Malema skreeu weer “Kill the Boer, Kill the Farmer”

Julius Malema, “opperbevelhebber” van die EFF, se skreeuende dreunsang “Kill the Boer, kill the Farmer” se laaste klanke het nog nie behoorlik weggesterf nie of die nuus het deurgekom dat die bejaarde mnr. Theo Bekker op sy plaas naby Balfour vermoor is.

Net daarna is die jong boervrou, Janné Smit, helder oor dag op haar plaas by Verkeerdevlei aangeval, en is die aanvaller deur die polisie vrygelaat nog voordat Janné die kans gegee is om hom uit te ken.

In nog ‘n voorval van polisie wreedheid is drie Vrystaatse boere, waaronder twee vroue, waarvan Janné Smit een was, gearresteer toe hulle veediewe op heterdaad betrap het, en wettige burgerlike arrestasies uitgevoer het. Een van die verdagte veediewe het weggekom en het by die polisie gekla dat die boere hulle aangerand het, waarop die polisie die boere summier gearresteer het nadat hul [die boere] erg aangerand het, en gedreig het om een van die boere se pa, wat op suurstof is, se suurstof af te sny.

Sedertdien het die nuus deurgekom dat dr. Carel Nel op sy plaas by Biesiesvlei vermoor is, maar blykbaar net voor Malema se oproep.

Die verband tussen Malema se oproep en die gebeure teen Boere, deur boewe buite en binne die polisie, kan nie onopgemerk verbygaan nie. Veral nadat dit bekend geword het dat ‘n senior polisieoffisier, genl. Maj. Feroz Khan, die tweede in bevel van die polisie se misdaad-intelligensie, die galadinee van die EFF bygewoon het, word daar bespiegel oor die invloed wat Malema tot binne die polisie het, en of die skielike polisie-brutaliteit teen blanke boere, daarmee verband kan hou omdat hulle opdragte van hul “opperbevelhebber” ernstig opneem.

Intussen word Cyril Ramaphosa, leier van die ANC wat sogenaamd in opposisie tot die EFF is, van oral gekritiseer omdat hy absoluut swyg oor Malema se haatdraende oproep teen blanke boere, en die vraag word gevra of hy nie in wese eens is met Malema nie, maar dat hy dit nie self as staatshoof kan sê nie en dit dus oorlaat aan Malema. Selfs Elon Musk, Suid-Afrikaans-gebore miljardêr van Amerika, het Ramaphosa op sosiale media aangevat oor sy stilswye. Hy het ook kennis geneem van die vermoorde mnr. Bekker en dadelik die verband getref tussen Malema se oproep en gesê daar is ‘n volksmoord aan die gang teen die Blankes in Suid-Afrika. Die wêreld kan dit sien, maar linkses in Suid-Afrika, en veral die media, ignoreer dié feit soos ‘n stopstraat.

Die drie gearresteerde boere is op borgtog van R2 000 elk vrygelaat en moet weer 5 September in die hof verskyn. Die aanklagte teen hulle is poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer, gewone aanranding, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en dwarsboming van die gereg.

Die landbougemeenskap is woedend oor die klomp klagtes, nadat hulle juis misdadigers vasgetrek het wat die treurige polisie nie in staat is om te doen nie.

Sekere landbouleiers dreig om enige samewerking met die polisie op te skort, om ‘n beleid van geen verdraagsaamheid teenoor misdadigers op hul plase toe te laat nie, en hulle adviseer dat indien daar enige insident op ‘n plaas plaasvind, die regsverteenwoordigers voor die polisie gekontak moet word sodat dié kan toesig hou dat die polisie binne hul perke en regverdig optree.

“Dit is vir TLU SA kommerwekkend dat die polisie nie deurentyd konsekwent optree nie. Óf die polisie daag glad nie op nie, óf hulle gebruik uitermate, onnodige geweld,” sê mnr. Bertus van der Westhuizen, die voorsitter van TLU SA in die Vrystaat, oor die situasie. “Verder moet die polisie en regering ook ernstig kennis neem van Suid-Afrikaners se frustrasie met misdaad in die land en begrip hê oor hoekom mense soms die reg in eie hande neem.”

In die landbousektor is veediefstal ‘n krisis wat nie behoorlik hanteer word nie. Boere tree uit radeloosheid en moedeloosheid op omdat die polisie misdaad – as gevolg van ‘n tekort aan hulpbronne, onvoldoende opleiding en oorlading, om net die belangrikste oorsake te noem – nie na behore bestry en bekamp nie. “Waar laat dit wetsgehoorsame burgers as die staat nie sy verantwoordelikheid nakom nie?” vra mnr. Van der Westhuizen.

Intussen is daar in landboukringe kommer oor die uitkringende frustrasie van die boere, wat hulleself in heeltemal nuwe en onafhanklike strukture, langs die polisie, wil organiseer. Dit sou deur die polisie as sogenaamde “derdemag-bedrywighede” beskou kon word, en wat byna as hoogverraad teen die staat beskou kon word. Die Afrikaner verneem betroubaar dat daar pogings aangewend word deur georganiseerde landbou om regsmenings van verskillende partye te bekom oor wat as ‘n sogenaamde derdemag beskou sou kon word, en wat die polisie sou magtig om mense daarby betrokke, te vervolg. Die huidige situasie is dat plaaswagte en Gemeenskap Polisiëring Forums (GPF) baie nou met die polisie saamwerk. Die polisie doen ook gereeld ‘n beroep op die boeregemeenskap en sy georganiseerde strukture om te help om misdaad te bekamp, maar as dit dan gebeur, word boere in hegtenis geneem. Die laaste bietjie vertroue in die polisie is besig om vinnig te verdwyn, en daarom dat daar ‘n al groter aandrang is om totaal alternatiewe strukture daar te stel. Dit kan egter negatiewe gevolge inhou. Maar volgehoue polisie-optrede soos nou en voorheen by Senekal, skep ‘n plofbare situasie wat die polisie self skep, terwyl die boere se uurglas van geduld feitlik leeg is.

Intussen wil die DA Malema se uitsprake verwys na die internasionale Menseregte Kommissie, Afriforum is nog besig met ‘n appèlsaak oor Malema se uitsprake, VF Plus het klagtes gelê by die polisie, selfs Agri SA het standpunt ingeneem teen Malema se uitsprake en TLU SA oorweeg om landwyd klagtes teen Malema in te dien by elke moontlike polisiekantoor.

“Die kernprobleem wat niemand raaksien of aanspreek nie, is die feit dat die verskillende volke nie in ‘n eenheidstaat hoort nie. Die frustrasie van die een volk teenoor die ander, en die een ras teenoor die ander, die een kultuurgroep teenoor die ander en selfs die een godsdiensgroep teenoor die ander, is ‘n realiteit,” sê mnr. Fritz van Graan, leier van die HNP. “Blywende vrede wat met wedersydse respek gepaard kan gaan, is slegs moontlik indien daar algehele skeiding is, sodat niemand die gevoel kry dat hy deur ander bedreig word nie. Die oplossing lê in die omskakeling van ‘n eenheidsbedeling, na ‘n bedeling waar volke binne hul eie grense oor hulself kan regeer, sonder inmenging of bedreiging van ander. Alle ander aksies is dalk goed, maar uiteindelik slegs die toesmeer in die krake van die onnatuurlike samelewing, wat telkens weer sal oop gaan en nuwe konflik uitlok,” sê mnr. Van Graan.

Malema probeer homself nou regverdig dat hy nie bedoel dat Boere of Blankes vermoor moet word nie, maar dat hy ‘n “oproep teen die apartheidsisteem maak”. By die perskonferensie waar hy dié opmerking gemaak het, is blanke verslaggewers weggewys en het Malema gesê hulle beskerm wat hulle s’n is en sal nie toelaat dat Blankes hulle in hul eie kantoor kom vertel wat hulle moet doen nie.

Mnr. Van Graan sê Malema se optrede teen die Blankes, weerspreek sy belaglike stelling dat hy teen die apartheidsisteem is. “Hy is doodgewoon ‘n hater van Witmense en hy kan hom nie beroep daarop dat hy teen ‘n stelsel praat waarvan die aftakeling al in John Vorster se tyd begin is en finaal deur FW de Klerk nek-om gedraai is nie.”

Die Afrikaner 4 Augustus 2023