Die vraag of die Afrikanerjeug steeds gebind is aan die Gelofte van 1838, is deur die 11-jarige Celma Bekker van Pietersburg beantwoord.

Op die vooraand van die Driedoornhoek Geloftefees naby Pietersburg is ‘n talentaand vir die jongspan gehou. Die feeskomitee kry dit reg om dit elke jaar aan te bied en die kinders sodoende aktief by die Geloftefees te betrek.

Waar die meeste kinders gesing het, het Celma besluit om ‘n vyf minute-toesprakie te hou oor die
onderwerp.

Sy het dit so treffend gedoen, dat die redakteur van Die Afrikaner, wat die volgende dag die feesrede gelewer het by daardie fees, gevra het of haar toespraak gepubliseer mag word omdat dit so deeglik begrond en positief is.

Celma se volledige toespraak volg:

Geagte Feesgangers – in besonder: geagte JONG feesgangers:
Hier staan ons…
Só begin die gelofte waarmee Sarel Cilliers homself en die klein groepie krygers saam met hom
verbind het tot ‘n grootse Gelofte.
Hier staan ons…
VANDAG WEER, 182 jaar later – en nou is daar mense wat vra: Is die Afrikanerjeug van 2021 nog gebind aan daardie Gelofte van so lank gelede…?

Vir my, dames en here, is die antwoord eenvoudig: Ons voorvaders HET mos met die Almagtige God van hemel en aarde ‘n gelofte gesluit… so voorbarig as wat dit dalk vandag vir ons mag klink. God HET mos SY deel van die ooreenkoms nagekom – daarom is ook EK en elke jong Afrikaner gebind om dié gelofte te hou! Ons IS gebind – met méér bande as wat ons dalk besef! Oorweeg saam met my die volgende: Die bande wat ons bind is dié van
• geloof;
• bande van bloed en eerbaarheid; en
• bande van dankbaarheid en herinnering.

Die EERSTE band wat ons bind, is die band van geloof. Daardie klein groepie krygers wat by die
Wasbankspruit bymekaar getrek was, moes onwrikbaar geglo het in die krag van gebed; en die
almag van die Here God – anders sou die aflê van die gelofte tog sinneloos gewees het. Toe Andries
Pretorius by die trekkers aangekom het, tref hy hulle moedeloos en wanhopig aan. Maar hy, ook ‘n
diep gelowige, praat hulle aan. Hy oortuig hulle: “’n Saak sonder God begin, is vrugteloos”. Die direkte gevolg van sy oortuiging, loop uit op die aflê van die gelofte. En onder die aanvoering van Pretorius, word die mees ingrypende slag gelewer in die militêre geskiedenis van ons land.

Maar hoe raak dit my, ‘n byderwetse tiener in ‘n moderne tyd? Ek sal u sê: ONS aanbid mos nog steeds die Almagtige God. Dieselfde God wat nie toegelaat het dat ‘n klein bende gelowiges deur die gevreesde Zoeloeleër op 16 Desember 1838 oorweldig is nie! Ons lees ook nog dieselfde Bybel as die een wat HULLE gelees het. Daarom moet ons ook ag slaan op die waarskuwing wat ons lees in
Psalm 50:14: Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste…

TWEEDENS, word ons aan die Bloedriviergelofte gebind met bande van bloed en eerbaarheid. U sien, AS daar geen gelofte was nie; AS daar geen oorwinning vir die Voortrekkers was nie, dames,
here en maats, was ons nie vandag hier nie. Dieselfde BLOED wat in ons are vloei, het ook in húlle
are gevloei; want ONS is die nakomelinge van hulle wat daardie gelofte gemaak het; ONS is die kinders en kleinkinders wat daarin moet deel; soos die gelofte lui…

Dan is daar EERBAARHEID. Elkeen van ons word van kleinsaf geleer: Jou WOORD is jou EER. Dit
was nog altyd die credo van die Afrikanervolk: As ek onderneem het om iets te doen, moet ek dit eenvoudig doen. As dit tog vir my as individu geld, moet dit ook vir ons as VOLK geld! Ons voorouers het hul woord gehou: Die geloftekerk is gebou en die gebeure aan hul nageslagte meegedeel – en nou is dit ONS beurt! En ons SAL ons kant bring – want met SULKE voorouers, kan ons nie anders nie!

In die DERDE plek is daar die bande van dankbaarheid en herinnering. Dis elkeen van ons se plig om die gelofte te vier uit DANKBAARHEID vir die mooi en kosbare erfenis wat ons ontvang het van hulle wat vóór ons geloop het. Kyk maar gerus hier om ons – hier sit ons diep in die Bosveld van die ou Transvaal… dié gebied waar ossewaspore byna tweehonderd jaar gelede vir die eerste keer die pad moes kom oopbreek! Hoe sê ‘n mens DANKIE vir só ‘n erfenis??? Dieselfde Psalm maan ons: Offer DANK aan God…

Maar ten slotte is ons dalk by die belangrikste band: Dié een van herinnering… want VERGEET mag ons nooit! DIT is dalk die grootste verantwoordelikheid wat op ons skouers rus. HOE gaan ons onthou, hoe kan ons weer die Afrikanervolk se gewete wees? Kom ons vertel dit vir mekaar; lees die
verhale en sing van al die mooi dinge waarop elke Afrikanerseun en -dogter kan trots wees… in kort:
VIER die Geloftefees!

JA, geagte Feesgangers – HIER STAAN ONS..
vandag weer! Eitemal se bekende woorde roep my, en elke jongmens vandag hier opnuut op om ons bande met die verlede stewig gebind te hou as hy sê…

Die klop van ons ossewawiele het die eeue se rus
verstoor,
Die klank van ons voorlaaierskote het klowe en
kranse gehoor.
Die diere het stil staan en luister –
Die bome het bewend gefluister:
Dit is die koms van JONG SUID-AFRIKA.

DANKIE!