plaasgevind. Tydens daardie jaar se Kongres het ‘n opspraakwekkende voorval plaasgevind toe ‘n Kleurling verslaggewer van Beeld toegang geweier is, waarop ‘n klag teen die HNP by die MRK gelê is en die Hoofsekretaris, mnr Louis vander Schyff, voor die MRK gedaag is as sou hy die menseregte van die Kleurling geskend het. Mnr Van der Schyff het geweier om bes te gee en tot 2002 het niks gebeur nie, maar toe het die MRK belaglike eise aan die HNP gestel. Die HNP het hom nie laat afdreig nie, want as hy sou toegee sou dit die einde van die party beteken het. Mnr Van der Schyff het die eise in ‘n media-verklaring verwerp. Dit is met ‘n formele verwerping aan die MRK opgevolg, waarna nie weer iets verneem is nie.

Hoofstuk 14 het as opskrif Die Willie Marais Afrikanersentrum en Vierkleurdag. Intussen het die versetaksies voortgegaan. Die HNP het in 2001 landswye byeenkomste gehou endie boodskap uitgedra om nie aan die ANC-verkiesings deel te neem nie. Terselfdertyd is ANC-vergrype teen die Witman ook aan die groot klok gehang. Vier jaar later is ook tydens die Kongres die ANC se Freedom Charter verwerp, aangesien dit ‘n kommunistiese dokument is. In 2005 het die HNP ook die Italiaanse Klub gekoop en dit ingerig as die HNP-hoofkwartier, sedertdien bekend as die Willie Marais Afrikanersentrum. Verskeie ander sake is aangesny, soos die Pretoria bly Pretoria verrigtinge in 2005, die Afrikaner Vryheidsmanifes van 2006 wat landswyd aan ANC-premiers en –leiers oorhandig is, die R30 miljoen omkoopgeld wat FW de Klerk glo ontvang het en die Vierkleurdag op 6 Januarie 2007 te Potchefstroom wat deur 3 000 mense bygewoon is. So ook is in 2007 die Afrikanerfront deur mnr Willie Marais gestig, waarby 19 organisasie aangesluit het. Dit het groter eendrag tussen die verskillende Afrikanerorganisasie ten doel gehad en was gebaseer op die Afrikaner se Christelike beginsels én besef van die blanke herkoms.

Hoofstuk 15 handel oor Die Era na mnr Willie Marais se afsterwe in 2008. Hy is in dieselfde jaar deur mnr Japie Theart opgevolg. Sy verkiesing het ongelukkig nadelige gevolge vir die HNP gehad omdat die kandidaat wat teen mnr Theart verloor het en sy volgelinge die HNP verlaat het en hulle eie party gaan stig het. Mnr Theart het die beleidsrigtings van sy twee bittereinder voorgangers voortgesit. Ook hy het selfloos partybelange bo eiebelange gestel, is tydens die 2009-Kongres as leier herkies, maar het op 27 Maart 2010 die tuig neergelê. Daarop is een van die onderleiers, mnr Andries Breytenbach, tot leier verkies en daarna telkens weer. Op baie energieke en inspirerende wyse het hy met verloop van tyd die land deurkruis en die jarelange stryd van die HNP voortgesit. Die wyse waarop hy sy taak verrig het, het allerweë respek afgedwing. Na die moord op mnr Eugene Terre’Blanche in 2010 is ‘n gesamenlike vergadering in Pretoria deur die HNP, AWB en die Verkenners gehou wat baie goed bygewoon was. Ook verdere aksies om verset te toon, het plaasgevind. Vervolgens het die skrywer hom by die ongelukkige skeurings wat die HNP beleef het, bepaal. ‘n Jaar na die stigting van die HNP het die eerste skeuring in November 1970 plaasgevind toe 6 lede, een daarvan die redakteur van die HNP-koerant, Die Afrikaner, hulle lidmaatskap beëindig het. Dit blyk dat sommige van hierdie lede ontevrede met die leierskap van die Party was. In 2004 het ‘n verdere skeuring plaasgevind wat tot gevolg gehad het dat mnr Willie van der Grijp, wat ‘n groot aanhang gehad het, met ‘n hele aantal getroue leiersfigure die Party verlaat het. Dit het groetendeels gegaan oor sy teenkanting dat van dr Dan Roodt as rubriekskrywer in Die Afrikaner gebruik gemaak sou word. Dit was ‘n gevoelige slag. So ook het die skeuring wat in 2008 plaasgevind het die HNP ernstige skade berokken. Dit was in wese ‘n leierskapstryd tussen mnr Japie Theart, wat as leier verkies is, en mnr Danie Varkevisser. Mnr Varkevisser en sy aanhangers het die saal verlaat nadat hy die verkiesing verloor het en daarna hulle lidmaatskap van die HNP  beëindig. ‘n Volledige beskrywing is ook gewy aan die instelling van ‘n Boer-Afrikanervolksraad en die volksverkiesing om die lede daarvan aan te wys. Hierdie was ook in wese ‘n aksie van die HNP, met die heelhartige betrokkenheid van prokureur Paul Kruger. Dit was met die oog op die regmatige Afrikaner-aanspraak op vryheid en die reg om homself te regeer. Ongelukkig is nêrens aan hierdie eise voldoen nie. Sedertdien het die HNP, ten spyte van die teenslae, die stryd om vryheid steeds voortgesit met mnr Jaap Marais se slagkreet stryd is lewe steeds in gedagte.

Afdeling B

Hoofstuk 16 handel oor die HNP se deelname aan verkiesings en tussenverkiesings vanaf 1970 tot voor die bewind deur verraaiers aan die ANC op ‘n skinkbord oorhandig is en alles wat daarmee in verband staan. Gevolglik word ‘n magdom statistiek en tersaaklike gegewens verstrek. ‘n Enkele munisipale verkiesing is ook vermeld, asook die referendum van 1992. Die teks word aangevul en opgehelder deur talle, merendeels gepaste, kleurfoto’s.

Hoofstuk 17 word gewy aan allerlei wetenswaardighede i.v.m. Die Afrikaner, mondstuk van die HNP en van sy opeenvolgende redakteurs.

Hoofstuk 18 word volledig aan die lewensgeskiedenis van die leiers van die HNP gewy, beginnende in 1969 by die eerste leier, dr Albert Hertzog. Mnr Jaap Marais was sy opvolger wat vanaf 1977 tot en met sy afsterwe in 2000 die leier was en met wie die HNP met reg vereenselwig was; die HNP was Jaap Marais en Jaap Marais was die HNP. Vanaf 9 Augustus 2000 tot en met sy afsterwe op 27 Desember 2007 was die sakereus, mnr Willie Marais, die leier. Hy is opgevolg deur mnr Japie Theart wat tot 27 Maart 2010 die leier was. Na sy uittrede het mnr Andries Breytenbach die leierskap oorgeneem en is steeds die leier. Hy staan die skoene van sy bekwame voorgangers behoorlik vol. Al hierdie leiers was bittereinders en oortuigde Afrikanernasionaliste.

Hoofstuk 19 word aan die volgende voorsitters van die HNP gewy, naamlik ds Jan Jooste (1969 – 1982), mnr Kosie Erasmus (2001 – 2011),mnr Peet Joubert (2011 – 2017) en mnr Hermanus van der Schyff vanf 2018 en wat dit tans nog is.

Hoofstuk 20 handel oor die verskillende Hoofsekretarisse wat die Party gehad het. In hierdie amp het die volgende persone in korter of langer termyne gedien: mnr Daan Goosen, mnr Frik Jacobsz, mnr Faantjie van Niekerk, mnr Erenst van Biljon, mnr Louis Stofberg en mnr Louis van der Schyff (die skrywer) wat dit op 29 Januarie 2020 al 29 jaar lank sal wees. Voorwaar ‘n besondere prestasie.

Hoofstuk 21 word gewy aan enkele personeellede van die HNP onder wie die administratiewe beampte (ab) wat dit vir 33 jaar was, mnr Kobus van Tonder; (en wat net so ‘n besonder prestasie is), mej Anna van Deventer (sekretaresse, tikster, ab), mnr John Stephens (ab, sekretaris), dr Pieter van der Dussen (sekretaris in die OVS en Noord-Kaap), adv Sarel Becker (sekretaris SWA), mnr Jan Alberts (Streeksorganiseerder Wes- en Suid-Kaap), mnr Johan Vorster (Hooforganiseerder), mnr Jannie du Preez (Hooforganiseerder Finansies), mnr Attie Loock (Organiseerder Oos-Kaap) en mev Juanita Powroznik (ab).

In Hoofstuk 22 word ‘n lang lys van prominente HNP-ampsdraers en lede, wat deur die jare wat verby is ‘n belangrike bydrae gelewer het, by wyse van pensketse oor elkeen, bekend gestel. Dit bevat ook ‘n ererol van mense wat gehelp het om die vryheidstryd te stry.

Hoofstuk 23 bevat die name van die 2019-Dagbestuur van die HNP, asook kleurfoto’s van 13 van die lede.

Hoofstuk 24 bevat die Strydwapen van die HNP en die geskiedenis daarvan, asook die Embleme van dié Party en die geskiedenis van die Bittereinder Embleme en waarvoor dit staan.

In Hoofstuk 25 is enkele van die treffende en uitstaande verkiesingsplakkate van die HNP opgeneem by wyse van pragtige gekleurde afdrukke daarvan.

Hoofstuk 26 het as opskrif “en ook die lag was daar.” Dit het veral met gebeure/voorvalle tydens openbare byeenkomste gedurende algemene verkiesings te doen. Die drie-en-‘n half bladsye wat dit beslaan, het ‘n interessante en aangename afwisseling tot gevolg en daarmee word die hoofstukke afgesluit.

Bladsy 349 het as opskrif Slotopmerkings waarin die skrywer die doel en strewe van die HNP uitspel. Hy voeg tereg daaraan toe dat die HNP nooit enige selfverwyt sal hê dat hy hom nie sedert sy stigting in 1969 strykdeur hartgrondig verset het teen die radikale beleidsafwykings wat uiteindelik daarop uitgeloop het, soos die HNP voortdurend voorspel het, dat die mag weggegee sou word aan ‘n swart terroriste bende.

Verder word die volgende Byvoegsels gevind: Dr Albert Hertzog se Calvinistiese toespraak op 14 April 1969 in die SA Parlement asook ‘n uiteensetting waaroor die in wese gegaan het; die Memorandum van ooreenkoms tussen die HNP en die KP in 1987; die HNP se Verkiesingsmanifes van 2019, en soos gebruiklik, ‘n Bronnelys.

Op bladsy 292 skryf mnr Van der Schyff tereg dat hy baie trots is dat hy hierdie Gedenkalbum geskryf het. Hy het alle rede om trots te wees, aangesien dit ‘n pragstuk van ‘n boek is wat nie net baie gepas was omdat dit gemik was op die viering van die HNP se vyftigste bestaanjaar nie, maar wat sonder enige twyfel sowel vir die belangstellende in die politieke geskiedenis sedert 1969 as diegene wat in die HNP belangstel, ‘n groot aanwins sal wees. By die lees hiervan besef ‘n mens ook maar net weer (sommige dalk vir die eerste keer) watter fenominale man mnr Jaap Marais was; een van die grootstes, indien nie die heel grootste nie, wat hierdie land opgelewer het. Mnr Van der Schyff moet geluk gewens word dat hy hierdie gesaghebbende werk, én dit nogal in so ‘n kort tydbestek, geskryf het. Die hoop kan net uitgespreek word dat die boek gelees sal word deur minstens sommige van die groot hoeveelheid oningeligte én onkundige persone wat nie werklik weet nie van die verraadpolitiek wat sedert 1969 plaasgevind het.

Dr Pieter Möller                                               Maart 2020