Dit is hierdie maand, op 4 Maart om presies te wees, ‘n hele 50 jaar gelede dat die Hendrik Verwoerddam geopen en in gebruik geneem is.

Dit was op dié dag in 1972 dat die destydse staatspresident, mnr. Jim Fouché, die dam amptelik in gebruik geneem het. Helaas was die groot “argitek” daaragter nie daar om dit te kon aanskou nie: Dr. HF Verwoerd was toe reeds byna vyf en ‘n half jaar tevore in die parlement vermoor.

Van die vroegste tye af was daar die gedagte om die Oranjerivier te “tem”, en sy bruisende watermassas te gebruik vir die droë dele van die land. Reeds in 1779 het kolonel Robert J Gordon, ‘n Hollander van Skotse afkoms in bevel van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie se garnisoen in Kaapstad, die grense van sy domein verken en aangekom by die oewers van die wye rivier wat die Hottentotte Gariep (Rivier) genoem het. Gordon het dit na die Oranjerivier herdoop ter ere van die Nederlandse Prins van Oranje, en het ‘n klipbesaaide koppie geklim en ‘n skets gemaak van ‘n kloof wat hy Oranje Poort genoem het — Oranjekloof. Min het hy geweet dat die grootste dam in Suid-Afrika eendag in die rivier naby die plek waar hy gestaan het, gebou sou word.

Waarskynlik was die gedagte aan so ‘n projek te groot om ernstig op te neem. Die Oranjerivier dra 14% van die totale afloop in Suid-Afrika en voor die begin van die Oranjerivierprojek het die meeste van die water van Suid-Afrika se grootste rivier ongebruik in die see gevloei. Die Oranjerivierprojek is daarom tereg as ‘n “gewaagde en verreikende plan” beskryf, maar die doel was om die betrokke water te ontgin vir grootskaalse besproeiingskemas en hidroëlektriese kragopwekking.

Dr. Verwoerd was egter nie iemand wat hom laat afskrik het vir groot en moeilike take nie en aan waagmoed het dit hom nie ontbreek nie. Hy het die visie gehad van ontwikkeling en voorspoed wat sou volg as die Oranjerivier benut kon word. Hy het ook die groeiende waterbehoeftes van die land voorsien, veral in die lig daarvan dat Suid-Afrika ‘n land is met min water hulpbronne.

As gevolg van sy visie het ‘n destydse hoogs effektiewe Departement van Waterwese, onder sy
minister Fanie Botha, met die Oranjerivierskema begin.

Die bou van die Verwoerddam het in 1965 begin, en is uitgevoer deur ‘n konsortium van internasionale konstruksiemaatskappye onder aanvoering van die wêreldbekende Franse maatskappy, Durmez. Bouwerk is in 1971 voltooi, maar die amptelike opening was in 1972.

Hierdie dam, wat heel tereg die naam van sy aanvanklike “argitek” gedra het, was slegs die begin van die hele projek.

Aangesien die Franse maatskappy die planne van die dam vir Waterwese moes afgee vir doeleindes van instandhouding, het Waterwese self die bouwerk van die PK le Rouxdam hanteer, 130 km stroomaf van die Verwoerddam – en teen feitlik die helfte van die prys wat die Franse vir die Verwoerddam gevra het etlike jare tevore.

In die Verwoerddam, by die dorpie Oviston, is die Oranje-Vistonnel, waar die water ongeveer 90 km ondergronds verder gevoer word na besproeiingsgebiede in die droë dele van die Oos-Kaap.

Dit was die visie van dr. Verwoerd: Om welvaart en voorspoed te skep sover en net waar hy kon.

Vandag spog die ANC met die “Gariepdam”, wat, trouens die vierde grootste mensgemaakte dam in Afrika is. Die feit is dat hulle besig was met ‘n gewelddadige gewapende terroriste-oorlog, toe was dr. Verwoerd al besig om die land te ontwikkel deur projekte soos hierdie. Hulle het geen bydrae daartoe gelewer nie, maar pluk steeds die vrugte van dié persoon wat hulle as ‘n politieke monster wil voorstel.

Enkele noemenswaardighede van die dam:

Die Dam is geleë in ‘n kloof by die ingang van Ruigtevallei, 5 km oos van Norvalspont, en is ‘n gekombineerde betongravitasie-en-boogdam en is 93 meter hoog en 948 m lank.

As die dam vol is, is die druk van die water so geweldig teen die konvekse kant van die muur wat
stroomop wys, dat die muur in werklikheid daaronder meegee of buig. Die faktor is in ag geneem by die ontwerp van die dam.

Onder maksimum vloedtoestande word 7 900 kubieke meter per sekonde afgevoer wanneer die water 6,1 meter oor die kruin van die dam vloei. Dit is bykomend tot die 8 300 kubieke m/s wat deur die twee stortingskanale of stormsluise wat weerskante van die muur geleë is, afgevoer kan word. Hierdie stormsluise was nog net een keer oop sedert die ingebruikneming van die dam, en dit was tydens die opening in 1972.

Daar is vier sliksluise, twee aan elke kant, wat voortdurend water in die rivier stroomaf moet hou vir besproeiing en vee suiping.

‘n Hidro-elektriese kragsentrale is net onder die damwal aan die Kaapse kant geleë, met vier turbines wat elektrisiteit in die Eskom netwerk kan plaas.

Daar is twee dieselenjins, soortgelyk aan dié van dieseltreine, in die damwal ingebou wat selfs die groot stormsluise kan opereer indien daar ‘n kragonderbreking sou wees.

Die damwal het ‘n doolhof van gange, waar enige lekkasie opgespoor kan word. Mens kan deur die gange tot onder die damwal loop, tot in ‘n saal op die rivieroewer, onder die fondament van die dam. In daardie saal op die rivier is daar dan na weerskante ongeveer 35 meter beton na beide kante – die dikte van die wal.

Die dam is gebou met ‘n verwagte lewensduur van ongeveer 1 000 jaar, mits natuurlik bepaalde onderhoudswerk deurlopend gedoen word – iets waarvoor die ANC-bewind nie bekend is nie…